
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Skrywer: Joanne Lombard
Titel: Misdaad/Liefdaad
Uitgewer: Cover2Cover Books
ISBN: 97819284662603
Die boek Misdaad/Liefdaad (2024) was skrywer Joanne Lombard se debuutwerk. Groot was haar verbasing toe die werk bekroon is, danksy die Departement van Sport, Kuns en Kultuur (Department of Sport, Arts and Culture, of DSAC) se jaarlikse skryfkompetisie. Die landswye wedstryd word elke jaar saam met die Academic and Non-fiction Authors Association of South Africa (ANFASA) aangebied en gee nuwe skrywers die geleentheid om hul werke die lig te laat sien. Joanne was die wenner van die Afrikaanse afdeling, met skrywers wat in al ons landstale deelgeneem het.
Misdaad/Liefdaad is ’n “probleemverhaal” in die tradisie van Skilpoppe (1998) deur Barrie Hough en Lien se lankstaanskoene (2008) deur Derick van der Walt. Minstens twee aspekte onderskei dit egter: Hierdie storie is vir jonger lesers, en die fokus is nie op die tiener met die dwelmprobleem nie, maar op die sussie wat in die daaglikse drama van ’n gesin waarin daar ’n dwelmprobleem is, net ’n randfiguur is. Hierdie storie plaas haar in die kollig. Hoewel dit op die oog af ’n eenvoudige verhaal is, word ’n rits belangrike onderwerpe aangeraak – misdaad, dwelmmisbruik, vereensaming, geestesgesondheid binne ’n gesin – kwessies wat duisende Suid-Afrikaanse gesinne se lewens raak. Hierdie temas maak dit hoogs nuuswaardig. Dit is geweldig belangrik dat tieners en hedendaagse families verhale kry waarmee hulle kan identifiseer.
In Misdaad/Liefdaad word die leser bekendgestel aan Lora, ’n vindingryke pre-tiener in die stad wat altyd probeer om oplossings vir die mense en situasies rondom haar te vind. Die storie begin waar Lora, haar ouers en haar bababoetie by haar suster in ’n rehabilitasiekliniek gaan kuier: “Hendrik is een-en-’n-half en meeste van die tyd op die vloer. Tanya is agtien en meeste van die tyd in rehab.” (7) Op pad terug stop hulle, soos elke Saterdag, by ’n veiling en daar ontmoet sy die eksentrieke oom Anthony, ’n restoureerder, wat ’n antieke praatpop gekoop het. Hierdie ontmoeting is die vertrekpunt vir die leser se reis saam met die gesin wat elk op hul eie manier die gevolge van inbrake, dwelmverslawing en gesinsprobleme hanteer. Lora help ook oom Anthony op verskeie maniere en haar vriendskap met haar klasmaat Basetsana blom, onder meer in hul speelse, snaakse planne om misdaad op te los. Die storiewêreld is vol kontraste: ’n oënskynlik gemaklike voorstedelike lewe waar die gesin inderwaarheid al jare lank swaarkry weens die gevolge van dwelmverslawing; ’n restourasie-werkswinkel wat ’n hawe bied teen die harde werklikhede van misdaad en inbrake in ’n stad. Misdaad/Liefdaad bied ’n blik op hoe ’n kind se perspektief nuwe lig op sulke grootmensprobleme kan werp.
Die ongewone titel van die boek is amper onvertaalbaar. In Afrikaans word daar ’n pragtige woordspel binne die titel geskep met die woord misdaad en die woord liefdaad. Dit is Lora se oplossing vir ’n taalprobleem wat in die klas opduik: Wat is die teenoorgestelde van “misdaad”? In plaas van die bekende woord “weldaad”, kies sy “liefdaad”, en plaas dit teenoor “misdaad” omdat sy reken dat liefde en deernis ’n oplossing kan wees waar straf tekortskiet. Die titel voorspel die spanningslyn tussen seerkry en genesing in die verhaal.
Goedhartigheid is die sentrale draad wat deur Misdaad/Liefdaad loop en is ’n kenmerk van die verhoudings in die storie, onder meer te sien in die gesprekke tussen Lora en haar pa, wat nooit haar idees afkraak nie, maar haar eerder aanmoedig (5):
“Toe ons hier net voor die dorp so lank agter die trok vasgesit het, en Pa te bang was om verby te gaan maar mens kon nie oor die bult sien om te weet of daar dalk iets aankom nie –,” Lora skep asem, “toe reken ek Pa kort ’n periskoop om oor die bult te kan sien.”
“’n Periskoop? Vir ’n kar?”
“Jip.”
“Mm. Nie ’n slegte plan nie. Maar dit sal nogal vaartbelyn moet wees ...”
In hierdie storiewêreld van sorgsaamheid en “liefdade” kom daar ook geleidelik herstel in die twee sussies se verhouding. Met die eerste besoek aan Tanya is die afstand tussen hulle opmerklik: “Vir Lora het Tanya soos een van die porseleinpoppe in Ouma se showcase gelyk, so wit. Kyk-met-jou-oë-nie-met-jou-hande-nie.” (7) Later in die verhaal erken Lora teenoor Tanya dat sy nie weer haar “goeie voornemens” wou hoor nie, en Tanya antwoord: “Dit gaan anders wees hierdie keer, Lo. Hierdie keer gaan ek dit laat werk.” (70)
Ook die vriendskap tussen Lora en Basetsana wat mekaar by ’n Nar-Anon-vergadering raakloop, gaan oor wedersydse omgee:
Basetsana glimlag vir Lora. Haar swart hare is kort en steil agtertoe gekam, met ’n breë haarband om dit in plek te hou.
“Is jou suster in ’n kliniek?”, vra sy vir Lora met ’n glas water in haar hand.
Lora sê, “Ja-a, nou al ’n maand, hier buite die stad.” Sy wens aan die een kant die grond wil haar insluk omdat iemand van die skool nou van Tanya weet, maar aan die ander kant troos dit haar om te weet sy is nie al een nie. (37)
Dit is opvallend dat empatie, begrip en sorgsaamheid al verder in Lora se gemeenskap uitkring, van die antieke pop se herstel in die werkswinkel, die tieners se versorging in die kliniek, die hawelose kinders se huisvesting, die gesin se speelgoedprojek, tot by oom Anthony se verrassende optrede en die praatpop se uiteindelike lot.
Toe ek oor hierdie waarneming met die skrywer gesels, het sy vertel dat die tema “goedhartigheid” sterk met haar resoneer, veral soos dit in Alexander McCall Smith se fiksie uitgebeeld word. Joanne is ’n groot aanhanger van McCall Smith en put inspirasie uit sy stories oor empatie, morele integriteit en begrip vir ander mense. Sy wil insgelyks lesers bewus maak van die waarde van klein, deernisvolle dade. Die waarde van goedhartigheid word selfs deur ons onderwysdepartemente erken deur hul verspreiding van die UNESCO-publikasie Riglyne vir die implementering van sosiale en emosionele leer in skole (waarin goedhartigheid as ’n kernvaardigheid genoem word) en hul aanbeveling dat skole goedhartigheid formeel moet bevorder. Die “liefdaad” in hierdie boek gaan gewis nie oor blote sentimentele goedhartigheid nie, maar oor dade wat transformasie laat blom.
Die storie wat Joanne rondom Lora en haar gesin bou, vloei gemaklik. Sy beweeg ook met gemak tussen verskillende karakters as verteller: ouer karakters, jonger, manlik en vroulik – maar natuurlik is Lora die sentrale figuur. Joanne reken die geheim lê daarin om aandagtig te luister na hoe elke karakter die wêreld sien – hul vrese, hul verlange en hul stiltes. Lora is die spilpunt van die vertelling, maar deur haar oë kry lesers toegang tot ’n verskeidenheid stemme: Tanya se briewe, haar pa se stille aanmoediging, haar ma se afsydigheid, klein Hendrik se onvoorspelbaarheid. Elke stem kry ’n eie tekstuur. Selfs minder belangrike karakters, soos die seun by die skuiling of oom Anthony, dra ’n bepaalde emosionele gewig, en dit help om hul geloofwaardigheid in ’n kort bestek te vestig.
Die boek slaag daarin om die dinamika van ’n moderne voorstedelike omgewing in realistiese besonderhede vas te vang en trek sodoende die leser in die verhaal in. Terwyl ek gelees het, het ek besef dat elke plek in die boek – die verwaarloosde voorstedelike huis, die veiling, die geordende rehabilitasiesentrum, oom Anthony se volgepakte huis, selfs die dam – vir Lora aan verskillende soorte gebrokenheid en maniere van herstel blootstel. Elke plek het sy tekortkomings, nes die mense wat daar bly.
My gunstelingplek in die boek is die huis vol stukkende speelgoed en allerlei voorwerpe, waar die eensame oom Anthony woon. Hierdie ruimte sit ’n mens se verbeelding op loop. Deur Lora se oë word dié betowerende wêreld met die leser gedeel:
Die vloermat, sien sy toe oom Anthony die deur oopmaak, is so deurgetrap dat dit plek-plek net stringe gekleurde tou is. Die venster se glas is melkerig van stof. Lora raai maar dat hierdie vertrek die sitkamer is, of was, want daar is geen meubels te sien onder al die bokse nie. Party van die heel boonstes se deksels is oopgetrek, asof iemand iets gesoek het, en daar steek goeters uit: pakke papierdoilies, plastieklêers, houthangers en hoede. Daar is nie ’n speelding in sig nie.
Die vertrek ruik na vanilla en stof. Langs die voordeur lê ’n boks wat duidelik van bo af geval en die botteltjies gegeurde olie soos mini-kegels omgestamp het. Dis waar die vanilla vandaan kom, dink Lora. Sy snuif saggies. (25)
Die vertrek vol stukkende speelgoed is ’n metafoor vir wat in die verhaal op die spel is. In Lora se oë is dit ’n wonderland én ’n hospitaal – ’n plek waar dinge wat weggegooi is, met sorg herstel word. Dit is ’n plek van hoop. Daar vestig die skrywer die wete dat herstel, of dit nou speelgoed of mense is, stadige werk is.
Die storie het ’n tweede narratiewe lyn, gekoppel aan die geheimsinnige ouer tienersuster in nood, Tanya. Maar dit is ’n deurslaggewende karakter in die boek. Lesers leer ken die ouer suster se stem in briewe aan die jonger suster. Haar briewe dien as ’n soort emosionele brug wat vir sowel Lora as die leser in haar binnewêreld intrek. Tanya se stem is deur die narratief geweef, sy is byna tegelykertyd afwesig en teenwoordig in die storie – ’n lid van die gesin wat tydelik elders woon op soek na genesing van ’n dwelmprobleem. Haar impak word gesien in die gesinslede wat gaan kuier en sakke vol bederfgoedjies saamneem, in dinge wat niemand hardop wil sê nie, en in Lora se behoefte om haar suster se pyn te verstaan. Só ontvou haar transformasie parallel met Lora se emosionele groei.
Die skrywer beaam dat sy die gevoelens, die onsekerheid, en hoedat ’n jong mens se logika (vir hulself so vanselfsprekend!) nie altyd vir volwassenes sin maak nie, uit haar eie tienerjare onthou. Ook die kinders rondom haar en hul manier van praat, hul waarnemings en opmerkings, hul stiltes, vind ’n plek in haar storiewêreld.
Die helder vaslegging van Lora se gedagtewêreld val ’n mens op en Joanne reken dat meer lesers selfs dalk ook geprikkel kan word om hul eie stories neer te skryf. Veral die spontane reaksie van jongmense op hierdie storie bly vir haar kosbaar. Een tiener het spesifiek gesê dat sy haarself in Lora herken het, veral in daardie impuls om dinge vir ander mense te probeer “regmaak”, selfs al voel dit of jy nie regtig kan help nie. ’n Ander jong leser het laat weet dat Lora haar aan haar nefie, wat ook deur ’n moeilike tyd gaan, laat dink het, en dat sy ná die lees van Misdaad/Liefdaad gevoel het dat iemand verstaan hoedat selfs ’n kind alles intens beleef. Tydens ’n voorlesing in ’n boekwinkel het die jongmense aanklank gevind by Lora se liefde vir uitvindings en tegnologie.
Dit sou ideaal wees as die boek ook in ’n ander vorm of taal gestalte kry, byvoorbeeld as ’n draaiboek vir ’n rolprent, of vir ’n TV-reeks, of as ’n verhoogstuk, onder andere weens die kleurvolle visuele elemente wat deurgaans opduik in die speelgoedtema en die lewendige en onderhoudende vertelstyl. ’n Vertaling in Engels sal die boek ook tot ’n wyer lesersgehoor laat spreek.
Misdaad/Liefdaad behoort byval te vind by ’n wyer gehoor, maar dis primêr vir jong lesers in skole geskryf. Weens die boek se aktuele temas is daar toevallig baie raakpunte met tegnologie- en lewensoriënteringtemas soos gemeenskapsbetrokkenheid, probleemoplossing, emosionele welstand en verantwoordelike burgerskap. Die skryfstyl maak dit ook moontlik om karakterontwikkeling, spanningslyn, dialoog, intrige, konflik, ruimte en dies meer te ontleed. Juis omdat die boek soveel aktuele temas onder hande neem, behoort Misdaad/Liefdaad ’n gewilde keuse te wees as ’n voorgeskrewe of aanbevole boek in skole.
Joanne het my vertel van ’n insetsel op die joernaalprogram, Kwêla, oor ’n poppe-restoureerder, Janet Jooste, wat ’n regte Edison-praatpop besit, nes die een in die storie en op Misdaad/Liefdaad se voorblad. Veral die Repair Café-beweging in Nederland spreek baie sterk tot haar, waar kinders saam met vrywilligers gebreekte speelgoed herstel – iets wat sy self graag in Suid-Afrika sal wil help vestig. Stel jou voor dat ’n mens wegspring met ’n Repair Café-werkswinkel by een van ons kunstefeeste! Die kinders kan poppe en elektroniese speelgoed sit en regmaak, net soos Lora en Basetsana se speelgoedprojek in die storie, terwyl ’n mens oor temas in die boek praat. So ’n werkswinkel sal die boek aan lesers bekend stel én ’n ruimte skep vir jong mense om vaardighede by ouer mense te leer. Dit sal wonderlik wees as hierdie idee tot ’n langertermynprogram in skole en biblioteke kan groei.
Die skrywer wil graag hê dat organisasies wat ondersteuning bied aan mense en gesinne wat met middelafhanklikheid saamleef, soos Narcotics Anonymous, Nar-Anon, SANCA en privaat rehabilitasieklinieke, van die boek Misdaad/Liefdaad kennis moet neem, juis omdat hierdie boek soveel begrip en meelewing wys met mense wat in hierdie draaikolk gevange raak.
Op my vraag oor hoe die toekoms vir Joanne as skrywer lyk, vertel sy dat sy – wat uit al haar skoolvakke die swakste in Geskiedenis gevaar het – al meer begin rondreis om rond te snuffel en brokkies plaaslike geskiedenis op te diep. Sy en haar man, Mauritz, klim maklik op ’n Saterdagoggend op die motorfiets of in die motor en gaan verken plekke soos Stoom Pub & Grill op die gerestoureerde Middelburg-stasie, of die art deco-gebou van die Randse Lughawe. Onder- of ongerapporteerde geskiedenisse van die lewe fassineer haar.
Dis vir Joanne heerlik om oor iets te lees, na die aandenkings daarvan te gaan kyk, die herdenkings by te woon en dan daaroor te skryf. Om sulke feitestories te kan uitsnuffel, open nuwe deure en herinner aan interessante eras wat sy of haar familielede al beleef het. Sy werk tans aan ’n geskiedkundige roman wat losweg gegrond is op gebeure in die Laeveld in die vroeg-twintigste eeu waarby van haar familie betrokke was.
Kontak met lesers is vir Joanne kosbaar omdat dit aan die stories wat sy beplan en skryf, lewe gee. Telkens wanneer iemand vir haar vertel hoe ’n karakter in Misdaad/Liefdaad tot hulle gespreek het, voeg hulle meer betekenis tot die verhaal toe, reken sy. Haar hart trek met ’n punt na ons land se kunstefeeste toe, want sy reken dis die beste plekke om meer toekomstige lesers te ontmoet.
Misdaad/Liefdaad deur Joanne Lombard kan gekoop word by Aristata Boekwinkels (Bloemfontein, Hatfield, Lynnridge Walk) of by die uitgewer Cover2Cover bestel word: https://cover2cover.co.za/product/misdaad-liefdaad/.



Kommentaar
Uitstekende artikel oor 'n baie spesiale boek. Wel gedaan!
Klink na 'n heerlike boek!