Lesersindruk: Dante se mistieke reis. Tweede tog: Purgatorio deur Kobus Krüger

  • 0

Dante se mistieke reis. Tweede tog: Purgatorio. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk
JS (Kobus) Krüger
Uitgewer: AOSIS (2020)
PDF ISBN: 978-1-928523-27-7
E-ISBN: 78-1-928523-25-3

 

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging van die skrywer vir LitNet gestuur.

 

 

In Desember 2020 verskyn die gerekende godsdiensfilosoof en ideëhistorikus JS (Kobus) Krügeri se inleiding, vertaling (uit Italiaans), toeligting en vertolking van Dante Alighieri (1265–1321)ii se Purgatorio by AOSISiii (Kaapstad), in verlenging van sy soortgelyke inleiding en vertaling van die eerste deel van Dante se mistieke reis, Inferno, in 2013. Krüger se werk is in elke opsig uitsonderlik en het op my as student van Middeleeuse filosofiese en mistieke literatuur ’n diep indruk gelaat.iv

Kobus Krüger (Foto: verskaf)

Dante was nie ’n filosoof in die skolastiese sin van die woord nie, maar sou eerder beskryf kon word as ’n Italiaanse digter wie se werk besondere filosofies-teologiese en politieke implikasies vir die gefragmenteerde politieke landskap van vroeg-14de-eeuse Florence ingehou het. Hy was akademies grondig opgelei in die trivium (logika, grammatika en retoriek) en het sy loopbaan as literêre figuur in Florence begin met die skryf van liriese gedigte in die sogenaamde dolce stil nuovo (“die soet nuwe styl”). Talle van hierdie gedigte is geïnspireer deur sy geliefde Beatrice (Portinari), hoewel omstandighede daartoe gelei het dat hy in die huwelik getree het met Emma Donati, saam met wie hy vier kinders sou grootmaak. Na Beatrice se afsterwe in 1290 het Dante 31 van sy liriese gedigte in die versameling La vita nuova byeengebring, waarin hy filosofies spekuleer oor die transformasie van sy verhouding met Beatrice, in ’n estetiese beweging vanaf die erotiese en aardse na die suiwer intellektuele. Dante verdiep hom na Beatrice se heengaan volledig in filosofie: In sy Convivio dui hy aan dat hy vir vertroosting (Anicius Manlius Severinus) Boëthius (ca 477–524) se advies in De consolatione Philosophiaev gevolg het en Dame Filosofie sy trooster gemaak het. Hy skryf gevolglik formeel in vir filosofiese studies by albei kloosterongebonde skole in Florence, dié van die Franciskane en (hulle opponente) die Dominikane. Sy Franciskaanse leermeester was die versetlike en polemiese Petrus Olivius (ca 1248–1298), wat hom deeglik aan die Franciskaanse kritiek van kerklike eiendomsreg blootgestel het (en sy politieke denke daardeur deurslaggewend laat beïnvloed het). Sy Dominikaanse leermeester weer, Remigio dei Girolami, het hom opgelei in die interpretasie van die mees toonaangewende en omstrede idees van Aristoteles, wat toe reeds aanleiding gegee het tot die veroordeling in 1277 in Parys van ’n aantal uitgelese hoogskolastici, onder andere Thomas Aquinas (1225–1274) en Sigerius van Brabant (ca 1240–1282).

Dante was reeds voor Beatrice se dood intens betrokke by die burgerlike lewe in ’n chaotiese Florence rondom die oorgang na die 14de eeu. Hy tree aktivisties toe tot die politiek deur deel te neem aan die slag van Campadino teen Arezzo in 1289. Daarna sluit hy aan by die gilde van die Medici e speziali (oorwegend vir dokters en aptekers bedoel), waarvan lidmaatskap hom kragtens die Ordinansies van Justisie verkiesbaar sou maak as ’n politieke amptenaar in 1293. Op grond van die verkiesing neem hy sitting op ’n hele aantal adviesrade, waaronder die Raad van 36 (1295 en 1296) en die Raad van 100 (1296 en daarna weer in 1301). Hy tree in 1300 ook op as een van sewe uitvoerende hoofde van die Florentynse gemeenskapsraad. Hier raak Dante en die ander ses hoofde in ’n konfrontasie gewikkel met leiers van die twee groot politieke partye in Florence in die vroeg-14de eeu, die sogenaamde Wit en Swart Partye. In ’n poging om die voortslepende faksiekonflik tussen die Florentyne te ontlont, stuur die sewe hoofde van die Florentynse gemeenskapsraad die leiers van beide partye in ballingskap. Dante en sy ses kollegas se opvolgers het egter die besluit omgekeer deur die Wit Party se leiers terug in Florence te ontvang – terwyl die verbande leiers van die Swart Party hulle op die pous (Bonifatius VIII, Benedetto Caetani, 1230–1303, pous 1294–1303) beroep het om tot die konflik toe te tree.

Bonifatius VIII gee (in nogeens ’n swak besluit van hierdie berugte pous) aan die broer van koning Phillip IV (le Bel of “die skone”, 1268–1314), Karel Valois, opdrag om as tussenganger tot die konflik in Florence toe te tree, met tragiese gevolge. Dante word gevolglik in Oktober 1301 saam met twee kollegas vanuit die Florentynse gemeenskapsraad afgevaardig om in Rome met Bonifatius VIII te onderhandel ten einde Karel Valois ten alle koste uit Florence te hou. Hulle moedige pogings ten spyt neem Karel Valois met pouslike sanksie Florence op 1 November 1301 oor. Hy open dadelik die stadspoorte vir die verbande leiers van die Swart Party, wat die regering gewelddadig oorneem en dadelik met strafregtelike vervolging van die leiers van die Wit Party begin – wat die doodstraf as vonnis ingesluit het. Dante se burgerskap van Florence bly self in die slag: Toe nog in Rome, word hy in sy afwesigheid van sy Florentynse burgerskap gestroop. Dante word in ballingskap gestuur op 27 Januarie 1302 en op 10 Maart 1302 tot teregstelling gevonnis, sou hy ooit weer na Florence terugkeer. Hy het die res van sy lewe in ballingskap deurgebring en is op 13 September 1321 in Ravenna oorlede.

Die meerderheid van Dante se literêr-filosofiese werke is tydens hierdie periode van 19 jaar in ballingskap geskryf. Dit geld ook vir sy drie belangrikste werke, Convivio, Monarchia en Divina Commedia (Dante 1980, 1990 en 1998). Convivio (Die banket) is gebaseer op Boethius se De consolatione Philosophiae, sowel in vorm – waar prosa en poësie mekaar voortdurend afwissel – as in inhoud, waar filosofie aangebied word as “trooster” vir diegene wat onder druk en selfs in lewensgevaarlike omstandighede verkeer (vir Boethius was dit die tronk, in afwagting op teregstelling; vir Dante was dit ballingskap, met die vooruitsig op teregstelling, sou hy ooit na Florence terugkeer). Oorspronklik beplan as ’n ensiklopediese eenheid wat 14 bande sou bestryk en waaraan Dante van 1304 tot 1307 gewerk het, is die projek nietemin onvoltooid gelaat en sou Convivio uiteindelik net vier bande beslaan. Elkeen van die vier bande word geopen met een van Dante se canzones, of kanto’s, gevolg deur kommentaar in prosa met ’n stelling ontleen aan Aristoteles se Metaphysica: “Alle mense wil weet.”

Dante bied sy kennisleer bedrieglik eenvoudig aan: Kennis is voorwaarde om die menslike siel se potensiaal te laat realiseer, sodat die mens geluk op aarde mag ervaar. Daarom ag hy dit nodig om die werk juis in die volkstaal en nie Latyn nie aan te bied: Die kennis wat hy in gedagte het, is nie skolastiese kennis nie, maar lewenskennis. Hy voeg daarby besprekings oor kosmologie en die morele deugde, om uiteindelik met ’n byeenbring van poësie en filosofiese prosa sy leser tot ’n selfstandige soeke na daardie kennis te beweeg.

Dante se tweede belangrike werk, Monarchia (Oor die monargie) deel nie Convivio se ensiklopediese oogmerke nie; trouens, die werk, waaraan Dante van 1309 tot 1313 gewerk het, fokus op ’n enkele tema, naamlik die noodsaaklikheid van ’n enkele, universele regeerder. Die drie bande van Monarchia bespreek elk gevolglik net een subtema. Boek I bespreek en poog om bewyse te lewer vir ’n universele heerser; Boek II betoog waarom sodanige universele heerser ’n Romeinse keiser moet wees; terwyl Boek III argumente aanbied daarvoor dat die gesag van sodanige Romeinse keiser direk aan God ontleen is en daarom nie ondergeskik kan wees aan pouslike gesag nie.

Dante se mees beroemde werk, Divina Commedia (Die Goddelike komedie), dus geskryf in Italiaans (in Toskaanse dialek) en nie in Latyn nie, bring sommige van die filosofiese temas in die twee vorige werke in drie hoofafdelings byeen. Hy werk van 1306 tot 1309 aan Inferno, en van 1308 tot 1312 aan Purgatorio (onderskeidelik in 1314 en 1315 gepubliseer), en finaliseer die kanto’s van Paradiso in 1321. Dit is ’n enorme werk, wat ten spyte van die filosofiese stemming daarvan nie as “filosofie” binne die sentraal-Middeleeuse, skolastiese konteks verstaan sou kon word nie. Eietyds (vgl Ambrosio 2007:2–3) is dit natuurlik ’n ander saak: Wanneer Dante en ’n laatmoderne filosoof soos Derrida mekaar “van aangesig tot aangesig” ontmoet, gebeur daar inderdaad “aangrypende filosofiese dinge” – egter nie meer aangrypend as wanneer Dante vanuit Italiaans in Afrikaans deur ’n sonderlinge 21ste-eeuse eksegeet van Middeleeuse mistieke literatuur vertaal en vertolk word nie.

Standbeeld van Dante in Uffizi, Florence (Openbare domein).

Kobus Krüger se werk oor die afgelope dekades spreek van ’n beleë omgaan met mistieke literatuur in die algemeen (sowel “Wes” as “Oos”), en sover dit die Middeleeuse Latynse Weste betref, laat 13de- en vroeë 14de-eeuse mistieke tekste in die besonder. Dit het my as leser werklik vreugde verskaf om te kon aanskou met juis hoeveel belesenheid en hermeneutiese soepelheid Krüger in hierdie mees onlangse werk ’n gelade en subtiele teks vanuit ’n komplekse ideëhistoriese register, met dikwels subversiewe ondertone (in “tuimelende gedagtegang” (Krüger 2020:199 eindnota 22), vertaal en kommentarieer. Nie net voeg Krüger hiermee waarde toe tot die tersaaklike navorsingsdomeine in Middeleeuse filosofie nie; sowel die inleiding (eerste afdeling) as die aktualiserende nabetragting (derde en laaste afdeling) het implikasies vir ’n selfbegrip in eietydse kontinentale filosofie, synde ’n ten diepste historiese vakgebied met werklik niks anders tot beskikking as haar ideëhistoriese bronne nie, juis soos wat daardie bronne telkens en opnuut weer in eietydse kontekste geaktualiseer word. Die skopus en draagwydte van Dante se denke hou dus eietydse implikasies in vir die vak filosofie as sodanig, in die Venn-diagrammatiese snyding daarvan met onder meer teologie, kultuurgeskiedenis en sosiologie.

Afgesien van hierdie historiese en indeksmatige oorweging ten opsigte van die kruising van kontinentale filosofie met haar onmiddellike diskoersgenote, hou die omvang van Dante se uitset ook spontane interdissiplinêre gevolge in, met verwysing na veral godsdienswetenskap, godsdiensfilosofie, Romaanse tale en Italiaanse studies, vroeg-Renaissance studies, Middeleeuse literatuurwetenskap en die gespesialiseerde eksegese van Middeleeuse mistieke literatuur, wat, om ’n veeltal redes, ander uitdagings stel as die ontleding van Middeleeuse skolastiese tekste.

Krüger se mees onlangse werk getuig van ’n buitengewone akademiese uitset, ongeag die dissiplines en deeldissiplines waarvanuit dit benader word. Die aanbod konformeer aan die hoogste internasionale standaarde vir oorspronklike navorsing, semantiese of dinamiese vertalings en verantwoordelike tekstoeligting in Middeleeuse navorsing. Alhoewel die werk ’n selfstandige voorlegging is, baat dit om die werk in aansluiting en opvolging van bovermelde inleiding tot, vertaling van en kommentaar oor Inferno (Krüger 2013) te lees. Wat waardetoevoeging tot die bestaande navorsingsregister betref, word die mees onlangse spesialisbydraes vanuit die Dante-navorsing bedrewe in ’n magdom eindnotas verantwoord en bygewerk.

Die wetenskaplike bydrae van Krüger se aanbod sou as driedelig gekenmerk kon word. Eerstens lewer die werk ’n vakkundige bydrae met verwysing na die ontwikkeling van die dissipline (Westerse) geskiedenis van idees, wat bestaan uit die deeldissiplines antieke filosofie, Middeleeuse filosofie (insluitende die Bisantynse en “Oosterse” registers), Renaissance-filosofie en vroeg-moderne filosofie. Wanneer enige van hierdie deeldissiplines met oorspronklike navorsing verruim word, word die dissipline en die vak self ook verruim.

Tweedens lewer die werk ’n dissiplinêre bydrae, met verwysing na daardie besonder digte en gekondenseerde fase van Middeleeuse filosofie, te wete die “hoogskolastiek” (vroeë 13de tot die middel van die 14de eeu). Nie net het die brute volume van konseptuele uitsette in hierdie periode eksponensieel toegeneem nie, maar ook mistieke literatuur is buite skolastiese ruimtes teen ’n verhewigde tempo ontwikkel, soos waarneembaar in die werke van Dante se tydgenote en mistieke medegangers, onder meer (die mistiek-Duitse teenoor die skolasties-Latynse) Meister Eckhart (ca 1260–1328), Hadewijch van Antwerpen (fl 1240), Meister Dietrich (ca 1250 – ca 1310) en Marguerite Porete (ca 1250–1310). Dante hoort tydgenootlik, tematies en ideëhistories in hierdie geselskap en Krüger posisioneer hom as sodanig sonder om in die slaggat te trap om Dante tog wel in die korset van ’n “skolastiese” bydrae te probeer dwing – met inbegrip van Dante se diskursiewe verbondenheid aan Thomas Aquinas (1225–1274). Dante word dus as ’n uitdruklik mistieke skrywer eerbiedig, sonder dat sy werk teen die tydgenootlike prestige-uitsette van skolastici soos Johannes Duns Skotus (ca 1266–1308), Hendrik van Harclay (ca 1270–1317) en Petrus Aureolus (1280–1322) afgespeel probeer word. Die unieke aanspraak van Middeleeuse mistieke literatuur, altyd te onderskei van skolastiese tekste, laasgenoemde oorwegend bestaande uit quaestiones en quodlibeta, word geslaagd in die werk gehandhaaf.

Derdens lewer Krüger ’n nisbydrae met betrekking tot die gespesialiseerde Dante-navorsing: Die mees onlangse en betekenisvolle ontwikkelinge in die spesialisnavorsing word delikaat bygewerk terwyl die relevante afdeling in die primêre teks, Commedia, a cura di Emilio Pasquini e Antonio Quaglio, met behendigheid uit Italiaans in Afrikaans vertaal is. Natuurlik is Dante se eietydse sekondêre literatuur onoorsigtelik – dit spreek boekdele van Krüger se onderskeidingsvermoë om die werklik betekenisvolle momente in hierdie korpus te isoleer en binne sy inleiding, vertaling en kommentaar te ontwikkel en te bestendig.

Krüger se liefde vir sy vak en vir Dante as sodanig is tasbaar aanwesig deur die werk, waarin die woord “liefde” trouens as ’n samebindende sleutelbegrip funksioneer – reeds in die voorwoord (Krüger 2020:xxix) is dit duidelik (“So wil dit [die vertaling en kontekstualisering van Purgatorio – JB] die dimensie van liefde dien”). Krüger het Dante lief, in die innigste filosofiese sin van die woord. In hierdie sin is Krüger self wel ’n “wysgeer”, iemand wat binne die konteks van wysheid begeer en begeer word; wat net die beste in filosofie in die oud-Dietse sin van wijsbegeerte tot uitdrukking wil bring, net soos wat Boethius se Dame Filosofie die beste in haar skrywers tot uitdrukking wou bring, mits hulle haar self onvoorwaardelik liefhet en “begeer”.

Navorsing in Middeleeuse filosofie stel buitengewoon hoë eise. Navorsers in hierdie segment van die groter dissipline van die geskiedenis van idees beskik daarom geredelik oor ’n soort “Ciceroïaanse liefde” vir die dissipline, soos die eerste vroulike Middeleeuse filosoof wat ’n grondige teksspoor nagelaat het, Heloise d’Argenteuil (ca 1100–1164), dit treffend verwoord het: Om so lief te hê dat die metafisies beste in die Ander tot uitdrukking gebring word. Vir my bly dit die mees treffende eienskap van sowel Dante se tweede reis as Krüger se vertaling en toeligting daarvan: dat ’n Ciceroïaanse liefde alle betekenisvolle dinge in sowel die Italiaanse teks as hierdie vertalende interpretasie daarvan dra. Die werk spreek dus van aangrypende hermeneutiese liefdesdiens.

Die inhoudsopgawe val logies uiteen, gevolg deur ’n voorwoord, ’n insiggewende inleiding, die vertaling en toeligting van die mees onlangse spesialisnavorsing van die 33 kanto’s per eindnotas, gevolg deur ’n boeiende nabetragting of nawoord, waar Krüger rekenskap van sy eie mistieke en godsdiensfilosofiese oortuigings gee. Die inhoudsopgawe verskaf ’n trefseker oorsig oor die inhoud van hierdie buitengewoon omvangryke werk, wat daarom in terme van lesersoriëntasie van wesenlike belang is. Die voorwoord verskaf ’n uiteensetting van die drie vernaamste oogmerke van die werk, naamlik om ’n geslaagde semanties-dinamiese vertaling van die Purgatorio aan te bied, die teks sowel breedweg as in spesifieke terme (kultuurhistories, sosiopolities en godsdienstig) te kontekstualiseer en vanuit ’n eietydse raamwerk hermeneuties met die teks in gesprek te tree.

Die inleiding plaas Purgatorio binne die “drieluik” (’n gepaste begrip) tussen Inferno en Paradiso en isoleer die eie-aardigheid van hierdie tweede deel van die Divina Commedia met helderheid, terwyl die noodsaaklikste biografiese inligting aangaande Dante as (inderdaad) digter-filosoof verskaf word. ’n Noodsaaklike verheldering ten opsigte van die begrippe purgatorium en vagevuur word verskaf, terwyl die diskursiewe funksie van louteringspraktyke binne patristiese en Middeleeuse kontekste uiteengesit word. Vir terminologiese en tydruimtelike oriëntasie is die uiteensetting van topografie en struktuur (afdeling vier in die inleiding), die tabel wat die tydsverloop en gebeure uiteensit (afdeling vyf in die inleiding) en die bekendstelling van die ses sleutelkarakters (afdeling ses in die inleiding) van groot waarde. Krüger se vertaling van die 33 kanto’s in die Purgatorio is verbysterend goed. Die kommentaar per eindnotas in elkeen van hierdie 33 afdelings is omvangryk en trouens manjifiek. Dit moes hom etlike jare selfs teen gedrewe tempo geneem het om dit alles so deeglik te kon verhelder.

Wat van Dante se verhouding tot Italiaans en dié se “voortsetting van die klassieke Latynse tradisie” gestel word (Krüger 2020:98 eindnota 3), geld ook vir Krüger se verhouding met en verbintenis tot Afrikaans. Hy benut sélf “ten volle die literêre moontlikhede van sy taal: jonk en tog ’n voortsetting […] van die ou Diets-Duitse (en groter, meer uitgebreide) taalfamilie, deur insette uit Afrika en die Ooste verryk” (2020:391). Krüger gebruik die volle register van die Afrikaanse taal skeppend en oorspronklik, met ’n prosastyl ongetwyfeld gevoelig vir “klank en ritme” (cf 2020:xxix).

By die nabylees van hierdie werk word ’n mens spontaan voor die vraag gestel: Watter ander taal wat kwalik ’n eeu oud is, beskik oor die vermoë om ’n enorme ideëgeskiedenis met tegelyk soveel helderheid en subtiliteit te verwoord? Krüger (2020:391) voeg by die verwoording van sy eie moedertaalverbondenheid met goeie reg Cas Vos (2017, 2018) se onlangse poësievertalings van die Commedia in Afrikaans. Skrywers soos Krüger en Vos beantwoord daardie spontane vraag met intellektuele grasie, fyn grammatikale aanvoeling en poëtiese diepgang.

Die aktualiserende nabetragting in die laaste afdeling van die werk weerspieël die uitstaande eienskappe van ’n sonderlinge 21ste-eeuse intellektueel en verantwoord ’n hele lewe van besig wees met ideëgeskiedenis in die algemeen en mistieke literatuur in die besonder. Middeleeuse literatuurwetenskap in die algemeen en Middeleeuse mistieknavorsing in die besonder is Krüger vir hierdie werk die hoogste dank verskuldig.

Miskien sou ’n laaste persoonlik-innige nota nie onvanpas wees nie. Hierdie vertaling en kommentariëring van Purgatorio spieëlbeeld subtiel iets van die skrywer daarvan (en elkeen wat tot dusver sy teenwoordigheid van digby kon meemaak, sou dit kon beaam): skugter, irenies, diplomaties, afgegrensd teen enige vorm van ydelheid en eiewaan, waardig en gevul met onderbeklemtoonde deug. In dié sin kon hierdie boek wel nét deur Kobus Krüger geskryf gewees het.

 

Bibliografie

Ambrosio, FJ. 2007. Dante and Derrida. Face to face. Albany, NY: State University of New York Press.

Baur, CO. 2007. Dante's hermeneutics of salvation. Passages to freedom in the Divine Comedy. Toronto: University of Toronto Press.

Beukes, J. 2020. Middeleeuse filosofie. Volume I en II. Pretoria: Akademia Uitgewers.

Boyde, P. 1981. Dante philomythes and philosopher: man in the cosmos. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 2006. Perception and passion in Dante's Comedy. Cambridge: Cambridge University Press.

Braida, A. 2004. Dante and the Romantics. New York: Palgrave Macmillan.

Dante, A. 1980. The Divine Comedy. CS Singleton (komm en vert). Volume I tot III. Princeton: Princeton University Press.

—. 1990. Dante's Il Convivio (The Banquet). RH Lansing (inl en vert). Garland library of Medieval literature, 65B. Londen: B Garland.

—. 1998. Dante's Monarchia. R Kay (komm en vert). Toronto: Pontifical Institute of Mediaeval Studies.

Davenport, J. 2006. Dante. Poet, author and proud Florentine. Philadelphia: Chelsea House.

Dronke, P. 1986. Dante and Medieval Latin traditions. Cambridge: Cambridge University Press.

Fortin, E.L. 2002. Dissent and philosophy in the Middle Ages. MA LePain (vert). New York: Lexington Books.

Franke, W. 2013. Dante and the sense of transgression: “The trespass of the sign”. Londen: Bloomsbury.

Freccero, J. 2015. In Dante's wake. Reading from Medieval to modern in the Augustinian tradition. New York: Fordham University Press.

Gilson, E. 1948. Dante the philosopher. Londen: Sheed & Ward.

Havely, N. 2007. Dante. Oxford: Blackwell.

Jacoff, R (red). 2007. The Cambridge companion to Dante. Cambridge: Cambridge University Press.

Krüger, JS. 2013. Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Pretoria: Sentrum vir Mistiek.

—. 2020. Dante se mistieke reis. Tweede tog: Purgatorio. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk. Kaapstad: AOSIS. https://books.aosis.co.za/index.php/ob/catalog/book/242.

Lansing, R (red). 2010. The Dante encyclopedia. Londen: Routledge.

Mazotta, G. 2007. Life of Dante. In Jacoff (red) 2007:1–13.

Miller, J. 2005. Introduction: Retheologizing Dante. In Miller (red) 2005:1–62.

Miller, J (red). 2005. Dante and the unorthodox. The aesthetics of transgression. Ontario: Wilfrid Laurier University Press.

Moevs, C. 2005. The metaphysics of Dante's Comedy. Oxford: Oxford University Press.

Reynolds, B. 2006. Dante. The poet, the political thinker, the man. Londen: IB Tauris.

Ruud, J. 2008. Critical companion to Dante. A literary reference to his life and work. New York: Facts On File.

Scott, JA. 2004. Understanding Dante. Notre Dame, Indiana: Notre Dame University Press.

Vos, C. 2017. Die Goddelike Komedie. Liefde laat die son en sterre sing. Kaapstad: Naledi.

—. 2018. Il Paradiso. Dante Alighieri. Kaapstad: Naledi.

 

Eindnotas

i Kobus Krüger is emeritus professor in godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy was vanaf 1982 professor en hoof van die Departement Godsdienswetenskap aan Unisa tot met sy emeritaatsaanvaarding in 2005. Hy werk sedert sy emeritaat steeds as ’n buitengewoon produktiewe navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria. Krüger is die skrywer van 18 boeke (waaronder die twee werke oor Dante (Krüger 2013, 2020)) en meer as 20 portuurgeëvalueerde artikels in geakkrediteerde internasionale vaktydskrifte, die medeskrywer van een boek, en die alleenskrywer van vyf boekhoofstukke in redaksiewerke.

ii Dante word eietyds oorwegend vanuit literatuurwetenskap – en nie Middeleeuse filosofie nie – gekommentarieer. Die tweede uitgawe van Lansing (red) (2010) se magistrale Dante-ensiklopedie, waaraan tientalle spesialiste en vertalers meegewerk het, is onmisbaar vir juis ’n literatuurwetenskaplike oorsig oor Dante se lewe en werk. Sien in aansluiting by Lansing se ensiklopedie die volgende oorwegend onlangse sekondêre tekste, wat wel skerper op die filosofiese inhoude in en nawerkinge van Dante se nalatenskap fokus: Ambrosio (2007:1–14); Baur (2007:135–71); Boyde (1981:1–42; 2006:59–61;171–214); Braida (2004:61–94); Davenport (2006:1–115); Dronke (1986:1–34); Fortin (2002:109–38); Franke (2013:98–106;119–33); Freccero (2015:19–49); Gilson (1948:83–241); Havely (2007:1–56); Mazotta (2007:1–13); Miller (2005:1–62); Moevs (2005:3–14;169–86); Reynolds (2006:1–74); Ruud (2008:1–18) en Scott (2002:120–39). Sien ook Beukes (2020:II:983–90).

iii Die werk is uitsonderlik netjies en afgerond by AOSIS Scholarly Books gepubliseer (in die agtste volume van die HTS Religion and Society Series) en kan hier kosteloos in pdf-formaat afgelaai word.

iv Die skrywer verklaar hiermee sy betrokkenheid as anonieme portuurevalueerder van die manuskrip wat tot die publikasie van hierdie werk (Krüger 2020) aanleiding gegee het. ’n Greep vanuit die skrywer se keurdersverslag verskyn op versoek van die uitgewer op die agterblad van die werk en daarmee is voortgaande keurdersanonimiteit oorbodig gestel.

v Boethius het De consolatione Philosophiae vanuit die tronk afwagtend op teregstelling geskryf. Hier word hy besoek deur Filosofie, ’n pragtige ouer dame (dieselfde dame wat aan Sokrates verskyn het in Plato se Crito en wie ook ander martelare van die filosofie, onder meer Anaxagoras en Seneca, in hulle laaste dae vertroos het). Boethius konstateer sy onskuld en bely sy angs vir en vernaamlik voor die dood, voor Filosofie. Sy dring egter daarop aan dat hy sy gedagtes opwentel na ’n werklikheid anderkant sintuig en materie. Saam ondersoek Boethius en Filosofie dan die verhouding tussen Lot en Voorsienigheid. Moes vertroosting daarin gevind word, soos die Stoïsyne geleer het, dat die werklikheid deur noodwendigheid en miskien ook lotgeval beheer word? Filosofie dring dan daarop aan dat Boethius Lot nie sal blameer vir die verlies aan die eer, mag en plesier wat hy vroeër as konsul geniet het nie, omdat ’n wyse persoon hierdie sake nooit hoog behoort te ag nie. Dit is, inderdaad soos die Stoïsyne geleer het, onvolmaakte en tydelike dinge. Wat nie verander nie, is die hoogste Goed, en dit is God. Lot is onderworpe aan Voorsienigheid, wat die heelal regeer en reguleer deur ’n liefde fortiter ac suaviter, sterk en soet. God ken alle dinge tegelykertyd, sonder om vrye wil te vernietig. Sommige van die filosofiese grondslae in De consolatione Philosophiae het bykans agt eeue later weer skerp nawerking by Dante in sowel Inferno as Purgatorio en Paradiso geniet: onder meer die beginsel dat die eerste beginsel (die “eerste, onbeweegde beweger” of primum movens, in Aristoteliese taal) van alle dinge goed is, asook die verhouding tussen noodwendigheid en Goddelike voorsienigheid. Die Aristotelies-gedrewe 13de en 14de eeue was trouens intens gemoeid met temas uit De consolatione: lotgeval, noodwendigheid of determinisme, kans, vrye wil, die verhouding tussen universaliteit en partikulariteit, en die vraag na die hoogste goed. Hierdie filosofiese tematisering is ook duidelik in die Commedia te bespeur.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top