Liefde is ... Wenners aangekondig

  • 0

Met die oog op Valentynsdag het LitNet lesers genooi om ’n gedig met die tema "Liefde is ..." te skryf. 

Altesaam 148 uiteenlopende inskrywings is ontvang en 15 gedigte het op die kortlys verskyn. Hier is die vyf wenners wat elk ’n boekpakkie geborg deur NB-Uitgewers en LAPA Uitgewers ontvang.

  • Elizabeth Arends
  • Jaomi Zeeman
  • Marianne Jonker
  • Marthé McLoud
  • Zerelda Esterhuizen

 

Elizabeth Arends

Liefde is vorme van lig

In hierdie duist’re grys mis
van onsekerheid,
onder die strawwe skadu’s
van veroordeling,
deur die dralende newels van
te veel
ter wille van en
heeltemal te min syn
(en samesyn)
durf ek nie
opgee meegee ingee.
Eerder van binne sterk gesmee
óp
sodat ek – wanneer die donker op sy nagste is –
die lig hóóg kan hou
as ’n soeklig wat
nimmer verflou
as ’n skans teen als wat
my wete wil doof
as ’n vlam met tonge
wat die laaste onsuiwerheid oplek
as ’n fakkel wat eindelik
triomfeer en dan
as ’n kompas - vir jou
wat séker die rigting roep:

O, kom dan nou
net een tree nog …
(en nόg)
na hier waar ek stralend
bly wag
totdat ons sáám
vry kan wees en helder
én lig.


 

Jaomi Zeeman

Die liefde is

Die liefde is ’n cumulus
wat konvektief uitpof
met vogdruk wat latent verhit 
en siklies self leegplof.

Die liefde is ’n soutrivier
waar wit windmantels kiel
met rietneste vir vleilandvoëls
wat in sy kuile spieël.

Die liefde is ’n ou matroos 
wat swetsvaarte onthou
met ’n wiggelkim op sy gelaat
en ’n kaai met ’n ankertou.

Die liefde is ’n klein, klein huis
wat sagte sugte slaak
met ’n vuurherd en ’n stoomkombuis
as die dak saans koeler kraak.


 

Marianne Jonker

’n verkleurmannetjie
wat met klewerige voetjies
klein stetoskopies
aan die hartswand sit
en stip
luister hoe klawers teen klankbord
klop-klop
in morsekode vertaal
en hervertaal in kleur
en ons maak dans op die maat van
grys
of geel
of van koraal
terwyl hy selftevrede toekyk
(hy wieg soms begeesterd saam)
klein antieke towenaar
... die liefde is sy naam


 

Marthé McLoud

Valentynsdag

Sewe jaar oud en my pa
lê in die bad die water
is ligpienk en my mond
gil die stilte stukkend.

Pa lê in die hospitaal sy polse
is toegerol in verbande net sy
skelethande steek uit en sy oë
sê nie eens dankie nie.

Een oggend in Mei klim hy
in sy motor en verdwyn.  
Hy het dan nog die oggend saad
uit honderde katalogusse bestel?

Ma koop vir haar ’n dubbelgraf
so asof Pa na drie-en-dertig jaar
soos ’n verdwaalde olifant sal onthou
en na sy saad terug sal keer.

Elke jaar op Valentynsdag pluk ek
vir hom vergeet-my-nie's,
sit dit in ’n pot bo die kaggel
en wonder: Is dit wat liefde is?

(Na Richard Zimler se kortverhaal "Personal Fulcrums")


 

Zerelda Esterhuizen

Breytenbach sê dit met ’n rooiborsduif
en Boerneef met ’n veer
Maar laat ek gou rymelary en gevleuelde woorde keer,
want as die liefde suburbia, selluliet, snot, koors en skuld oorleef
is dit liefde
Dis daai hand wat donkernag na joune soek
die holte van twee lywe op ’n matras
die takeaway ná die soveelste verbrande kos
die sag praat in die stil ure van die nag
So mits dese wil ek vir jou sê
Liefde is nie net ’n engel nie
Maar dis die liefde
En dis al


 

Boekpakkie 1

  • Keur 12 deur Ena Murray (Tafelberg, ISBN 9780624080077)
  • Omnibus 11 deur Louisa du Toit (Tafelberg, ISBN 9780624083276)
  • Keur 3 deur Christine le Roux (Human & Rousseau, ISBN 9780798174763)
  • Zeza en die prins deur Marijke Greeff (LAPA, ISBN 9780799354430)
  • Tweede kans op liefde deur Elza Rademeyer (Tafelberg, ISBN 9780624085010)
  • Van sorg na liefde deur Malene Breytenbach (Tafelberg, ISBN 9780624080893)
  • Chirurg van harte deur Susan Pienaar (Tafelberg, ISBN 9780624083436)

Boekpakkie 2

  • Keur 13 deur Ena Murray (Tafelberg, ISBN 9780624082118)
  • Keur 12 deur Ettie Bierman (Tafelberg, ISBN 9780624080800)
  • Keur 14 deur Schalkie van Wyk (Tafelberg, ISBN 9780624083528)
  • Wilde hawer deur Madelie Human (LAPA, ISBN 9780799381818)
  • Vurig op Flaminkevlei deur Trish Goosen (Tafelberg, ISBN 9780624080558)
  • Geliefde heler deur Malene Breytenbach (Tafelberg, ISBN 9780624083405)
  • Liefde onbeperk deur Luné Olivier (Tafelberg, ISBN 9780624083375)

Boekpakkie 3

  • Keur 14 deur Ena Murray (Tafelberg, ISBN 9780624082910)
  • Omnibus 8 deur Annelize Morgan (Tafelberg, ISBN 9780624083306)
  • Melodie Omnibus 2 (Tafelberg, ISBN 9780624083498)
  • Stiletto's van staal deur Bernette Bergenthuin (LAPA, ISBN 9780799371291)
  • Die landheer van Koningshof deur Schalkie van Wyk (Tafelberg, ISBN 9780624080862)
  • Marlene en die macho man deur Anita du Preez (Tafelberg, 9780624081074)
  • Hart se tweede kans deur Ilze Beukes (Tafelberg, ISBN 9780624079941)

Boekpakkie 4

  • Keur 15 deur Ena Murray (Tafelberg, ISBN 9780624083467)
  • Satyn Omnibus 6 (Tafelberg, ISBN 9780624080770)
  • Hartklop Omnibus 3 (Tafelberg, ISBN 9780624080923)
  • Vandat jy weg is deur Santie van der Merwe (LAPA, ISBN 9780799375657)
  • Waar liefde begin deur Schalkie van Wyk (Tafelberg, 9780624083641)
  • ’n Muse vir Tess deur Lucille du Toit (Tafelberg, 9780624080749)
  • Wierook van verlange deur Annelize Morgan (Tafelberg, 9780624081043)

Boekpakkie 5

  • Keur 16 deur Ena Murray (Tafelberg, ISBN 9780624083580)
  • Satyn Omnibus 7 (Tafelberg, ISBN 9780624084532)
  • Omnibus 11 deur Tryna du Toit (Human & Rousseau, ISBN 9780798173261)
  • Keur 2 deur Helene de Kock (Human & Rousseau, ISBN 9780798176446)
  • Gelyke kans deur Santie van der Merwe (LAPA, ISBN 9780799373615)
  • Vlug na Santorini deur Malene Breytenbach (Tafelberg, ISBN 9780624084570)
  • Omdat jy jy is deur Elsa Winckler (Tafelberg, ISBN 9780624083337)
  • Pad na Geluk deur Moryn Hanzen (Tafelberg, ISBN 9780624081012).
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top