![]() Foto: LitNet-argief, LAPA
|
| Sêgoed van Leonard Koza:
“Natuurlik maak die taal deel uit van ’n sekere kultuur, maar met ’n universele beeld na buite. Daar is en sal altyd doemprofete wees wat Afrikaans nie ’n kans op voortbestaan gun nie. Dié doemprofete skyn egter te vergeet dat Afrikaans op die meeste plase gepraat word, en dat daar op dieselfde plase ook in Afrikaans geswoeg en gesweet, gevloek en gestry word. Laaste maar nie die minste word daar ook in Afrikaans gelag en gevier wanneer oestyd aanbreek.” (Taalgenoot, Januarie 1997) “Afrikaans is méér as net die taal van ’n sekere kultuurgroep in Suid-Afrika. Afrikaans is eintlik Afrika self omdat dit hier hoort.” (Taalgenoot, Januarie 1997) In 1987: “Die skrywer in die township is die hartklop van die letterkunde van die toekoms. Daar is beslis gehalte in die werk van township-skrywers, maar daar is eenvoudig net nie die beskikbare kanale vir publikasie nie.” (Rapport, 22 Maart 1987) “Die ‘nuwe’ Afrikaans vir Afrika is egter ’n belowende nuwe baba wat nie slegs aan ’n sekere groep van ’n spesifieke velkleur, ras of geloof behoort nie. Moeder Afrika wil soos ’n hen haar kuikens beskerm, waar hulle ook al op die vasteland is. Die rede daarvoor is dat daardie kuikens, of hulle nou wit of swart is, Afrika as hul tuiste moet beskou.” (Taalgenoot, Januarie 1997) Oor die toekoms: “Om te skryf, meer te skryf oor onderwerpe waaroor nooit gepraat is nie, te bang om ’n opinie te gee. Daar is soveel dinge in Afrikaans waaroor nooit gepraat word nie. Een van die pligte / funksies van die nuwe demokrasie is om te praat en te bly praat oor dinge wat pla, dinge wat bly maak – sonder om mekaar in die hare te vlieg of modder te gooi.” (New Contrast, Desember 2006) In 1997: “Die Wes-Kaap is op die oomblik ’n goeie voorbeeld van die gewildheid van die Afrikaanse taal. Die rede daarvoor is omdat die taal gemaklik, lewendig en buigsaam is. Die Afrikaanse taal is ook nooit sonder sy humor nie.” (Taalgenoot, Januarie 1997) Hoekom humor vir hom belangrik was: “In die omstandighede en verbitterdheid en galsterigheid wat die lewe lelik gemaak het (en selfs in haat ontwikkel het), was dit al wat ons gehad het. Ons het geleer om vir onsself te lag en deur toe te laat dat ander vir ons lag, kon ons iets gee aan ander.” (New Contrast, Desember 2006) Oor die spring van strugglepoësie na townshipstories: “In my gedigte het ek altyd ’n punt gehad om te maak: onregverdigheid, seerkry, honger, ontevredenheid. Daar was nie altyd in die gedigte genoeg tyd om humor ook in te bring nie, want somtyds moes ek huil. Die stories gaan oor hoe mense praat, leef – hoe hulle is.” (New Contrast, Desember 2006) Hoekom het hy gekies om eerder ’n politieke aktivis met ’n pen as een met ’n geweer te wees? “Ek het altyd gevoel as ek skryf dan het die vyand ’n kans om my gedagtes / gevoelens te ervaar. Wat die geweer betref: net soos my geweer ander kan tref en sy einde teweeg bring, kon dieselfde met my gebeur het. Dan kon ek nie meer praat en iets sê nie.” (New Contrast, Desember 2006) |
Gebore en getoë
Leonard Koza is op 20 September 1941 gebore en het in Elsiesrivier grootgeword. Sy pa was Sollie Koza, ’n bekende fotograaf, van Matroosfontein en een van die eerste inwoners van Matroosfontein. Sy pa is in Maart 1990 op tagtigjarige ouderdom oorlede.
Leonard was een van die Hoërskool Elsiesrivier se eerste ingeskrewe leerlinge en het daar sy matriek geskryf. Sy skryfloopbaan het begin toe hy nog op skool was. Sy “Gammatjie en Abdoltjie”-stories het in die Golden City Post verskyn.
Leonard was nog op hoërskool toe die skrywer Jan Rabie hulle skool besoek het en die leerlinge aangemoedig het om te begin skryf. Leonard vertel aan Susan Botha (New Contrast, Desember 2006) dat baie van sy maats dit afgelag het, “maar ek het dit ernstig opgeneem en besef hy het ’n punt beet.”
Na skool het hy as verpleër by die Conradie-hospitaal in Kaapstad gewerk. Hy was later by verskeie munisipale vakbonde betrokke. In 1990 was hy organiserende sekretaris van die Westelike Provinsie se Plaaslike Owerhede Werkersunie en het tot sy aftrede in 2007 as werwer by die vakbond Imatu in die Paarl gewerk.
In die laat sestigs, begin sewentigs was hy ’n klerk by die Parow-munisipaliteit. Willem Fransman vertel: “Daar, agter die toonbank het ons, as jong seuns hierdie ‘groot digter’ bewonder. Die man wat met woorde kon speel. Woorde wat ons elke dag op straat praat, het hy in gedigte omgesit. (...) Vir Lennie was voorlesings net so goed soos publikasie, het hy gesê. Daarom het hy dikwels jong skrywers aangemoedig om hul werk vir mekaar, in die openbaar voor te lees.” (Die Burger, 24 Februarie 2010)
Een van Leonard se kortverhale, “The heart of Nomso Khumalo”, het in 1973 in ’n landwye wedstryd onder die eerste tien geëindig.
Leonard was aktief betrokke by gemeenskapsteater en stukke deur hom en ook van Willie Adams is in ’n planksaaltjie, die Plankierama, in Elsiesrivier opgevoer. Willie Adams vertel in Tydskif vir Letterkunde (2010) verder oor hierdie tye: “Daar het ons Donderdagaande coffee bars gehou. Plaaslike musikante, pretmakers, sangers en skrywers het items gelewer; besoekende dramagroepe soos Stablexpense uit Durban het daar opgetree. Ons het selfs bekende kunstenaars soos James Matthews en Dollar Brand genooi om op te tree. Toegang was gratis, maar elkeen moes ’n koppie koffie en ’n boereworsrolletjie tydens pouse koop, sodat ons die huurgeld en die elektrisiteit van die saaltjie kon betaal. Wanneer ’n plaaslike item opgevoer is, is geïmproviseer en die gehoor aangemoedig om deel te neem omdat dit oor hul daaglikse lewe gehandel het en hulle daarmee kon identifiseer. Al wat die spelers dan moes doen, is om iewers in die loop van die stuk weer na die teks terug te keer. Daar was interaksie met die gehoor en almal het tevrede huis toe gegaan, insluitende die ou roekers, die bendelede. Leonard het by sulke aangeleenthede gewoonlik die voortou geneem. Hy het die voorbereiding en organisering vrywillig gedoen sonder enige vergoeding, want dit het nie om persoonlike of geldelike gewin gegaan nie; ook nie om prestige of selfverheerliking nie. Ons het in diens van ons gemeenskap opgetree – iets wat hedendaags ongehoord is. Hy was medestigter van die dramagroep Township Life wat later tot Township Players herdoop is. Leonard se dramas Distrik Ses, Township-worries en Township-kleingoed is toe alreeds opgevoer. Die Township Players het ook my dramas opgevoer, waarvan Episodes (1976) die bekendste is. In hierdie drama wat oor die 1976-opstande handel, is die name van die spelers en Leonard verewig in dié van die karakters.”
Saam met Willie Adams en gerugsteun deur Patrick Petersen het Leonard in die laat 1980’s Domestica Uitgewers gestig om geleenthede aan opkomende skrywers te bied en van sy eie gedigte het ook in die bundel Optog wat in 1990 uitgegee is, verskyn. Leonard, Adams en Petersen was saam redakteurs van hierdie bundel. Hieroor het Leonard hom as volg uitgelaat: “Ons probeer werke van soveel mense as moontlik uit te gee. Die establishment-uitgewers wys baie voorgelegde werke weg en sê dat die werke nie publiseerbaar is nie. Hulle verwys na dié werke as ‘sonbesie-poësie’.”
Willie Adams het verder uitgebrei oor die publikasie van Optog: “Optog is enig in sy soort want uit die neëntien digters is vyf swart vrouedigters se werk opgeneem. Dit het een van die bundels geword waaruit talle gedigte vir ander bloemlesings gekies is. (‘Onpubliseerbaar’ se voet!).”
Van Leonard se werk is in Frankryk, Duitsland, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en België gepubliseer, en selfs in Kuba het van sy werk in bundels en tydskrifte verskyn. Vroeër in 1986 het ’n plaaslike uitgewer vir Leonard laat weet dat sy werk nie publiseerbaar is nie en in Augustus 1986 is Leonard gekies om by die Iowa State University in Amerika aan ’n internasionale skrywersprogram deel te neem. In hierdie vier maande sou die genooide skrywers onder meer aan werkswinkels deelneem. Die basiese doel van die program was om die skryfkuns te verbeter en dat skrywers van verskillende lande idees kon uitruil. Die Amerikaanse konsulaat het die beurs aan Leonard toegeken. Vanaf 1986 tot sy dood was Leonard ’n Honorary Fellow in Creative Writing aan die Universiteit van Iowa.
“Dit is vir my ’n geleentheid om skrywers uit ander omstandighede te ontmoet en ook te sien hoe die gehalte van ons werk verskil. Ek voel dat ek ook ’n bydrae tot die verbetering van die skryfkuns kan lewer,” was sy reaksie op die goeie nuus.
Kenneth de Bruin het die volgende stelling aan Koza gemaak in ’n onderhoud met Koza (Rapport, 22 Maart 1987): “Uitgewers en sekere akademici behoort mos ’n positiewe bydrae tot letterkunde oor die algemeen te maak. In watter mate werk dié twee elemente dan negatief saam en hoe voel jy oor ’n verandering in die mense se houding?” was sy vraag aan Koza.
Koza het as volg geantwoord: “In die letterkunde [van daardie tyd] is daar ’n element wat negatief is. Daar is te veel mense hier wat voorgee dat hulle werklik vir letterkunde omgee en dit wil bevorder, maar as jy hul houding ontleed, word jy ontnugter. Sekere mense opereer soos ’n soort ‘mafia’ in die letterkunde.
“Dit doen die kuns geen goed nie. Sulke mense moet dit duidelik stel waar hulle met die skryfkuns staan. My ondervinding tydens my verblyf in Iowa het my met nuwe oë na ons situasie in die lettere laat kyk. In Amerika word soveel vir die skrywers gedoen. Selfs die regering daar bestee soveel geld en morele ondersteuning aan die skrywers.
“Daar is gereeld poësie-voorlesings sonder enige vorm van intimidasie. Sondagaande vergader digters en lees hul werke in koffie-kroeë. Daar is ’n gesonde atmosfeer rondom die skrywer en sy talent word altyd bevorder en gestimuleer.
“Skrywers word aangemoedig en aanbeveel om by skrywersklubs aan te sluit. Hier word ons beskuldig van etnisiteit wat ’n groot leuen is. Ons word beskuldig dat ons ‘professionele Kleurlinge is wat ons voordoen as digters’.”
Plaaslik het Leonard se werk in Contrast, Quarry, New Coin, Blac, Reality, New Classic en Staffrider verskyn. Sy werk is in 1986 in België onder die redaksie van Jan de Loof gepubliseer saam met dié van ander Nederlandse digters.
In 1985 is ’n bundel, In and out of the township, in Hamilton, Nieu-Seeland gepubliseer, asook The heart of apartheid.
Leonard se liefde vir kinders het in 1986 tot uiting gekom toe kinderstories van hom in Die Burger Ekstra verskyn het. "Bolletjies die skilpad loop weg", "Kapat, die flukse ponie", "Meeutjie en Gysie neem die huis op horings", "Olifant buig die knie voor Leeu" en "Tuinwerk bied uitkoms vir Boetie" was van die verhale wat jong lesers van Die Burger kon lees.
Leonard was in die 1980’s een van die stigters – saam met Willie Adams, Chris Prince en Melvin Whitebooi – van SUD, die Skrywers- en uitvoerende kunstebeweging. Hierdie beweging het hom beywer vir die uitgee van gemarginaliseerde tekste. Die tydskrif Praat wat uit die beweging voortgevloei het, het egter net een uitgawe beleef.
Koza was ook ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging en was een van die min skrywers wat al drie die Swart Afrikaanse Skrywerssimposiums bygewoon het: in 1985, 1995 en 2005. Hy het egter nooit ’n referaat by een van die simposiums gelewer nie – iets wat Willie Adams in sy huldeblyk aan Koza die “marginalisering-in-eie-kring” noem.
Adams het ook geskryf: “Koza was gewoond aan marginalisering soos skrywers van politieke manuskripte sal kan getuig. Toe hy redelik onlangs [hierdie artikel is in 2010 geskryf] ’n gedig oor die township Manenberg voorgelees het, het ’n verteenwoordiger van ’n establishment-uitgewery kapsie gemaak en verklaar dat hy die ou Suid-Afrika moet vergeet en oor die nuwe Suid-Afrika moet skryf, het Leonard doodluiters geantwoord: ‘Manenberg is nog daar in die nuwe Suid-Afrika.’ Hy het nie veel erg gehad aan ‘die manne wat in BMW’s rondry maar steeds met ’n ossewa-mentaliteit’ nie.”
Die New Nation-toneelgeselskap in Lavender Hill in Kaapstad het in September 1993 sy eerste produksie, Die Koeksusters, in die NG Sendingkerk in die woonbuurt op die planke gebring. Die toneelstuk is gegrond op ’n ware verhaal wat deur Leonard geskryf is. Dit handel oor twee gesinne wat gedwing word om weens die Wet op Groepsgebiede uit Parow te trek. Howard Soetwater was die regisseur en die musiek is saamgestel deur die gospelgroep New Birth.
Leonard was passievol oor Afrikaans. In Januarie 1997 skryf hy in Die Taalgenoot: “Afrikaans sou ’n baie groter gehoor gehad het as dit nie was vir die kaping van die taal deur selfsugtige en dwase politici nie. Nogtans het die taal bly oorleef. Met die politieke en maatskaplike veranderinge in die land, is Afrikaans herbore en dit is duidelik dat dié nuwe baba té groot is om deur slegs ’n klein groepie mense van ’n sekere velkleur toegeëien te word. Die nuwe Afrikaans wíl ook nie meer net in ’n wit kombersie toegedraai en weggesteek word nie. Die nuwe Afrikaans wil uit sy wiegie spring en die donkies en lammertjies in die stal met sy goud, wierook en mirre verras.
“En wanneer die nuwe Afrikaans die stal verlaat om deur Afrika te pronk, wil dit nie teen die hitte of die aanraking van Afrika-hande beskerm word nie. Nog minder verlang dit na verwydering wat teweeggebring word deur geweertonge wat dit wil besig. Verby is die dae dat Afrikaans in ’n wit moeras op sy eie vasteland moes koes en wegkruip. As Duits, Frans, Portugees, Engels en ander vreemde tale hul saad kon skiet in Afrika, waarom nie Afrikaans wat hier gebore is nie? Die nuwe Afrikaans wil omhels, omgee en liefhê.”
Van Leonard se gedigte is in 2004 opgeneem in die Afrikaanse Skrywersvereniging se bundel Metafore van herlewing. Annemarié van Niekerk het sy gedigte wat oor die godsdiens handel, uitgesonder as gedigte wat ironies skerp is.
Sy eerste bundel wat in Suid-Afrika uitgegee is, Die gazoem vannie township, het hy in 2004 self gepubliseer. Dit bevat stories wat Leonard al vanaf 1975 op aanbeveling van Jan Rabie geskryf het. “Juffrou Bester en Bollie, die boikotter” is opgeneem in Uit die kontreie vandaan en Die Afrikaanse kortverhaalboek, wat albei deur Abraham de Vries saamgestel is.
Op ’n vraag "Hoekom township-stories?" het hy geantwoord: “Omdat dit term ‘township’ ’n bepaalde naam vir ’n plek is, een wat vir sekere mense uitgesonder is en histories is hierdie mense agtergeblewe. Destyds kon hulle nie in enige buurt bly nie as gevolg van ekonomiese en politieke omstandighede buite hulle beheer. Dit is die plek waar ek grootgeword het, die plek wat ek ken.” (New Contrast, Desember 2006)
Abraham de Vries het by die bekendstelling gesê dat Leonard vir ons die rykdom van die townships bring. Volgens De Vries herinner die titel van die boek nogal aan die liedjie “Die gezoem van die bye”. “Bye is besige wesentjies, maar hulle kan ook steek en dan maak hulle tog die soetste heuning. Ek het gister nog uitgebars van die lag vir die manewales van die manne in die Sixfooter.”
Ronnie Belcher (Sarie, April 2004) skryf in sy resensie dat Leonard dekades lank in ’n township gewoon en gewerk het waar hy die lewe se vreugdes, struggles, trane en humor gedeel het. “Verrassings, liefde, vreugde, geweld en humor maak die boek gemaklike leesstof vir mense wat bekend is met township-lewe, maar ook vir diegene vir wie dit ’n nuutjie is. Boonop is die boek ’n bewys van hoe buigbaar en allesklinkend Afrikaans werklik is. Dis ontspanningsliteratuur vir een en almal wat omgee vir die township-gemeenskap.”
In Taalgenoot (Junie 2004) skryf George Weideman dat Leonard die wel en wee van die Kaapse werkersklasbuurte met ’n skerp oog skets. “Die gazoem vannie township lewer verslag oor voor- en na-apartheidswoelinge (dit demonstreer ook dat die lewe vir die gewone arbeidersgesin nie noodwendig na 1994 verander het nie). Koza se stem is rouer as dié van SP Benjamin, minder literêr, maar nie dáárom van mindere statuur nie. Sommige lesers mag frons oor Koza se pront taalgebruik, maar 'Rondom die Sixfooter' (wat in ’n begraafplaas afspeel), een van die skreeusnaaksste vertellings wat ek ken, kan doodeenvoudig nie daarsonder nie. Taal – die Afrikaans van die township – is vir baie mense die enigste emosionele verweer teen die magspel waaraan hulle van dag tot dag uitgelewer is. (...) (V)ir mense wat Afrikaans met oogklappe beskou, behoort dié bundel ’n openbaring te wees – die humor, maar ook die swaarkry van gewone mense. Die eg menslikheid in hierdie stories staan bo alle twyfel. Dit gaan in dié outentieke township-sketse oor mense wie se probleme vir ander oë bloot snaaks mag lyk, terwyl dit in werklikheid diep menslike kwessies is.”
Lorraine Braid (Die Burger, 19 April 2004) meen dat die vertellings ’n ander blik op die politiek gee, en dat dit kommentaar bied uit die volksmond – van die gewone man en vrou in die township. “Deur al die swaarkry het die mense nooit hul menslikheid verloor nie en ook nie hul humor nie. Dié humor bevat telkens skerp, ironiese sosiale kommentaar en waarnemings.”
Die verhaal “Koos van der Merwe se ma” is opgeneem in Kruis en dwars: 37 nuwe stories oor Suid-Afrika en “Broe’, wie spoek soe?” in Charles Fryer se samestelling Van spoke gepraat.
In 2004 is Leonard se bundel Die gazoem vannie township, waarin stories uit die Elsiesrivier-gemeenskap vertel word, vir die toneel verwerk en by die Suidoosterfees in Kaapstad op die planke gebring. Mary Daniels het een van die rolle vertolk en Royston Stoffels was die regisseur.
By die Woordfees op Stellenbosch in 2005 het Leonard saam met Peter Braaf gepraat oor die belangrike bydrae wat die struggle-toneel uit die tagtigerjare gelewer het. Leonard was een van die voorste dramaturge van die tagtigerjare. Die rol wat die swart Afrikaanse gemeenskapsteater van daardie jare vertolk het, was spannend, aktueel en dapper.
Hy het aan verskeie radiopraatjies deelgeneem en ten tye van sy dood was hy een van die koördineerders van ’n leesprogram vir hoërskoolleerders by die Elsiesrivier-biblioteek. Naas sy skryfwerk was Leonard ook ’n gemeenskapsaktivis en saam met Adams het hy diep politieke spore in die Kaapse townships van Matroosfontein, Bishop Lavis en Ravensmead getrap.
In Oktober 2005 was Leonard een van die opstellers saam met George Weideman, Elsa Joubert en Abraham de Vries van die beswaarskrif teen dubbelmedium-onderrig, veral aan die Universiteit van Stellenbosch, wat later deur meer as 80 Afrikaanse skrywers onderteken is.
Leonard het voor sy oorlye ’n boek voltooi oor die lewe van die kunstenaar Rappin’ Donkey (Ameen Levy), wat tot ’n musiekblyspel verwerk word.
Ná sy aftrede het hy en sy vriendin Susan Botha na Malmesbury verhuis.
Leonard is op 20 Februarie 2010 in ’n tromp-op botsing met ’n vragmotor naby Durbanville in Kaapstad oorlede. Susan Botha was saam met hom in die voertuig, maar sy is net lig beseer.
Huldeblyke
- Elias P Nel: “Koza het die fyn binnewerkinge van die lewe op die Kaapse Vlakte geken en dit só in sy skryfwerk verwoord. Hy was in meer as een opsig die stem vir die stemloses en het hulle politieke en sosiaal-ekonomiese stryd belig. En juis daarom laat sy dood ’n geweldige leemte.” (Die Burger, 24 Februarie 2010)
- Hein Willemse: “Koza was van die vroeë sewentigs af betrokke by plaaslike publikasies en skryfprojekte in Engels en Afrikaans. Hy het oor die leefwêreld van Elsiesrivier se werkersklas geskryf in ’n tyd toe dit (...) moeilik was om in Afrikaans te skryf. Met die groepie jong digters wat om hom vergader het, het hy ook subalterne poësie help ontwikkel.” (Beeld, 8 Maart 2010)
- Abraham H de Vries: “Met die oorlye van Leonard Koza het ons letterkunde een van sy bekendste onbekendes verloor. Wie hom geken het, het geweet dat hierdie vakbondman in die sestigerjare al op skool begin skryf het; sy ‘Gammatjie en Abdoltjie’-stories het in die Golden City Post (...) Die ‘Afrika-kind’ soos Susan Botha hom in ’n gedig noem, dié boorling van Elsiesrivier, het huis toe gekom, ook in sy taal. Net vir ’n kort rukkie, ’n paar jaar maar, te kort, té kort. Hy was besig aan nog kortverhale en aan ’n jeugboek. Toe, skielik, in die woorde van Quasimodo, was dit aand. Sy aansteeklike lag het stil geword. Sý march na menswaardigheid vir almal was verby. Met seer harte sê ons: Lennie, dankie dat iemand soos jy ’n rukkie by ons kon vertoef. Rus in vrede.” (Die Burger, 24 Februarie 2010)
- Willem Fransman: “Die man van die vakbondwese en die skrywer oor onregverdighede in sy samelewing is nie meer nie. Ons salueer Leonard Koza as een van ons grootstes. Mooi loop, comrade ... mooi loop!” (Die Burger, 24 Februarie 2010)
- Wium van Zyl: “Koza het die vermoë gehad om vanuit voetsoolvlak uit die township te skryf. Daarom is sy bydrae belangrik, al is dit nie in volume baie groot nie. Hy was ’n waarnemer van dinge in die samelewing en het sy kritiese houding in die nuwe bedeling behou.” (Die Burger, 23 Februarie 2010)
- Jan Tromp, ’n vriend: “Dit was ’n besondere voorreg om Koza te geken het. Hy was ’n mens met hope energie. Op skool was hy die spil waarom alles gedraai het, veral omdat hy so lief was om mense te laat lag. Tog was Leonard daai tyd redelik andersdenkend. Hy sou jou sê as hy nie met iets saamstem nie, maar sonder om aanstoot te gee.” (Die Burger, 21 Februarie 2010)
- Collin van der Merwe, ’n vriend: “Ek gaan Koza die skrywer en mentor mis. Hy was ’n skrywer wat sy talent gebruik het om ons kinders te leer.” (Die Burger, 21 Februarie 2010)
- Cynthia Slingers, projekkoördineerder, Dahlia-omgeesentrum, Malmesbury: “’n Seun van Afrika, ’n Afrikaan, ’n Afrikaanssprekende is nie meer. Laat my toe om namens die verwaarloosde en kwesbare kinders en vroue van die Dahlia-omgeesentrum en die personeel hulde te bring aan ’n sout-van-die-aarde-mens en ’n groot gees – Leonard Koza. Sy nederigheid, goedhartigheid en waardigheid sal ons vir ewig bybly. By die Dahlia-omgeesentrum se “Afrikaanse” Valentyn-tee-oggend het Leonard en Susan, sy sielsgenoot, elke gas met ’n handgemaakte bundel gedigte bederf wat hy spesiaal vir die geleentheid uitgesoek het, gebind en op sy stille, sjarmante manier aan elke vroulike gas uitgedeel het. Die simboliek van liefde en mededeelsaamheid rondom Valentynsdag het hy op dié spesiale wyse in die praktyk uitgedra. Ons eer sy nagedagtenis.” (Die Burger, 28 Februarie 2010)
- Willie Adams, mede-skrywer en vriend: “Ek het Leonard Koza vir meer as 40 jaar geken. Hy en my oudste broer, Sidney, was maats gedurende die sestigerjare op Hoërskool Elsiesrivier. Hulle was ook lede van die Elsiesrivier Kultuurvereniging. Leonard was soos ’n kind in ons huis. Wie sal die uitstappies, die skooldebatte en die vasvrawedstryde vergeet? Of die politieke vergaderings en die ‘Platters-paarties’ waar op die rhythm and blues van The Platters geldinsamelings vir gemeenskapsprojekte gehou is? In die woorde van een van Leonard se gunstelingliedjies, Bob Marley se No Woman No Cry: ‘In this bright future, you can’t forget your past. / So dry your tears I say.’ Dit is as jong skrywer dat ek Leonard van nader leer ken het. Ons het groot vriende geword. Leonard was meer as ’n vriend. Hy was my comrade. Leonard was meer as ’n comrade. Hy was my mentor. Ek onthou soos gister die dag dat ek my eerste gedigte met hom gaan bespreek het. Dit was in die vroeër sewentigerjare. Daarna was ons twee diep betrokke by elke gemeenskapsvergadering waar poësie, stories, dramas en sketse voorgedra is. Ons het selfs ons gedigte by politieke begrafnisse gelees. Omdat daar min publikasiegeleenthede vir die townshipdigter was, het Leonard die voorlees van gedigte as ’n manier van publikasie beskou. Ons het ons sketse en dramas opgevoer in byna al die townships op die Kaapse Vlakte. Ons het selfs daarin opgetree. (…)
“Tot met sy uittrede was hy ’n bekwame vakbondman. Te oordeel aan alles wat Leonard Koza gedoen het, het hy sy plek volgestaan. Sy stem is nou stil, sy pen het opgehou skryf en sy bydrae tot die gemeenskap het geëindig, maar as ons terugkyk dan sien ons nog sy voetspore.” (Tydskrif vir Letterkunde, 2010)
Publikasies:
|
Publikasie |
From the heart of apartheid |
|
Publikasiedatum |
[198-?] |
|
ISBN |
Onbekend |
|
Uitgewers |
Hamilton (Nieu-Seeland): Outrigger Publishers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
In and out of the townships: South African poems |
|
Publikasiedatum |
1985 |
|
ISBN |
0908571550 (sagteband) |
|
Uitgewers |
Hamilton (Nieu-Seeland): Outrigger Publishers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die gazoem vannie township |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
062031205X (sb) |
|
Uitgewers |
Paarl: Lerato Promotions |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
From the womb to the tomb |
|
Publikasiedatum |
[200-?] |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewers |
Steenberg: New World Foundation |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
Leonard Koza as redakteur
- Optog. Grassy Park: Domestica, 1990 [ISBN 0620150998X (sb)]
- Hambidge, Joan: Allamagtig, so kan dit nie! Beeld, 3 Mei 1991
- Toerien, Barend J: Protes in die Boland. Die Burger, 9 Julie 1991
Artikels oor Leonard Koza
- Adams, Willie: Huldeblyk Leonard Koza. Tydskrif Vir Letterkunde, 2010
- Botha, Susan: ’n Paar vrae aan Leonard Koza. New Contrast, Desember 2006
- Botsing eis skrywer. Beeld, 24 Februarie 2010
- Brown, Floris: Die boodskap (Vir Leonard Koza) [gedig]
- De Bruin, Kenneth: Die lot van die township-digter. Rapport, 22 Maart 1987
- De Bruin, Kenneth: Leonard Koza gaan Amerika toe. Die Burger, 22 Augustus 1986
- De Vries, Willem: Koza se “march” nou verby. Die Burger, Februarie 2010
- De Wee, Maygene: Liefdevolle Koza laat ’n leemte. Beeld, 8 Maart 2010
- Du Plessis, Jacques: Lennie se gedigte
- Leonard Koza
- Leonard Koza
- Leonard Koza [foto + byskrif]. Rapport, 5 Julie 1987
- O’Connor, Michelé: Groot kanonne tree toe tot US se taaloorlog. Volksblad, 13 Oktober 2005
- Ohlson, Janice: Koza se township-stories gebundel. Die Burger, 2 Oktober 2003
- Schoeman, Aldi: Botsing eis skrywer. Volksblad, 25 Februarie 2010
- Schoeman, Aldi: Leonard Koza sterf in motorongeluk. Die Burger, 23 Februarie 2010
- Skrywers loop US trompop: taalstryd groei. Die Burger, 15 Oktober 2005
- Slingers, Cynthia: Hulde aan Leonard Koza [brief]. Die Burger, 28 Februarie 2010
Artikels deur Leonard Koza
- Bolletjies die skilpad loop weg [kinderverhaal]. Die Burger, 24 April 1986
- Die nuwe Afrikaans vir Afrika. Taalgenoot, Januarie 1997
- Kapat, die flukse ponie [kinderverhaal]. Die Burger, 19 Junie 1986
- Meeutjie en Gysie neem die huis op horings [kinderverhaal]. Die Burger, 24 Julie 1986
- Olifant buig die knie voor Leeu [kinderverhaal]. Die Burger, 26 Februarie 1987
- Poems by Leonard Koza
- Tuinwerk bied uitkoms vir Boetie [kinderverhaal]. Die Burger, 10 Julie 1986
Leonard Koza se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-03-18 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


