| Hierdie blad bevat erotiese literatuur en illustrasies. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately. |
terugblik
Ek het jou verloor toe jy hom ingenooi het,
toe jy jou gesiggie vir hom opgetooi het,
toe jy jou selfoon - na my oproep - op die bed neergegooi het,
(dieselfde bed waar ek jou die middag nog gelooi het).
Jy het my verloor toe hy daar oornag het,
toe hy sag sy naam in jou nek gelag het,
toe jy half bang vir hom lê en wag het
en jou naels in sy rug sy ritme gejag het.
Jy het my verloor toe hy sy klere gebring het,
toe jou hond in die aand teen hom opgespring het,
toe hy vals in die bad: “Luv mie” gesing het,
toe hy besit van jou lyf met goud gering het.
Ek het jou verloor, maar wou dit nie weet nie,
soos die duisend datums daarna wat ek nie kon vergeet nie;
en ek moes aangaan en wys niks is verkeerd nie ...
ek het nooit geweet ’n masker is so wreed nie.
Ek was weg, jy’t hom ingenooi.
jy’t jou mooi gesig vir hom opgetooi;
hy’t gelag en jou sag op die bed neergegooi;
met sy goud aan jou hand was die sirkel voltooi.

