Liefde in die tyd van die internet
Fransi Phillips
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801686
Fransi Phillips se jongste roman, Liefde in die tyd van die internet, word op die omslag beskryf as ’n “verruklike, eksotiese en absurde stadsprokie.” Phillips, wat dikwels sprokies as grondslag gebruik vir haar werk, en waarin die onwerklikheid met die werklikheid verweef word, skep hier ’n hoofkarakter, Hanna, wat vlug van die “nare wolf” — ‘n seksbeluste prokureur. Hanna spoor dan die skrywer Fransi Phillips op die internet op, wat haar help om ’n werk as ’n Engelse onderwyseres in Rusland te bekom. Hier ontmoet sy via Skype vir Wolf79, die sterk en chauvinistiese held van die verhaal.
Hanna se stryd is grotendeels om haarself te bevry van haar selfopgelegde status as hoer. Dit bespreek sy in die skreeusnaakse openingstoneel met haar sielkundige. Die eerste sin trek hiermee die leser in: “Die shrink probeer tevergeefs om vir Hanna te oortuig dat sy nie ’n hoer is nie” (bl1).
Die sleutel tot die romantitel word grotendeels verskaf op bladsy 48. Hier maak Phillips dit duidelik dat die internet ’n soort virtuele bestaan skep vir diegene wat dit moeilik vind om in die werklikheid te kan leef. Oor die verhouding tussen die bestaan op aarde en die lewe op die internet, skryf Phillips soos volg op haar Facebook-bladsy: “[J]y moet begryp dat jy met die internet die wêreld onder jou vingers het […] jy moet begryp hoe om jou drome, en die werklikheid wat agter die dikwels bedrieglike internet lê, met mekaar te versoen” (bl 48). In haar resensie van Liefde in die tyd van die internet beskryf Deborah Steinmar die verhaal as “baldadig en boheems soos ’n Russiese serp.” Dit is inderdaad die geval. Die agterdoek vir hierdie boheemse Russiese sprokie is die tydperk van die Belle Époque. Hanna met haar lang hare, ’n tipiese vreemdsoortige Phillips-karakter wat Doc Maartens dra (soos die skrywer), word dan ook opgemerk as iemand wat meer herinner “aan ’n aristokratiese Russiese vlugteling tydens die Belle Époque as aan die hoer wat Hanna veronderstel is om te wees” (bl 1).
Sekerlik die grootste bate van Liefde in die tyd van die internet is dat die Russiese leefwêreld tot ’n groot mate oopgeskryf word in Afrikaans. Die impak van die roman, die boheemse tekstuur, sou nie naastenby dieselfde gewees het as die sprokie ter plaatse afgespeel het nie. Die boeiendste dele van die roman word juis geskep deur ’n lewe in Rusland vir die leser uit te beeld. Die leser word voorts gekonfronteer met die Russiese politiek. Phillips wat op Facebook haar pro-Poetin, en anti-Amerikaanse sentimente deel, plaas haar oortuiginge in die mond van Wolf79.
Só word Fransi Phillips as skrywer met haar aanvegbare politieke beskouing aangekondig: “Die middelmatige skrywer Fransi Phillips se bek is groot op Facebook. Oor Rusland en spesifiek die Russiese president Wladimir Poetin gaan sy so te kere dat ’n hele paar belangrike letterkundiges haar al geblok het. Volgens Phillips is daar nie veel sprake van ’n diktatorskap in Rusland nie. Basies is daar net een ongeskrewe wet in Rusland wat dit anders maak as die Weste: ’n soort verbod op indiskresie” (bll 21 — 22). Die kompleksiteite van die Russiese politiek word verweef met die sprokiesagtigheid van die woude, die bergagtigheid, die argitektuur van Moskou, die hardheid van onder meer die metrostasies en die ontberinge wat die uitermatige koue meebring. Liefde in die tyd van die internet bied ’n heerlike spel tussen werklikheid en fiksie en neem so ‘n metafiksionele posisie in. Daar word verwys na werklike persone soos Diek Grobler, Guy du Toit en Phillips se suster, Liekie Fouché, en haar dogter, Nina Phillips.
Die skrywer in die roman, Fransi Phillips, wat sterk ooreenkom met die reële outeur, speel poppemeester met die uitgelewerde Hanna en die veglustige Wolf79 wat alles met sy vuiste wil uitsorteer. Die lot wat die karakters glo Phillips vir hulle bepaal, bring groot wrywing tussen die skrywer en haar karakters. Hanna merk byvoorbeeld op as sy Suid-Afrika verlaat en op Doha-lughawe vir ’n aansluitingsvlug na Rusland wag: “[A]angesien ek jou hoofkarakter is […] sal dit dalk gaaf wees as jy vir my ’n aanduiding kan gee waarheen die lewe besig is om met my te gaan” (bl 60).
Phillips word deurentyd daarvan beskuldig dat sy inmeng in haar karakters se lewens, waaraan sy haar wel skuldig maak. Sy skryf onder meer aan die kunstenaar, Diek Grobler op Facebook: “My hoofkarakter het pas agt van jou skilderye by haar verloofde gesteel en die land daarmee verlaat” (bl 59). Die magspel tussen skrywer en karakter word gekompliseer wanneer Hanna op ’n keer die skrywer verbeel — “die keer [het Hanna] vir Phillips uitgedink in plaas van Phillips vir haar. So Phillips is streng gesproke op hierdie oomblik ’n karakter in die gedagtes van een van haar karakters.” (bl 80).
Die opstand van die karakters teenoor hulle skrywer bereik ’n hoogtepunt wanneer die ontstoke Wolf79 vir Phillips in haar bed gaan wurg. Hieroor skryf Phillips: “Ek het nog nooit sulke kak hoofkarakters in ’n boek gehad nie” (bl 195). Uiteindelik kom Hanna tot die insig — soos Phillips vir haar en Wolf79 deurgaans daarop wys — dat hulle self hul lot bepaal. “Ons het dit self gedoen. Ek met my drome en jy [Wolf 79] met jou vuiste. Onthou, sy [Phillips] meng nie veel in met haar karakters nie” (bl 216).
Alhoewel hierdie spel tussen feit en verhaal interessant is en humor en speelsheid tot die roman bring, pla dit by tye vir hierdie leser. Dit voel soms geforseerd en die skrywer wat haarself opstuur, plaas haar soms té sentraal. Die draakstekery met geslagstereotipes sorg vir komiese oomblikke, maar by tye raak hierdie truuk ook te veel. Dit raak steurend dat daar soveel keer “neergeslet” word; geykthede soos die trane wat ’n paar keer oor Hanna se gesig stroom en dat sy haar trane afwas in ‘n see vol trane (bl 186) krap ook.
Hoe dit ookal sy, Liefde in die tyd van die internet lees maklik en boeiend — net die regte leesmateriaal vir die somervakansie.
Kommentaar
Loshande die swakste Afrikaanse boek wat ek nog ooit gelees het. Swak Afrikaans. Swak storielyn.