
Foto: Canva
Lente, somer, herfs en koebaai
Staccato note wip op en neer
luidrugtig van snaar tot snaar
vrolik geveer in E-majeur
om ’n blommefleur te openbaar
waar ’n tweede viool die oorhand het
in die klankhart van ’n strykkwartet.
In barokmelodieë vasgevang
word vier seisoene aangeklink
waar basklanke aan strykstokke hang
en tussen vioolkamme rinkink
in ’n melankoliese snarespel
wat van somer se herkoms vertel.
Gekamoefleer in F-majeur
bied herfs ’n strompel-druiwedans
om ’n goue oes te selebreer
in legato aanslag saamgeflans
nes óns seisoene wat binne my draai;
lente, somer, herfs en koebaai
* Gebaseer op Die vier seisoene van Antonio Vivaldi


Kommentaar
Baie dankie vir die plasing LitNet. xx