Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.
- Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
- Besoek hierdie blad om nog inskrywings te lees.
- Die kompetisie het reeds gesluit.
Image credit: Wooden Earth Ltd
Inhoud:
- Linda Rautenbach
- Topazz
- Alet Tinkler
- Lucille Swart
- Abraham Rozendaal
- Marthie-Lize Thomas
- Soné Ashmore
- Vanessa Wright
- Elzani Borman
- André Kriel
- Jean Lombard
- Elmarie van Tonder
- Marchand Kleynhans
- Pieter Keeve
- Mariaan Taljaard
- Ansi Brits
- Marianne Jonker
- Sas Beukes
- Petri Jacobs
- Marlizé Kruger
- Loretta Szikra
- Jean-Marie Potgieter
- Jaomi Zeeman
- Francois Meyer
- Tinus van Staden
- Ina Pretorius
Linda Rautenbach
Vir ouma (met liefde)
Ek mis jou
Ek mis jou sagte, blou oë
Wat direk vir my kyk
En dadelik dwarsdeur my kon sien
Jou warm, sagte, handjie
Wat my wang toeskulp en my weer laat voel soos ’n dogtertjie
Ons geselsies tot die nag stokoud word
Oor enigiets
Ek mis ons tee drink na skool
Uit die pienk en wit koppies met die pierinkies
Ek wil weer blokraaie invul en puzzles bou
By die kombuistafel
Terwyl die kos op die stoof is
En ons wag vir Oupa om van die werk af te kom
EK
WIL
JOU
TERUGHÊ
OUMA
Draai terug die tyd
Sodat ek jou kan ruik en hoor en voel
Ek wil jou lyf was en jou hare indraai
Met drie pienk sponskrullers
Maar net in jou kuif
Ek wil nog net eenkeer jou toonnaels verf
Selfs die gebreklike toontjie se vel
EK
SOEK
NOG
TYD
OUMA
Tyd was nie genoeg vir ons liefde nie
Want selfs ’n leeftyd saam met jou sou te kort wees
So wat sal nog ’n dag saak maak?
Topazz
Liefde is
’n romantiese euforiese illusie
gevoel van ekstase en genot wat jou beroof van nugtere visie
jou binneste voel soos ’n mallemeule, geluk ken geen perke
voel of jy sweef sonder vlerke
Beloftes van maanskyn en rose is aan die orde van die dag
liefdesboodskappies tot in die middel van die nag
maar niks hou vir ewig, dit besef jy gou
tog probeer jy die werklikheid ontduik deur aan herinneringe te klou
jy wonder een dag,
wanneer het dinge verander
asof jy ewe skielik praat met ’n vreemdeling
niks maak meer sin of kan die eertydse liefdeskokon binnedring
onbeskryflike gevoel van pyn en wanhoop vul nou jou bestaan
soms is dit moeilik on voort te gaan
maar tyd bring vrede
al verstaan jy nie altyd die rede
om lief te hê is ’n magtige onbeheerbare gevoel
vir elke mens in sy leeftyd bedoel
beslis die moeite werd om te ervaar
tokkel aan elke hartsnaar
dis beter on lief te hê
al die emosies wat daarmee gepaard gaan deur te maak
as om nooit te bemin,
jou hart toesluit
en altyd te wonder wat het jou besin
Alet Tinkler
Liefde is ...
Die kleure op die skilder se palet
Om prentjies ongekend mooi
volmaak te voltooi!
Sonneblomgeel met hoop in die hart
Bokkie huppel van plesier sonder smart
Kersierooi, o tog so mooi
Ryp en geurig getooi
Ballerinapienk wat ligvoets dans
In sagte feetjieland se glans
Silwer is die randjie
Om die donker wolk se kantjie
Grasgroen vir leeuemoed
Teen ’n onbevange lewensspoed
Goud is die pant
Verseël deur ’n verbindingsband
Blou is die kleur
Van vergange fleur
Liefde is ...
die belofte van ’n verbond
gekroon deur ’n reënboog
halfmaanrond
Lucille Swart
Liefde is …
Daardie sagte, tere kyk in jou pragtige oë
wat my weer in opregte liefde kan laat glo.
Die wyd verspreide glimlag op jou mond
wat jou aantreklike gelaatstrekke afrond.
Jou nabyheid en jou liefdevolle aanraking
wat hoendervleis op my vel laat uitkring.
Om jou liefde te sien, sonder dat jy my sê.
Na jou te hunker, jou vir altyd by my te hê.
Om kwaliteit-tyd saam met jou te spandeer
so groei my liefde vir jou net meer en meer.
My skat ek wil graag die son vir jou laat skyn,
saam na die sterre lê en kyk voor dit verdwyn.
Die ongevraagde dingetjies wat jy vir my doen
wat maak dat ek jou net wil vashou en soen.
Die hoogtepunt is om saam met die Vader te dien
ek dank Hom elke dag dat ek jou kon verdien.
Ons is vriende, maats, sielsgenote, minnaars
hierdie besondere sielsband is baie-baie skaars.
Abraham Rozendaal
Die liefde
Die liefde is soos goeie rooiwyn
Kompleks
Multidimensioneel
In sy jeug
Robuust, selfs aggressief
Maar met belofte gedeel
Met volwassenheid
Kom die rypheid en sagtheid
Soos purper fluweel
Aan die einde wil ons glo
Dit was goed
Byna volmaak … op die keel
Kom ons drink op die liefde
Marthie-Lize Thomas
Liefde is laatnag wakker bly –
Opgewonde soos ’n kind
Dis soete woordjies in mekaar se oor fluister,
En af en toe ’n bitterbek geveg!
Liefde is om droomverlore te staar –
En herinneringe wat in jou hart ronddans
Dis ’n warrelwind ...
Van liefhê en seerkry en alles in een
Liefde is passie
En soms ’n gebroke hart
Dis onvoorspelbaar en onbeheerbaar
’n Draaiboek en die nuwe best-seller
Die liefde is geduldig,
Die liefde sal wag –
Dis ’n sonsopkoms – ’n nuwe dag
Liefde is ’n teken op die onverwagste plek
Dis ’n ontdekking –
Na jare se gesoek
Liefde is ...
Net ’n woord, maar dra soveel krag!
Daarom vra ek ... werk tog mooi met my hart?
Soné Ashmore
Liefde is ...
Daardie eerste blik
Weghol-hartklop wat net jou hart kan verklik
Jou glimlag skugter ...
Skuil daar dalk iets in jou wat my kan ontnugter?
Voel jy nou die liefde ook?
Warboel van emosies wat nie altyd met realiteit strook
Kan jy dalk die een wees
wat die kompleksiteit van liefde
in my hart kan lees?
Liefde wat jy my gee is ...
’n Grootse avontuur in ’n ongekende, ongetemde oseaan
Waar branders vurig en asemrowend bruis
kan ook in ’n oomblik vergruis
Neem my op ’n liefdeswentelbaan
net soos een keer in ’n bloubloedmaan
Kan ek dit dalk beskryf in volle terme
kan ek reis na ’n lewe sonder skerwe
Liefde is nie net die lekker holderstebolder vlug
maar ook daardie Geestesvrug
wat jou leer om sewe maal sewentig te vergewe
om sonder hoekoms en daaroms te lewe
Nie boek van die kwaad te hou
wanneer jy of jou naaste verbrou
Liefde is en bly ’n misterieuse wonder
wat jou lei na ’n hemelse wêreld
met grense daarsonder
Wanneer jy in jou geliefde en jul kinders se oë kyk
gevoel so groots dat dit met niks op aarde kan vergelyk
Die grootste liefde bly altyd
dat jy kan weet
wanneer die lewe party maal so krom is dat dit voel of jy stom is
Jou Redder op water kan loop ...
en Hy het jou klaar met Sy liefde gekoop
Vanessa Wright
(E)motief
Liprooi bars die granaat –
peul die warrelmoes sade,
verwringend na buite.
Pynlik is die skeiding
waar eens jou beskerming woon.
Blindelings tas hul,
reikhalsend na die samesyn,
van één wees in die dop.
Smaragrooi drup die sap,
val die saad na benede
en weet ek dat ek jou verloor.
Elzani Borman
Liefde is nie ’n sprokiesverhaal
nie,
of om trou-trou te wil speel
nie.
Liefde is nie ’n taal
nie,
of om jouself te probeer heel
nie.
Liefde is ’n band,
wat ’n horison tussen twee
saambind in verhouding en verstand
en in wese, nuwe betekenis gee.
André Kriel
onthou jy nog die perske-kougom
van die kafee onder op die hoek
ver het ek gery op my fiets
om dit vir jou te gaan soek
onthou jy nog die bermuda treat
by die silver spur
my ou bruin cortina
op die dash was daar fur
onthou jy nog die dag toe jou water breek
dit was ’n koue oggend soos nou
middernag in die wagkamer
pienk voetjies in kombersie toegevou
onthou jy nog die leë-nessindroom
wat jy sukkel om te verdra
as die huis so stil raak
dan beur ek jou op en vra
onthou jy nog die bankie op die grasperk
toe ons tieners was?
daar het jy jou toonnaels met blou cutex geverf
en ek hou die botteltjie vas
Jean Lombard
Liefde
die maan hang ’n goudgeel bal
op die kabbelende water wieg ’n silwer streep
oranje braaivleisvlamme dans sierlik hoog
op die tafel ’n enkele rooi roos
’n dun langsteel-wynglas
borrelende koue sjampanje
jou tere warm aanraking
jou liefdesfluistering in my oor
jou hande deur my kartelende haarlokke
die suiwer egtheid van jou stem
“ek het jou lief!
trou met my”
jou liefdeslippe sag op myne
oorstelp, my antwoord sag
“ja, my lief, ek is joune,
vir nou, vir altyd, vir ewig”
Elmarie van Tonder
Liefde is
jou kleinseuntjie-oë wat skrefies trek as jy lag
vroegoggendsoene en groenappel-sjampoe
lui sondae vol koerante en croissants
om saam in te lê in die winter
dit is soos botter wat op ’n warm broodjie smelt
lang kuiers rondom ons geelhouttafel
onverwagse jasmyn op my kopkussing
en wanneer jy vir my ’n suikerbekkie uitwys
dit is om luidkeels arno carstens se ontwaak te sing
as ons op ’n avontuur vertrek
met die doel om te verken
dit is die laaste stukkie pizza
ysblokkies wat in gehoute chardonnay klingel
om in die laatmiddagson te sit en droom
dit is om iemand te hê wat vir jou mangoes sal afskil
jou weerloosheid sal probeer begryp
en soms die sagte gedeelte van jou pols
sal kielie
Marchand Kleynhans
Liefde is die smaak van koffie in die vroeë oggendure
Laatnag rooiwyn en kletsies by jou bure
’n Natneus-hondesoen wanneer hartseer jou verdrink
’n Heildronk op jou ouers se 50ste huweliksherdenking skink
Liefde is ’n sagte woordjie na ’n slegte dag
Die simfonie van jou kinders se gelag
Die ritme van jou hartklop as ek my kop op jou bors neerlê
Die vorm van jou mond as jy “ek is lief vir jou” sê
Liefde is die reuk van stof as die reën uiteindelik val
As ek met iets sukkel en ek hoor jy sê “toemaar ek sal”
Jou Hugo Boss se blywende reuk al het jy lankal gery
Die skoenlappers in my maag as jy sê jy gaan bietjie langer by my bly
Liefde is as ek my oë soggens oopmaak en jou gesig sien
Kaalvoet dans op boeremusiek in die dorpskantien
Dogtertjie-arms om my nek gevou
Biltong met geel vet op die lang pad kou
Liefde is alles wat mooi is en alles so sag
Liefde is dit wat jou uit jou maag uit laat lag
En as iemand my moet vra wat beteken liefde vir my?
Dan sal ek antwoord: Liefde is. Ja, liefde is JY
Pieter Keeve
liefde is ’n sement-plaasdam op ’n warm somerdag
die sagtheid
van jou lyf
jou skoonheid
in die wolke geskryf
die ritme van jou hart
klop
elke
keer
in my
as ek
na jou
kyk
as ek
na jou
kyk
raak
die wêreld vir my
groot
soos
’n sement-plaasdam
en windpomp
op
’n warm somerdag
waar die wolke
en die water
ontmoet
as ek
aan jou
raak
met elke woord
soos
sonskynreën
wat op my
papier
drup
sonder liefde
is al my kuns
net abstrak
koue abstraksies
van die realiteit
’n hoekige boom
en ’n vierkantige doring
sonder liefde
is die lewe letterlik hard
en sonder hart
’n herhaling van roetine
’n werk vir ’n salaris
eet op ’n begroting
sonder liefde
is ek
niks
liefde is die glimlag
op jou gesig
liefde is die vrydag
na skool
liefde is die briefie
met soentjies en kruisies
wat ruik na jou
liefde is die eerste keer
toe jy na my gekyk het
liefde is die sproete
op jou neus
liefde is om naby
jou te wees
die kurwes
van jou lyf
die klank
van jou stem
voel
soos
swem
in die sement-plaasdam
klink
soos
’n simfonie
van krieke
jou aanraking
soos
’n grashalm
wat sag
aan my vel
raak
sonder weerstand
sonder ego
Mariaan Taljaard
Liefde is ewig
Liefde is lankmoedig en vriendelik
Soek nie sy eie belang, dit dien
Dit lê onwankelbaar in jou hart
Om jou naaste se nood te sien
Die liefde is onselfsugtig
Soos die Woord van ons verlang
Dit verseël die ego, die eie ek
Dit neem nie, gee sonder dwang
Die liefde praat nie groot nie
Want liefde soek nie eer
Dis die stem wat vir jou fluister
Versprei hoop, deel die seer
Die liefde hou nie boek van kwaad
Dit vergewe onvoorwaardelik
Want liefde is wysheid
Dit weet bitterheid is skadelik
Die liefde hoop, bedek alles
Dit leef tot in ewigheid
’n Vry, rustige sekerheid
Jou weg na saligheid
Al het ek elke denkbare gawe
Kan selfs die taal van engele spreek
Maar liefde skort in my hart
Het ek die grootste gebod verbreek
Nou bly geloof hoop en liefde oor
Liefde wen met ewigheidswaarde
Dit lei jou na die ewige Lig
Liefde: Soetste emosie op aarde
Ansi Brits
Liefde is ’n kunstenaar
Hy oes die son se strale saans
en met die agterosse wat na geluk bly soek
verf hy hul met groot geduld saam op ’n doek
Randeiertjies wat op die grond sal bars
skuif hy versigtig in die nes sonder dat hulle knars
Liefde is nie haastig nie
hy luier saam met oud en jonk
en wag geduldig vir hul môrestond
Wanneer die branders woed en bulder
hou hy waak by die duine
en meng op sy palet ’n liefdeslied in sagte pastel.
Hy roep die korhaantjies in ’n kring
Sodat hy vir hul sy vredeslied kan sing.
Marianne Jonker
’n verkleurmannetjie
wat met klewerige voetjies
klein stetoskopies
aan die hartswand sit
en stip
luister hoe klawers teen klankbord
klop-klop
in morsekode vertaal
en hervertaal in kleur
en ons maak dans op die maat van
grys
of geel
of van koraal
terwyl hy selftevrede toekyk
(hy wieg soms begeesterd saam)
klein antieke towenaar
... die liefde is sy naam
Sas Beukes
liefde word nie … liefde is
soos asemhaal, daarsonder het jy geen behoud
en voel dit soms die liefde is nors en koud
maar kyk tog in jou hart, waar lê die fout
want soos in ’n sonstraal wat warmte gee, so is liefde
... want liefde word nie ... liefde is
ongelyk, hard en grof, skryf die lewe soms ’n liefdespad
’n verhaal van wisselende liefdesbeproewings
soms is dit flou, op ’n ander keer is dit weer ’n warmte wat so aan jou hart vat
maar kom daar tog altyd ’n loflied van liefde met klein en groot oorwinnings
... want liefde word nie … liefde is
sonstrale is die stoorplek van die liefde wat dit bring van bo
gryp dus ’n sonstraal, miskien twee, drie of vier
dan waar afkoelliefde verskyn, kan jy miskien ’n warmer straal aanstuur
so help jy die liefde om te blom en kan almal glo
... liefde word nie ... liefde is
die donker kolle van die lewe het altyd ook ’n ligkol
want selfs die donker kan die liefde nie verdring nie, want ...
… liefde word nie ... liefde is
Petri Jacobs
Liefde is ...
’n towerwoord
’n troetelwoord
’n trooswoord
’n vloekwoord
getransformeer
tot die diepste blerrie seer
van alle pretensie gestroop.
’n liegwoord
wat die waarheid ontbloot
terwyl jy op dun ys loop
en op ’n flippen miracle hoop.
Marlizé Kruger
Liefde
So sonder sukkel
of omhaal van veel woorde
het jy laat los
en skalpelskerp
skoon gesny
sodat daar geen kans
vir bloei
óf terugdraai
was nie
Is ...
Loretta Szikra
Vandag
Tussen gister se bittersoet verby
en môre-beloftes wat miskien mag
of dalk nooit sal ontwaak
staan ék weer hier langs jou
tevrede in die hier en nou
V
A
N
D
A
G
in ons hande toegevou
Sonder terugkyk of berou
sonder verwyte wat skeef
aan vervalle murasies hang –
voor ’n nuwe dag se gulde-stond
wat skaam voor ons ontvou
op dié lappie paradys
waar ons elke klip
by die naam kan roep –
en die krokodilrivier se kurwes
kruppel-kronkel
vreedsaam langs ons loop
wyl waterlelies in dagbreektrans
kleurvol in vredespoele dans
is dit nêrens anders nie maar hier
waar ek en jy
nog sy aan sy
in elke nuwe gulde-stond
mekaar opnuut weer kry.
Jean-Marie Potgieter
twee spitsvondige berge loer oor die koppie van my bed
met groen glas-albasters wat oor die landskap swiep
dan plotseling ’n sprong
’n steekbossiebondel vaar deur die lug
en kom vlugvoetig te lande
stryk snorbaard en strek statig
versoek versigtig met voelende voetjie
en wurmwriemel tot neffens my
rustig resoneer die rasper-roep
van my klein kieliebak-kat
Jaomi Zeeman
Die liefde is
Die liefde is ’n cumulus
wat konvektief uitpof
met vogdruk wat latent verhit
en siklies self leegplof.
Die liefde is ’n soutrivier
waar wit windmantels kiel
met rietneste vir vleilandvoëls
wat in sy kuile spieël.
Die liefde is ’n ou matroos
wat swetsvaarte onthou
met ’n wiggelkim op sy gelaat
en ’n kaai met ’n ankertou.
Die liefde is ’n klein, klein huis
wat sagte sugte slaak
met ’n vuurherd en ’n stoomkombuis
as die dak saans koeler kraak.
Francois Meyer
Liefde is ...
vir baie beperk tot die omkringde veertien
wanneer rose en teddiebere hulle doel uitdien
en haastige letters teen die wil van die ink
op sneeuwit papier woord en daad verdink
die skilderwerk teen die muur van jou hart
uit die spontane verfkwas in sy hand
die verhaal skilder van julle liefdesband
saam weerstand bied teen die dag van smart
die dans van twee siele
op die silwer ligstraat van die melkweg
’n lewensvlug sonder wiele
laat geskied aan mekaar se harte reg
hande vat op ’n pelgrimspad
’n onbaatsugtige reis is die liefde
ook mooi tye met ’n romantiese bad
as ’n gawe van God in mooi of hartseer liedere
die sekuriteit van die oudag
die bewuste daad van die hede
die steeds helder gedagte van ’n troudag
die wedersydse glimlag oor liefde in die hede
Tinus van Staden
ek het gisteraand ’n jyvormige
leemte op my kussing uitgebloei
voor slaap se belofte
dat sy sal kom as ek soos ’n offer
jou afwesigheid aan ingrid sal wy
so strooi ek nou ’n roosrooi
sloop oor die see se wange,
want sý weet mos lankal –
die liefde’s niks anders
as die verlange
Ina Pretorius
Liefde is ...
Sestien
pienk kosbare porselein
versier met vlindervlerke
Agtien
blou driftige testosteroon
skroeiend soos weerligstrale
Dertig
getroud gekloon gevestig
Veertig
verwyderd verwese vergifnis
Vyftig
karakterlyne kalm koesterend
Liefde is ...
steeds ek en jy
pienkblou
ewig trou