Lenteskool en skryfkompetisie vir skrywers van romantiese fiksie

  • 0

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, in samewerking met die liefdesverhaaluitgewer LAPA, bied van Donderdag 14 tot Saterdag 16 September 2017 ’n slypskool in die skryf van liefdesverhale aan.

Bekende en bekroonde skrywers van romantiese fiksie, verteenwoordigers van LAPA en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as gespreksleiers op. Liefdesverhaalsoorte soos die romanse en liefdesroman kom onder die loep.

Hierdie twee-en-’n-halfdag-geleentheid is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat ’n liefdesverhaal wil skryf. Dit word aangebied op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit en die inskrywingsgeld beloop R2 750 per persoon. Dié bedrag dek ook deelverblyf in selfsorgeenhede by die PUK Astro Villa, oggend- en middagpouseverversings en ’n funksie op Vrydagaand 15 September. ’n Beperkte hoeveelheid verblyfplekke is beskikbaar. Kontak Kobie van Aswegen by Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za (tel 018 299 1783) vir meer besonderhede.

Die ATKV-Skryfskool bied in 2017 ook ’n kompetisie in die skryf van ’n romanse aan. Die wenner hiervan sal die Lenteskool GRATIS kan bywoon. Vir meer inligting hieroor, tree eweneens in verbinding met Kobie van Aswegen.

Kom leer onder die leiding van mense wat weet!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top