Liefdesleuens deur Malene Breytenbach: ’n resensie

  • 0

Liefdesleuens deur Malene Breytenbach (LAPA, 2025)

Titel: Liefdesleuens
Skrywer: Malene Breytenbach
Uitgewer: LAPA (Romanza)
ISBN: 9781779870889

Ek het pas die deurwinterde en bekroonde skrywer, Malene Breytenbach, se jongste Romanza, getiteld Liefdesleuens, gelees. Sy is 76 jaar oud en daar het al meer as 50 boeke uit haar pen verskyn, waaronder romanses (kontemporêr, medies, histories, Romanza en Superromanza), romans en historiese fiksie.

Malene het verskeie grade: die grade BA en BA (Hons) (Engels), asook die grade honneurs, magister en DPhil in joernalistiek, MA (Ou Nabye Oosterse Studie) en MPhil (Antieke Studie). Hierdie interessante studierigtings help haar met die inkleding van haar boeke se agtergrond. Die titels van slegs ’n paar van Malene se Romanzas wat onlangs by Lapa Uitgewers verskyn het, is Liefde en oorlog (2023), Liefde genees (2024), Seenimf en die skeepsdokter (2024), Die hart het geheime (2025) en Skakerings van liefde (2025).

In 2019 verskyn daar in Vrouekeur (6 Februarie, bl 10) ’n onderhoud wat Moryn Hansen met Malene gevoer het. Daarin sê Marlene:

Kenmerkend van liefdesverhale is daar baie kinkels in die kabel. Ek kry ’n verhaal in my kop met tyd en plek. Ek dink aan karakters en min of meer in watter rigting die storie moet gaan. Dit help nie ek beplan alles vooraf nie, want die verhaal skiet lote en gaan op jakkalsdraaie. Namate ek skryf, kom die idees, die kinkels in die kabel. Ek kan nie vooraf aan alles dink nie. Ek kry aha-oomblikke. Ek het min of meer ’n roetine. Ek skryf elke dag minstens vier ure lank en dan vorder ’n verhaal. [...] Ek is ’n organiese skrywer!

Sy haal dan die outeur en joernalis Cory Doctorow aan: “Writing is like driving a car at night. You can only see as far as the headlights, but you make the whole trip that way.”

Liefdesleuens is dan ook vol kinkels in die kabel. Die leser ontmoet vir Maya, ’n baie suksesvolle eiendomsagent. Sy werk by haar verloofde, Douw, se agentskap. Douw is ’n aantreklike man met ’n flambojante persoonlikheid en lewenstyl. Hy is lief vir geld en net die beste is goed genoeg vir hom. Hoewel Douw liefdevol teenoor Maya optree, hou hy haar tog op ’n afstand en kom hulle nie tot trou nie. Douw raak al meer ontwykend. Maya besef dat daar dalk dinge van hom is waarvan sy nie weet nie, maar sy wil hom steeds bystaan. Gedurende hierdie deurmekaar tyd, ontmoet sy vir dokter Reinhardt Enslin, ’n vermoënde kliënt op soek na ’n huis om te koop. Hy is ’n wewenaar met twee kinders op universiteit. Om alles te kompliseer, raak Maya en Reinhardt aangetrokke tot mekaar. Maar Reinhardt se vrou is maar onlangs oorlede; hy rou nog. En wat sal sy kinders sê as hy so gou ná hulle ma se dood by ’n vrou betrokke raak?

........
Dis hierdie fluktuasies, heel geloofwaardig ook, wat my die bladsye laat omblaai het om te lees wat volgende gebeur.
........

Ek het heerlik aan Liefdesleuens gelees. Op bladsy 104 sê Reinhardt dat die maksimum wat hy bereid is om vir ’n huis te betaal, “twaalfduisend” is. Dit is ’n fout en moes “twaalfmiljoen” wees. Die huise in hierdie boek is peperduur en Maya se kliënte skatryk. Dit onderstreep die feit dat sy reeds op ’n jong ouderdom genoeg geld van haar eie verdien en dus volkome onafhanklik is. Tog is daar ’n teenstrydigheid, want sy sukkel om besluite te neem, soos om uit haar werk by Douw se agentskap te bedank. Haar oordrewe sin vir lojaliteit hou haar daar. Of is sy werklik lief vir Douw en is hy tóg die man vir haar, al stel sy doen en late haar bitter teleur? Net toe ek dink alles tussen hulle is verby, gebeur daar iets met Douw wat my weer laat dink die verhouding sal hervat word, of Maya sal haarself verder in ’n situasie dompel waaruit sy nie sal kan wegstap nie. Dis hierdie fluktuasies, heel geloofwaardig ook, wat my die bladsye laat omblaai het om te lees wat volgende gebeur.

Maya bevind haar aanvanklik in ’n innerlike stryd tussen liefde en lojaliteit. Soos die bekende sanger Chris de Burgh dan ook sing: “The classical dilemma between the head and the heart.” Sy wil ’n lewe saam met haar geliefde hê wat gebaseer is op integriteit en respek. Maar nou raak hy iemand wat sy nie ken nie. Of het sy hom altyd verkeerd gelees? Die storie is deurspek met twyfel, ontnugtering en verlies, ook hoop, afsluiting en weer begin. Dis lekker om mettertyd te sien hoe Maya haar kop en hart uitsorteer. Sy voel soos ’n verliefde tiener en kry eintlik lag vir haarself, want dis so lekker om waardeer te word. En die man wat haar hart wild laat klop, is só sexy dat iets in haar maag krul (bl 126). As dinge net sal uitwerk soos sy hoop dit sal!

Liefdesleuens is goed geskryf en hou die leser se aandag. Dit bied ook ’n insiggewende blik op ’n eiendomsagent se leefwêreld en die gerief en luukshede waarna ryk huiskopers op soek is.

Skaf jou kopie by ’n toonaangewende boekwinkel aan of bestel dit hier aanlyn by LAPA.

Lees ook:

Om Karolien te beskerm deur Elsa Winckler: ’n resensie

Soen my, cowboy deur CM Christians: ’n resensie

’n Noodvlug vir Rusty deur Jaco Versfeld: ’n resensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top