My hart, gebore op Langenhoven se stoep
Verwelkom deur die growwe hande van die Klein Karoo
Stowwerige voete en ’n warm stem wat roep
My dae reik na die blou strepies lug daarbo
My hart, gespeen langs die skuins kliphange
Vrugbare vallei bedek met gehekelde lappieskombers
Warm is die Matroosberg se lentewange
Na afskeid van die pragtige goud, rooi en pers
My hart, geskool op die vlaktes van Pampoenkraal
Met oranje somersdae wat tot die laaste uur rek
Waar stories van grootword en avontuur soos geeste dwaal
En drome van die toekoms tot in die ewigheid strek
My hart, verryk in die wingerdvallei
Waar denke geskape word met potlood en pen
My hart, gebreek, weer gesond, en weer verlei
My wynglas, half-vol, is hoe ek die wedloop wen
My hart, tot ruste langs Lourens se rivier
Waar winde saans neurie en sag in jou ore fluister
Waar die baai se soutblou liefde so bly is jy is hier
En jy na stories van ou gesigte in hekelmusse kan luister
My hart, met diepe lyne uitgekloof deur liefde, leed en tyd
Wat goed geweet het van swaarkry, te bid om te bevry
en alledaags aanhou waarsku teen te lank wag en verwyt
Dis my hart, met al sy kamers, wat my vir die toekoms sal bevry


