Liewe (7.0)

  • 0

Foto: Canva

LIEWE (7.0)

jy keer telkens terug, uitsluitlik daarop ingestel om brand te stig
maar selfs in vlamme kan ek my rug nie volledig op jou keer nie.

eers steek jy ’n kers op, toe ’n braaivuur, daarna ’n kaggel, ek mot
al om jou teen die koue wat al twaalf jaar duur. ek’t nie gestres
toe my papiere, my grasperk en my huis vlamvat nie en die res
het so gou uitgebrand daar was nie veel tyd om te dink nie. per slot

van sake was dit soms geweldig aangenaam, die gloed om my gesig
toe jy eers my wimpers skroei en toe my hele kop laat opvlam
soos ’n vuurhoutjie. ek wou in die vuur wees, eers probeer wegskram
toe al die heuwels om jou brand, die stad, die hele wêreld – hitte, lig.

plaas hou jy by die plan en word ’n brandweerman, en ek ’n veld-
wagter of veearts soos ek wou, maar nee, toe wil ons mos slim
wees: jou brein blits, my lewe tonteldroog. ek tel die trane, glimmend
in die oog van die duiker wat na soveel jare steeds in vuur versmelt.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top