Die sanger-liedjieskrywer Liela Groenewald, wat oor die jare bekendheid verwerf het as agtergrondsanger vir van die land se voorste kunstenaars, het onlangs haar debuut-solo-album, Horison, vrygestel. Sy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag Liela, hoe’s dinge?

Henry, met mense wat vir my omgee en musiek daarin, is die lewe ’n lied. Dinge lyk goed.
Geluk met die vrystelling van jou debuutalbum, Horison. Ek vermoed talle mense en aanhangers wat jou stem oor die jare heen goed leer ken het, veral as agtergrondsanger vir Koos Kombuis en andere, sal nie vra hoekom daar ’n solo-album kom nie, maar eerder hoekom nóú eers. Wat is jou gevoel hieroor?
Dankie! Ek is baie opgewonde oor die album en nou al hoe meer bewus van die groot en belangrike rol wat musiek in my lewe speel. Wat ’n fantastiese, positiewe energie – een wat ek vroeër onderskat het.
Na seker 15 jaar van maar traak-my-nie-agtig musiek maak, het dit vir my na ’n groot, seer gaping begin voel om geen rekord van my musiek te hê nie, om dit nie te kan deel nie. Ek het deur ’n vriend van my, Riku Lätti, kontak gemaak met Peter Auret, ’n jazz-tromspeler met sy eie studio, wat toe die album opgeneem het. Peter het my verwagtinge oortref deur in ’n baie groot mate daarin te slaag om my visie vir my songs vas te vang. Ek was ook bevoorreg om fantastiese musikante te kon inspan. Ek self het gesing, en drie kitaarspelers, Louis Mhlanga, Anton L’amour en Jonathan Crossley, het op die album gespeel. Roland Moses het klavier gespeel, Cesare Cassarino die bas, en Peter Auret die tromme. Ek is werklik tevrede met wat ons reggekry het.
Intussen het ek egter voltyds gewerk, terselfdertyd studeer, en twee kinders gekry. Ek het my hande vol gehad. Horison was klaar, maar met soveel hooi op my vurk wou ek die album nie in ’n vakuum – sonder lewende optredes – vrystel nie. Die verhoog en die gehoor verskaf die motivering om aan te hou groei in musiekmaak. Toe ek in Junie verlede jaar ’n oproep van Oppikoppi se Retha Bornmann kry om by die Bewilderbeast-fees in Augustus op te tree, het dit die bal aan die rol gesit. Ek het my stembande opgewarm, my kitaar afgestof, en weer op die verhoog geklim. Ek kon uit my vel spring. Soos elke keer vantevore was Oppikoppi fantasties en nét die inspuiting wat ek nodig gehad het om weer vir musiek die plek in my lewe te maak wat dit verdien. In Oktober 2013 was die tyd dus uiteindelik ryp om Horison vry te stel. Ek het dit met twee funksies gedoen by Railroad Café in Irene, Pretoria en Amuse Café in Linden, Johannesburg.
Jy is reg, die mense wat my musiek vroeër by optredes leer ken het, het oneindig baie beteken. Die fantastiese ondersteuning en warm ontvangs wat ek gekry het, was vir my ’n riem onder die hart. Ek het die diepste waardering vir elkeen wat bereid is om die geld uit te haal om ’n album of kaartjie te koop, want dít is wat dit vir my moontlik maak om aan te hou musiek maak.
Met 16 snitte is dit ’n besonder stewige debuut, en jy het 14 van die snitte self geskryf. Hoe lank skryf jy al aan hierdie liedjies, en hoe het jy gekies watter om uit te laat en watter om op te sit?

Horison is ’n samevatting van 20 jaar se liedjies. Ek het die 14 liedjies gekies wat ek voel iets te sê het wat vir my belangrik is om te sê. Ek het vroeër nie juis my musiekloopbaan die toewyding gegee wat dit verdien het nie. My benadering was ’n bietjie hedonisties. Dit het ook veroorsaak dat ek liedjies soms nie ordentlik klaargemaak het nie. Die 14 oorspronklike snitte het almal ’n struktuur en lirieke wat vir my werk. Ten tye van die opname was dit ook vir my belangrik om ’n balans tussen my Afrikaanse en Engelse liedjies te bereik. Dan is daar die “Internasionale”, die lied uit die Franse Revolusie, wat ek in Afrikaans vertaal het. Dit was my reaksie op die onmenslike gesloer daarmee om ’n Suid-Afrika te bou waarin ook arm mense ten volle mens kan wees. Die ander snit is “Malaika”, die volksliedjie uit Oos-Afrika wat deur Miriam Makeba bekend gemaak is en waarna my dogter vernoem is.
Beide Afrikaans en Engels word uiters vaardig ingespan op die album. Watter taal geniet jy meer om in te skryf en hoe werk die besluitneming oor of ’n liedjie Afrikaans of Engels moet wees? Is daar sekere dinge wat ’n mens in die een taal kan sing of vertel wat nie in die ander taal sal werk nie?
Afrikaans is ’n ryk, idiomatiese taal. Enige storie kan uitstekend in Afrikaans vertel word, en daar is heelwat stories wat nog nie genoeg (of mooi genoeg) in Afrikaans vertel of gehoor is nie. Toe Neville Alexander nog geleef het, het hy oortuigend daaroor gepraat dat betekenisvolle kommunikasie verg om met mense in hulle eerste taal te praat; dat diepgaande vernuwing en verandering nie bereikbaar is deur mense van kleiner tale na ’n meerderheidstaal of globale taal te bekeer nie. So ’n benadering is eerder geneig om te veroorsaak dat mense ’n gesplete persoonlikheid ontwikkel tussen die tradisies en waardes wat hulle in hulle moedertaal opgetel het, en dié perspektiewe wat in ’n tweede taal opgesluit lê; tussen ’n geborge private en oppervlakkige openbare persoonlikheid. Ek was in die laat apartheidsjare ambivalent oor Afrikaans. Afrikaans was die taal van die onderdrukker, waarin mense snags uit hulle huise gejaag is, verskree is en verontmenslik is. Maar dit is ook maar ’n apartheidfantasie, want niemand het alleenreg op ’n taal nie. In die Kaap, waar ek grootgeword het, was dit ook die taal van opstand teen daardie stelsel, die taal van verandering, ’n taal wat gewone mense nie net in die kombuis nie, maar ook vir alles van liefde tot politiek ingespan het. Daar is geen rede om vas te klou aan die pynlike verlede nie. Ons hoef nie saam te stem oor een betekenis of perspektief wat met Afrikaans geassosieer word nie; ons hoef ons ook nie in Afrikaans te bepaal by ’n beperkte klompie geoorloofde gesprekke nie. Die taal is meer as bevoeg om ’n wye verskeidenheid verskillende lewensuitkyke te akkommodeer. En dis die taal van my hart. Ek put besondere genot en bevrediging daaruit om iets betekenisvol in Afrikaans te skep. Wat is betekenisvol? Die wêreld is so vol van geweld en brutaliteit dat die blote skep van iets moois heelwat betekenis kan hê.
Engels is die taal waarin ek elke dag werk, nog ’n taal waarin ek graag lees, fliek en teater toe gaan. Dit maak Engels ook kreatief toeganklik vir my. Die wêreld het meer gesprekke oor allerhande grense heen nodig en Engels het voorheen vir my voorgekom as ’n taal waarin dít meer moontlik is. Maar my liedjies bemoei hulle met plaaslike, Suid-Afrikaanse kwessies, en ek kry die beste ondersteuning uit Afrikaanse geledere. Met die uitsondering van die “Internasionale” se Afrikaanse lirieke, glo ek nie dat ek al ooit doelbewus gekies het om een tema in Afrikaans en ’n ander in Engels aan te spreek nie. Ek het eerder in ’n sekere taal aan ’n refrein gedink en dan daarop gebou. Op die album kom hartsake en meer openbare sake in albei tale voor. In die toekoms sal ek heel moontlik meer klem op Afrikaans lê.

Luidens jou webwerf is jy onbeskaamd ’n “protégé” van beide Koos en Valiant Swart, maar jy het ook vroeg in hul loopbane vir hulle gigs en toere gereël. Is dit dus veilig om aan te neem dat die passie vir plaaslike alternatiewe musiek vroeg al by jou ontkiem het? Wat is jou gunsteling-herinnering aan daardie tye en wat is die invloed daarvan op die Horison-album? (Ek luister na “Song vir Koos” soos ek hierdie vraag tik.)
My pa het altyd vir ons kitaar gespeel en gesing toe ek grootgeword het – folkliedjies met pragtige melodieë in Afrikaans en van die sestiger-folkkunstenaars. Joan Baez was ’n groot gunsteling. Ek het op hoërskool koerante afgelewer vir sakgeld en nooit vir ’n oomblik getwyfel dat ek daardie paar rand sou inspan om musiek te koop nie. Ek het ook gereeld die New Musical Express uit Brittanje gekoop om te lees oor wêreldwye onafhanklike musiek. Maar ja, lirieke in idiome wat hier tuishoort en oor die dinge wat hier in Suid-Afrika saak maak, het my baie na aan die hart gelê. Koos se Ver van die ou Kalahari was nie een van hierdie aankope nie. Dosyne kopieë van die album is in Stellenbosch op kassette versprei en so een het by my ook geland. Ek het dit oor en oor geluister en kon my skaars inhou toe die Voëlvry-toer aangekondig is. Ek was te jonk vir die venue, maar het gesmeek en gepleit en my pa en ds Carel Anthonissen het my toe saam na die Voëlvry-konsert toe gevat. Ander jongmense wat nie bereid was om ’n rat in daardie ou masjien te wees nie! Dit was bemagtigend. Koos en Valiant het later, in my studentejare in Pretoria, saam getoer en dit is toe dat ek hulle albei leer ken het. Ek is baie dankbaar teenoor beide Koos en Valiant vir hulle vriendskap, die beste, beste tye, en ook die manier waarop ek deur my kontak met hulle betrokke kon word by plaaslike musiek en fantastiese musikante kon ontmoet. Op die ou end is hulle albei se persoonlike invloed en vriendskap heelwat belangriker as enige musikale invloed.
Een van die mees natuurlike en bekwame musikante in die groep was Anton L’amour, wat nou gereeld saam met Theuns Jordaan optree en ook sy eie studio het. Daar was ’n keer toe Koos en die Warmblankes op toer was in Dirk Uys se blou kombi. Ons het in Bloemfontein by die Wimpy gaan ontbyt eet voordat ons almal terug in die kombi geklim het. Niemand het daaraan gedink om te tel of almal teenwoordig is voordat ons op die pad geklim het nie. Almal was maar lekker moeg na die vorige aand se optrede en het by die vensters uitgestaar na die landskap wat verby gly. ’n Goeie halfuur uit Bloemfontein vra iemand: “Waar is L’amour?” Almal kyk toe rond in die kombi en besef met skok dat ons wragtie uit Bloemfontein gery het sonder L’amour, wat regtig nie sommer ’n toevallige bykomstigheid in die band was nie. Dit was in die dae voor selfone algemeen was, en dit was ’n uur of so wat L’amour moes staan en wag. Hy was nogal lekker dikbek toe ons hom weer voor die Wimpy oplaai.
Ondanks jou “agtergrond”-rol op die musiektoneel tot nou het jy al ’n toekenning of twee ingepalm, onder meer die Abelarde-prys vir Best Female Vocalist in 2000. Wat is jou gevoel oor sulke toekennings, veral met die aard van die plaaslike toneel in ag genome?
Dit tel waar ’n kompliment vandaan kom. Die Abelarde was ’n piepklein maar berugte kroegie in Brixton in Johannesburg, waar vernuwende musiek en heerlike debatte aan die orde van die dag was. Alternatief? Sekerlik. Maar nog veel meer belangrik: onafhanklik, sonder om ooit kwaliteit in te boet. Die grootste genot van die tyd was die optredes wat ek saam met Andries Bezuidenhout daar gehad het, maar die komplimente in die vorm van toekennings was heerlik om te ontvang, veral omdat ek seker kon wees dat geen platemaatskappy of finansiële belange die keuse beïnvloed het nie.
Gepraat van die plaaslike toneel ... dit is iets wat jy nou al oor die jare intiem leer ken het. Hoe voel jy oor die stand van plaaslike musiek, veral Afrikaans, ook vergeleke met toe jy/julle destyds begin optree het?
Plaaslike musiek is so warm soos witblits, en dit was ook so in 1988. Die bands rondom die Voëlvry-beweging het wat musikale standaard betref nie grappies gemaak nie. Maar ek moet beken daar was lanklaas iets splinternuut in Afrikaans wat regtig tot my spreek. Plaaslike bands het nie in 1988 nodig gehad om terug te staan vir internasionale musikante nie, en daar is vandag steeds musiek van ’n uitstekende gehalte. Maar dit voel vir my of van die dinge wat toe al begin het, soos Oppikoppi, en die kunstenaars van daardie tyd, steeds van die beste dinge op die musiektoneel is. Dit stel my teleur, veral omdat daar skuiwe is wat nog moet gebeur.
Een teleurstelling is dat ek bietjie moeg is van heruitsendings. Ek mis die fantastiese musiekprogramme soos Geraas en Draadloos wat gehore aan bekende en opkomende Afrikaanse musikante blootgestel het – en nie net dié wat op ’n redelik eng kernmark gemik was nie. Meer stemme en benaderings maak ’n ryker musiektoneel.
Die negentigs was so ’n opwindende en hoopvolle tyd. Daar was ’n ontploffing van kreatiwiteit én van geleenthede om musiek te maak en te kyk. Daar was ’n groot klomp opgewondenheid oor meer vryheid en die kans om uit te breek uit die kettings en beperkings van voor 1994. Koos is een ou wat hierdie kans besonder goed aangegryp het met sy slag daarvoor om ernstige, donker sake op ’n ligte manier aan te spreek, wat meer mense laat luister.
Tog was dit ’n reuse-uitdaging om die eng perspektiewe waarin ons gedompel was, af te skud. Hoe dan anders? Ons was vir so lank ingedwing in aparte buurte, maniere van dink, werke, geïsoleerde boksies. Die perspektief van die kringe waarvan ek praat, was oorwegend wit. ’n Mens sou dink ons kon al veel verder beweeg het in die rigting van saampraat, saamkuier, saam musiek maak.
Daarom gaan een van my grootste teleurstellings daaroor dat ons perspektiewe, feeste en kuiers grootliks steeds so apart is. Twintig jaar na die einde van apartheid laat Suid-Afrikaners se sinisme oor die ideaal van ’n reënboognasie hulle toe om in hulle demografies afgebakende gemaksones terug te sak. Die staat dwing ons nie meer om apart te wees nie. Ek is teleurgesteld oor die beperkte hoeveelheid brugbou wat jong en opkomende kunstenaars op die planke sit. Ek wonder soms of die besluitnemers en borge probeer om een, vae, breë, nuwe hoofstroom Afrikaanse identiteit te konstrueer en wegskram van meningsverskille en teenpoolperspektiewe in Afrikaans. Dit sou ’n fout wees wat in dieselfde slaggat as die argitekte van apartheid trap.
Ek glo nie hierdie uitdagings geld uitsluitlik vir Afrikaanse musiek nie, maar ek hoop Afrikaanse liriekskrywers en musikante gaan die uitdaging takel. Marlene van Niekerk se Agaat het dit uitstekend gedoen; Fred de Vries se Rigtingbedonnerd trek weer in die teenoorgestelde rigting deur so oorwegend op wit Afrikaanssprekendes te fokus.
Ek hoop ons kan skuif om uiteindelik in die reël – en nie as ’n uitsondering nie – oor die grense van die verlede heen te kan saamwees. Dit beteken nie dat identiteit uitgewis hoef te word nie, maar wel krities ondersoek moet word. Ek hoop ons gaan meer projekte sien wat eerlik en krities kan wees oor ons aparte geskiedenis en hede, maar so ook begrip en brûe kan bou.
Jy is, soos jou kollega in musiek Andries Bezuidenhout, ’n sosioloog van beroep. Watter invloed het dit wat jy in jou werk beleef, op die kuns wat jy skep? Of verkies jy soos sommiges om die twee aspekte so ver moontlik apart te hou?
Dit is twee baie verskillende kante van my persoonlikheid wat na vore kom in dié twee dele van my lewe. Ek is sosiaal en polities bewus en betrokke, en dit is ’n dryfveer van sosiologie sowel as my liedjies. Maar die twee roepinge oorvleuel nie juis nie. Tog beïnvloed hulle mekaar. Ek dink byvoorbeeld musiekmaak het my meer selfvertroue voor groot klasse gegee.
Deur al die optredes, toere en opnames het jy baie gesien en baie gesing. Is daar ’n paar hoogtepunte wat uitstaan? En laagtepunte – plekke wat nie sommer weer besoek sal word nie, en dies meer?
Jong, ek was nóú betrokke by die begin van Oppikoppi, en daardie liefde en bekoring sal nooit geblus word nie. Ek het ook al fantastiese geleenthede gekry by Inniebos en by die KKNK. Dit beteken baie wanneer ’n instelling mooi na kunstenaars kyk. Musiekmaak is vir my ’n voorreg en dit is regtig moeilik om aan ’n laagtepunt te dink.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir jou as sanger in?
Ek en Mervin Williams kyk tans na waar ons hierdie jaar wil optree en ek sal bly wees as mense my by za.folkpunk@gmail.com kan e-pos met voorstelle vir venues. Ons werk aan ons gesamentlike repertoire. My grootste invloede was uit folk rock, maar township jazz het ’n groot deel van my hart en laat my heupe swaai. Ek en Mervin kyk na die moontlikhede van nuwe folk rock materiaal met jazz-invloede. Ons dink reeds aan ’n gesamentlike album, maar dit is ’n langertermyn-projek. Mervin is ’n fantastiese musikant uit eie reg en ek hoop ook om by die opname van ’n Mervin Williams-album betrokke te kan wees. Die realiteit van die saak is dat dit nie genoeg is om dit net vir die liefde van musiek te doen nie. Hoe meer betalende geleenthede om op te tree, hoe meer kan ons uitrig.
Wat is die sin van die lewe?
Ek het meer vrae as antwoorde. Op sy album Van Mpumalanga tot die Kaap sing Stef Bos dat die lewe gaan oor “jy en jou suikerbossie saam”. Om met deernis, medemenslikheid en verdraagsaamheid om te gaan met die mense rondom ons, moet sekerlik deel wees daarvan. Dis nou nie die vreeslose waagskoot van daardie roekelose en politiese jong sangeres wat mense dalk van vroeër onthou nie, maar om vir almal te droom dat daar tot so ’n mate in hulle basiese behoeftes voorsien is dat hulle soms van alles kan vergeet en saam die mooi dinge in die lewe geniet – musiek, maanskyn, die liefde – dit is tog ’n groot droom.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

