Leon de Kock se André P Brink en die spel van liefde: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 4

André P Brink en die spel van die liefde
Leon de Kock
Publisher: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427925

Oor André P Brink en die spel van liefde is in die kort tyd sedert publikasie al heelwat geskryf – deurdagte resensies, minder deurdagte resensies, meningstukke, moraliserende asook sensasiesoekende kommentaar. Weinig diepgaande stukke het al verskyn. Brink is ’n sleutelfiguur in die Afrikaanse letterkunde en hierdie biografie is ’n omvattende werk gebaseer op ’n tot dusver nog ontoeganklike persoonlike argief van enorme afmetings – dit verdien ’n objektiewe en indringende beoordeling. Hierdie artikel is ’n poging tot die basislegging van so ’n beoordeling. Ter vermyding van herhaling gaan ek nie breedvoerig in op die inhoud van die biografie nie (hieroor is al op allerlei maniere geskryf), en ook nie op wat alles rondom die verskyning van hierdie biografie plaasgevind het nie, maar benader die werk vanuit ’n nog onbeligte hoek, nl ’n bepaling van die waarde daarvan as wetenskaplike en literêre biografie. Wetenskaplike biografie verwys hier na ’n biografie wat voldoen aan internasionale akademiese en wetenskaplike voorskrifte en literêre biografie verwys na ’n biografie wat aan literêr-estetiese standaarde voldoen.[i] Hoofsaaklik is my fokus op die wetenskaplike aard van De Kock se biografie, wat ek dus gebruik as ’n kasus in ’n algemene bespreking oor die vereistes vir hierdie hibriede genre.

 

Lewensbeskrywing as genre

Die Griekse oorsprong van die woord biografie laat geen twyfel oor die betekenis daarvan nie: bios is “lewe” en graphein “om te skryf”. Letterlik dus: lewensbeskrywing. Dit klink eenvoudig en voor die hand liggend, maar tog is die biografie ’n veel gedebatteerde genre, veral betreffende aspekte soos aard, terrein, afmetings (insluiting en uitsluiting), struktuur, kritiese houding, styl, etiek, omgang met bronne en informante, om ’n paar te noem. Soms kom die vraag op of dit hoegenaamd haalbaar is om ’n menselewe op hierdie wyse toereikend en bevredigend saam te vat. En is iets soos ’n “definitive biography” moontlik? DF Bond[ii] is pragmaties in sy nugter beskouing van ’n biografie as “a narrative which seeks, consciously and artistically, to record the actions and recreate the personality of an individual life”, met die belangrike onderskeiding: “Unlike history it deals with the individual; unlike fiction it records a life that has been actually lived. At the same time, the biographer shares with the historian a concern for truth to fact, and he shares with the novelist the ambition to create a work of art.”

Bond sien die groot biografieë van die wêreld as werke “which have presented their subjects as they were but which have gone beyond the mere collecting of facts to the creation of a living portrait”. Die blywende waarde van ’n goeie biografie het volgens hom nie net daarmee te make of dit oor ’n bekende, belangrike of interessante persoonlikheid gaan nie, “but more importantly [whether] its subject matter is human nature. Hence biography as an art may legitimately deal with any individual life, provided it is made the vehicle for a penetrating analysis of human passions and human motives”. Hiermee stem Samuel Johnson grootliks saam; volgens hom is die soort biografie wat die meeste waarde het, ’n werk “which tells not how any man became great, but how he was made happy; not how he lost the favour of his prince, but how he became discontented with himself”.[iii]

Aansluitend by die tweeledigheid (histories en esteties) waarna Bond verwys, voer ook De Sola Pinto[iv] aan: “As history biography should be the product of critical intelligence, detached curiosity, and the careful sifting and analysis of records. As literature it should have organic unity, and should satisfy standards of aesthetic judgment by its style and structure.”

Mark Twain was meer skepties oor en bewus van die beperkinge van hierdie genre: “Biographies are but the clothes and buttons of the man – the biography of the man himself cannot be written.” In ’n sekere sin is dit waar, want elke biograaf sal sy subjek in ’n ander gewaad uitdos; die een sal knope vasmaak, en die ander sal hulle losmaak.

Die Afrikaanse biografie

In Suid-Afrika staan hierdie genre vandag betreklik sterk. Maar dit het ’n wyle geduur om hierdie status te bereik. Aanvanklik het die paar biografieë wat wel die lig gesien het, oor historiese of staatkundige subjekte gegaan. Totius se biografie oor sy vader, getitel Ds SJ du Toit in weg en werk (1917), was die eerste Afrikaanse biografie wat oor ’n literêre subjek gegaan het. Daarna was, afgesien van MPO Burgers se Die mens Langenhoven (1939) en sy latere CL Leipoldt: ’n studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling (1960), biografieë of biografieverwante werke oor skrywers dun gesaai. Dit was eers in die middel-sewentigerjare dat daar ’n merkbare verandering ingetree het.

Behalwe dat baie van die vroeër skrywers nie genoegsame argiefmateriaal agtergelaat het vir deeglike biografiese navorsing nie, het die naoorlogse invloed van literatuurteoretici juis ’n belangstelling in die skrywer, die ontstaan van die kunswerk en die rol van die leser ontmoedig.[v] Die Amerikaanse New Critics se teorieë en hul waarskuwings teen “biographical fallacy” het ook hier ter plaatse ’n sterk invloed uitgeoefen.

Hierdie skepsis jeens biografiese aspekte van en in tekste is in die Afrikaanse letterkunde verder aangeblaas deur NP Van Wyk Louw se reeks artikels “Die ‘mens’ agter die boek” (1952, 1956, wat in 1959  in boekvorm verskyn het). Volgens Van Wyk Louw kan “’n kunswerk nie ‘verklaar’ word uit enigiets behalwe sy eie struktuur nie” en “(kan) die biografiese feit (...)  nooit ’n rol speel by die eerste groot taak van die literatuurbeskouing nie: die begryp van die werk as estetiese geheel”.[vi] Hierdeur is die idee van die outonome teks nog verder gevoed. Letterkundiges het al hoe skuwer geword om te veel aandag te skenk aan ’n kunstenaar of skrywer se persoonlike lewe of wêreld, veral as iets in daardie lewe die literêre aansien van die skrywer sou kon aantas. Goeie skrywers moes slegs “goeie skrywers” wees en nie mense met menslike swakhede nie. Die genre van die biografie het vanselfsprekend hieronder gely. Kannemeyer[vii] meen selfs dat hierdie artikels van Van Wyk Louw daarvoor verantwoordelik gehou kan word dat daar in die vyftiger- en sestigerjare weinig biografieë in Afrikaans verskyn het.

Met die verskyning van Leon Rousseau se Die groot verlange: die verhaal van Eugène N Marais (1974) is ’n nuwe era betreffende biografie as genre in die Afrikaanse letterkunde ingelui. Oor hierdie biografie lewer André Brink[viii] die volgende kommentaar: “Leon Rousseau se lewensbeskrywing van Eugène Marais […] [verdien] besondere aandag vanweë die poging om ’n kunstenaarslewe as ’t ware kreatief weer te gee.” Ten spyte van sy lof het Brink ook kritiek: “Selfs al is dit erg deur psigologisme aangeslaan, met oordrewe klem op die digter se verslaafdheid aan doofmiddels, is dit ’n werk wat sowel deur sy deeglikheid as sy verbeeldingrykheid beïndruk; en in die ‘plasing’ van die figuur binne die konteks van sy tyd is dit iets merkwaardigs in Afrikaans.” Dit is interessant dat Brink hier ’n aspek aanraak wat die Brink-biografie ook vanuit sommige oorde kwalik geneem word, nl die ontmaskering van iets wat as “skandalig” beskou kan word of afbreuk aan die beeld van ’n kunstenaar kan doen. By Marais is dit sy verslawing aan sg doofmiddels; by Brink is dit sy voortdurende affaires en sy beheptheid met seks, wat in sommige bronne as ’n verslawing of “erotomanie” beskou word – sy vriend Christie Roode stel byvoorbeeld sy “verslaafdheid aan vroue” gelyk aan alkoholisme. (149).

Pelser[ix] reageer as volg op Brink se bostaande kommentaar: “Neem ’n mens egter die Boswelliaanse metodes en dié van Strachey[x] in ag, wil dit my voorkom asof Brink se kritiek teen ‘psigologisme’ en die ‘oordrewe klem op die digter se verslaafdheid aan doofmiddels’ ietwat misplaas is. Latere biografieë in die Afrikaanse letterkunde, veral dié deur JC Kannemeyer en JC Steyn, sou inteendeel die konsep van die ‘mens agter die boek’ en sy ‘swakhede’ of ‘ondeugde’, soos begin deur Plutarchus en uitgebou deur Boswell, Strachey en andere, in toenemende mate ontgin en telkens die bakens verskuif.” My persoonlike mening? As een of ander verslawing of onblusbare behoefte ’n groot rol in die gebiografeerde se lewe speel, beskou ek dit as die biograaf se verantwoordelikheid om dit deeglik ter sprake te bring. Daarom sou daar ook destyds in Kannemeyer se Opperman-biografie meer aandag gegee kon gewees het aan Opperman se alkoholisme, wat ’n groot rol in sy doen en late gespeel het en ook ’n inhoudelike invloed op sy poësie gehad het. Om so ’n aspek te verswyg of te bagatelliseer gee ’n verwronge beeld van die betrokke subjek en verskraal die interpretasiemoontlikhede van sy werk en begrip vir die mens.

Sedert die negentigerjare kom daar ’n merkbare oplewing in die produksie van biografieë of biografies-geïnspireerde tekste oor Afrikaanse skrywers. Hieronder tel Dit is Totius (1993) van VE d’Assonville; Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam (1996) van Ena Jansen; Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal (1998) van JC Steyn; Koos Prinsloo, die skrywer en sy geskryfdes (1998) van Riana Scheepers, gebaseer op haar doktorale proefskrif; en SJ du Toit van die Paarl (1847–1911) van D’Assonville.[xi]

Die belangrikste en mees onmisbare bydraes is egter gelewer deur die deurwinterde biograwe Karel Schoeman en JC Kannemeyer, albei literatuurkenners, en elk begaafd met eienskappe deurslaggewend vir die literêre biograaf: ’n sterk estetiese én historiese bewussyn, en boonop ’n besielde en vaardige pen. Voorbeelde uit Kannemeyer se pen is DJ Opperman: ’n biografie (1986); Wat het geword van Peter Blum? (1993); JC Langenhoven: ’n lewe (1995); Leipoldt: ’n lewensverhaal (1999); Die goue seun (2003) oor Uys Krige; Leroux: ’n lewe (2008) oor Etienne Leroux; en sy laaste biografie, JM Coetzee: ’n geskryfde lewe (2012).

Van Schoeman is die volgende titels gepubliseer: Olive Schreiner: ’n lewe in Suid-Afrika, 1855–1881 (1989); Irma Stern: the early years, 1894–1933 (1994); Die kort sendingloopbaan van Sophia Burgmann, 1805–1812 (1994); A thorn bush that grows in the path: The missionary career of Ann Hamilton, 1815–1823 (1995); Die wêreld van Susanna Smit, 1799–1863 (1995); Dogter van Sion: Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749–1799 (1997), ens. Alhoewel nie almal skrywers was nie, het die meeste wel belangrike geskrifte nagelaat. Wat opval van Schoeman se keuses, is dat die meerderheid van sy subjekte vroulik is, terwyl biografieë tradisioneel meestal oor “groot manne” gaan.

Dit is opvallend dat weinig Afrikaanse vroulike skrywers aktief is binne hierdie genre. Van die 21 titels hier bo genoem is slegs drie deur vroue geskryf. Daar is wel enkele biografieë gepubliseer deur vroulike skrywers oor vrouens wat nie self skrywers was nie, oa Tibbie – Rachel Isabella Steyn 1865–1955 (1997) deur Elbie Truter en die meer onlangse Emily Hobhouse: geliefde verraaier (2016) deur Elsabé Brits.

Ontwikkeling van ’n onafhanklike genre

Die biografie is so deel van die hedendaagse literêre toneel dat dit byna ondenkbaar is dat dit as onafhanklike genre eers betreklik onlangs – aan die einde van die 18de eeu – in Brittanje tot stand gekom het in. Die groot baanbrekerswerk is verrig deur die Skot James Boswell, wat in 1791 ’n biografie oor die leksikograaf en “man-of-letters” Samuel Johnson gepubliseer het. Hierdie werk, The life of Samuel Johnson,[xii] word as die eerste moderne biografie beskou. Dit was nie net ’n vernuwende werk nie, maar ook invloedryk in die verdere ontwikkeling van dié genre. Selfs nou nog word dit geag as een van die grootste Engelse biografieë van alle tye, en voldoen dit aan die kernvereistes wat ons vandag aan ’n goeie biografie stel, naamlik deeglike navorsing (argiefstudie, maar ook getuieverslae en onderhoude), ’n kragtige en stilisties goedgeskrewe narratief, en ’n eerlike voorstelling van alle belangrike aspekte van die gebiografeerde se lewe.

’n Halfeeu later het daar in Europa ’n groot revolusie binne die uitgewersbedryf plaasgevind wat dit moontlik gemaak het om boeke heelwat goedkoper te publiseer. Ook die leserspubliek, wat nou makliker boeke kon bekostig, het begin groei. Hierdie faktore het bygedra tot ’n toename in die skryf en lees van boeke, insluitende biografieë – ’n kwantitatiewe groei wat teen die draai van die 20ste eeu ook gepaard gegaan het met inhoudelike ontwikkeling. Laasgenoemde het te make gehad met die opkoms van sielkunde en sosiologie as vakgebiede. Die sg groot man het nie meer net in sy grootsheid voorop gestaan nie, daar het nou ook aandag gekom vir menslike aspekte, byvoorbeeld hoe ’n subjek se lewe deur psigiese en sosiale faktore beïnvloed is. Biograwe het ook meer aandag begin gee aan persoonlikheidsaspekte. Hierdeur het die aard van biografieë vanselfsprekend begin verander. Produktiwiteit in hierdie genre het veral in die 1920’s begin toeneem en spesifiek in 1929 ’n enorme opbloei beleef toe daar in die VSA 667 nuwe biografieë in een enkele jaar gepubliseer is.[xiii]

Intussen het die biografie ook in die gedaante van die wetenskaplike teks begin verskyn. Voorbeelde hiervan in die negentigerjare in Nederland is Hans Goedkoop se biografie oor Herman Heijermans (1996), Elsbeth Etty s’n oor Henriëtte Roland Holst (1996) en Jan Fontijn s’n in twee dele oor Frederik van Eeden (1990, 1996).[xiv] Die biografie is as akademiese dissipline erken. So het die Rijksuniversiteit Groningen byvoorbeeld ’n hoogleraar aangestel binne die vakgebied geskiedenis en teorie van die biografie. Ten spyte daarvan dat daar in sommige oorde nog ’n mate van weerstand teen die geldigheid hiervan bestaan, word die genre van die biografie wel as aanvaarde PhD-studie binne die literatuur beskou. Die mees onlangse (en opspraakwekkende) voorbeeld is Onno Blom wat in 2018 aan die Universiteit van Leiden gepromoveer het op ’n biografie oor Jan Wolkers. Ek keer later na hierdie geval terug.

Dat die status van die biografie internasionaal styg, is verder te sien aan die instelling van gesogte biografiepryse, onder andere die Prix Goncourt de la Biographie in Frankryk, die Whitbread Prize for Best Biography in Groot-Brittanje en die Pulitzer Prize for Biography or Autobiography in die VSA, om maar ’n paar te noem.

Van “dangerous mongrel” tot wetenskaplike genre

Dat die biografie deur die dekades heen ’n soort probleemgeval, of soos Holmes[xv] dit stel, ’n “disreputable” genre, gebly het kan nie ontken word nie: “It was relished and attacked during its first popular flowering in the eighteenth-century, just as it is relished and attacked today. It has always had the doubtful status of a maverick or mongrel art, […] dangerous for all concerned: writers, subjects, readers, and […] critics […].” Dit het die publikasie van André P Brink en die spel van liefde nogmaals bewys. Dat daar aan alle kante sg slagoffers geval het, is nie uniek nie. Die reputasie van die biografie kan omgekeer word as daar groter duidelikheid kan ontstaan oor wat die vereistes vir ’n geslaagde literêre of wetenskaplike biografie is.

Hierdie kwessie het met Onno Blom se genoemde Wolkers-biografie, Het litteken van de dood, weer ter sprake gekom, en tereg ook. Die biografie is tydens die eerste eksaminering afgekeur omdat dit nie as wetenskaplik geskik beskou is vir die toekenning van ’n PhD-kwalifikasie nie, maar is vervolgens, na enkele verwerkings, met ’n tweede eksaminering tog goedgekeur. Hierdeur het debatte in akademiese kringe en ook in die media vlamgevat. Hieraan het onder andere Marita Mathijsen, hoog aangeskrewe emeritus hoogleraar moderne Nederlandse letterkunde (ook biograaf van Jacob van Lennep), deelgeneem. Mathijsen beklemtoon die feit dat ’n wetenskaplike biografie eerstens gaan om ’n akademiese benadering tov die gebiografeerde. Alhoewel sg publieksbiografieë (vir die massamark) ook op wetenskaplike navorsing gebaseer kan wees, sal die biograaf dan “op een vrijere, losser interpreterende manier” daarmee omgaan.[xvi] Dit is egter nie onmoontlik vir een en dieselfde skrywer om goed in staat te wees om ’n publieksbiografie én ’n wetenskaplike biografie te skryf nie. So ’n voorbeeld (in Nederland) is Annejet van der Zijl wat in 2010 met die biografie Bernhard, een verborgen geschiedenis haar PhD verwerf het, en vier jaar later die biografie van Gerard Heineken voltooi het met die “gewone” publiek as leserdoelgroep – beide biografieë op hul eie gebiede suksesvol.

Vereistes van die wetenskaplike biografie

Ek kies daarvoor om De Kock se Brink-biografie te evalueer na aanleiding van internasionale standaarde vir die wetenskaplike biografie, en dit aan die hand van Mathijsen[xvii] se minimum vereistes te meet. My keuse val op Mathijsen se maatstawwe omdat sy ’n gerespekteerde akademikus is, self biograaf is, en haar biografievereistes in agt kort, hanteerbare punte saamgevat het in ’n onlangse publikasie – dus kontemporêr-geldend. Ek vat Mathijsen se vereistes kortliks saam (in ’n aangepaste volgorde), met die laaste vereiste (7) ’n samevoeging van wat Matjijsen eintlik as twee aparte vereistes uiteensit. Die rede vir my samevoeging is dat hierdie twee aspekte by Brink ineengestrengel is. Ek voeg self addisionele vereistes by (sien punte 2 en 9), asook addisionele kommentaar (sien punte 3 en 5).

  1. Die biograaf moet sy opset en sy keuses verduidelik. Alhoewel ’n hipotese moeilik is in die geval van ’n biografie, is dit moontlik om ’n ondersoeksvraag te stel.
  2. ’n Biograaf behoort sy visie op aspekte van die biografie as genre toe te lig.
  3. Alhoewel chronologie die primêre ordeningsprinsipe is, moet daar ook ’n ander oorkoepelende ordening gebruik word wat die chronologie oorstyg en waardeur ’n sekere ontwikkeling aangedui word. (My toevoeging: Dit is hierdie ordeningsprinsipe wat die spil is waarom die narratief van die biografie draai, en wat daarvoor sorg dat die biografie nie net ’n kompilasie van chronologiese gebeure is wat uit argiefbronne saamgevoeg word nie.)
  4. Die dokumentasie moet onberispelik wees en die bronne kontroleerbaar.
  5. Die biograaf moet krities (my toevoeging: en verantwoordelik) omgaan met die betroubaarheid van sy/haar bronne ongeag of dit gaan om lewende getuies (bv deur onderhoude) of historiese verslae.
  6. Daar moet ’n duidelike onderskeid wees tussen wat feite is en wat die biograaf se interpretasies is.
  7. Waar fiksie as bron gebruik word, moet dit deur die biograaf as fiksie (en nie feite nie) benader word. Die gebiografeerde moet byvoorbeeld nie na aanleiding van ’n roman geïnterpreteer word nie.
  8. Die subjek moet in sy tyd/era geplaas word sodat bepaal kan word in hoeverre ’n subjek deur sy tyd beïnvloed is (of nie), of die subjek moontlik ’n eenling was, of tot watter mate hy ’n invloed uitgeoefen het (of nie). Van belang is byvoorbeeld ideologiese aspekte (oa opvattings oor politiek, gender, kuns, godsdiens) waarmee die subjek bewus of onbewus omgaan.
  9. Die biograaf moet stilisties verfynd en gesofistikeerd te werk gaan. (Dit is veral ter sprake by die “literêre biografie”.)

Aangesien De Kock se biografie oor ’n literêre skrywer en akademikus (in teenstelling tot byvoorbeeld ’n popsanger of aktrise) gaan, is sy boek uiteraard nie bedoel om ’n publieksbiografie te wees nie, maar ’n literêre, miskien selfs wetenskaplike biografie wat waarskynlik slegs deur literêr-geskoolde of -geïnteresseerde lesers gelees sal word. Ek wil in hierdie artikel dus ondersoek tot watter mate hierdie biografie voldoen aan bogenoemde vereistes, en of die fokuspunt, nl Brink se belewing en beoefening van (die spel met) die liefde (soos die fokus in die titel aangedui word), in die lig van die vereistes van die wetenskaplike biografie geregverdig is.

  1. Opset, keuses en ondersoeksvraag

Een van die eerste vereistes wat Mathijsen aan ’n wetenskaplike biografie stel, is ’n uiteensetting van opset en keuses, asook ’n ondersoeks- of navorsingsvraag.

De Kock verduidelik in die voorwoord hoe hy tot die besluit gekom het om hom in sy opset en keuses te laat lei deur Brink se “eie [joernaal]optekeninge oor homself en sy doen en late” ipv om sy aanvanklike intensie te volg, nl om op die vormgewende aspekte van Brink se skryfwerk te fokus (xv). Die bestudering van die dagboeke en briewe wat tot sy beskikking gestel is, het vir De Kock die deurslag gegee om liewer ’n boek te skryf waarin hy Brink se “eie, dringendste belange” soos wat hy dit self in sy dagboeke beskryf, weergee en om “waar moontlik, in die spore te trap van die joernale se ooglopendste en mees uitgesproke selfvertellings” (xv). De Kock verduidelik dat hy as biograaf eintlik al ’n sekere predisposisie hiervoor gehad het, omdat “life writing” as genre nog altyd tot hom gespreek het en hy ook al lank bewus was van hoe belangrik die genre van lewensgeskrifte binne die literatuur, en veral die Suid-Afrikaanse letterkunde is (xv).

As biograaf sit De Kock duidelik uiteen wat sy primêre werkswyse is en waarom: om Brink nie van buite af te beskryf en te verklaar nie, maar om homself as biograaf deur sy subjek se allerpersoonlikstee en intiemste stem, nl sy dagboekstem (vanaf sy 17de jaar tot net voor sy dood) te laat lei en dít dan weer te meet aan Brink se ander geskrifte, oa sy 24 romans, waardeur hy dan lg wil oopkloof en hul “betekenis, omvang, ontvangs en belangrikheid binne die (Suid-)Afrikaanse letterkunde” wil vasstel (xv). De Kock benoem sy keuse: “Brink se joernale, waarin ’n uitsonderlike lewe delikaat en in fyn besonderhede vasgevang word, bevat feitlik daaglikse beskouings van sy persoonlike ervarings. Die intieme onthullings wat spruit uit hierdie skryfproses is die onderbou van my eie vertelling, en ek het my daardeur laat lei in my verkenning van die maniere waarop Brink homself laat geld én gekritiseer het” (xv).

So het hy, verduidelik De Kock, “probeer om liewer nie die stem van die joernale te oorskadu nie, maar om eerder toe te laat dat André Brink homself hoorbaar […] maak in die ontvouing van sy innerlike lewe oor 52 jare se self-optekening. In daardie sin gee hierdie boek Brink se éie interpretasies van homself weer, en verteenwoordig dit wat hy sélf gedink het hy werklik was” met, waar nodig, die biograaf se weloorwoë kommentaar daarby (xvi). De Kock beoog met hierdie strategie om ’n beter greep op Brink en sy kompleksiteit te verkry deur “die verband tussen Brink se joernaalinskrywings, sy lewe, en sy skryfwerk” vas te stel (xvii).

’n Ander keuse wat De Kock duidelik uiteensit, is sy strewe om die kerngebeure in Brink se lewe op verskillende gebiede na te speur – “in sy skryfloopbaan, huwelike, openbare lewe en in die geskiedenis van die land waaraan hy hom gewy het” (xvii). Dit veroorsaak, verduidelik De Kock, dat daar soms meer aandag aan sekere tydperke in Brink se lewe geskenk word as aan ander. So byvoorbeeld word byna drie volledige hoofstukke aan gebeure in die sestigerjare gewy, terwyl ander belangrike fases meestal in een hoofstuk behandel word. Die rede hiervoor: “In die sestigerjare was Brink se joernaalinskrywings diepgrondig; dit was ook dié tydperk – tot en met die sewentigerjare – waartydens die skrywer, wat homself as ’n “suitor, troebadoer, romantikus” beskryf het, sy verkenningstogte geloods het om seksueel-romantiese bevryding en vervulling te vind” (xvii).

’n Verdere keuse – in hierdie geval skryftegnies – wat De Kock aantoon en wat van belang is by hierdie punt, is dat die historiese teenwoordige tyd (wat Brink deurgaans in sy joernale gebruik) in die biografie gebruik word daar waar Brink “die leser regstreeks deur sy joernale aanspreek”. Die rede hiervoor is om “die dringendheid van sy joernaalinskrywings” oor te dra. Waar die verhaallyn dit vereis, word daar oorgeskakel na die verlede tyd, maar so gou as wat Brink “die drama van sy bestaan in die ‘teenwoordige tyd onvoltooid’ hervat”, volg die biografie weer die historiese teenwoordige tyd (xx). De Kock gaan dus op ’n baie spesifieke, weldeurdagte manier om met tydsgebruik en motiveer sy keuses helder.

Via die bestudering van Brink se eie onbemiddelde stem in sy dagboeke, ander bronne én Brink se fiksie – en na aanleiding van die kerngegewe van “die spel van liefde” – probeer De Kock dus tot ’n ingeligte begrip van Brink se binnewêreld kom om sodoende groter insig in hom as mens en skrywer te kry en te kommunikeer. Dit probeer hy doen, soos hy dit self stel, sonder om ’n oordeel oor Brink of sy lewe te vel (xvi). De Kock haal Middlebrook in hierdie verband aan: “Wat die biograaf die onderwerp skuld, stem ooreen met dít wat die psigoanalis die analisant skuld wanneer verborge materiaal aan die lig kom: nie oordeel nie, maar insig” (xvi). Hiervoor is die intieme stem van ’n egodokument, veral die dagboek of joernaal, geskik en besonder bruikbaar.

De Kock som sy ondersoeksvraag eenvoudig en bondig op: “Hierdie biografie ondersoek dus die verband tussen Brink se joernaalinskrywings, sy lewe, en sy skryfwerk. Die doel hiervan […] is om dié komplekse skrywer beter te begryp” (xvii).

Leon de Kock

  1. Die biograaf se visie op die genre

In sy voorwoord verwys De Kock telkens na wat, volgens hom, van ’n biograaf vereis word en noem vervolgens hoe die Brink-biografie met die genoemde vereistes omgaan. Aspekte hiervan word verspreid oor die verskillende afdelings in hierdie artikel bespreek, soos die rangskikking van bronmateriaal, ens. Ek sal dit dus nie hier herhaal nie.

Dat De Kock bewus is van die tekortkominge van hierdie genre, en nie voorgee dat dit moontlik is om ’n ultieme en volledige beeld van sy subjek te teken nie, blyk uit sy beamende verwysing na ’n uitspraak van Diane Wood Middlebrook, waar sy oor haar biografie Anne Sexton: a biography skryf: “In die kuns van biografie,” sê sy, “is dit aanmatigend van die lewendes om te dink hulle kan ’n geheelbeeld van ’n mens se lewe oordra. Ek wou Sexton uitbeeld op grond van haar eie, ingewikkelde stel terme” (xv). De Kock se houding jeens sy subjek is ongeveer dieselfde – hy wil nie probeer om Brink in sy volledigheid weer te gee nie, maar op basis van sy “eie, ingewikkelde stel terme” soos in sy dagboeke verwoord, waaronder die vervlegting van Brink se lewe en werk met “die spel van liefde” een van die sterkste en mees prominente blyk te wees. De Kock is dus daarvan bewus dat hierdie biografie nie noodwendig die enigste “definitive biography” oor Brink hoef te wees nie.

Met sy spesifieke fokus wil De Kock ’n groter begrip van die samehang tussen lewe en werk by Brink probeer ontsluit.

 

  1. Ordeningsprinsipes

Een van die vereistes van Mathijsen is dat ’n biografie chronologie as primêre ordeningsprinsipe moet volg. Die meeste teoretici ondersteun hierdie standpunt en die meeste biograwe volg sodanige chronologiese lyne. Maar Mathijsen vereis verder ook ’n oorkoepelende ordeningsprinsipe wat die chronologie oorstyg. Kannemeyer[xviii] verwys na ’n soortgelyke beginsel as hy sê dat daar binne die rangskikking en distillering van die historiese (chronologiese) materiaal ook sekere terugkerende motiewe, patrone en ander ordeningsbeginsels na vore sal kom, waardeur die subjek se lewe verhef word bo alleen maar ’n chronologiese samevoeging van lewensfeite. Hierby maak die biograaf ook doelbewuste keuses gelei deur die narratief wat hy/sy wil vertel, of voel noodsaaklik is om te vertel. Kannemeyer sê: “Deur die herhaalde beligting van dié aspekte kan hy een of ander soort ‘intelligible support’ aan sy biografie gee, sirkulerende fasette van die subjek se lewe wat van verskillende kante af belig word”.[xix] So het Kannemeyer byvoorbeeld by sy Opperman-biografie Opperman se vrees vir armoede as een so ’n faset gebruik; ander is verbindings tussen droom en daad, gevoel en intellek, literatuur en wetenskap, en sy opvatting oor die wesenloosheid van die kunstenaar.[xx] So kom daar ’n literêr-gestileerde biografiese narratief uit die chronologiese kompilasie van biografiese feite tot stand.

De Kock verduidelik dat hy ook die beginsel van die chronologie as basislyn volg, maar soms daarvan afwyk waar afwyking tot verheldering lei. Hy noem: “As ’n mens Brink se joernale uit die vyftigerjare lees saam met die uitsprake wat hy later oor sy kinderjare sou maak, word sleutelelemente van sy vroeë psigiese ontwikkeling sigbaar. Om hierdie belangrike stof deeglik uit te lig, word die gebruiklike chronologiese vertelling hier soms onderbreek, maar die draad van die storie word so gou moontlik weer opgeneem” (1). Die motivering vir afwyking van chronologie word dus verantwoord en verklaar.

Maar het De Kock ook, soos Mathijsen vereis, ’n ander oorkoepelende ordeningsbeginsel? Die titel André P Brink en die spel van liefde stel dit al onomwonde: die liefdespel. Dít en die literarisering daarvan is die spil waarom De Kock se Brink-narratief draai – ’n relevante keuse in die geval van Brink, juis omdat sy lewe én die inhoudelike aspekte van sy fiksie sterk daardeur bepaal is, soos De Kock uitwys. Hy noem dat Brink reeds vroeg in sy dagboeke begin nadink het oor sy skryfwerk en gedrewe volhard het met wat hy later die “spel van liefde” of “liefdespel” sou noem – “iets wat vir hom altyd met taal en die skryfproses verweef was” (2). Verbandhoudend hiermee is dat Brink, soos De Kock opmerk, altyd geweldig gedrewe was om sukses te bereik, en veral op twee gebiede: die skryfkuns en die liefde. “Sy lewensverhaal lê dus vasgevang in dié oorkoepelende strewe, aangedryf deur ’n gemoed wat wispelturig tussen die pole van vreugde en mismoedigheid gewissel het,” voeg De Kock toe (2). Dat dit die spilpunt van die biografie is, blyk dus ’n verantwoordbare keuse te wees wat ook deur die loop van die biografie uitgebreid bevestig word.

Die spel van die liefde en seksuele belewing was vir Brink geen banaliteit nie, maar ’n verhewe, metafisiese, byna religieuse kwessie wat ’n soort leitmotief in sy lewe geword het. Die biograaf beaam dit deur ’n aanhaling van Brink uit “Seks en Religie”[xxi] as een van sy motto’s by die biografie te gebruik: “[D]ie geslagsdaad is die seksuele ekwivalent van gebed. In albei kom die uitreiknood, die verloor-en-vindparadoks tot sy grootste konsentrasie. Elk moet voortdurend hernieu word, omdat hulle momenteel is – en die momentele aanraking met die Ander … skep voortdurend die noodsaak van herhaling. Sowel die gebed as die geslagsdaad is vir die menslike mens ’n paradoks van byna ondraaglike ekstase en agonie. En die belydenis van sonde, en die afstroop van die klere is, respektieflik, die onontbeerlike, vanselfsprekende voorwaarde vir die religieuse en die seksuele moment …” De Kock wys deur die loop van die biografie hoe Brink in sy verhewe opvatting van seksuele omgang ’n vorm van transendensie gevind het (xvii).

Soos wat uit De Kock se biografie blyk, manifesteer die liefde by Brink op ’n baie spesifieke, en mettertyd ongeveer voorspelbare patroon: eers ’n gepassioneerde obsessiewe liefdesverhouding waarin seksuele besonderhede en die optekening daarvan ’n dwingende rol speel; later die “vervolmaking” van die verbintenis in ’n huwelik – iets wat vir Brink blykbaar ’n soort noodsaaklike seël op ’n verhouding was (waarskynlik te make met sy Calvinistiese opvoeding); dan, wanneer hy die vrou “besit” en die verbintenis normaliseer, en taan die passie en tree verveling in; intussen ontstaan nuwe passies, of een spesifieke sterk passie, waarvoor die huidige huwelik ruimte moet maak, maar wat, as die huidige eggenote nie inskiklik is nie, tot ’n beëindiging van die huwelik lei en daarmee die begin van ’n nuwe soortgelyke siklus. Hierdie oorkoepelende ordeningsprinsipe, wat in sy chronologie ook siklies saam met die eb en vloed van Brink se lewens- en liefdesverhaal loop en telkens in sy werk terugkeer, word deur De Kock met bedrewenheid in die biografie gevolg. Die wyse waarop De Kock dit doen, aksentueer die idee van ’n magtelose “vasgetol-wees” in ’n onontkombare roller coaster en laat selfs die leser slinger tussen momente van afkeer en dan weer simpatie ten opsigte van die gebiografeerde.

De Kock maak sy ordeningsprinsipes (albei in ooreenstemming met Mathijsen se vereistes) dus duidelik kenbaar, en pas dit vervolgens ook vaardig en effektief toe.

  1. Onberispelike dokumentasie, kontroleerbare bronne

4.1 Dokumentasie (onmisbare bron van inligting, én ellende)

Een van die belangrikste aspekte waarop ’n biografie se kwaliteit getakseer word, is meestal of dit goed gedokumenteer is. Jan Rabie[xxii] het byvoorbeeld, juis omdat dit so goed gedokumenteer is, Kannemeyer se Opperman-biografie en Rousseau se Marais-biografie as van die beste biografieë tot op daardie tydstip in Afrikaans bestempel.

Soos reeds genoem, berus De Kock se dokumentasie hoofsaaklik op Brink se eie skryfwerk – sy fiksie, akademiese werk, outobiografie (’n Vurk in die pad, 2009), sekondêre tekste oor sy werk, onderhoude, briefwisseling en, die allerbelangrikste, Brink se persoonlike argief met handgeskrewe dagboeke, geskryf sedert sy 17de lewensjaar. Hierdie enorme argief, waarna De Kock verwys as die Brink-argief, beslaan 43 volumes wat 52 jaar se “noukeurige en omvattende dagboekinskrywings” (xii) bevat, met ’n somtotaal van 980 000 woorde. De Kock sê: “Aangesien ’n gemiddelde roman om en by 90 000 woorde beslaan, kan ’n mens sê Brink se joernale is min of meer gelyk aan 11 romans – dit wil sê bykans die helfte van die 24 romans wat hy gedurende sy leeftyd gepubliseer het” (1). ’n Dubbelslagtige “myn” dus: ’n goudmyn van inligting, maar vanweë die moeilik hanteerbare omvang ook ’n soort mynveld waardeur versigtig gestuur moet word.

Die omvang hiervan herinner aan die omvang van die argief waarmee Kannemeyer te kampe gehad het tydens sy navorsing vir die Langenhoven-biografie – ’n argief wat 14 meter rakruimte in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek beslaan het, waaroor Kannemeyer gesê het: “Ek het soms […] gevoel dat die enorme ballas materiaal wat ek van hoofstuk tot hoofstuk met my moes saamsleep terwyl ek terselfdertyd die strak lyn van ’n leesbare verhaal moes handhaaf, die hele onderneming haglik en onuitvoerbaar maak. Ek het simpatie met Ann Thwaite [skryfster van, onder meer, Edmund Gosse: A literary landscape (1984)] wat halfpad deur die dokumente van [...] Gosse gevoel het die ‘sheer amount of the material threatened to engulf me’.”

De Kock het, benewens die enorme omvang van die bronmateriaal, ook allerhande ander hindernisse teëgekom in sy toegang tot die argief. Aanvanklik het Karina Szczurek, Brink se weduwee, hom klaarblyklik volledige en onbeperkte toegang gegee wat sy later weer, om verskeie redes, ongedaan wou maak. De Kock het egter toegang behou wat hom in staat gestel het om die biografie te voltooi. Kannemeyer het soortgelyke omstandighede meegemaak tydens sy navorsing vir die Langenhoven-biografie. Aanvanklik wou Langenhoven se kleinseun en administrateur van sy oupa se letterkundige nalatenskap, Guillaume Brümmer, geen toegang tot die argief gee nie, omdat Langenhoven in sy testament bepaal het dat “geen hulp of inligting” aan biograwe verskaf mag word nie en dat verlof tot privaat dokumente soos briewe “alleen onder buitengewone omstandighede” toegestaan mag word.[xxiii] Kannemeyer[xxiv] sê dat hy eers in Oktober 1989, “bykans twee jaar nadat ek met my navorsing begin het maar dit weer as gevolg van die weiering moes staak” by Brümmer volle toegang tot alle Langenhoven-dokumentasie gekry het.

Brümmer[xxv] verklaar sy besluitsverandering soos volg: “Hoe sterk ook al my oupa se passie en argumente vir privaatheid was, sterker is tans die aanspraak van die geskiedenis”, en in hierdie geval ook die literatuurgeskiedenis. Met Brümmer se besluit om alles aan Kannemeyer oor te laat het die insluiting of weglating van gegewens uit byvoorbeeld private briewe, volgens Kannemeyer, sý “morele verantwoordelikheid” geword. En wat het hy oor die gebruik van alle “sensitiewe” inligting besluit? “Ek het besluit om die geskiedenis van Langenhoven se drankgebruik en sy verhouding met Sarah Goldblatt volledig in my boek uit te spel. Dit is […] by uitstek dié twee aangeleenthede waarvan die meeste potensiële lesers vaagweg iets weet en waaroor hulle meer feitelike inligting sou wil beskik. Daarby was dit my oortuiging dat ek met sulke inligting hoegenaamd nie afbreuk doen aan die status van die mens Langenhoven nie. As ’n mens sy briewe aan Sarah Goldblatt lees en sien hoe hy feitlik sy hele volwasse lewe lank stry teen die euwel van drank, ontwikkel jy ’n ontsettende deernis met die man en jy kry ’n nog groter bewondering vir die groot werk wat hy as taalstryder en as skrywer ten spyte van hierdie belemmering in sy lewe kon uitrig.”[xxvi]

Net soos De Kock uit sommige oorde verwyt word vir die openbaar maak van sensitiewe persoonlike sake, het ook Kannemeyer deurgeloop. Roy Pheiffer het byvoorbeeld geskryf dat hy die mededelings oor die verhouding tussen Langenhoven en Sarah liewer nie wil lees nie.[xxvii] Kannemeyer het egter vermoed dat hy veel meer negatiewe reaksie sou gekry het as hy “binne die konteks van ’n uitvoerige lewensbeskrywing hierdie kardinale aangeleentheid nie aan die orde [sou] stel nie”.[xxviii] Wat in hierdie verband nuttig is vir ’n objektiewe oordeel, is om die vraag te beantwoord of die beeld van Langenhoven of byvoorbeeld Leipoldt as skrywers werklik aangetas is deurdat hul biografieë destyds “sensitiewe” persoonlike inligting aan die lig gebring het. My vermoede is dat dit niks verander het aan die siening van die kwaliteit van hul literêre bydraes en die rol wat hulle in die Afrikaanse literatuur gespeel het nie. Dit het eerder aspekte van hul werk beter belig en laat die leser met ’n meer ingeligte blik na die mens agter die skrywer kyk.

Kannemeyer wys daarop dat “agtiende- en negentiende-eeuse skrywers van lewensgeskiedenisse meestal net op die morele status gekonsentreer [het] en ’n monument vir hul subjekte opgehou [het], terwyl die twintigste-eeuse skrywers eerder alle aspekte van die subjek se lewe probeer onthul […]”[xxix] Hy het destyds gevind dat ’n balans tussen hierdie pole nodig is “om die eksesses van die hagiografiese instink en die psigoanalise te temper”.[xxx]

Die toegang tot persoonlike bronne en die gebruik daarvan deur ’n biograaf was nog nooit ’n eenvoudige aangeleentheid nie, en die kritiek op De Kock se onthullings in die Brink-biografie geen unieke situasie nie.

“n Verdere ingewikkelde bronnekwessie waaroor De Kock verantwoording aflê, is: Wat staan hom te doen as die joernale om watter rede ook al stil word, soos wat die geval was in die negentigerjare, en weer in die tyd ná 2000? Sy oplossing hiervoor was om dan staat te maak op “konvensionele biografiese metodes en bronmateriaal soos onderhoude, koerantberigte en -artikels, resensies en kritiese ontledings van sy gepubliseerde werk” (xvii). Dit doen hy dan ook en gee telkens noukeurige en detailleerde verwysings. In die geval van onderhoude of briefwisseling word die naam van die betrokke persoon, die datum van korrespondensie of gesprek en alle andere nodige besonderhede gelys in die notas aan die einde van die boek. In gevalle waar die persoon sy of haar eie privaatheid wou beskerm, word name nie genoem nie.

 

4.2 Kontroleerbare bronne

Of die bronne wat ’n historiograaf gebruik en aanhaal, kontroleerbaar is, is vanselfsprekend belangrik in die bepaling van die betroubaarheid van ’n biografie, en onontbeerlik in die bepaling van die kwaliteit van ’n wetenskaplike biografie. Die antwoord in die geval van die Brink-biografie is voor die hand liggend. Die belangrikste bronne wat De Kock gebruik is kontroleerbaar, nl Brink se romans, ander akademiese en literêre geskrifte, sy outobiografie, resensies en artikels oor sy werk, asook sekondêre gepubliseerde bronne oor hom as skrywer. Sy persoonlike argief en sy dagboeke wat in die privaatbesit van sy weduwee is, is deur haar kontroleerbaar, maar dat dit uiteindelik gepubliseer sal word, is nie onmoontlik nie.

Soos in die geval van alle biografieë sal daar ook in hierdie geval bronne (soos e-posse, persoonlike gesprekke met en persoonlike briewe aan De Kock) wees wat nie vir die leser kontroleerbaar is nie, maar waarvan die outentisiteit wel deur die betrokke skryf- en gespreksgenote geverifieer (of ontken) kan word, behalwe natuurlik in gevalle waar hulle nie meer lewe nie of nie by naam genoem word nie (soos in die laaste paragraaf van die vorige afdeling verduidelik).

De Kock verwys noukeurig en gedetailleerd na alle onkontroleerbare en kontroleerbare bronne in die 63 bladsye eindnotas. Die verwysings is omvattend en uitvoerig, lyk volledig en akkuraat, en voldoen aan die standaarde mbt verwysings van ’n wetenskaplike werk.

 

4.3 Wat ander bronne reeds vermeld het

’n Ander aspek betreffende bronne wat ’n rol speel in De Kock se biografie, is dat hy sommige bestaande werk, byvoorbeeld Brink se outobiografie, as voldoende en toereikend genoeg beskou betreffende sekere fases/aspekte van Brink se lewe dat hy dit onnodig vind om die inligting in sy biografie te herhaal. De Kock verduidelik dat sy biografie daarom nie “die reeds bekende Brink-verhaal volledig [sal] oorvertel nie. In plaas daarvan bevat dié biografie besonderhede uit Brink se joernale wat gapings in sy memoir oorbrug, naamlik sy vyf huwelike en sy talle liefdesverhoudings” (xvii).

Om hierdie rede besluit De Kock dat die hoeksteen van sy eerste hoofstuk Brink se matriekjaar en universiteitsopleiding in Potchefstroom sal wees. “Die gebruiklike biografiese fokus op die skrywer se kinderjare word hier dus effens ingeperk. Brink vertel self die verhaal van sy kleintyd in sy memoir, ’n Vurk in die pad, en dit is dus oorbodig om daardie storie hier te herhaal. Nietemin word ’n kort opsomming van die skrywer se kinderdae later verskaf, soos Brink dit in sy memoir, joernale en ander bronne weergee” (3).

De Kock se behoedsaamheid betreffende herhalings van feite wat alreeds elders gepubliseer is, is waarskynlik daaraan te danke dat De Kock bewus is van gevalle waar biografieë vir hierdie soort herhalings gekritiseer is. Een so ’n voorbeeld is Kannemeyer se biografie oor Leipoldt. Venter[xxxi] en Grové[xxxii] maak beide melding van talle herhalings oor Leipoldt se lewe wat al uitgebreid in ander bronne voorkom. Ten spyte daarvan dat Venter Kannemeyer se Leipoldt-biografie betreffende volledigheid as “oorbluffend” beskou, voel hy tog dat die genoemde herhalings groot gedeeltes van hierdie biografie aan nuutheidswaarde ontneem.[xxxiii]

  1. Omgang met bronne

5.1 Kritiese omgang met bronne

De Kock is uitgesproke bewus van die noodsaaklikheid om ’n kritiese afstand ten opsigte van bronne te handhaaf. In die geval van dagboekinskrywings, laat hy blyk, word daar nog meer bedagsaamheid vereis. Volgens hom moet die biograaf egodokumente (soos joernale) “ontledend en met ’n skeptiese oog – teen die bestaande feite in, binne die toepaslike sosiale en intellektuele konteks, en ook in verhouding tot uiteenlopende vertellings” lees (xii).

In die voorwoord vra hy hom byvoorbeeld af tot watter mate Brink se dagboekinskrywings betroubaar sou wees. Hy kom tot ’n tweeslagtige gevolgtrekking: “Brink se fenomenale geheue het sy gedetailleerde verslaggewing versterk, en die joernale is gevolglik relatief betroubaar, in sowel die omvang van die dekking as die diepte van die persoonlike onthullings wat hulle bevat” (xiii). Aan die ander kant het De Kock sy bedenkinge en laat hy homself nie om die bos lei deur alles wat Brink in sy joernale skryf nie. So is hy byvoorbeeld bewus daarvan dat Brink “drama aan sy […] gedagtes en gevoelens oor verskeie onderwerpe – mees opvallend die vroue in sy lewe” – verleen (xiii). Ook vermoed De Kock dat Brink “se beskrywings in sy joernale […] deur verskeie faktore beïnvloed is, in geen geringe mate nie deur sy begeerte om homself aan homself – en uiteindelik aan ander – in ’n positiewe lig te stel” (xiv). Op ’n stadium skryf hy: “Weens Brink se voorliefde vir romantisering kan ’n mens nie seker wees hoe akkuraat sy beskrywing is nie” (308).

By ’n dagboekinskrywing wat Brink na sy eerste ontmoeting met Ingrid Jonker gemaak het, voeg hy ses maande later, regs bo in die kantlyn, nuwe kommentaar by. Die oorspronklike inskrywing vermeld dat Ingrid gesê het sy wens “iemand wil jaloers wees oor my en [haar] vashou”. Met die latere kommentaar korrigeer hy homself: “Nee! Dié het ek uit haar dagboek afgelei. Nou blyk dit dat sy dit bedoel het oor Jack” (aangehaal op bl 86). De Kock gee spesiale aandag aan hierdie geval, wat volgens hom betekenisvol is omdat dit een van baie aanduidings is dat Brink die gewoonte gehad het om die dagboeke en briewe van sy geliefdes in die geheim te lees, maar veral omdat dit wys dat Brink “’n gesprek tussen hom en Ingrid uitgedink het, aangehaalde uitlatings inkluis” (86).

De Kock voeg by: “Dít dui weer daarop dat Brink – ondanks sy toewyding aan akkurate verslaggewing en sy vermoë om feitlik alles te onthou – gegewens tot ’n mate in sy joernaal gefiksionaliseer het. In dié geval gebruik hy ’n gesprek tussen Jonker en Jack Cope in ’n verbeelde interaksie tussen hóm en Ingrid; tog toon sy latere korreksie dat hy daartoe verbind is om foute reg te stel.” Veral op sy hoede is De Kock as dit kom by inskrywings oor vrouens en seks omdat Brink, volgens hom, geneig was om in “sy uitvoerige en gedetailleerde seksbeskrywings sy ‘meesterskap’ oor vroue te beklemtoon. Dit is iets wat hy lewenslank kompulsief in sy joernaal gedoen het, ’n feit wat die leser heel moontlik skepties sal stem, eerstens teenoor Brink se geaardheid en tweedens oor die betroubaarheid van sy dagboekinskrywings” (xv).

Die biografieleser word egter gerusgestel deur De Kock se kritiese omgang met sy subjek en wat hy skryf, dat hy die “feite” uit die dagboeke noukeurig afweeg en nagaan vir moontlike onwaarhede of ander foute, en sy bevindinge in die biografie vermeld.

De Kock gaan ook behoedsaam en krities te werk met Brink se outobiografie. Waar De Kock iets teëkom wat moontlik nie klop nie, noem hy dit in die biografie, soms op ironiese toon. Hy is duidelik krities oor Brink se beskrywing van sy eie reaksie op Ingrid Jonker se dood, nl: “Ek het die wêreld voor my oë voel donker word. Die res van daardie dag was ek blind en kon ek nie sien nie” (aangehaal op bl 121). De Kock se ironiese kommentaar hierop is: “Ten spyte van sy beweerde blindheid skryf hy daardie selfde dag, by Salomi in Pretoria […] in sy joernaal” (121).

Terselfdertyd is De Kock ook bedag op die momente van rou eerlikheid. So sien hy in Brink se joernale momente “waarin selfanalise tot diepe onthullings lei, selfs bekentenisse” (xii) en dat Brink “terwyl hy geskryf het, […] met sy eie, ongeredigeerde en teenstrydige impulse geworstel” het (xiii). Ook in sy memoir is Brink soms brutaal eerlik. Hy aanvaar byvoorbeeld ’n paar keer aanspreeklikheid vir insidente van geweld, soos in sy beskrywing van ’n voorval uit sy kinderjare waarin hy sy eie aggressie tydens ’n speletjie beklemtoon (6). Hy skryf ook oor ’n vakansie in 1967 saam met Breyten en Yolande Breytenbach in Ponta do Ouro (Mosambiek) oor sy eie “viciousness”, dat hy “bitsig en wreed” kon wees, en soms “’n perverse sadisme” beleef het wat “heeltemal destruktief” kon word (xiv).

De Kock waak dus daarteen om onkrities deur die outobiografie of die dagboeke meegesleur te word, omdat Brink volgens hom “inderdaad geneig [was] om homself beurtelings te kasty en te prys, en dus moet hierdie vertellings oor die algemeen liefs met omsigtigheid gelees word” (xiv–xv). Maar die dagboeke, besef De Kock ook, bly ’n belangrike en ryk bron, “omdat dit ál plek is waar Brink sy ewige sosiale maskers grotendeels afgestroop het. Agter hulle het ’n meer komplekse en minder selfversekerde persoonlikheid geskuil as wat hy dikwels voorgegee het” (xv). Hy het “homself nie gespaar nie” en “homself ook gereeld ondergrawe” (xiii).

 

5.2 Verantwoordelike omgang met bronne

In die voorwoord bespiegel De Kock of Brink moontlik bewus daarvan sou gewees het dat sy joernaalinskrywings deur ander gelees en gebruik sou word, byvoorbeeld vir ’n biografie. noem De Kock noem dat alhoewel dit op die oog af lyk of Brink die joernale net vir homself geskryf het, dit tog ook blyk dat Brink daarvan bewus was dat ander dit mettertyd sou lees. De Kock lei dit af uit ’n 2002-inskrywing waarin Brink ’n gewese minnares “verseker dat hy reeds begin het om sekere name in sy joernale uit te krap ‘om aan [haar] te bewys dat [hy] [haar] nooit sal verraai nie, nie eers na [sy] dood nie’”. De Kock wys verder hoe die gedagte aan moontlike toekomstige lesers “swaar op albei se gemoedere [gedruk het], wat sterk dui op hul gesamentlike veronderstelling dat Brink se “papiere” ná sy dood noukeurig deur akademici en navorsers ondersoek sou word” (xiii).

De Kock is bewus van die diep persoonlike aard van die dagboeke en, soos hy dit stel, dat Brink dit gebruik het om “sy eie waarheid oor homself en die mense om hom vreesloos neer te skryf”, maar ook dat hy, “soos [James] Joyce […] geen poging aangewend [het] om hierdie geskrifte te vernietig nie, al was daar oorgenoeg kanse daarvoor” (xiv), Daar is genoeg aanduidings dat De Kock Brink se dagboeke nie sonder nadenke gebruik het nie, en heel waarskynlik ook nie sonder wroeging nie. Lg is daaruit af te lei dat hy as biograaf ’n sekere mate van gerusstelling gevind het in die aanduidings dat Brink, ten spyte van sy vermoedens dat die dagboeke hul weg na die oë van ander sou kon vind, dit tog nie vernietig het nie. Brink sou inderdaad die argief kon vernietig het, of sensitiewe dele daarin onleesbaar kon gemaak het (soos met die hier bo genoemde name), of selfs in sy testament ’n klousule kon geplaas het dat sy dagboeke nie tot die beskikking van biograwe gestel mag word nie. Dit het hy nie gedoen nie.

Hennie Aucamp

Hoe dan ook, Hennie Aucamp[xxxiv] het geskryf dat ’n biograaf waarskynlik altyd sy subjek verraai, dat dit onvermydelik is. Hy vra hom af of dit dalk die redes is waarom daar so min beduidende biografieë bestaan – “omdat die moed tot verraad ontbreek?” Aucamp gaan verder: “Of gestel die moed is wel daar, hoe oorkom die biograaf die waarskynlike teenstand van familie en vriende? Diesulkes het hulle eie beeld van die oorledene, en klou daaraan. Geen naakfoto’s, metafories gesproke, sal geduld word nie, want dit mag moedervlekke en ander letsels openbaar.”

Dat dit vir De Kock ’n prioriteit was om behoedsaam om te gaan met aanhalings uit die dagboeke, blyk uit sy keuse om daaruit woordeliks aan te haal en nie met redigering die gevaar te loop van moontlike nuanseverskuiwings nie. In sy “Skrywersnota” beaam hy: “Aanhalings uit Brink se joernale word in dié boek sonder redigering weergegee, behalwe in gevalle waar daar onduidelikheid is en verklarende inligting in vierkantige hakies bygevoeg is.” Dit is dus onderskeibaar waar Brink direk aangehaal word, teenoor waar sy woorde deur die woorde van die biograaf aangevul word of verhelder word.

In sy poging tot akkurate gebruik van en verantwoordelike omgang met hierdie bron gee De Kock selfs Engelse aanhalings uit resensies en ander kommentaar weer “in die skrywer se oorspronklike Engels […], behalwe in gevalle waar dit nie in die Afrikaanse sinskonstruksie pas nie.” Akkuraatheidsonthalwe verduidelik De Kock in sy “Skrywersnota” selfs hoe hy in sy biografie onderstrepings van woorde en sinsnedes uit Brink se joernaal weergee, nl met kursivering – in “sulke gevalle is die beklemtoning altyd dié van Brink self, tensy anders vermeld”. So voorkom die biograaf enige moontlike verwarring oor sy eie stem teenoor dié van die gebiografeerde. Dit getuig van ’n sin vir akademiese maar ook etiese verantwoordelikheid.

Ten spyte daarvan dat De Kock nie sensurerend met die dagboeke wou omgaan nie, het hy tog “ter wille van omsigtigheid en takt” besluit om in die geval van Brink “se buitengewoon uitvoerige seksbeskrywings” redigerend te werk te gaan, maar op so ’n wyse dat dit nog duidelik is “presies hóé sy joernaal- en romanskrywes vervleg is” (xvi). De Kock voer aan: “Brink se seksbeskrywings is moontlik die element in sy romans wat onder die striemendste kritiek deurgeloop het; in sy joernale, waar seks en seksuele liefde ’n deurlopende tema is, word die kloutjie by die oor gebring, en kan ’n mens baie duideliker sien wat die motief agter sy oënskynlike seksbeheptheid was” (xvi).

In die hoofstuk oor Brink se verhouding met Ingrid Jonker noem De Kock dat Brink se verslag “vol rou detail” is, maar dat hy as biograaf hierdie “kaal feite – met ’n ontsaglike aantal nabyskote van die minnaars se wilde seks” op sigself nie “uitermatig insiggewend” beskou nie en dit daarom ook nie nodig vind om in die biografie te herhaal nie. “Dit is eerder die implikasies van die Jonker-affair – veral met betrekking tot Brink se agtergrondverhaal – wat […] betekenisvol is” (47). Dít is waarop De Kock dan liewer ingaan. In gevalle waar dit nodig is om die privaatheid van mense wat in die biografie voorkom te beskerm, maak De Kock gebruik van skuilname.

Voorgaande dui daarop dat die biograaf diskreet omgaan met die bronne tot sy beskikking.

 

  1. Onderskeid tussen feite en interpretasie

Maak die biograaf op dieselfde wyse waarop hy sy eie stem en die van die gebiografeerde uit mekaar hou, ook ’n duidelike onderskeid tussen wat feite en wat interpretasie is?

In die loop van die biografie waar Brink aangehaal word, laat De Kock dikwels blyk dat hy die uitspraak met ’n knippie sout neem. Dit kom byvoorbeeld voor waar Brink later van jare oor ’n insident skryf waartydens sy pa as landdros ’n swart man wat kom hulp soek het, wreed behandel het. De Kock waarsku sy leser: “Dit is natuurlik ’n veel ouer Brink wat hier skryf, en ’n mens moet byvoeg dat sy uiteensetting heel moontlik aangedik is – oordrewe tonele van rassegeweld het Brink se romans gekenmerk, soos byvoorbeeld in Houd-den-bek en Philida” (6). Die gebruik van die woorde “heel moontlik” dui daarop dat De Kock die beskrywing nie heeltemal as die waarheid beskou nie, maar ook sy eie mening as persoonlike interpretasie aanbied.

Nog so ’n geval waar De Kock die woorde “bes moontlik” gebruik om aan te dui dat dit om ’n interpretasie gaan, is as hy die volgende skryf: “Sy oortuiging dat hy vroue kon lei na dít wat hy as ‘ekstase’ bestempel, was bes moontlik sy ydelheid der ydelhede” (142). Ook in ’n ander gedeelte wat gaan oor Brink se beskrywing van ’n besoek aan ’n prostituut, is dit duidelik dat die biograaf Brink se relaas nie heeltemal kan glo nie en oorgaan tot ’n interpretasie wat Brink minder “mooi” laat lyk as wat hy homself voorstel. De Kock bied dit aan as interpretasie of opinie, wat ook blyk uit die tikkie snedigheid wat veral in die woord “behaaglike” af te lei is: “Die feit dat die prostituut nie haar trane vir hom kon wegsteek nie, was sekerlik vir dié oplettende skrywer ’n behaaglike stukkie detail waarmee hy sy mag oor vroue aan homself kon bewys en bevestig.” Byna asof De Kock homself hier op ’n té subjektiewe houding betrap, probeer hy in die volgende sin hierdie gedrag van Brink rasioneel begryp en verklaar: “Dit was sy éie psigiese en emosionele nood, en dit is gedeeltelik verklaarbaar as deel van sy lewenslange strewe om vroue te ‘oorwin’” (142).

Die biografie bevat genoeg soortgelyke voorbeelde om tot die slotsom te lei dat De Kock helder aantoon waar hy dit oor feite het en waar oor interpretasie.

 

  1. Fiksie is nie feite nie

André P Brink en die spel van liefde voldoen op ’n besondere en baie spesifieke manier aan die vereiste om fiksie nie vir feite aan te sien nie, juis omdat Brink se lewe en sy werk duidelik op mekaar ingeënt is en feite en fiksie nou verweef is. De Kock wys telkens daarop hoe fiktiewe karakters in Brink se werk “ware ervarings” in sy lewe herhaal, of hoe sy fiksie “gereeld voorafskaduwings [is]van dinge wat werklik in sy lewe gebeur het”. De Kock praat van “’n soort vervlegting van leef-en-skryf” (xix) en hoe hy as biograaf uit die magdom outobiografiese geskrifte tot sy beskikking hierdie twee aspekte voortdurend uit mekaar moes probeer lostorring om hulle dan weer inmekaar te weef, maar dan op ’n meer “ekonomiese en kritiese wyse” (xix).

Tydens hierdie proses van lostorring en vasweef wys die biograaf doelbewus hoe hierdie ineengestrengeldheid by Brink werk. So toon hy byvoorbeeld aan wanneer die eerste tekens hiervan sigbaar word en hoe dit op ’n spesifieke dag momentum begin kry, soos die dag waarop Brink en Ingrid Jonker se paadjies vir die eerste keer in Jan Rabie en Marjorie Wallace se huis in Groenpunt kruis en hy in vlees en bloed gekonfronteer word met ’n Lolita/Brigitte Bardot-tipe vrou op wie hy ’n geruime tyd al gefikseer was – ’n fiksasie wat by hom aangewakker is deur Simone de Beauvoir se studie Brigitte Bardot and the Lolita syndrome (1959). Tot op daardie dag het hierdie “tipe” vir Brink nog net fiktief bestaan, en wel op twee maniere: enersyds as onbereikbare versinsel – “’n teoretiese en haas onmoontlike idee” – en andersyds as fiktiewe vergestalting in sy romans. Die karakter Nicolette in Die ambassadeur is ’n voorbeeld hiervan. Die moontlikheid op ’n werklike belewing en ontginning van die begeerte na hierdie “idee/vrou” het in die ontmoeting met Jonker vir die eerste keer in ’n tasbare gedaante verskyn. Die tweede hoofstuk van die biografie, wat handel oor Ingrid Jonker en die vroeë sestigs – besonder gepas met die titel “Die woord word vlees” – open met die woorde: “André P Brink begin sy joernaalinskrywing op 22 April 1963 met ’n aankondiging: ‘Ingrid’. Daarmee loods hy, met die intiemste joernaalinskrywings wat ’n mens jou kan voorstel, ’n omvattende verslag oor seker die opspraakwekkendste liefdesverhouding in die Suid-Afrikaans letterkunde” (46).

Literarisering – ’n term wat Brink self geskep het om die “literêre herskepping” of verwerking in verband met die vroue wat hy lief gehad het, en die spel van liefde, in sy skryfwerk (romans én dagboeke) te benoem – manifesteer reeds met betrekking tot baie vroeë ervarings in sy lewe. Hy was ongeveer tien jaar oud toe sy pa op hom en ’n vriendin Maureen afgekom het tydens ’n seksueel-getinte insident. Hierdie insident van “skaamtelose plesier en die wonderlikheid van daardie somermiddag”, vermeng met ’n “skandelike herinnering” daaraan, het Brink in sy dagboek skrywend probeer verwerk, en tydens die skryf ’n nuwe soort genot beleef. Dit sou ewigdurende gevolge vir Brink as skrywer hê. Die seksualiteit, die plesier, die skande, of “wat dit ook al was” (Brink se woorde), het vir Brink “vir goed verweef gebly met taal, en met die nimmereindigende soektog na die betekenis van woorde” (aangehaal op bl 12). In die Engelse weergawe van Brink se memoir vertel hy dat daardie dag ’n spesiale plek in sy verstand ingeneem het: “Die ontdekking van die betowering van seks en, deur die seks te verwoord, die betowering van woorde” (aangehaal op ble 12–13). Reeds op daardie vroeë leeftyd het feit en fiksie al by Brink verstrengel begin raak.

Die term literarisering, waarvan die saadjies moontlik op daardie somermiddag gesaai is, is ’n sleutel waarmee heelwat van Brink se werk ontsluit kan word, maar ook sy lewensingesteldheid, waarby Lawrence Durrell se uitspraak dat die liefde “a form of metaphysical enquiry” is, vir Brink ’n lewenslange kredo geword het. Daarom ook De Kock se keuse om “die verband tussen Brink se joernaalinskrywings, sy lewe, en sy skryfwerk” deur middel van hierdie sleutel te ontgin (xvii).

Dit blyk dat De Kock deurgaans waaksaam is om nie uit Brink se romans ongegronde afleidings te maak oor die skrywer se biografiese werklikheid nie. Een so ’n geval – met ’n duidelike korrelasie tussen roman en werklikheid – waar De Kock daarop wys dat die romangegewens tog nie heeltemal ooreenstem met die realiteit nie, het te doen met wanneer States of emergency (1988) ter sprake kom. Die vroulike hoofkarakter is sonder enige twyfel geskoei op Brink se toenmalige geliefde (later eggenote) wat in die biografie Marianne (’n skuilnaam) genoem word. De Kock betwyfel of een van die kerngedagtes in die roman – nl “dat geen werklik diepgaande liefde kán bestaan in ’n land waarin ’n amptelike noodtoestand afgekondig is nie” (244) – met die werklikheid klop: “Die gedagte dat die politiek en die ‘verskeurde en brandende’ toestand waarin Suid-Afrika hom bevind die bron is van die onsekerheid in Brink se werklike verhouding met Marianne, soos in die fiktiewe weergawe, is sterk betwisbaar” (244). Ek noem maar een voorbeeld.

Om feite en fiksie uit mekaar te ken, betrek De Kock ook ander bronne, soos Brink se uitsprake in ’n Vurk in die pad (wat De Kock, soos reeds genoem, ook nie alles as feitelik beskou nie), en waar relevant ook die briefwisseling tussen Brink en Ingrid Jonker, gepubliseer as Vlam in die sneeu: die liefdesbriewe van André Brink & Ingrid Jonker (2015), en natuurlik verifieerbare biografiese feite.

  1. Brink en die idees van sy tyd: invloed/beïnvloed

De Kock wys hoe Brink aanvanklik as jong Afrikanerman “tot ’n groot mate konvensioneel” was in sy kulturele, politieke en godsdienstige standpunte (28). Hy gee heelwat voorbeelde hiervan, oa hoe Brink as eerstejaarstudent ’n bewonderende toeskouer was tydens een van DF Malan se optredes tydens sy “segereis” ná die Nasionale Party se eerste verkiesingsoorwinning, en hoe Brink vir die grootste deel van die vyftigerjare ’n stoere ondersteuner van die Nasionale Party gebly het (30). Soos De Kock dit met behulp van aanhalings uit Brink se dagboeke motiveer, wys hy ook na aanleiding van die dagboekaantekeninge hoe Brink geleidelik van opinie begin verander het. Hoe De Kock hierdie gang van verandering in Brink se denke stap vir stap naloop, bied ’n waardevolle visie op hoe so iets plaasvind, en spesifiek hoe dit by Brink plaasgevind het: draaipunte, invloede langs die pad in die vorm van boeke, mense, gebeure, en dan Brink se eie persoonlike en privaatreaksies hierop in sy dagboeke, asook sy eie worstelinge wanneer hy die vurk in die pad teëkom en teen sy eie agtergrond moet kies.

De Kock beskryf hoe een van die draaipunte gekom het toe Brink in die vyftigerjare “as ‘’n rassistiese jong man’ ’n lesing deur die Afrika-nasionalis ZK Matthews bygewoon het” (31). Brink was intellektueel asook emosioneel getref deur Matthews se lesing, en moes vrae oor sy eie denke begin stel. Dat ’n daadwerklike ommeswaai in Brink se politieke denke plaasgevind het is byvoorbeeld duidelik in sy joernaalinskrywing van 28 Maart 1960. Hy is dan in Parys. Nav ’n Suid-Afrikaanse hofsaak waarin ’n wit polisieman beskuldig is van die dood van ’n swart man wat in hegtenis geneem en geskiet is, skryf die 25-jarige Brink: “Dis bitter genoeg om te behoort aan ’n volk wat ten onder gaan – maar dis hél om te behoort aan ’n volk wat verdien dat hy ondergaan” (aangehaal op bl 50). De Kock beskou dit as ’n “aansienlike kopskuif” vir “’n Afrikaner in sy middel-twintigerjare, wat net ’n paar jaar vantevore die eerste regeringshoof in die Nasionale Party se bewind van 48 jaar beskryf het as ‘’n onoortreflike leier van duisende’” (50)

Vervolgens laat De Kock stapsgewys sien hoe Brink sy rug op Afrikaner-binnekringe begin draai en geleidelik ’n buitestander word, mettertyd selfs as ’n “vyand van die Afrikaner” beskou word. Hoe sou Brink homself jeens hierdie nuwe status opstel? De Kock verduidelik dat die posisie van “outsider-skap” vir Brink inderdaad geen vreemde idee was nie en selfs ’n konsep waaraan ’n sekere status verbonde was in die nuwe kringe waarin Brink toe begin beweeg het; onder andere lei hy dit af uit die feit dat Brink bekend was met byvoorbeeld Colin Wilson se The outsider, asook die werk van Sartre, Toynbee, Goethe, Faulkner, Mann, Ibsen, Dostojewski en Kierkegaard (51). Dat Brink nie ’n vreemdeling was tov buitestanderskap nie, en homself ook nie van hierdie status probeer afwend het nie, is sigbaar in die soepelheid waarmee hy die kosmopolitiese moderniteit (met buitestanderskap as kern) in veral die vorme van eksistensialisme en absurdisme sou omarm (51).

Na aanleiding hiervan wys De Kock op die parallelle veranderings in Brink se posisie ten opsigte van ideologiese tuiste: ’n Verwydering van die ideegoed van die Afrikanerdom het gepaardgegaan met ’n toenadering tot die Europese avant-gardistiese denke. Soos De Kock tereg opmerk, impliseer die buitestanderposisie “uit die perspektief van ’n rebelse wit Afrikaner” ’n binnekring posisie in “die artistieke beroering van die modernisme” in die Verenigde Koninkryk en Europese vasteland. Op hierdie wyse teken die biograaf Brink doeltreffend af teen die agtergrond van (aan die een kant) sy land, sy volk en sy kerk en (aan die ander kant) die intellektueel- en artistiek-gedrewe avant-gardistiese denke in Europa. De Kock laat ook uit die volgende dagboekinskrywing sien hoe Brink self, byna geskok, agterkom hoe anders hy nou oor sy “ou wêreld” dink: “Uit alles die skielike en oorweldigende ontdekking van ’n klein volkie teen die muur, bedreig deur die ganse wêreld; bedreig óók deur homself. Miskien veral deur homself” (aangehaal op bl 52).

Die manifestering van hierdie politieke afkeuring deur Brink van die tradisioneel-denkende Afrikaner in sy romans bereik ’n hoogtepunt in Kennis van die aand (1973) wat ook deur die sensuurraad verbied word. De Kock beskryf dit as ’n boek wat die Afrikaner-psige se diepste wond blootlê: “dit wat Brink beskou het as die Afrikaner se aangeleerde wreedheid en verwoestende skynheiligheid” (193). As gevolg van die verbod op hierdie boek, skryf De Kock, het “Suid-Afrika nou in die oë van die wêreld ’n land geword wat sy eie, waagmoedige skrywers muilband en treiter. Brink, stellig ’n ‘volksverraaier’, sou spoedig Suid-Afrika se Solzjenitsin word, ’n martelaar van onderdrukking, en sy internasionale reputasie sou ongekende hoogtes bereik” (194). Dit sou selfs tot doodsdreigemente teen Brink en sy gesin lei (205).

Ook aan die feit dat Brink nie net in sy politieke denke ’n groot metamorfose ondergaan het nie, maar ook in sy breër denke oor estetika (oa vorm), gee De Kock in die biografie aandag deur te wys dat Brink se “nuwe” denke nie net inhoudelik in sy romans tot vergestalting gekom het nie, maar ook wat vorm betref. De Kock se afleiding is dat Brink inderdaad ’n skrywer is “wat geroepe voel om nie net sy politieke en kulturele sieninge aan te pas nie, maar ook om in sy gekose kunsvorm vormverandering teweeg te bring en om die estetika daarvan radikaal te transformeer” (55).

Brink se besoek aan Europa (spesifiek Parys) in sy twintigerjare en sy blootstelling daar aan internasionale denkstrominge, skrywers, romans, filosofieë, ens het dus geleidelik by hom ’n ommekeer teweeggebring wat sy lewe en sy werk dramaties sou beïnvloed. Op sy beurt het Brink en sy werk weer baie Suid-Afrikaanse lesers beïnvloed om anders na die Suid-Afrikaanse werklikheid te begin kyk. Hierdie dubbelwerking in Brink se lewe van beïnvloed-word en ook ander beïnvloed, word in hierdie biografie goed in beeld gebring: ’n skrywer/denker wat teen die oorheersende norme van “sy mense” inbeweeg het, maar ook ’n invloedryke intellektuele en politieke baanbreker binne dieselfde groep geword het.

Op dieselfde wyse waarop De Kock sy subjek se politiese, kulturele en estetiese metamorfose naloop en beskryf, doen hy dit ook in verband met Brink se verandering van gelowige na ongelowige. Deur te fokus op Brink se selfrefleksies hieroor in sy dagboeke laat De Kock sien hoe die verandering plaasgevind het, asook die fassinerende momente as Brink weet dat hy nie meer kan glo nie, maar tog nog deur sy gelowige agtergrond agtervolg word. Brink: “Ek staan daagliks nog verslae voor die ontdekking van die burgerlike, dopperse ou sieletjie wat ek altyd nog gehad het. Mens raak swaar van so iets ontslae” (aangehaal op bl 62).

Omdat die “spel van die liefde” die fondament van die biografie is, word daar veral klem gelê op hoe seks vir Brink ’n soort religieuse vorm aangeneem het en ’n plaasvervanger geword het vir sy vroeëre godsdiensbeoefening. In ’n brief aan Jonker skryf hy: “Ons ‘bymekaar slaap’ is ’n soort Mis-hou waarin die transsubstansiasie volkome is” (aangehaal op bl 66). Brink skryf uitgebreid oor die verwantskap tussen seks en religie in sy essay “Oor seks en religie” wat in Desember 1964 in Standpunte verskyn het. De Kock merk op dat “die vreeslose, vurige, en ongebreidelde samekoms van seksuele liefde” vir Brink “die sentrale ritueel in sy nuwe geloof” geword het (66) en dui die hierin verskuilde driedubbele “verloëning” van sy religieuse agtergrond aan: Nie net keer hy homself af van religie nie, hy stel seks (wat dikwels met sonde geassosieer word) gelyk aan ’n religieuse belewing, en boonop as ’n Katolieke ritueel, terwyl die Afrikaner die Katolisisme altyd as ’n gevaar getipeer het (66).

André P Brink en die spel van liefde is besonder geslaag in die manier waarop Brink as beide beïnvloede asook invloedryke skrywer uitgebeeld word, hoe hy betreffende sy veranderde denke in ’n nuwe verhouding ten opsigte van die Afrikaner te staan gekom het, hoe hy te midde van ’n apartheidstaat sy eie posisie van politieke integriteit geskep en gehandhaaf het. ’n Biografie oor ’n Suid-Afrikaanse skrywer kan nie hierdie aspek vermy sonder om ’n groot gaping in ’n beter begrip van Brink te laat nie. Hierdie aspek is een wat byvoorbeeld Charl-Pierre Naudé[xxxv] in sy Opperman-biografie nalaat om te dek en wat oa ook die kwessie insluit van “how to retain artistic and moral integrity in an ideologically structured social context”. Gerrit Olivier[xxxvi] lewer ook kommentaar oor hierdie blinde kol en noem dat mens meer sou wou weet oor Opperman se onwil of onmag om hom van die “gesagstrukture” van die politiek, kerk en uitgewersbedryf los te maak.

  1. Styl

’n Aspek wat nie uitdruklik deur Mathijsen gelys word nie, waarskynlik omdat dit meer betrekking het op die literêre biografie, maar wat ek tog beskou as ’n essensiële bestanddeel vir sukses, ook by die wetenskaplike biografie, is esteties-stilistiese kwaliteit: die narratief moet esteties bevredigend wees in terme van styl en daarby moet die verhaal onderhoudend vertel word – twee aspekte wat met mekaar verband hou. Aucamp[xxxvii] verwys hierna as hy skryf: “Groot biografieë word nie net as geskiedskrywing gelees nie, maar ook as belletrie” en is dus “meer as kultuurgeskiedenis: dis ook letterkunde.”

Voldoen De Kock se biografie aan stilisties-estetiese verwagtings? Soos onder die afdeling “Ordeningsprinsipes” hier bo uiteengesit, loop die oorkoepelende ordeningsprinsipe wat De Kock toepas, nl Brink en die liefdespel, net soos in Brink se lewe, chronologies sowel as siklies. De Kock hou dus doelbewus rekening daarmee dat hierdie ordeningsprinsipe van die “sikliese chronologie” ook in sy biografiese narratief gevolg moet word, waardeur hy ook ’n strak spanningslyn handhaaf.

Behalwe dat De Kock Brink se stem en die struktuur van sy liefdesiklusse oor die algemeen nougeset volg, hou hy ook rekening met Brink se dagboekstyl: “Sy neiging was om te besin oor situasies en motiverings, moontlikhede en geleenthede. In hierdie biografie het ek probeer om die verteltekstuur – die onbeslistheid en kringdenke – van Brink se beskryfde lewe te behou. Synde onverwerkte ervaring voldoen die lewe nie aan die woordekonomie van ’n vertelling nie. Daarom het ek in sommige gevalle toegelaat dat die neergepende lewe soos dit ervaar is, sy warrelende, wanordelike vorm, of vormloosheid, onthul” (xiii). Wat skryfwyse betref het De Kock dus ’n esteties weloorwoë en goedgemotiveerde keuse gemaak en toegepas.

Wat styl betref, is die biograaf hier ook vaardig in sy gebruik van beeldende taal en stylvorme soos ironie wat dikwels ook humoristies is. ’n Voorbeeld van lg sien ons wanneer hy beskryf hoe Brink, terwyl hy met sy nogal tradisionele vrou, Estelle, in Parys woon, aan Lobola vir die lewe werk: “Met sy vrou se tradisionele pampoenkoekies as brandstof het Brink dus sy eerste avant-garde fiksie geskep, met Camus as inspirasie. Voorwaar ’n pikante bredie!” (57). Voorbeelde van pragtige uitdrukkings en beelde is nie moeilik nie te vind nie. Een hiervan kom voor in De Kock se kommentaar oor wanneer Brink tydens sy eerste besoek aan Parys tot die ontdekking kom dat hy met sy denke nie meer binne Suid-Afrika tuishoort nie. De Kock skryf: “Vanuit Frankryk beskou, waar die revolusionêre storms van die sestigerjare spoedig sou woed, het die wêreld van Potchefstroom (en Pretoria) afgeleë, stroef en duister gelyk” (53). Mooi beeldend is ook die beskrywing van Brink as “kwiksilweragtig”, sy literêre opbrengs in die sewentiger- en tagtigerjare as “koorsagtig” (223) en die dekade voor die nuwe millennium as “’n ontnugterende dekade [wat hy] saam met Marianne in Kaapstad [sou] deurbring” en dat hy die nuwe millennium sou “binnetree as ’n melancholiese, gehawende en al-hoe-ouer-wordende Don Quichot” (262). Nog so ’n mooi beeld is dat die belofte van seksuele liefde vir Brink regdeur sy volwasse lewe, in De Kock se woorde, ’n “vryheidsfakkel” was wat hy byna blindelings nagevolg het. In hierdie enkele woord vat De Kock saam dat die liefde nie net ’n ligbron en dus bron van energie in Brink se lewe en sy werk was nie, maar suggereer hy ook die verleidende en verlokkende krag wat vir hom daarvan uitgegaan het, soos ’n mot aangetrek na ’n ligbron waar hy byna gehipnotiseerd en obsessief omheen bly draai, soms met fatale gevolge. Die woord suggereer ook die verlossende aspek wat Brink in die liefde gesoek en soms – meestal tydelik – gevind het.

Soms is De Kock se waarnemings ook toepaslik verweef met literêre verwysings, soos wanneer hy oor Brink as sy [Brink se] eie joernaalsubjek skryf: “Mettertyd word hý, eerder as ’n fiktiewe karakter, die lydende, strompelende, en absurde onderwerp van sy eie skryfwerk. Hy word in der waarheid sy eie Hamlet” (102); of: “Benewens sy romantiese optimisme was dit Brink se óú gewoonte om in sulke omstandighede elkeen van sy gevolgtrekkings op ’n Hamlet-agtige wyse te bevraagteken” (311). Soms lewer die biograaf ook vanuit die filosofie toepaslike kommentaar, soos wanneer dit gaan oor Brink wat in ’n brief aan ’n vriend skryf dat hy telkens deur Hermione Harris afgewys word en in die proses ontslae raak van “al die energie wat in boeke behoort te beland”, waarop De Kock met hierdie sin reageer: “Kierkegaard se ‘duiseling wat vryheid meebring’ is hier ongetwyfeld te bespeur” (124). Nog ’n voorbeeld uit die filosofie sien ons wanneer De Kock skryf dat Brink “oorweldig was deur ’n seksualiteit wat, soos Nietzsche dit stel, ‘uitreik na bo, tot in die allerhoogste pieke van [’n mens se] gees’” (142). Op hierdie wyse betrek De Kock byna ongemerk ’n breër filosofiese agtergrond wat ook deel was van Brink se eie verwysingswêreld.

André P Brink en die spel van liefde voldoen ruim aan die styl wat die biograaf nastreef, en verhaalmatig is hierdie biografie soepel en wat spanningslyn sowel as estetiese oorwegings betref, suksesvol.

 

Slotsom

In De Kock se biografie kom die leser in aanraking met ’n lewende en menslike beeld van ’n toonaangewende outeur in die Afrikaanse literatuur, ’n skrywer met internasionale statuur, wie se naam “deur internasionale kritici in dieselfde asem genoem [is] as Aleksandr Solzjenitsin, Gabriel García Márques en Peter Carey” (xi). Nie net word hy in sy verbluffende produktiwiteit as skrywer, akademikus en vertaler geteken nie (met 24 romans, verdere verhoogstukke, vakliteratuur, vertalings, letterkundige en kunskritiek en ’n groot hoeveelheid joernalistiek), maar ook as iemand wat grensverskuiwend gedink en geskryf het in sover dit politiek, ideologie, estetika, godsdiens en moralisme betref – boonop in ’n era toe afkeurende kritiek hierteen uit verskeie geledere (owerheid, familie, vriende en kollegas) ook vervreemding meegebring het, teistering deur die veiligheidspolisie, en verbanning van sy werk. Hy word ook uitgebeeld as ’n skrywer wat gehelp het “om ’n nuwe geslag Afrikaners te bevry, en ’n persoonlike en politieke gedragskode [te] skep wat nie aandadig was aan die Calvinisme en apartheids-ideologie nie” (xvii). Verder word hy geteken as ’n mens wat onversadigbaar op soek was na liefde en erkenning, iemand wie se lewe en werk so ineengestrengel was dat kennis van die een onvermydelik begrip van die ander meebring.

Die leser staan met verwondering voor Brink se verbluffende werksywer, werkskapasiteit, werksetiek, fotografiese geheue, fenomenale nalatenskap as skrywer, en sy moed en vasberadenheid om met oortuigingskrag teen die dominante denke van sy tyd in te gaan. Ook is die leser ontroerd oor Brink se voortdurende stryd met homself, sy onvermoë om sy lewe te verander, en die (oorwegende, maar nie altyd nie) eerlikheid waarmee hy dit in sy dagboeke uitspook. ’n Kwesbare, magtelose en worstelende man kom tot gestalte, teenoor die reeds bekende beeld van die “groot” en briljante skrywer en ewige Don Juan.

Die “worstelende man” is een van die groot skatte wat Brink se joernale opgelewer het. Die leser weet nou hoe Brink, wat met soveel sjarme en selfversekerdheid in die openbaar opgetree het, homself in sy dagboeke reëlmatig ondergrawe het “terwyl hy ingewikkelde denkpatrone neergepen het wat in veelvuldige, teenstrydige teorieë uitgekring het, byna asof hy met homself gestry het” (xii). Soos De Kock, vermoed ook die leser na aanleiding van al Brink se worstelings op papier dat hy soms “eenvoudig nie by magte was” om alles self uit te pluis nie en dan weer “bloot onwillig – om moeilike aangeleenthede, ongemaklike waarhede” te ontrafel (xiii). Dus: In terme van Bond se beskouings oor die biografie soos aan die begin van hierdie artikel genoem, blyk De Kock se biografie geslaag te wees, nl in die wyse waarop die subjek nie alleen benader en weergegee word as “subject matter” nie, nog minder as verhewe “subject matter”, maar veral as “human matter” – dus Brink nie net as ’n groot skrywer nie, maar ook as falende, worstelende mens.

Daarom is hierdie biografie ook, soos Bond die geslaagde biografie verder beskryf, ’n “vehicle for a penetrating analysis of human passions and human motives”. Ook voldoen dit presies aan wat Samuel Johnson beskou as die soort biografie wat die meeste waarde het, nl ’n werk wat nie net vertel hoe die subjek sy “grootsheid” behaal het nie, “but how he was made happy”; “not how he lost the favour of his prince, but how he became discontented with himself”.

De Kock het dit boonop reggekry om “ondanks die bykans oewerlose stroom besonderhede waardeur hy moes waad, steeds die oewer in die visier te hou” (soos Van Coller[xxxviii] oor Steyn se Van Wyk Louw-biografie geskryf het), en om, sonder om reduserend met Brink se kreatiewe werk om te gaan, ’n uitstekende sig op die osmotiese samehang tussen sy lewe en sy skeppende werk te gee. Die resultaat is ’n biografie wat nie alleen aan wetenskaplike en estetiese standaarde voldoen nie, maar ook beskou kan word as ’n “definitive biography”, soos wat Brink se lewenslange vriend, wyle Naas Steenkamp, gehoop het dit sou word toe hy sy omvattende versameling Brink-korrespondensie aan De Kock oorhandig het (430).

Vanselfsprekend is daar ook in hierdie biografie leemtes, gebreke en tekortkominge, maar aangesien my artikel geen resensie is nie, maar ’n evaluering van André P Brink en die spel van liefde as ’n wetenskaplike biografie, het ek my daartoe beperk om dit aan die wetenskaplike standaarde van hierdie genre te meet.

Omdat daar nog weinig omvattende studies oor die genre van die biografie in Suid-Afrika onderneem is,[xxxix] sal die publikasie van hierdie sleutelbiografie en die besprekings wat dit meebring, hopelik nuwe belangstelling in die genre laat ontvlam en daarmee saam verdere akademiese navorsing oor die biografie en die ontwikkeling daarvan in Suid-Afrika inspireer. Hopelik stimuleer dit ook vergelykende studies tussen die verskillende benaderings van biograwe, soos oa Steyn, Kannemeyer, Schoeman en De Kock. Sodoende sal die wetenskaplike (en literêre) biografie binne plaaslike konteks met toenemende kundigheid en teoretiese bekwaamheid geëvalueer kan word.

 

Bibliografie

 

Aucamp, H. 1998. Beeltenis verbode. Kaapstad: Human & Rousseau.

Bond, DF. 1962. In Encyclopaedia Britannica (Vol 3). Chicago, Londen en Toronto: Encyclopaedia Britannica Ltd.

Batchelor, John (red). 1995. The art of literary biography. Oxford: Clarendon Press.

Boswell, James. 1992. The life of Samuel Johnson. New York en Toronto: Alfred A Knopf.

Brink, AP. 1964. Oor religie en seks. In Standpunte, XVIII(2).

De Kock, Leon. 2019. André P Brink en die spel van die liefde. Johannesburg en Kaapstad: Jonathan Ball Uitgewers.

De Sola Pinto, V. 1951. English biography in the XVIIth century. (Life Literature & Thought Library Series.) Londen: George C Harrap & Co.

Grové, AP. 1999. Die mens Leipoldt kom tot lewe. In Rapport, 23 Mei 1999, bl 18.

Kannemeyer, JC. 1998. Op weg na 2000. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1995. Langenhoven: ’n lewe. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, NP Van Wyk. 1986. Versamelde Prosa 1. Kaapstad: Tafelberg.

Mathijsen, Marita. 2018. https://www.nrc.nl/nieuws/2017/11/17/dit-is-waar-de-wetenschappelijke-biografie-aan-moet-voldoen-14077998-a1581622.

Naudé, Charl-Pierre. 1987. A poet who thumbed his nose at PW. In Weekly Mail, 24 September, bl 22.

Nienaber, PJ. 1982. Perspektief en profiel. 5de hersiene uitgawe. Johannesburg: Perskor.

Olivier, Gerrit. 1987. Die “in memoriam” van ’n vergange era. In Die Suid-Afrikaan. Lente/Somer-uitgawe.

Pelser, AC. 2001. Die literêre biografie – ’n terreinverkenning. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Rabie, Jan. 1987. Fine literary epitaph for a guru of Afrikaans poetry. In The Cape Times, 21 Januarie, bl 6.

Van Coller, HP. 1999. Biografie “een van heel bestes”. In Die Volksblad, 22 Februarie, bl 6.

Venter, LS. 1999. Die veelsydige Leipoldt se lewe boeiend aan die bod. In Beeld, 9 Augustus 1999, bl 6.


Eindnotas

[i] Dus bedoel ek nie hiermee ’n biografie oor ’n skrywer of literêr-betrokke persoon nie.

[ii] Bond (1962:593).

[iii] Aangehaal deur Bond (1962:593) (verwysing in Pelser 2001:11).

[iv] De Sola Pinto (1951:11).

[v] Kannemeyer (1995:4–5).

[vi] Louw (1986:253–300).

[vii] Kannemeyer (1995:5).

[viii] Brink in Nienaber (1982:196).

[ix] Pelser (2001:71).

[x] Ter wille van bondigheid gaan ek nie hier op dié metodes in nie.

[xi] V[ictor] E[douard] d’Assonville (1927) was ’n teoloog. Met die Eeufees-uitgawe van Totius se Versamelde werke in 1977 was hy voorsitter van die publikasiekomitee wat Totius se geskrifte opnuut verken het. (Sien Pelser 2001:74.)

[xii] Boswell (1992).

[xiii] Pelser (2001:6).

[xiv] Mathijsen (2018).

[xv] In Batchelor (1995:15).

[xvi] Mathijsen (2018).

[xvii] Mathijsen (2018).

[xviii] Kannemeyer (1998:42–3).

[xix] Ibid.

[xx] Pelser (2001:98).

[xxi] Brink (1964).

[xxii] Rabie (1987:6).

[xxiii] Pelser (2001:123).

[xxiv] Kannemeyer (1995:4).

[xxv] In Kannemeyer (1995:xiii).

[xxvi] Kannemeyer (1995:5).

[xxvii] Pelser (2001:123).

[xxviii] Kannemeyer (1995:5).

[xxix] Kannemeyer (1995:3–4).

[xxx] Kannemeyer (1995:4).

[xxxi] Venter (1999:6).

[xxxii] Grové (1999:18).

[xxxiii] Pelser (2001:137).

[xxxiv] Aucamp (1998:98).

[xxxv] Naudé (1987:22).

[xxxvi] Olivier (1987:35).

[xxxvii] Aucamp (1998:62–3).

[xxxviii] Van Coller (1999:6).

[xxxix] Pelser se MA-verhandeling van 2001 het die veld goed ontsluit, maar intussen het daar weer nuwe biografieë verskyn en nuwe wetenskaplike verwikkelinge rondom die genre ontstaan, wat opnuut ’n behoefte aan navorsing van hierdie veld in Suid-Afrika wek.

  • 4

Kommentaar

  • Dit is 'n besonder deeglike en insiggewende artikel, Annemarie. Ek mis wel 'n verwysing na Egonne Roth se biografie oor Olga Kirsch en Petrovna Metelerkamp s'n oor Ingrid Jonker. Veral aangesien daar nog so min biografieë oor vroueskrywers in Afrikaans verskyn het. En waar is JC Steyn se lewensbeskrywings van MER?

  • Annemarie Van Niekerk

    Dankie vir jou waardering en belangrike kommentaar, Daniel. Oor die voorbeelde wat ek genoem het - ja, dit is voorbeelde en geen volledige lys nie. Daarom dat ek telkens by my lysies die woorde ‘bv’ of ‘o.a.’ noem. Ek stem 100% saam: die Kirsch en Jonker-biografieë is belangrike tekste en retrospektief sou ek hulle tog moes noem. Dankie dat jy dit uitwys.

  • Fanie Olivier

    Ek het vanmiddag eers by die lees van jou artikel uitgekom. Baie dankie vir die nugter evaluering van 'n moeilike en dapper biografie en die wyse waarop jy aantoon dat die werk inderdaad baie meer waardering en minder sensasie verdien. Dis 'n artikel wat vir almal wat oor biografiese werk wil skryf, of selfs wil aandurf, verpligte leesstof sal wees.

  • Annemarie van Niekerk

    Fanie, jy het presies raakgelees wat ek met die stuk beoog het. Dankie vir jou kommentaar!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top