Liefde uit die puin deur Naretha Franken: ’n resensie

  • 0

Titel: Liefde uit die puin
Skrywer: Naretha Franken
ISBN: 9781779871398
Uitgewer: Romanza

Ek lees voorin Liefde uit die puin dat die skrywer, Naretha Franken, graag liefdesverhale skryf wat in hospitale afspeel, omdat sy nooit haar droom om te verpleeg kon vervul nie. Sy leef haar droom nou uit in haar boeke, waar die liefde in teaters en spreekkamers seëvier. En hoe goed doen sy dit net nie!

Ek het, terwyl ek Naretha se Romanza lees, bloot aangeneem dat sy ’n mediese agtergrond het, omdat sy die tonele in die trauma-eenheid so oortuigend weergee. Sy beskryf die tonele en gebeure op ’n realistiese – maar steeds gebalanseerde – wyse sodat sy nie haar lesers vervreem of afskrik nie. Trauma is vanselfsprekend deel van die storie – maar sonder om doelbewus te probeer skok of om op bloed en derms te fokus. Die menslike aspek van geneeskunde word altyd vooropgestel en die dokters word uitgebeeld as hardwerkende, verantwoordelike persone wat hulle pasiënte se welstand op die hart dra.

Die heldin, Mia le Roux, die traumahoof by Uitzicht-hospitaal, en die nuwe hospitaalhoof, dokter Dolf Ruckli, is die twee hoofkarakters. Hulle het nege jaar gelede as pas gegradueerdes in uiters traumatiese omstandighede ontmoet toe hulle vir drie dae in ’n hysbak vasgekeer is ná ’n ontploffing waarin mense dood is. Ná hulle redding het daar vir elk ’n baie lang hersteltydperk voorgelê. Dolf se ouers het hom saam met hulle na Kanada geneem en Mia vind eers ná 14 weke uit dat sy swanger is. Hulle het geen manier gehad om weer met mekaar in verbinding te tree nie en het probeer om daardie skrikwekkende tyd in die hysbak, toe hulle net mekaar gehad het om troos by te vind, agter hulle te sit. Om daaraan terug te dink het hulle die skok, trauma en pyn net onnodig weer laat herleef. En nou, ná al die jare, loop hulle mekaar weer raak. Gaan die verlede tussen hulle bly staan? Of gaan hulle die verskrikking, wat die aakligste herinneringe aan destyds bring, oorwin en ’n mooi toekoms saam tegemoet stap?

Die skrywer spring soms in ’n enkele toneel tussen perspektiewe en gee die leser dan só ’n kykie in die gedagtewêreld van ’n newekarakter. As voorbeeld: “Mariaan staan later op en gaan was haar gesig. In haar hart juig dit en [...].” Ek haal net aan tot hier, want ek wil nie te veel van die storielyn verklap nie. Mariaan is Mia se afgetrede ma, wat smiddae na haar seuntjie omsien wanneer sy by die hospitaal is. Ek het hierdie perspektiefspronge steurend gevind.

Dan lag die karakters ook soms op tye wat my so ’n bietjie laat kopkrap het, want ek het nie die situasie as snaaks ervaar nie. As voorbeeld: Een van die dokters, ene Gerrit van Niekerk, wonder of ’n jong pasiënt van Mia deur haar gewelddadige alkoholispa gemolesteer word. Mia se reaksie is: “Kom ons hoop Tammy word vinnig gesond sodat ons met feite kan werk en nie hoef te wonder nie.” Gerrit lag dan en sê: “Oukei, dokter Le Roux.” Sy reaksie was vir my onverstaanbaar onvanpas.

Die storielyn is geloofwaardig en spanningsvol en die dialoog skerp. Liefde uit die puin is meer as net ’n liefdesverhaal. Dit is ook die verhaal van twee diep verwonde mense wat dapper baklei het om hulle tragiese verlede agter te laat en weer sin van hulle lewens te maak. Hulle albei gaan voort met hulle loopbane as geneeshere en wy hulle daaraan toe om die liggaamlike leed van ander te verlig. Dit kom teen ’n prys. Mia kan byvoorbeeld weens haar werksverpligtinge en die ure wat sy in die teater deurbring, nie altyd so baie tyd saam met haar liefste seuntjie deurbring as wat sy graag sou wou nie. Haar rol as hardwerkende enkelouer maak dat sy nóg dieper in die leser se hart inkruip.

Die skrywer verwoord posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ook goed. Só skryf sy oor Mia se ervaring toe sy en Dolf mekaar weer ontmoet:

Dit was asof alles weer uit die kas wou val – al daardie verskriklike vrese, reuke en [...]. Ek wou nooit weer daaraan dink nie, maar net die gedagte aan jou het alles weer opnuut na die oppervlak gebring en ek moes stoei om dit weer iewers in my kop weggesluit te kry.

Daar is nie ’n vervelige oomblik in hierdie storie nie, danksy die agtergrond van ’n besige trauma-eenheid en die verskeidenheid noodgevalle wat konstant aanmeld. Dit help dat die storie op ’n stewige pas gebeur en die leser die karakters ook tuis en in ’n ontspanne luim kan leer ken. Dit gee ’n meer holistiese beeld van die held en heldin. Hulle is nie nét dokters wat koelkop en in beheer van hulself moet wees nie; hulle is ook mense met emosies, vrede, drome en ideale.

Ek het baie lekker aan Liefde uit die puin gelees en sal vir seker op die uitkyk wees vir nog boeke uit Naretha Franken se pen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top