
Lewenslint
bo my katel hang ’n string LED’s
waaraan ek soeweniers
met wasgoedpennetjies vasknyp:
ID-grootte foto’s waaroor ek boeke gaan skryf,
Huletts-suikerpakkies met aanhalings versier,
Bybelversies wat ek by die Sondagskool geleer het,
onvoltooide gedigte,
my versnipperde selfmoordbrief
wat Ma aanmekaargelas het,
akkoorde wat my verhale gaan toonset,
’n abstrakte gesig wat ek in ’n droom gewaar het,
droë daisies wat jy deur ’n heining gesteel het
en my psigiater se noodnommer (speed dial – 6)
nog nooit het ek ’n bedrieër soveel verpes nie.

