LIEWE (8.0)
en toe jaag ons ’n perd tot in ’n cul-de-sac
en my bloed klop what-the-fuck what-the-fuck
in my ore. natuurlik moes jy backtrack!
daar was nêrens anders om heen te gaan
nie. daar’s geen manier om dit ongedaan
te maak nie, en dis okay. ek’s net vrek
bly ons is cool. ek kom dool nog partymaal
in hierdie doodloopstraat, weet jy, heel vredig.
ek’t die perd mak gemaak, haar geleer om rustig
in die ronde te galop aan ’n tou, geen saal
nie, maar ek dink sy is dalk amper rybaar?
en ek is dankbaar vir dié plek, die ring-kraal
waar ek vir die perd fluister in my en jou geheime taal
waarheen ek altyd kom wanneer ek moeg voel vir die aarde.