
Foto: Canva
Lente in die Noord-Kaap
Ons het slim geword.
Sonsverduisteringe, sterre en komete
op hul eeu-ou reis
baan sekuur hul pad
in formules op papier,
maar wie kan langs die berggansveer
by Woeperdal
blomsaad ooit so mooi laat val?
As U voete saggies
oor klein-klein grassies loop,
hoor clivia en kalossie,
en kelk ’n aron vlamwit oop.
As ons weer vanjaar
die skoonheid van ’n milde son
en blomme
en ’n fyn-fyn geur beleef,
wink vir ons
U nuwe aarde
waar mirre, hoop en henna
liefde, klein geloof en broos saffraan
in volle blom sal staan.

