Liefde in die tyd van Korona – en daarna

  • 0

Foto: Canva.com

Dit het gister die antivirusgevegsraad behaag om die valboom so effens te lig, en vanoggend is Eusebius Fourie slaggereed om sy jarelange verhouding met Owl Books te hervat. Dis sy gunsteling-tweedehandse boekwinkel, geleë in ’n ou woonhuis skaars tien minute se stap vanaf sy woonplek.

So in die loop pluk-pluk hy aan sy masker. Asof dit nie genoeg is dat die dêm ding met sy bril inmeng nie, besorg dit hom boonop asemnood. Maar die liefde oorwin alles en hy, as enigsins beleërde bibliofiel, is opgewonde oor die vooruitsig van ’n langverwagte weersiens. Lank voor die koms van die huidige mikro-organisme was Eusebius reeds in ’n vaal, virusgeoriënteerde omgewing vasgevang. Te midde hiervan was Owl Books vir hom nog altyd ’n oase, want al is hy in die IT-bedryf het hy in e-boeke geen sin nie, en verkies hy die harde kopie van ink en papier.

Hy maak die voorhekkie oop. Die sjarmante ou huis staan daar in alle onskuld, maar Eusebius ken die suigkrag van die plek met sy krakende vloerplanke en staalplafon. Vir boekliefhebbers soos hy ’n gravitasiekolk, ’n labirint van nou gangetjies tussen boeke en nogmaals boeke ─ boeke in netjiese enkelgelid, boeke opeengestapel in slordige torings van Babel. Die lekkerlees-avonture vind jy redelik maklik, maar êrens wag daar ’n grote, die skaars edelgesteente wat deur ander snuffelaars en delwers misgekyk is.

Met die oopstoot van die voordeur rek sy oë. ’n Vreemde persoon is aan diens en sy is ’n baie aantreklike verbetering op ou Mullertjie wat voor lockdown hier gewerk het. Haar hare is raafswart, blink en los, en bokant ’n vrolike, veelkleurige masker blink die mooiste paar oë wat Eusebius Fourie in sy ganse lewe gesien het.

“Goeiemôre,” stamel hy.

“Goeiemôre,” antwoord sy. Die oë glimlag.

Wasem vorm op Eusebius se brilglase en hy laat sy masker effens sak.

“Nee!” sê sy met ’n heftige skud van die kop. “Masker op, meneer, dis die nuwe normaal!” Sy beklemtoon elke woord met ’n pentik op haar lessenaartjie. “En waarmee kan ek help?”

Ten spyte van die masker se smooreffek klink haar stem ferm dog vriendelik, soos dié van ’n kleuterskooljuffrou op ’n dieretuinuitstappie.

“Dankie, ek kyk gewoonlik maar bietjie rond. En is jy die nuwe permanent?” Hy verbaas hom vir sy eie gevatheid.

Sy lag hardop. Dis nie aldag dat enigiemand, veral ’n mooi meisie, vir Eusebius Fourie se grappe lag nie.

“Ja, lank werk gesoek en nie gekry nie, en net toe ek moedeloos raak, hoor ek van die vakature. Lockdown het die vorige ou glo laat nadink oor die verganklikheid van alles, en toe bedank hy om voltyds aan sy lewensverhaal te skryf.”

“Mullertjie.”

“Skuus?”

“Jou voorganger, Mullertjie is sy naam. Sy hele seëlversameling in ’n oogwink verloor. Paf! Net so! Gebarste geiser.”

“Ag nee, shame! Ewenwel, hier ís ek nou! Boonop pas die werk my, want ek hou nie eintlik van mense nie, maar van boeke.”

“Selle aan dié kant,” verklaar Eusebius, aangevuur deur die sukses van sy openingsalvo. “Ek’s in die IT-bedryf.” Hy weet nie eintlik waarom hy dit sê nie, maar haar oë is skielik die ene simpatie.

“Terloops, ek is Eusebius Fourie. Maar noem my sommer Tobie. Dit was my bynaam op skool. Die ouens het my altyd gespot en gesê ek lyk soos Tobie Cronjé.”

“En my naam is Belinda.”

“Het jy ook ’n bynaam gehad?”

“Pretty Belinda,” sê sy.

Hy lag, maar sy kyk skielik anderpad. Hy probeer die Chris Andrews-weergawe neurie, maar sy poging vind nie byval nie.

“Nou maar aangename kennis,” sê hy effens verleë. Die aanraking van hulle elmboë stuur elektriese skokgolwe deur Eusebius se skraal gestel.

Nou dat Pretty Belinda die winkel bedryf, word Eusebius se besoeke meer en meer.

“Besigheid is morsdood,” sal hy op ’n Dinsdagoggend met die intrapslag verklaar, net om die verskoning Donderdag te herhaal. Maar die heeltyd lag haar oë mee en word dit vir Eusebius duidelik dat die dame sy geselskap geniet. Dalk is hy after all nie so ’n slegte ou nie. Vroumense het hom nog altyd senuweeagtig gemaak, maar in Belinda se teenwoordigheid ontspan hy, voel hy vir die eerste keer na die man wat hy kan en behoort te wees.

En met elke ontmoeting gesels hulle. By haar lessenaar, tussen rakke, oral. En so raak Eusebius gewoond aan Belinda se streng “nuwe normaal”, vind hy dat hy al hoe minder struikel en stamel, en die masker nie meer sy bril so laat toewasem nie.

Wanneer hy oor die beperkinge van lockdown kla, maak sy ewe koeltjies ’n teenskuif: waarom teen die prikkels skop? Sien die pandemie nie as ’n straf nie, maar ’n geleentheid wat vir die mensdom gestuur is. ’n Geleentheid om andere te ontdek, om jouself te ontdek.

Op sy beurt leer Eusebius vir Belinda die kuns van liefhê.

“Weet jy, Belinda, ’n tweedehandse boek praat mos met jou. As ek met een in my hande staan, wonder ek altyd wie dit vantevore vasgehou het. Kyk, hierdie een was ’n boekprys: ‘Bertus Volschenk. Beste opstelwerk in Afrikaans in standerd agt.’ En kyk hier, op hierdie een se skutblad, dis darem vir jou ’n besonder swierige handtekening!”

Belinda knik. “Ja-nee, die man het sy eienaarskap behóórlik neergepen. Hier’s ook ’n interessante een: ‘Geluk, Johan by geleentheid van jou gradeplegtigheid, van Vader en Moeder.’ Nogal formeel, nè.”

“Ja, selfs vir daardie tyd. Ek kan nou nie my hand op een lê nie, want hulle is skaars, maar ’n mens kry ook dié met ’n ex libris-stempeltjie of -plakker. Elk ’n mini-kunswerk!”

“Ek sal soek en laat weet, ek het mos nou jou nommer.”

“Weet jy, Belinda, die belangrikste deel van ’n storie is dikwels die onvoltooide, die onvertelde. ’n Storie begin tussen twee buiteblaaie, maar eindig nie noodwendig daar nie. Het Bertus Volschenk aanhou skryf? Wat het van gegradueerde Johan geword? En meneer Swierige Handtekening, is hy dalk dood of het ’n kwaai vrou hom én sy boekery uitgeskop?” Eusebius laat sy stem sak vir dramatiese effek: “Want, my liewe Belinda, die boeke wat hier by jou teen verpulping kom skuil, was vroeër vir iemand van waarde.”

“En hoekom is die boek dan hier?”

“Presies! Dood, egskeiding of bankrotboedel? Het die goeie wense van ’n ouerpaar dalk in teleurstelling of vervreemding ontaard?”

“Ag nee, ’n storie moet darem ’n goeie einde hê,” protesteer sy.

“As jyself die skrywer is, ja.”

Sy kyk hom ’n wyle aan. Die mooi oë is sag. “Digterlik! Jy is ’n digter, Eusebius Fourie ...”  

Vir ’n oomblik oorweeg hy om haar te antwoord, vir haar te sê dat ’n storie wat in Owl Books begin, nie binne hierdie vier mure hoef te eindig nie, maar bedink hom. “Dalk is jy soos ek soms ook maar eensaam, Belinda, maar jy sal nog sien, hierdie boeke word jou vriende, jou bloedfamilie. Hulle troos jou.”

Tydens ’n verdere besoek kom die pandemie weer ter sprake.

“Ek dink dié Korona gaan’n geruime tyd met ons wees,” sê sy.

“Wel, as dit nie vir die virus was nie, het Mullertjie nie bedank nie, en het jy dalk nie hierdie werk gekry nie.”

“En het ons mekaar nie leer ken nie.”

Haar opmerking laat hom waag met die vraag wat hy al lankal wou vra: “En wil jy nie een keer ná werk saam met hierdie nuwe vriend van jou koffie drink nie? Ek weet die Wimpy is toe, dus sal dit jou plek of my plek moet wees. En ek weet jy dink seker in my plek is daar net rekenaars en boeke, maar jy is verkeerd. Ek het ook ’n kat en ’n uitgebreide klassieke musiekversameling. Jy sal van my koffie, my kat én my musiek hou.”

Sy lag, maar wil die uitnodiging nie aanvaar nie. In haar oë is daar meteens iets wat Eusebius nog nie gesien het nie en vrees pak hom beet. ’n Vrees dat daar tussen hom en Belinda dalk selfs ’n groter afstand as die voorgeskrewe sosiale distansie is.

Een oggend is hulle weer alleen in die winkel. Aan haar oë kan Eusebius sien sy het gehuil. Hy volg haar tot in die gangetjie tussen die biografieë en reisverhale, en verneem hoflik na haar welstand.

“Dis sommer niks,” verseker sy hom van agter haar masker. “Ek’s bang jy dink omdat ek nie saam met jou wil koffie drink nie, ek nie van jou hou nie,” sê sy.

“Of katte en klassieke musiek verpes,” spot hy en tot sy verligting speel haar oë oudergewoonte saam.

Sy raak weer ernstig: “Onthou jy die dag toe jy oor onvoltooide verhale gepraat het? Dat ’n storie tussen ’n boek se buiteblaaie begin, maar nie noodwendig daar eindig nie? En dat die storie ’n mooi einde kan hê as jyself die skrywer is? Ek wou dit toe al vir jou sê, ek hou van jou manier van dink ... en ek hou van jou, Eusebius.”

“Dankie, Belinda, en ek voel dieselfde oor jou.” Hy haal sy bril af en vee ietwat onbeholpe oor die lense.

“Maar, ek het jou nou die dag nie die volle waarheid vertel nie.”

Eusebius voel hoe sy kopvel krimp. Gaan hierdie mooi, belowende verhaal ’n skielike, slegte einde beleef?

“Dit was oor my bynaam op skool. Pretty Belinda.”

“Ja?” Hy sit sy bril terug, steeds op sy hoede.

“Dit was nie ’n bynaam nie, dit was ’n spótnaam,” sê sy met buitengewone klem.

“Jong, kinders is wreed, en jaloesie ’n vreeslike ding,” probeer hy troos.

“Hulle het my ook ou Vlekkie genoem,” sê sy en laat haar masker sak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top