Lesersindruk: Michel Houellebecq se Serotonin

  • 1

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer hiervan na LitNet se redaksie aangestuur.

Serotonin
Michel Houellebecq

In ’n vertaalde weergawe van Michel Houellebecq se opstel "Om te bly lewe: ’n Handleiding", staan die volgende aan die begin van die eerste hoofstuk:

“Die heelal skree. In beton sien mens die geweld waarmee
dit as muur gevorm is. Beton skree. Gras kerm onder die
tande van die diere. En die mens? Wat sal ons sê van die mens?”

Houellebecq werk ’n antwoord hierop uit in van sy boeke. By die lees van Houellebecq se nuutste boek, Serotonin, word mens onwillekeurig herinner aan die aanhaling van Remarque aan die begin van Hertmans se boek Oorlog en Terpentyn: “Dit is asof die dae, soos engele in goud en blou, ongrypbaar bo die sirkelgang van die vernietiging staan.” Die konteks is hier wel effens anders: die verval van die individu en die samelewing waarbinne hy funksioneer, ’n bekende tema by Houellebecq.  Wat hom egter onderskei is die berekende, blatante en by tye fyn waarnemings, en die oorspronklikheid van die verbande wat hy lê. Houellebecq is geen groot intellektueel nie, maar hy sien die konteks waarbinne hy kommentaar lewer, skerp raak. Serotonin is teen hierdie agtergrond ’n kroniek van persoonlike, teen die agtergrond van ’n konteks van groter kollektiewe, verval.

Dit wil soms lyk of Houellebecq volgens ’n tipe program skryf. Een boek spreek "groot" kwessies aan (Submission), die volgende een maak erns met individue binne hierdie groot stories.  Serotonin is weer iets van laasgenoemde. Die verhaal skets hoofsaaklik drie aspekte – ’n persoonlike, Franse en Europese vertelling van ’n hipermoderne bestaan en die proses van verval wat inherent die realiteit is daarvan. As sodanig word die verval ook toegepas op die Westerse samelewing in die geheel, reeds ’n sentrale tema by Houellebecq soos bo na verwys is.

Serotonin skets die verhaal van Florent-Claude Labrouste, en daar word ’n greep op die karakter se lewe in ’n huidige Frankryk geskets, ’n Frankryk wat volledig funksioneer binne die EU, waarvan Houellebecq geen groot aanhanger is nie. Florent se lewe word in die eerste persoon vir ons aangebied, en die klem val hoofsaaklik op sy beroep binne die Franse staatsdiens, sy verhoudingslewe en sy sielkundige toestand, waarvan al drie mettertyd grootliks agteruitgaan of tot ’n einde kom, terwyl hy probeer om dinge te beredder deur die gebruik van antidepressante, deur fisies te vlug, en deur ’n reeks skeefgetrekte verhoudings. Vervreemding, misleiding en tipiese buitestaander – gedrag is aan die orde. Uiteindelik wonder die leser, en dit is dalk Houellebecq se doel: hoe het Florent in hierdie situasie aangeland? Die sosiale, politieke en persoonlike beskrywings van en kritiek op die Franse (Europese) samelewing en mense wat hy teëkom is plek-plek skreiend, en mens kan uiteindelik dit nie vermy om ’n verband raak te sien tussen Houellebecq se standpunt en iemand soos Hermans se laaste paragraaf in sy werk, An Untouched House, nie:

I looked deep into the house’s diseased and dying maw. It was like it had been putting on an act the whole time and was only now showing itself as it, in reality, had always been: a hollow, drafty cavern, rancid and rotting at its core.

Hierdie realiteit ken ons deeglik ter plaatse, regoor die sosio-politieke spektrum; deesdae baie meer algemeen omvattend as wat ons aanvanklik vermoed het. Daar is min hubris by Houellebecq se karakters in Serotonin, wat dit nie geskik maak om te bepaal waarom (en hoe) hierdie verskynsel deesdae al belangriker word nie (’n afgeskeepte veld). Hier is egter ander voordele te kry. In Houellebecq se werk staan dit sentraal: ver weg van die ideologiese sekerhede wat vroom funksioneer om sogenaamd insig te bied, staan die verloopte individu wat maskers van fatsoenlikheid afruk Inderdaad, soos iemand dit gestel het, hou die skrywer homself met belangstelling besig deur sy eie en ander se agteruitgang dop te hou. Dit is sy eerlikheid wat opval; soms skokkend sodanig. Soos in van sy ander boeke, teken Houellebecq hier vir ons ’n prent van ’n bestaan waarvan ons self die slegte smaak geskep het en waarop ons soms baie trots is – duidelik onbewus van Jos de Mul se waarskuwing van wat gewoonlik die noodlot uitlok: oormoed, verblinding en misrekening.

Serotonin is nie Houellebecq se beste werk nie en is daar een of twee tyd- en konstruksiefoute in die boek. Tog wonder die leser wat Houellebecq nog verder te sê het na die relatief stomp maar betekenisvolle einde. Dalk verras hy weer deur nog ’n mantel van ’n gemaklike skynorde op ’n nuwe manier af te ruk. Hierin lê waarskynlik sy belangrikste bydrae –  ’n tipe ontmaskering en konfrontering van die spektakelsamelewing, sy woordvoerders en sy weefkunstenaars. As hy dit net (weer) regkry, is dit al die moeite werd – of mens nou elke keer die spesifieke aanslag of inhoud van sy verhale kan verteer of nie. ’n Spieëlgeveg het egter geen wenners nie.

  • 1

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Ek het glad nie van die boek gehou nie. 'n Ellelange selfverskonende selfmoordstorie without any redeeming features.

    Ek het my kopie ($38) by die plaaslike boek-uitruilskema vervang met 'n $3 Mark Twain.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top