Lied van die lemoen

  • 0

Fotobron: Unsplash

Lied van die lemoen

"Wat het die son met jou gedoen, lemoen?"
"Hy’t my gestreel, hy’t my gesoen.
Nou is ek rooi en ryp en rond,
’n vreugde vir die oog en mond!"

"Die son het jou met lig geraak, lemoen?"
"Hy’t my geskroei, gebrand, geblaak.
Nou is ek vuur uit daardie bron,
die ene vlam; die ene son!"

"En snags die maan … wat van die maan, lemoen?"
"Haar silwer arms om my geslaan.
Toe’t van haar koelte in my gegaan,
stil in my sap gesypel, langsaam aan."

"Die aarde het jou niks geskenk, lemoen?"
"Sy klei, deur dou of reën gedrenk.
Nou is ek son én maan en dag én nag,
het ek van aarde en lug hul vog, hul krag."

"Wat het die mens met jou gemaak, lemoen?"
"Vir my gesorg, oor my gewaak.
Nou’s ek dié seën op sy strewe,
simbool van vrugbaarheid en lewe!"

"Wat moet ons met jou doen, lemoen?"
"Ek wil ’n goue glans wees tussen groen,
gepluk word dan, só met my lot versoen,
lemoen wees slegs, lemoen, lemoen, lemoen!"

Uys Krige

Lemoen in enige ander taal klink nie so mooi vir my nie. In Afrikaans sing die naam – lemoen, lemoen, lemoen. Naas “Die Blinde se Geloof”, ook van Uys Krige en ook oor lemoene, is hierdie een seker een van die mooiste lemoengedigte. Ek wonder baiekeer of dit die Spaanse son en die lemoene daar oorkant die water was wat Uys Krige so betower het. Of dalk was dit juis die lemoene wat hom laat terugverlang het huis toe, na die boorde van hier.

As ek die storie van Adam en Eva moes oorvertel, sou dit die lemoen wees wat tot hul val gelei het. Die lemoenboom daar in die middel van die tuin sou Eva al met die geur van sy bloeisels verlei het. Ek onthou hoe ek eenkeer saam met ’n publisiteitsbeampte van die destydse SAUK van Kaapstad na Niewoudtville gery het om ’n storie te doen oor die verfilming van die reeks, Die Manakwalanners. Die pad was lank en ver. Ná ’n paar honderd kilometer het ek gewonder oor die parfuum van die vrou langs my in die motor, totdat ek besef het ons ry nou deur lemoenwêreld en die lieflike geur is dié van die lemoenbloeisels.  

Ek kan net dink hoe Eva haar moes verwonder het. Dis seker net daar ook dat die vrou se liefde vir parfuum gebore is. En toe die bloeisels verdwyn en die boom begin swaar dra aan die helderoranje vrugte, kon sy haar nuuskierigheid nie langer bedwing nie …

Maar dis bloot ’n verbeeldingsvlug. Die eerste lemoene word eers ’n bietjie meer as driehonderd jaar voor Christus in Chinese geskrifte genoem, ’n vrug gebore uit die huwelik tussen pomelo en mandaryn. En ek is maar te bly ek het nie vóór daardie tyd geleef nie – die lewe sonder lemoene sou maar saai gewees het. Die kleur en geur, die klein smaakontploffing in jou mond. 

Ek onthou hoe ons op skool pouses buite in die wintersonnetjie gesit en die lemoene tussen ons hande gerol en gerol het, baie versigtig met die vingers gekneus het dat die skil nie voortydig oopbars nie. En wanneer die skil papsag gevoel het, het jy aan die bokant die skil oopgebyt en die sap uitgesuig. Agterna het jy die vrug oopgebreek en die vlees met jou tande opgehark. Ander kere weer het jy die lemoen met jou vingers geskil, oopgebreek en huisie vir huisie opgeëet. Die lekkerste was om ’n babahuisie tussen die ander te ontdek. Of beter nog, ’n dwerglemoentjie aan die binnekant, aan die gatkant van die groot lemoen.

Vandag is daar altyd lemoene in my kombuis. Ek verbeel my al ek kan nie kook as daar nie ’n bak vol gloeiende oranje reg in die middel van my kombuistafel staan nie. Wanneer die seisoen verby is, verseg my groenteman om die duur vrug op die mark te koop. Dan soek ek maar elders. Daar is ’n vrugtestalletjie op die parkeerterrein van ’n inkoopsentrum naby my wat heeljaar lemoene aanhou, stroopsoet en tot barstens tot vol sap. Ek weet ek betaal dan hopeloos te veel vir die klein bietjie genot. Maar dis hoe dit is …

Ek begin die dag met vars uitgedrukte lemoensap. Ek geur my hoenderkerrie en tamatiebredie met lemoenskil. Lekker soetpatat. Pampoenkoekies met ’n skeutjie koffie en ’n bietjie lemoenskil. Heerlike varktjops in ’n lemoensous. Daar is ’n vaalte in botterskorsiesop sonder ’n bietjie lemoen. Ek bak ’n veerligte lemoenkoek gegeur met vars sap en skil. Ek maak vrolike, kleurvolle slaaie met avokado en lemoen, wortel en lemoen, beet en lemoen … vir my is dit net tamatie wat sukkel om met lemoen te versoen.

Wanneer die reën daar buite val en die wintervaalte te veel word, maak ek my Sondagmaal ’n ode aan die lemoen – lemoenpoeding vir nagereg, maar eers varknekrepies in ’n lemoen-en-sjokoladesous. Moenie wenkbroue lig vir die sjokolade nie – in die Asteke se tyd, lank voor die lekkergoedmaatskappye dit beetgekry het, was dit ’n spesery. Proe gerus – die kombinasie van lemoen, sjokolade, brandrissie en gemmer maak die lekkerste sous. 

En wanneer jy agterna van pure genoegdoening agteroor sit, kan jy lekker giggel oor Eva se storie of met heimwee terugdink aan die lemoenboorde en lemoene wat kleur en geur en die mooi van onthou aan jou lewe gegee het.

Karen se varknekrepies in lemoen-en-sjokoladesous

Genoeg vir 4

1 kg varknektjops
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
3 eetlepels olie
2 koppies vars uitgedrukte lemoensap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, gerasper
60 g donkersjokolade, gerasper

Foto: verskaf

Verwyder die bene van tjops (hou dit vir later om sop of bredies te geur) en sny die vleis in happie-grootte blokkies. Geur met sout en peper. Verhit die olie in ’n swaarboompan of vlakkerige pot en verbruin die vleis daarin. Doen dit in sarsies sodat die vleis braai en nie stoom nie. Skep die vleis met ’n gaatjieslepel uit en hou eenkant op ’n bord terwyl jy die volgende sarsie braai. Giet die lemoensap in die pan en skraap die stukkies wat aan die pot vassit met ’n houtlepel los en meng met die sap. Bring die sap tot kookpunt en voeg die rissie en gemmer by. Kook die sous ’n bietjie af en roer die sjokolade by. Voeg die vleis by die sous en laat prut totdat die sous begin dik word. Geur met sout en peper en bedien onmiddellik saam met ’n heerlike groenterys.   

Karen se lemoenpoeding

Genoeg vir 6 – 8

Vir die poeding
3 eiers
1 koppie suiker
1½ koppies koekmeelblom
’n knippie sout
1½ teelepel bakpoeier
¾ koppie melk
3 eetlepels botter

Vir die stroop
1 koppie kookwater
1 koppie suiker
1 koppie vars lemoensap
2 eetlepels gerasperde lemoenskil
2 eetlepels botter

Foto: verskaf

Klits die eiers goed en voeg die suiker geleidelik by. Klits baie goed. Sif die droë bestanddele en voeg by die eiermengsel. Meng goed. Verhit die melk en botter saam en roer by die deegmengsel. Skep die beslag in ’n gesmeerde tertbord en bak vir 40 minute in ’n voorverhitte oond van 180°C. Terwyl die poeding bak, kan jy solank die stroop maak: Meng al die bestanddele vir die stroop saam in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Kook vir 5 minute. Prik die poeding met ’n vurk sodra dit uit die oond kom en giet die kokende stroop oor die warm poeding.

WENK: Die poeding is op sy lekkerste so warm, maar jy kan dit koud ook bedien. Dis lekker net so of jy kan dit met lemoen- of amandelgegeurde styfgeklitste room bedien. Of saam met ’n lekker dik volroom, ongegeurde jogurt of tuisgemaakte vla. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top