Lien Botha (1961–)

  • 0

Gebore en getoë

Maria Elizabeth (Lien) Botha is op 21 Maart 1961 in Pretoria gebore. Sy is die jongste kind van Pik, die destydse minister van buitelandse sake, en Helena Botha. Sy het twee ouer broers, Roelof, ’n ekonoom, en Piet, die sanger, en ’n suster Anna. Piet is in 2019 oorlede. Haar ma is in 1996 oorlede en haar pa in 2018.

Om dat haar pa ’n parlementslid was, het hulle kinders in die laerskool “wipplank gery” tussen die Danie Malan Laerskool in Pretoria-Noord en Akasiapark Laerskool in Goodwood, Kaapstad.

Lien matrikuleer in 1978 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria.

Oor waar haar liefde vir boeke en skryflus sy oorsprong gehad het, vertel Lien aan Phyllis Green in Sarie dat sy reeds van kleins af ’n “heilige bewondering vir boeke en skrywers” het: “Dit het begin met ons moeder, Helena, wat ons een maal ’n week na die biblioteek in Pretoria-Noord geneem het om boeke uit te soek. Sonlig wat skuins teen die boekrakke val, fluisterstemme, bladsye met eindelose avonture en karakters … alles daaromtrent was vir my magies.”

Lien vertel aan Martie Swanepoel (Rooi Rose, Februarie 2016) dat sy as kind tot laataand met denkbeeldige vriende gekuier het: “Ek was doodgelukkig in ’n wêreld waar daar nie sprake van meelopery was nie. Op hoërskool het ek twee inspirerende taalonderwyseresse gehad: Juffrou Maritz het Dylan Thomas se strips of stuff that tatter as we move aan ons voorgestel en juffrou Van den Heever die ‘dorre vlaktes; winter-wit van gras en horison en lug’ uit NP Van Wyk Louw se pen.”

Sy meen dat die ontwikkeling van haar skeppingsdrang toegeskryf kan word aan haar besonderse ouers: “My pa het dit onder meer beklemtoon dat jy nie teen die seisoene kan stry nie. Hy het ons geleer van bome en sterre en van dankbaarheid en jou seëninge. My ma het by my ’n volledige begrip van empatie tuisgebring.”

Swanepoel skryf in haar artikel dat die Bothas ’n besonderse gesin was en dat elkeen op sy of haar eie gebied uitgeblink het. Lien verduidelik verder: “Daar was elemente in ons huishouding wat ons vroeg al gedrewe gemaak het. Dis ’n helse uitdaging om in die politiek te kan oorleef. Ons het waarskynlik van kleins af gesien hoe mense optree en watter strategieë jy moet bedink om te kan oorleef. Ons ouers se huis was oop vir vriend en vreemdeling en dit het ons aan interessante ervarings blootgestel.

“My ma, Helena, het drama studeer en ek glo as sy haar in haar loopbaan kon uitleef, sou sy Shakespeare laat sweet het. Deur dik en dun het sy altyd gesê: ‘The show must go on.’ Nou nog, wanneer ek dink hoe op deeske aarde ek deur hierdie episode gaan kom, onthou ek haar woorde.

“Ek het nie eintlik ’n kans gehad om die ruim skeut kreatiwiteit in my bloed te ontduik nie. Van my ma én pa se kant af is daar mense wat op verskeie maniere in ’n kreatiewe rigting betrokke is.

“Twee van my niggies, die susters Jana van Niekerk en Elizabeth Lowry, is albei skrywers. Ons oupagrootjie, Johannes Petrus Botha, het sy oorlogsherinneringe geboekstaaf en in sy jong dae het my pa vir Huisgenoot verhale geskryf. Aan moederskant was daar musiek en nogmaals musiek. En so, op 54, begin my ore toe woordlangs luister.”

Verdere studie en werk

Ná matriek is Lien na die Universiteit van Pretoria, waar sy haar BA-graad in tale in 1981 behaal. Hierna gaan werk sy as persfotograaf by die dagblad Beeld in Pretoria. In 1984 verhuis sy na Kaapstad. In 1985 gaan studeer sy beeldende kuns by die universiteit se Michaelis Kunsskool en behaal in 1988 haar BA-graad in skone kunste.

Tydens haar studiejare maak sy kennis met die “filosofiese” Kevin Atkinson, een van die dosente wat in haar finale jaar aan die Michaelis-kunsskool vir haar klasgegee het. En oor hom sê sy aan Martie Swanepoel van Rooi Rose: “Hy het oor alles behalwe politiek gepraat. Hoeveel blou kort ’n skildery? Watter soort blou? Hoe naby of ver moet die blou wees? En uit die bloute praat hy dan oor die suiwerheid van Tibettaanse klokke.”

In die onderhoud met Martie Swanepoel stel Martie dit aan Lien dat daar gesê word dat ’n kunstenaar opregte emosies kan uitbeeld net as hulle hartseer in hulle lewens ervaar het. Toe vertel Lien vir Martie van Leon Fourie: “Hy was my eerste liefde en is in ’n motorfietsongeluk dood op 21-jarige ouderdom. Dit was ’n helse slag – die vreeslike skok daarvan kom sit in jou lyf en in jou hart.”

Vanaf 1984 werk sy by CTM in Stikland Industria in die Wes-Kaap. In 1991 word sy aangestel as fotograaf by die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Kaapstad en gee sy ook (tot 2003) op ’n deeltydse basis klas aan die Michaelis School of Fine Art, asook aan die Universiteit van Stellenbosch.

Lien was in 2003 ook die onderwerp van ’n reeks boeke wat die kunskenner David Krut uitgegee het. Die kollig in hierdie reeks val op van Suid-Afrika se uiteenlopende kunstalent – iets wat die internasionale kunswêreld al hoe meer aan die praat het, skryf Melvyn Minnaar in Die Burger van 12 Julie 2003.

Sedert 2004 werk sy vir haarself as ’n kunstenaar, kurator van kunsuitstallings en vryskutfotograaf, en sedert 2015 is sy ook ’n skrywer. Sy is getroud met Raymond Smith, ’n argitek en erfenispraktisyn, en hulle woon in Bettysbaai naby Hermanus in die Wes-Kaap.1

In 2012 skryf sy in vir die MA-graad in kreatiewe skryfkuns onder Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad, wat sy in 2014 met lof verwerf. Haar eerste roman, Wonderboom, was die uitvloeisel van hierdie studie.

Lien vertel aan Annami Mailovich (Taalgenoot) dat sy al in 2007 begin het om dagboekinskrywings oor Bettysbaai te doen: “Stropers, tree-huggers. Goed gebeur. Die meestersgraad-kursus het my gedwing om te skryf én daaroor te praat. Alles wat jy vergader, moet op ’n dag iewers heen gaan,” sê sy. “Om ’n vorm van jouself te maak is amper ’n oorlewingskursus. Etienne was bemoedigend, empaties; wat vir jou sê jy kán die ding doen. Ons het baie lekker gesels oor boeke, die lewe ensovoorts. Om in te skryf vir die kursus is een van die slimste goed wat ek nog ooit gedoen het.”

“Om hier (op Bettysbaai) te kon bly, was noodsaaklik,” sê Lien aan Debbie Loots (Rapport, 5 Julie 2015). “Op Bettysbaai het ek die boek se eerste anekdotes neergeskryf, oor wat elke dag hier gebeur, die mense se doen en late, al die klein burgerlike goedjies …

“Maar dit is ook ’n alleenbestaan,” erken sy. “Bettysbaai doen definitief interessante goed met jou kop. Jy raak seker bietjie mal hier, die isolasie kan sommige mense op ’n manier ekstreem maak.”

Wonderboom word in 2015 by Queillerie uitgegee en word beskryf as ’n “distopiese” roman. En met haar debuut loop Lien se Wonderboom met vier toekennings weg (Huisgenoot se Tempo Boek van die Jaar, die Jan Rabie-Rapportprys, 2016 se WoordTROfee vir visuele kuns en die Eugène Maraisprys) en is dit ook op die kortlyste vir nog drie pryse (kykNET-Rapport-boekprys, UJ-debuutprys en WA Hofmeyr-prys).

In sy commendatio vir die Jan Rabie-Rapportprys skryf Danie Marais onder andere: “Wonderboom is ’n distopiese roman wat verskeie raakpunte het met Eben Venter se Horrelpoot en Cormac McCarthy se Pulitzer-wenner, The road, asook met Karel Schoeman se Afskeid en vertrek. Ook Botha se protagonis moet haar weg baan deur ’n verwoeste, gevaarlike wêreld en die brokstukke van ’n vervalle samelewing op soek na oorlewings- en betekenismoontlikhede.

“Magriet se reis met haar viool van die geknelde Kaap na ’n onheilspellende Pretoria is egter veel meer as die bogenoemde twee romans ook ’n besinning oor die waarde en rol van kuns buite ’n gevestigde kulturele idioom; ’n verkenningstog wat met groot liriese spronge en opwindende taal bekoor, terwyl dit ingewikkelde gesprekke voer met die hede, verlede en ’n moontlike toekoms en daarmee saam ook met Die kremetartekspedisie van Wilma Stockenström en Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein.

Wonderboom is ’n ryk, poëtiese en beduidende toevoeging tot die Afrikaanse romankuns; ’n literêre koorsdroom deur ’n kunstenaar wat haar gehoor se blik onthutsend verstel, verbreed en verfyn” (Rapport, 25 September 2016).

Op LitNet verskyn Willie Burger se commendatio vir die Eugène Marais-prys: “Soos in Stockenström se Die kremetartekspedisie, is hierdie ekspedisie van Magriet ’n poging om die verlede onder woorde te bring, ’n reis na binne en na buite. Dit is ook ’n roman waarin die aandag telkens op die taalgebruik self gefokus word. Soos die slavin, begeer ook Magriet om uiteindelik onderstebo aan die boom te hang – soos ’n vlermuis. Anders as in Die kremetartekspedisie, is die ruimte ’n baie herkenbare Suid-Afrika waarin talle van ons eietydse probleme vanuit verskillende kante belig word – van ekonomiese stelsels, armoede en kinderopvoeding, tot magsmisbruik, korrupsie en apatie.

“Sentraal staan die belang van herinnering, van kennis van die verlede – wat op verskeie maniere en deur verskeie kunsvorme ondersoek word. By elke hoofstuk is daar ook ’n kunswerk wat iets vasvat van herinnering – dit is aanvanklik ’n soort collage van kaarte, foto’s, briewe, boeke en ander artefakte wat saam as bolwerk teen die groot vergeet moet dien. Hierdie foto’s word geleidelik al hoe leër – soos wat Magriet se herinneringe vervaag – totdat slegs enkele blare by die laaste hoofstukke voorkom – slegs spatsels en patroon.

Wonderboom is ’n boeiende leeservaring wat ontstel weens die reliëf wat aan ons eietydse ervarings gegee word, wat dikwels ook snaaks is, en wat op indringende wyse nadink oor die maniere waarop die verlede benut word om sin te maak van ons bestaan.”

In Mei 2018 maak PEN Afrikaans Vertaalfonds bekend dat Wonderboom een van drie romans is wat befonds sal word vir vertaling in Nederlands. Die vertaling is deur Robert Dorsman gedoen en het in 2019 verskyn. (Die ander twee romans was Slagyster deur Rudie van Rensburg en Die hemeltuin van Karel Schoeman.)

Die hoofkarakter is Magriet Vos, skryf Laetitia Pople (Volksblad, 25 Augustus 2015). “Haar geheue word weggekalwe in ’n Suid-Afrika wat hink op die randjie van ineenstorting. Die Wes-Kaap word regeer deur vigilante, aangevoer deur die tiran Albino X, wat op die landgoed Vergelegen ingetrek het. Voedselskaarste heers, ’n lewe is niks werd nie en dit is elke mens vir homself. Net die geskikste oorleef.

“Magriet, ’n swerwende musikant, neem die agterpaaie na Wonderboom waar die laaste van haar familielede woon. Sy moet daar uitkom voor sy alles vergeet het.”

Pople skryf verder: “Botha se skerp, intuïtiewe visuele inslag spreek uit die bakenskets wat elke hoofstuk inlei – soos Magriet daagliks in haar vergeetboek moet skryf om te probeer onthou, vervaag die leidrade in Botha se fotoskets totdat daar met die laaste hoofstuk net spatsels oorbly.”

Oor die “vergeetsiekte” van Magriet vertel Lien aan Laetitia Pople dat dit in haar familie aan haar ma se kant loop. “Dit is uiteraard iets wat vir my op ‘n persoonlike vlak relevant is. Verder bepeins ek die kwessie van die Suid-Afrikaanse geheueverlies in al sy fasette.”

Naomi Meyer voer vir LitNet ’n onderhoud met Lien en vra haar uit na die titel wat vir Meyer “magies-realistiese aspekte oproep”. “Dit het letterlik te make met die Wonderboom (Ficus salicifolia) aan die voet van die Magaliesberg en haar oorsprong het uit ’n stam van sowat ’n duisend jaar met ouer- en dogterbome vertak oor ’n area van 50 vierkante meter. Van kindsbeen af ken ek reeds die boom en jy kan sê die boom is soos ’n familielid. Die terrein het ’n stem uit die steentydperk en volgens oorlewering is daar amakosana onder die boom begrawe. Wanneer jy by die boom vertoef, kan jy fluisteringe hoor wat benede roer.

“Daar is natuurlik soveel ander assosiasies ook: boom as papier vir die skrywer; as instrument (viool) vir die musikant; medisyne vir die heler; voedsel; skerm – huis. Wat is ’n straat sonder ’n boom?”

In Die Burger van 4 Julie 2015 eindig Dewald Koen sy bespreking van Wonderboom só: “Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ’n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.

“Soos by laasgenoemde skrywers fokus Botha veral op die sintuiglike waarnemingsvermoë van haar protagonis om die leser te boei. Haar spel met woorde is poëties van aard en paragrawe moet soms herlees word om die inhoud ten volle te kan verwerk.

Wonderboom is nie eenvoudige leesstof nie – die lees van die roman moet geduldig benader word. Wonderboom is ongetwyfeld een van die belowendste en opwindendste debute wat ek in ’n lang tyd gelees het.”

Op die webwerf Alles over boeken en schrijvers skryf Theo Jordaan oor die Nederlandse vertaling van Wonderboom: “Zuid-Afrika in de toekomst. Het land gaat gebukt onder de tirannie van dictator Albino X en is in zwaar verval geraakt. Magriet Vos is een violiste die gebukt gaat onder desparate armoede en dagelijkse honger. Met enige regelmaat moet ze verplicht optreden voor Albino X. Sinds kort gaat Magriet gebukt onder vergeetachtigheid. Daarom besluit ze te vluchten naar de plek waar ze geboren is die 1500 kilometer noordelijker gelegen is.

“Haar schamele bezittingen heeft ze opgeborgen in een vioolkist. Een dagboek en de foto’s zijn er ook in opgeborgen. Deze zijn door haar vergeetachtigheid haar belangrijkste verbinding tot haar verleden. Magriet gaat op reis. Onderweg heeft ze verschillende ontmoetingen en is ze met regelmaat haar leven niet zeker. Plaatsen die ze onderweg tegenkomt roepen herinneringen op aan haar verleden alhoewel die naar verloop van tijd steeds meer vervagen.

“Lien Botha gebruikt de reis als vehikel om te vertellen over de bewogen geschiedenis van Zuid-Afrika en schept tegelijkertijd een dystopisch toekomstbeeld. Ze doet dit op een bijzondere en bijna poëtische wijze waardoor de roman indringend en onvermijdelijk is. De vele voetnoten helpen de Nederlandse lezer bij het goede begrip van Wonderboom, zonder dat het storend is. Wonderboom verdient een groot lezerspubliek. Lien Botha – Wonderboom is gewaardeerd met ∗∗∗∗∗ (uitstekend).”

In September 2016 is Lien Botha saam met Simon Bruinders, Marlene van Niekerk, Francois Smith en Marita van der Vyver na die Lae Lande, waar hulle deel gehad het aan De Week van de Afrikaanse roman. Die doel van hierdie projek is om die Afrikaanse roman in Nederland en Vlaandere bekend te stel.

Ses jaar ná die verskyning van Wonderboom word Lien se tweede roman, Vin, in 2021 uitgegee, weer by Queillerie. Dit haal die kortlys van die kykNET-Rapportprys vir fiksie vir 2022.

Wonderboom het Lien verskeie opsies en idees oorweeg vir haar volgende roman en het sy dit selfs oorweeg om die hoofkarakter die werk van begrafnisfotograaf “aan te bied” as, soos Lien aan Debbie Loots sê, “teenvoeter vir fotograwe wat troues afneem”. Maar toe, danksy ’n begrafnis wat in Vin plaasvind, skep Lien toe wel ’n karakter wat heeldag met die dooies werk: “die sexy lykbesorger Veronica met lang rooi hare wat vonk in die son”.

Tussen die publikasie van die twee romans moes Lien en haar familie ook afskeid neem – eers van haar pa, Pik, en net ’n paar maande daarna ook van hul musikantbroer, Piet. Gedurende hierdie hartseer tyd het sy aan Vin gewerk, maar dit het haar langer geneem om te skryf as wat sy ooit kon gedink het – “daar was baie drafts en gesprekke met my redakteur, Hester Carstens”.

Loots beskryf Vin as ’n “veelkantige roman met onder meer ’n geheimsinnige moord, die ontvouing van ’n liefdesverhouding, en ’n klompie interessante karakters wat amok maak, soos Sloan Kent, ’n veragtelike en gevreesde kunstenaar met kwade bedoelings teenoor die hoofkarakter, die kunstenaar-kurator, Vin Verster. Dit alles speel af teen die agtergrond van Vin se persoonlike wroeginge en haar kunsloopbaan wat haar gereeld oor die wêreld laat reis.”

Debbie Loots skryf verder oor Vin: “Die roman begin met brokkies teks oor ontbindende liggaamsdele wat iewers in die Weskus verlate in die veld lê. ’n Oor, ’n oog, ’n neus … elkeen se beskrywing is ’n kragtige doodsberiggie wat die verlies van ’n sintuig met ’n tikkie sinisme betreur. Dit word afgewissel met die verhaal van die gebeure rakende Vin se mees onlangse uitstalling en haar verhouding met haar argeoloog-man, Ryk Human. Daarna beweeg die verhaal na die verlede – toe Vin en Ryk mekaar by die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad ontmoet het.”

Lien gebruik, net soos in Wonderboom, die visuele om die teks te verryk, en hierdie maal kan die leser visueel saam met die hoofkarakter deur die wêreld reis deur op Lien se webwerf die plekke, geboue en kunswerke wat Vin besoek en sien. En Lien voel om na elke hoofstuk ’n draai in Vin se “museum” te gaan maak, die beste manier is om die boek te lees: “Dit gee ’n mens ’n blaaskans voor die volgende reis.”

Lien verduidelik verder: “Vin omvat meer as genre om die realiteit deur wisselende lense te fragmenteer. Dit is wel grotendeels ’n kunsroman, en die kunsargief is vir my ’n sentrale bron waaruit ek inspirasie put. Ná sowat drie dekades in die bedryf het ek genoop gevoel om ’n fiktiewe bestekopname daarvan te doen waarvan Vin die eindresultaat is.”

In ’n onderhoud op LitNet (25 Mei 2021) vertel Lien Botha aan Elsabé Brits dat van die plekke wat Vin in die roman besoek, ook plekke is wat sy besoek het. “Dis dus foto’s wat ek self geneem het. Jy weet mos maar hoe die ding van fiksie werk – jy het die waarheid bygelieg. Ek het by myself gedink hoe gaan ek ’n kunsloopbaan van 30 jaar net vir myself vasvat wat hopenlik ook vir ander betekenis sal hê. Om ook insae te gee in die struggles daarin, en die vreugdes. Dan is daar darem iets in ’n boek. Want alles raak nou kleiner. Voor alles weg is en ek daarvan vergeet. Dit is reise wat ek nooit weer sal hê nie. Ek het gewens ek kon teruggaan na al die plekke toe.”

Nadat Vin klaar geskryf was, sê Lien aan Brits: “Vir die volgende jaar of twee wil ek net my kop laat gaan en nie so diep in iets betrokke wees nie. Boekskryf vra te veel van ’n mens, so lekker as wat dit is. Die streng grendeltyd was vir my ’n lewensboei; al het ek in 2018 reeds met die boek begin, het baie van die skaafwerk, oor en oor soos met enige boek, die afgelope jaar plaasgevind. Ek het maar in moeilike tye elke keer teruggegaan na die teks toe. Dit is ’n rede om op te staan.”

Die inligtingstuk van Queillerie lui as volg: “Vin is die verhaal van kunstenaar-kurator Vin Verster se geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgaan met kuns, haar verhouding met haar argeoloog-man, en haar vermoë om in SA sielerus te voel. Deur twee dekades van oorsese kunsresidensies, voortslepende familiedrama en die benouende obsessie van ’n vyandiggesinde in die kunswêreld sien die leser met die oë van dié vindingryke kuns-vlugteling.” (Maroela Media, 15 Augustus 2021)

“Die verhaal skop af met die ontstellende raaisel van ’n afgesnyde oor wat in die veld lê. Eers aan die einde van die roman word die leser weer met dié toneel gekonfronteer en leer wie se oor die nou eintlik is,” skryf Phyllis Green (Sarie, 24 Augustus 2021).

“Vin is ’n boeiende karakter, soms ook frustrerend, want sy is uitgesproke en ly ook aan ligte paranoia. Haar ouers is jare gelede vermoor, die skuldiges is nooit vasgetrek nie. Boonop het daar ook ’n skildery uit haar ouerhuis verdwyn rondom die tyd van die moord. Vin se verhouding met haar argeoloog-man, Ryk, versleg weens haar skoonfamilie se voortslepende dramas. Al hierdie elemente speel ’n belangrike tematiese rol en jy moet enduit lees om die raaisel te ontknoop.

“Dié roman lees jy nie in een sessie deur nie. Dis vir lees en besin, weer lees en weer besin. In die proses word jy blootgestel aan ’n kunstenaar se binnewêreld en die inspirasie, sowel as die onbestendigheid, van die kunste. Lesers kan die boek lees sonder dat hulle enige kunsagtergrond het, maar sou jy meer oor die kunswerke in die verhaal wou leer, kan jy hoofstuk vir hoofstuk daarna kyk op ’n toegewyde portaal op Botha se webblad.”

Water speel ’n belangrike rol in Vin, en hieroor brei Lien uit teenoor Phyllis Green: “Water is ’n kardinale sleutel in die verhaal en die medium waarin sy voortgesleur word. Lesers kan bedag wees hierop, want sonder water sou ek Vin nie kon skryf nie. Vin woon in seë, mere, riviere, sy swem tussen ander visse, sy beur land toe. Dan weer terug water toe, sy swem deur skoonheid, aftakeling, asook deur vreugde en verdriet. Ja, Vin sinspeel gewis op die vis se ledemaat.”

Jean Meiring het Vin vir Netwerk24 geresenseer (25 Julie 2021): “Lien Botha se tweede roman is ’n komplekse en uitdagende boek. Tegelyk is dit, dalk verrassend, ’n loutere plesier om te lees. Soos in so baie onlangse Afrikaanse romans word iets soos ’n tradisionele storielyn met die wêreld van sprokies, magie en onwerklikhede vervleg. […]

“Botha se webblad vol beelde bied vir die leser ’n uitdaging. Hoe word dit ten beste hanteer? Self het ek die storie aanvanklik sonder verwysing na die beelde deurgelees. Ek wou ’n heen-en-weer tussen blad en webblad vermy. Ten spyte van die rykheid aan visuele verwysings in die teks, was die titels van skilderye, ensovoorts, aanvanklik vir my genoeg.

“Met ’n tweede, meer talmende lees, en met die storie reeds beeldmatig in my kop ingelood, het ek al lesend elke dan en wan die webblad besoek. Natuurlik het daardie proses iets toegevoeg; soos prente maak, het hulle verhelder. Eweneens egter, het dit, soos ’n boek wat ’n fliek word, dalk die verbeelding se prestasie ietwat verskraal. […]

“Maar wat vasstaan, is dat Botha, soos sy reeds met Wonderboom gewys het, wéét van storievertel. Haar prosa is skerp, beeldryk en gespierd […] Net dikwels genoeg verdraai of vervreem sy die geykte om nuwe, verrassende segging in die hand te werk […]

“Ook is daar heelwat skalkse, soms onverwagte humor. Uit stukkies koordferweel en sy, dryfhout en knarsskulpies weef Botha ’n ryk, vernuftige en uiters genotvolle roman. Lank ná boektoemaak, ná die tong-in-die-kies slot ‘fin’ (bladsy 259), bly ’n mens daaroor mymer – soos in die maanlig oor ’n sprokie.”

Trisa Hugo (Netwerk24, 26 Julie 2021) is van mening dat lesers wat aanhangers is van Ingrid Winterbach en Etienne van Heerden se boeke, Vin net so gulsig sal lees in “die gulheid waarmee dit geskryf is. Vin is selfs meer gewaagd as Botha se bekroonde distopiese debuutroman, Wonderboom. Hierdie boek vra ’n behoorlike herlees, om die sirkels van ons bestaan te bekyk deur Vin, want as die leser ademloos by die einde kom, neem dit jou weer terug na die begin.

“As leser kon ek spoorsny op die lewe en ontheemdheid van Vin deur die oë van Lien Botha. Dit laat die leser ook die self konfronteer, met eie ontnugtering van die lewe wat nie altyd uitspeel soos in ons naïewe jongmensdrome nie.”

Op LitNet bespreek Jonathan Amid Vin en sluit so af: “Soos Vin op ’n kol die Suid-Afrikaanse padkaart in repies sny, so beliggaam Botha se tweede roman ’n diep empatiese, sensitiewe vorm van collage, ’n poging om op haar uniek-universele manier iets van waarde en weerloosheid aan die gevoelige leser te kommunikeer.

“Soos daar uiteindelik ’n ster deur Vin se lyf torpedo, so kan geen leser van Vin ongeraak bly nie. Oor ’n see van marmer wil Vin die moeilike woord ‘incarnadine’ saam met Virginia Woolf fluister. Oor hierdie kunsroman hoef ons allermins te fluister: Vin se verhaal is eenvoudig onvergeetlik; Botha se woorde is vlamme op water.”

Elsabé Brits vra vir Lien hoe sy as kunstenaar die visuele wêreld sien en of sy deur ’n kameralens kyk of nie. Hierop antwoord Lien só: “Nee glad nie. Dit freak my eintlik as mense so rondloop met daai goed. Mens sien dan eintlik niks nie. Weet jy, as jy wonderlike kuns sien, die kleure die passie, is dit iets wat jy tot in jou maag voel. Die naaste wat ek aan dit gekom het in die wêreld waarin ons woon, was toe ek vir die eerste keer aan ’n olifant kon raak.

“Dit was by ’n park in Knysna waar die olifante gerehabiliteer word. Dit is so goed as wat dit kan wees vir hulle. Ek dink met goeie kuns, wat kom van daardie plek wat amper primal is, jy weet, is dit nie goed wat jy doen vir geld nie, of wat ook al nie. Dit is daardie gevoel om aan die olifant te vat. Die vel en die tekstuur te voel. Die oog. Daardie diere kom van 55 miljoen jaar gelede af. Dis soos rotstekeninge ook – as jy die handjies teen die rots sien, dit kom uit ’n baie diep, oerplek uit. Dit is ’n noodsaaklikheid. En jy kan dadelik sien as iets ’n ander motivering het. Dit kan tegnies goed wees, maar dit sal jou nie noodwendig roer nie.”

Publikasies:

Publikasie

LIEN BOTHA [TAXI-OO5]

Publikasiedatum

2002

ISBN

0958449619 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: David Krut-uitgewery

Literêre vorm

Kunsboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • KvdM: Kortliks. Insig, November 2002
  • Minnaar, Melvyn: Kleurryke kennismakings. Die Burger, 12 Julie 2003

 

Publikasie

Wonderboom

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780795800955 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2016 Huisgenoot Tempo Boek van die Jaar
  • 2016 Jan Rabie-Rapportprys
  • 2016 kortlys kykNET-Rapport-boekprys
  • 2016 kortlys UJ-debuutprys
  • 2016 kortlys WA Hofmeyr-prys
  • 2016 WoordTROfee vir visuele kuns (Woordfees)
  • 2017 Eugène Maraisprys vir prosa

Vertalings

  • 2019 Nederlands; vertaal deur Robert Dorsman; uitgegee deur Zirimiri Press

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vin: ’n roman

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780795802003 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2022 kortlys kykNET-Rapportprys vir fiksie

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Lien Botha

 Artikels deur Lien Botha

Lien Botha se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2025-06-17 gepubliseer.

Eindnota

1 ’n Volledige lys van Lien Botha se residensies, toekennings en studiebeurse, solo-uitstallings, uitstallings in samewerking met ander kunstenaars, groepuitstallings in Suid-Afrika, internasionale groepuitstallings, seminare, uitstallings waar sy as kurator opgetree het, katalogusse/publikasies, versamelings en ander uitstallings en openbare optredes kan gevind word by Lien Botha. Vir die doeleindes van die skrywersalbum word daar op Lien Botha se skryfwerk gefokus.

 Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top