US Woordfees 2015: Letterkunde en die liefde, teks en seks

  • 0

Seks is nie ’n toeskouersport nie, maar ’n belewenissport. So het die bekende skrywer Kerneels Breytenbach tydens die US Woordfees op Stellenbosch gesê oor die manier waarop hy taal gee aan die dinge van die lyf.

Hy was een drie bekende skrywers wat tydens die skrywersfeesgesprekke deelgeneem het aan ’n diskoers oor letterkunde en die liefde, teks en seks. Boeke soos Piekniek by Hangklip en sy jongste meesleurende roman, Ester, wat handel oor verbode passie en ’n politieke intrige, is maar enkele van sy pennevrugte waarin seks ’n rol speel.

Saam met hom op die verhoog was Izak de Vries, ’n ou bekende boekfoendi en skrywer wat speels omgaan met seks wanneer hy oor liefde skryf. Die derde lid van die paneel was Riette Rust, wie se seksensiklopedie Die AA tot OE van seks vol prettige nuwe name vir seksposisies en -speelgoed is: woorde soos vloerwoer, kopgalop, wysneus, snoeswoes en vibreerbroekie.

Sy gee toe niemand sal waarskynlik sê “Ag skatlief, bring gou my vibreerbroek” nie, maar sy wou ook nie gewone name vir seksposisies gee nie, want dis baie vervelig, sê sy.

Daar is egter een sekswoord waaroor niemand nog ’n Afrikaanse vertaling kon uitdink nie, het Breytenbach opgemerk, en dit is die Engelse woord blowjob.

Al drie die skrywers het ’n duidelike onderskeid getref tussen pornografie en goeie sekstonele in die letterkunde.

Maar waar is die grens tussen pornografie en ’n goeie sekstoneel? wou die gesprekleier Madri Victor van hulle weet.

Dit gaan nie net daaroor om oor seks te skryf nie, het Rust gesê. Dit moet eroties funksioneel wees. “Daar is een of ander vorm van skoonheid in erotika.”

Vir De Vries lê die verskil tussen pornografie en erotika daarin dat jy die leser met erotika terg en terg. “Die lesers weet iets kom, maar dit kom nie.” De Vries meen die verskil tussen pornografie en erotika is dat sensualiteit stadig opbou by erotika. Dit moet stadig ontwikkel en daar moenie te veel besonderhede wees nie.

Die probleem vir skrywers wat oor seks skryf, sê Breytenbach, is dat almal wat dit lees, dink dat jy alles wat jy skryf al self gedoen het. “Daar is nie ’n kans dat ek dit alles kon gedoen het nie.”

’n Skrywer soos André P Brink, wie se boeke onder andere as gevolg van sekere sekstonele destyds deur die publikasieraad verbied is, het mak omgegaan met seks vergeleke met vandag se skrywers. “Ja, maar onthou: hy was toe nog maar by die tweede van sy vyf huwelike en het nog baie gehad om te leer,” het Breytenbach geskerts.

Kreatiwiteit is die sleutel tot goeie seksliteratuur. Woorde soos penis en vagina kan so vervelig wees, het De Vries opgemerk. Lina Spies se benaming in een van haar gedigte, waarin sy praat van ’n gekneusde leeubekkie, sê soveel meer in die konteks waarin sy dit gebruik.

Breytenbach sê hy wonder of hy nog seks in sy boeke wil hê. “Ek kan wragtag nie dink wat ek nóg kan doen nie. Seks moet deel wees van die verhaal, anders is dit aangeplak.”

Rust stem saam en sê die leser moet verlief raak op die karakters oor wie daar geskryf word. Hulle moet deur die karakter se oë sien wat die skrywer sien.

Daar het ’n ontwaking by Afrikaners gekom oor seksuele beskrywings en volgens De Vries en Breytenbach het gay skrywers baie daartoe bygedra om die weg te baan sodat daar vandag gemakliker oor seks geskryf word.

Rust sê die jonger geslag van vandag maak ook hulle kinders anders groot. Daar is ’n groter openheid wat seks betref. Kinders praat openlik daaroor en is heel gemaklik daarmee.

Die openhartige gesprek oor seks onder Afrikaners het al begin toe Izak de Villiers redakteur was van Sarie en ’n groot passie gehad het vir die G-kol. Rust sê sy ken ’n dame wat op haar oudag die eerste keer gehoor het van ’n klitoris. Vandag besef mense die morele kern van die samelewing kan steeds behoue bly as mens openlik oor seks praat.

Sy sê sy het nie doelbewus oor seks begin skryf nie. Die onderwerp het haar gekies en sy het op LitNet daaroor begin skryf om te kyk of sy wel oor seks kan skryf.

Die terugvoer wat sy van lesers kry, is oorweldigend, sê sy. ’n NG dominee het gesê hy vind haar skrywes absoluut bevrydend, terwyl ’n vrou wat voorheen verkrag is, laat weet het dat sy na die lees van haar jongste boek vir die eerste keer weer kans gesien het vir seks.

  • Letterkunde en die liefde, teks en seks is aangebied deur LitNet.
  • Foto: Naomi Bruwer
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top