Liefde in die Ou Kaap deur Sarah du Pisanie

  • 0

Titel: Liefde in die Ou Kaap
Skrywer: Maryke Roberts
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799365115

 

Koop Liefde in die Ou Kaap by Kalahari.com.

Sarah du Pisanie het 43 boeke agter haar naam en is een van Suid-Afrika se gunstelingskrywers in die liefdesverhaal-genre. Sy skryf al vir meer as 30 jaar en haar boeke is al in 10 omnibusse uitgegee en word op publieke aanvraag gereeld herdruk. Haar jongste omnibus, Liefde in die ou Kaap, sal haar aanhangers – en nuwe lesers – beslis nie teleurstel nie.

Die boek se voorblad vang dadelik jou oog: die ou dokument met sy vergeelde teks wat as agtergrond gebruik is en die keuse van gekrulde lettertipe skep dadelik die atmosfeer van eeue gelede en lyk asof dit met ’n inkpot en veer geskryf is.

Dis maklike leesstof en hoewel die storielyn effe voorspelbaar is, sorg die skrywer vir genoeg intrige om jou aandag tot die laaste paragraaf te behou. Sy laat jou ook telkens wonder of die einde nie anders gaan wees as wat jy verwag nie. Haar boeke is nie literêre meesterstukke nie, maar gee ook nie voor om dit te wees nie. Jy hoef nie diep te dink nie en die boek is uitstekende ontspanningsmateriaal.

Dis ook lekker dat die tweede storie op die eerste een volg en dat van die karakters in albei na vore kom, maar dat elke storie tog ook op sy eie voete kan staan.

Die openingsparagrawe van Don Poseidon haak jou aandag soos ’n vis aan ’n hoek: die pragtige jong edelvrou Pauline word in ’n hangkas versteek terwyl ongewenste besoekers op die landgoed in Frankryk kom rondvra. Dit is die jaar 1790 en die Franse adel moet vlug om die guillotine te ontkom. Nadat sy ’n boodskap van haar pa uit die Kaap de Goede Hoop kry, moet sy per skip daarheen reis. Vermom as ’n kajuitjonge gaan sy aan boord van ’n skip wat haar veilig aan die Kaap moet besorg. Daar wag die markies Giliomee op haar. Haar sterwende pa het met hom gereël dat hulle kan trou en dat sy ’n nuwe lewe vir haarself in ’n vreemde land kan bou. Maar op hierdie reis vol gevare, waar haar identiteit as vrou teen elke prys beskerm moet word, groei sy al hoe nader aan die forse skeepskaptein, Louie, met sy donker hare en helderblou oë. Daar is seerowers en die ruwe see en allerhande intrige aan boord wat jou vasgenael hou. Sarah se beskrywing van elke karakter gee steeds jou verbeelding vrye teuels oor hoe die karakters lyk en jy raak gou lief vir elkeen se persoonlikheid. Die storie het ’n lekker kinkel aan die einde.

Gelukkig is die tweede boek, Lilie, ’n verlenging van die eerste boek, sodat jy nog bietjie langer saam met jou geliefde karakters kan kuier. Van die karakters uit Don Poseidon is weer daar, maar dis ’n hele geslag later en dit speel in die Franschhoekvallei in die vroeë 1800’s af. Terwyl die nuwe boere uit Nederland, Brittanje, Frankryk en Duitsland die ongerepte Kaap begin tem met plase uitlê, groentetuine, vrugteboorde en blomtuine, veg ’n jong meisie teen haar liefde vir ’n man wat aanvanklik nie van haar as vrou bewus is nie, maar eerder aan haar dink as sy kleinsussie. Dit word ’n liefde wat haar elke uur van die dag pynig, want sy is daagliks in sy teenwoordigheid terwyl sy hom help om sy huis en tuin vir sy bruid voor te berei. Daar is draaie waar ontvoerders, perdryongelukke en verraad die storie bykans kelder, voor die diep stilte van die sneeu wat hulle oorval, haar laat besef dat sy nooit weer ’n ander man sal kan liefhê nie, maar dat sy liefde aan iemand anders beloof is.

Dis beslis die regte boek om voor jou verwarmer of kaggel mee op te krul. Sit ’n dag of twee daarvoor opsy, want as jy eers begin lees het, gaan jy moeilik halfpad opstaan.
Sarah du Pisanie het die grootste deel van haar lewe in die ou Suidwes-Afrika, nou Namibië, gewoon. In 1997 het sy daar afgetree. Dié land is in haar bloed, en sy skryf graag liefdesverhale met die ou Suidwes as agtergrond. Haar eerste roman, Jakkalswater, het in 1981 verskyn.

Sarah het vanjaar haar 71ste verjaardag gevier en sy en haar man, Johan, het hulle 50ste huweliksherdenking in Desember 2008 gevier. Die liefde, glo sy, oorwin inderdaad alles en is die mens se grootste anker, daarom skryf sy oor tye wat verby is en die liefde wat stormenderhand verower. Johan en Sarah woon deesdae op Olifantshoek in die Kalahari.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top