Lewensloop

  • 0
opgedra aan so baie

Dit het ontkiem as (onheiligheid!)
hunkering uit die pit van sy siel,
daarna vervuil soos onkruid:
die behoefte (afstootlik!) om iemand lief te hê
om naby hom te wees, sy sensitiewe hand
op ’n arm of skouer te voel;
die begeerte (boosheid!) na ’n sielsgenoot,
’n begrypende daarwees, sy (sonde!) glimlag;
die smag na die (gruwel!) eenword.
Daar was die dooddruk, die uitkap,
sy eie ontworteling.
G’n plaagdoder kon dit uitroei nie.
Die verlate slagveld van sy lyf
het agter in die luierende motor gelê
langs ’n rooiwynbottel en leë pilhouers.
Hulle het sy oorskot uit die kerk begrawe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top