Hier verskyn die eerste inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.
- Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
- Besoek hierdie blad om nog inskrywings te lees.
- Die kompetisie het reeds gesluit.

Inhoud:
- Anzé Bezuidenhout
- Hanlé Barnard
- Iron Lady
- Riana Barnard
- Freda van Zyl
- Barend van der Merwe
- Christeline Esterhuizen
- Joseph Mitchell
- Andries Louw
- Driekie Grobler
- Sophia Janse van Rensburg
- Pieter Buitendag
Anzé Bezuidenhout
Liefdesdors
my gedagtes is soos
swaeltjies op vlug
tussen die denneplantasie
waar ek my vergeet wil bekis en
my drome verlos
my woorde laat herleef
in die swart van ink
hier op papier
kom offer ek vir jou
die onvolmaaktheid
van my denke
wat zig-zag strepe
van sinsnedes
wat diep binne
my brand
smeulend woed
skroeiende emosies
uit die tempel van my hart
en ek skink aan jou uit
die onuitputbare bron
van laventel-genade
my liefde in moeselien gevou
daar kan jy tot in ewigheid
verdwaal in die rookseine
deur die jaarringe van ons liefde
en jou immer versadig
aan die lente
van ons liefdesdors
Hanlé Barnard
Liefde is die siel onbeperk.
Ek haal my denke af en plaas dit teen jou bors,
Van ver hoor ek die nate van die wit hotel bars.
En ek wil-wil wegbreek, na waar ons kuns eens gesmelt het.
Dit waar Middel C skuimel en ontbreek – daar was keer op keer ’n vals noot.
Vanaf ons palms dans die menigte engele – soos kajuite buite die vuur.
Ons het vir eens geen tekens gevolg nie – ongeag die storm lê my lyf al weer suiwer vorentoe.
(Die woorde is nie toepaslik vir onkruidbesaaide tuine of warm harte nie)
Wanneer gaan die wit hotel weer homself ontbloot? As mens mooi luister oor die koringlande sien jy die verlepte gebou ’n tree nader gee aan my hart.
Die nagte was dan altyd koel daar – soos Amos dit ook erken het en ook die gou vlees koggel dans as die hitte golwe smelt.
En dis liefde – ongeag die krake teen die muur
Die geklits-klets van die vuur raak effe aanmatigend – ons het al weer vergeet om die vonke te smelt.
Soos ’n kommerlose dans volg jy my.
Die mense roep al na.
Maar in my gewete moes ek besef het – dis die liefde wat ons pla.
Iron Lady
Liefde is humeure wat bots
woorde wat soos waters teen rotse klots
’n tikkie omgee, ’n knypie vergeef
baie giggel-laggies
in opdraand-daggies
maar vanaand lê ek knus aan jou sy
sedig paradeer ons dag verby.
Riana Barnard
liefde is ’n siamese hart
nie joune nie, nie myne nie
een pols, een vreugde
altyd gedeelde smart
liefde is die vlegsel
van soet en suur
die uithou en aanhou
van ons lewensduur
ineengeweef om vir altyd te hou
liefde is die gom wat gebroke
harte heel
beloftes hou tussen my en jou
liefde is ook intense pyn
harde woorde, seermaak dade
rondslinger van emosies
tot die liefde dan verdwyn
as ek sê ek haat jou
voel ek tog nog iets
die liefde is tog so kompleks
vurig en dan weer flou
liefde is ’n lang pad
wat ons saam moes loop
liefde is as jy my hand kom vat
in die grysheid loop ons steeds die pad vol hoop
Freda van Zyl
Glasskerwe spat
toe my voet haak.
Deur die Jamesonsproei
sien ek jou
rooi wange gloei
gryp na my.
In jou arms gee ek oor.
Skoon my deuntjie verloor
toe ons dronk word
van die liefde,
met die alkohol op die vloer.
Barend van der Merwe
Liefde is net
nóg ’n gebrekkige woord
net
nóg ’n onduidelike konstruk
waarmee ons soms te veel sê
en ander kere te min
Christeline Esterhuizen
Liefde is daar
In die blou lug.
In ’n vrolike bruilof.
Hou begrafnis,
liefde is asem.
Wáre liefde
in elke faset.
Skrif teen die muur.
Suurstof bevat dit.
Sterre verskiet dit.
In die sonstrale,
liefde is lewe.
Verdor op Jupiter
Geberg in Festus.
Vervoer deur dolfyne
Vertoef by Venus
Oral daar is liefde!
Joseph Mitchell
Liefde is:
’n Grasgroen Doringboom oppie dorre Karoovlakte.
Wie se blare en Dorings daagliks afval op soek na brak water.
Haar stam en takke word misvorm as gevolg van haar kleintjies se gebare.
Twee nieroorplantings en Borskanker en sy sit sonder hare.
Nog steeds steek haar Dorings deur my hartsnare.
’n Grasgroen Doringboom bring koelte vir my, onder HAAR daaglikse skare.
Liefde is!
Andries Louw
die liefde is ...
O, othando lu*
as ek saam met my beminde
nog een oggend op die stoep verwyl
O, othando lu
die drome wat ons droom,
as die môre net ons twee sinne is
O, othando lu
die koffie wat ons proe, soet op die lippe,
’n opwekkingskus
O, othando lu
’n nag gedeel in liefde, die daeraad van hoop
ons bly- en hartsgerust;
O, othando, O, othando, O, othando lu
My geliefde
* Othandu lu - "die liefde is" in Xhosa volgens google translator
Driekie Grobler
Liefde is …
die son
wat daagliks skyn
met môrestond se belofte
dat gister se sorge
sal kwyn
die geur
van mirre en ambroos
wat nederig bedien word
om seerkry-wonde
te troos
die oopbreek
van vy en granaat
om in voedingsbelofte
tot vervulling deur my
te saad
liefde is …
die wil
om daagliks te bemin
te vergewe en vergeet
want daarin lê die lewe
se sin.
Sofia Janse van Rensburg
Liefde is soos die rooiborsduif,
Sag as dit pronk en speel en koer,
En koer,
Liefdesblyke in die nek van sy beminde.
Liefde is soos die rooiborsduif,
Kwaai as dit raas en skel en brom,
Voete stamp en vlerke klap,
Ter ere van sy beminde.
Liefde is soos die rooiborsduif,
Verdraagsaam, teer, vergewensgesind,
Vir vrede en vreugde en eenheid,
Vir hom en sy beminde.
Pieter Buitendag
Liefde is … om te laat gaan
dit kon ek nog nooit verstaan
hoe skeur jy dan jou eie hart,
en lewe jy van trane en smart
jy gee en gee en gee nog meer,
ontvang maar min en kry net seer
jy stort jou liefde op die grond
en hy kom pis daarop soos ’n hond
hy het geen kapasiteit
vir deernis of barmhartigheid
nogtans bly jou siel goed sien
jy omvou hom met liefde wat hy nie verdien
want iewers langs die lewenspad
het jy jouself verloor in ’n gat
van donker selfbejammering
en dit het jou tot hier gebring
leeg, verstom, in trane voer jy ’n bestaan
en wonder waar het jou liefde heen gegaan

