Leksikografie en terminologieskepping: samewerking

  • 0

Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009

Dr Mariëtta Alberts, Direkteur: Terminologie, PanSAT



Opsomming

Die taalbeleid van ’n land bepaal die aantal tale wat in ’n land ontwikkel word. In Suid-Afrika het die vorige bedeling die ontwikkeling van twee amptelike tale, Engels en Afrikaans, onderskryf, en die huidige grondwet bepaal die gelykberegtiging van 11 amptelike tale. Hierdie tale moet tot funksionele tale verhef word. Kriteria vir funksionele meertaligheid is onder andere taalvoorkeur, -gebruik en ‑vaardigheid. Funksionele meertaligheid moet faktore soos demografie, ekonomie en taalhouding in ag neem by taalbeplanning en -beleidsontwikkeling in die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings. Uiteraard word die ontwikkeling van algemene en tegniese of vakwoordeboeke ook deur die taalbeleid van die regering bepaal. In die vorige bedeling was daar slegs twee amptelike woordeboekkantore, maar die huidige meertalige bestel het 11 nasionale leksikografiese eenhede tot gevolg gehad. Tydens die vorige terminologiebestel is verskeie tweetalige vakwoordeboeke deur verskillende instansies saamgestel. Tans is die Terminologiekoördineringsafdeling van die Nasionale Taaldiens, Departement van Kuns en Kultuur die nasionale terminologiekantoor. Daar is egter steeds verskeie privaat inisiatiewe en nasionale en provinsiale departemente, uitgewers en akademici by universiteite wat besig is met meertalige terminologieskepping en -dokumentering. Die regering het begin met inisiatiewe vir ’n virtuele netwerk vir mensliketaaltegnologie en alle leksikografiese en terminologiese aktiwiteite sal deel uitmaak van hierdie inisiatief. Daar is reeds verskeie inisiatiewe vir samewerking met Nederlands- en Vlaamssprekende lande – bv WNT en WAT; "Groene boekje” se spel- en skryfreëls en dié van die AWS; ’n Afrikaans-Nederlandse woordeboek wat tans saamgestel word; Engels-Afrikaanse vakwoordeboeke wat aan die Lessius Hogeschool in Antwerpen geskenk is vir gebruik by die opleiding van vertalers en tolke. In die toekoms sal sodanige samewerking op groter skaal kan plaasvind weens nouer betrekkinge tussen die onderskeie lande.

Abstract

The language policy of a country determines the number of languages to be developed in that country. In South Africa the previous dispensation determined the development of two official languages, English and Afrikaans, and the current constitution underpins equality of rights of 11 official languages. These languages should be developed into functional languages. Criteria for functional multilingualism are, inter alia, language preference, usage and skills. Functional multilingualism should take factors such as demography, economics and language attitude into consideration during language planning and language policy development in national, provincial and local government. The development of general and technical dictionaries is also determined by the language policy of government. During the previous dispensation there were only two official dictionary offices, but the current multilingual dispensation led to the establishment of 11 national lexicography units. During the previous terminology dispensation different bilingual technical dictionaries were compiled by various institutions. Currently the Terminology Coordination Section of the National Language Service, Department of Arts and Culture acts as the national terminology office. There are still various different private initiatives and national and provincial departments, publishers and academics at universities who are engaged in multilingual term creation and documentation activities. The government started with initiatives for the creation of a virtual network for human language technologies and all lexicographical and terminological endeavours will be part of this initiative. There is already close collaboration with Dutch- and Flemish-speaking countries – eg WNT and WAT; the spelling and orthography of the "Groene boekje” and of the AWS; an Afrikaans-Dutch dictionary being compiled; English-Afrikaans technical dictionaries donated to the Lessius Hogeschool in Antwerp for the training of translators and interpreters. Collaboration of this kind will increase in future due to better relationships among the different countries.

1. Inleiding

Die taalbeleid van ’n land bepaal taalontwikkeling. So bepaal die taalbeleid van ’n land die aantal tale wat in die betrokke land of streek ontwikkel moet word; byvoorbeeld in Oos-Afrika word Swahili as amptelike taal gebruik, ondanks verskeie nasionale en uitheemse tale. In Namibië word Engels as die enigste amptelike taal beskou ten spyte van verskillende nasionale tale. In Suid-Afrika het die vorige bedeling die ontwikkeling van twee amptelike tale, Engels en Afrikaans, onderskryf en die huidige grondwet bepaal die gelykberegtiging van 11 amptelike tale, naamlik Afrikaans, Engels, Ndebele, Noord-Sotho, Suid-Sotho, Swati, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa, en Zoeloe. Spesiale klem word ook in die Suid-Afrikaanse grondwet gelê op die ontwikkeling van die Khoi- en San-tale en Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Erfenistale soos Nederlands, Duits, Frans, Portugees, Hindi, Sjinees en ander geniet ook beskerming.

Die Suid-Afrikaanse grondwet bepaal dat die amptelike tale van Suid-Afrika gelykberegtiging moet geniet. Die amptelike tale moet tot funksionele tale verhef word. Die kriteria vir funksionele meertaligheid is onder andere taalvoorkeur, -gebruik en ‑vaardigheid. Funksionele meertaligheid moet faktore soos demografie, ekonomie en taalhouding in ag neem by taalbeplanning en taalbeleidsontwikkeling in die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings. In gevalle waar die nasionale regering met alle landsburgers wil kommunikeer, moet alle dokumente in al 11 amptelike tale beskikbaar gestel word. ’n Rotasiestelsel van ses tale is ook in gebruik waar inligting tegelykertyd in minstens een taal van die Ngunitaalgroep (Ndebele, Xhosa, Zoeloe en Swati), een taal van die Sothotaalgroep (Noord-Sotho, Suid-Sotho, Tswana), en in Venda, Tsonga, Engels en Afrikaans beskikbaar gestel word. Provinsies en plaaslike regerings moet met die landsburgers kommunikeer in die tale wat deur die provinsie onderskryf word as synde die tale wat deur die meerderheid sprekers gebruik word.

2. Leksikografie en terminologie in Suid-Afrika

Uiteraard word die ontwikkeling van algemene en tegniese of vakwoordeboeke ook deur die taalbeleid van die regering bepaal. In die vorige bedeling was daar slegs twee amptelike woordeboekkantore vir algemene leksikografie, naamlik die kantore van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) by die Universiteit van Stellenbosch en die Dictionary of South African English (DSAE) by Rhodes-universiteit. Die befondsing van hierdie twee woordeboekkantore is destyds deur die toenmalige Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie (DKKWT) behartig. Die huidige meertalige bestel het 11 nasionale leksikografiese eenhede tot gevolg gehad, een vir elk van die amptelike tale. Hierdie nasionale leksikografiese eenhede funksioneer tans as outonome eenhede en is geleë by tersiêre instellings binne die geolinguistiese gebied waar die meeste moedertaalsprekers woon. Die eenhede word as Afdeling 21 Maatskappye bedryf en kry staatsbefondsing via die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT).

Nasionale terminologie-ontwikkeling word uiteraard ook deur die taalbeleid van die betrokke land bepaal en staan in diens van die taalbeleid van die heersende regering, byvoorbeeld eentalige, tweetalige en veeltalige vakwoordeboekproduksie. Tydens die vorige bedeling is tweetalige vakwoordeboeke en termlyste saamgestel en tydens die huidige bestel word veeltalige termlyste saamgestel. Gedurende die vorige terminologiebestel is verskeie tweetalige vakwoordeboeke deur verskillende instansies se taalkantore saamgestel. Tans is die Terminologiekoördineringsafdeling van die Nasionale Taaldiens, Departement van Kuns en Kultuur die nasionale terminologiekantoor. Daar is egter steeds verskeie privaat inisiatiewe en nasionale en provinsiale departemente, uitgewers en akademici by universiteite wat besig is met meertalige terminologieskepping en ‑dokumentering.

3. Terminologie-ontwikkeling

Taal is eie aan volkskultuur. Terminologie is ’n strategiese hulpbron en speel ’n belangrike rol in ’n land – veral in ’n meertalige land waar taalontwikkeling van belang geag word. Dit is ’n gegewe dat die effektiewe ekonomiese, wetenskaplike en tegnologiese kommunikasievermoëns van die landsburgers ontwikkel word deur die gebruik van korrekte en eksakte terminologie. Kennisoordrag en -verwerwing geskied die doeltreffendste deur die moeder- of eerste taal.

Hoewel terminologiese en terminografiese aktiwiteite nie altyd koste-effektief is nie, is hulle van onskatbare kulturele, sosiale, historiese, funksionele, akademiese en wetenskaplike belang. Die beskikbaarheid van meertalige terminologie in verskeie vakgebiede is ’n aanduiding van die funksionele ontwikkeling van die betrokke tale, want gespesialiseerde kommunikasie het ’n sentrale spilpunt in terminologie.

Gestandaardiseerde terminologie dra by tot die kwaliteit van vertalings, tolkdienste en vakverwante kommunikasie. Vaartbelynde vertaal- en tolkdienste in funksionele tale hou kompeterende voordele vir die taalgebruiker en vakdeskundige in. Kommunikasie in die werkplek, van watter aard ook al, vereis dat terminologie beskikbaar moet wees. Daar is ’n TermNet-slagspreuk wat lui: “No knowledge without terminology”.

Terminologie-ontwikkeling is sinoniem met taalontwikkeling – vergelyk in hierdie verband Afrikaans se ontwikkeling tot wetenskapstaal. Die ontwikkeling van Afrikaanse vaktaal het eers in 1950 amptelik begin en tans beskik die taal oor terminologie in elke sfeer van die werksomgewing. Weliswaar neig Suid-Afrikaanse vakkundiges om hul kennis deur middel van Engels oor te dra, maar dit is nie omdat die Afrikaanse terminologie nie bestaan of beskikbaar is nie.

’n Taal kan ’n funksionele taal in alle gebruiksfere word slegs as moedertaalsprekers hul taal waar moontlik altyd (kan) gebruik. Funksionele en gestandaardiseerde terminologie in die amptelike Suid-Afrikaanse tale sal meertaligheid meebring en die voortbestaan van die tale verseker. Terminologie-ontwikkeling speel dus ’n wesenlike rol by veeltaligheid.

4. Terminologie-opleiding

Daar is tans ’n dringende behoefte aan opgeleide terminoloë en terminograwe, want al meer instansies begin met terminologie-ontwikkeling in die werksplek. Terminologie-opleiding word tans by Suid-Afrikaanse universiteite aangebied as modules van leksikografie- en vertaalkursusse. Indiensopleiding word deur verskillende instansies aan taalpraktisyns (terminoloë, vertalers, tolke, redigeerders, joernaliste, ens) verskaf. PanSAT verskaf ook op versoek terminologie-opleiding aan belangstellende individue, staatsdepartmente, universiteitstudente, ens. Die basiese beginsels en praktyke van terminologie en terminografie word tydens die opleidingsessies behandel. Dit blyk dat die PanSAT-opleiding van groot waarde is, want uitkomste sluit in opgeleide taalpraktisyns, samewerking tussen taal- en/of vakverwante instansies, samestelling van veeltalige terminologielyste, verifiëring en bekragtiging van terminologie deur die onderskeie nasionale taalliggame, publisering en verspreiding van veeltalige vakverwante terminologie, gestandaardiseerde terminologie deur die gereelde en herhaalde gebruik daarvan.

5. Meertalige terme vir mensliketaaltegnologie

Die Suid-Afrikaanse regering het begin met inisiatiewe vir die totstandkoming van ’n virtuele netwerk vir mensliketaaltegnologie (MTT). Verskillende regeringsinstansies (Nasionale Taaldiens, Departement van Kuns en Kultuur, Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel (Government Communication and Information System), ens), nieregeringsinstansies (Meraka-instituut, CTexT) en universiteite (Universiteit van Stellenbosch, Noordwes-Universiteit, Universiteit van Pretoria, en ander) is reeds by verskillende aspekte van die proses betrokke.

Alle leksikografiese en terminografiese ondernemings sal deel wees van die MTT virtuele netwerk, want meertalige woorde en terme in verskeie vakgebiede en domeine sal aan die virtuele netwerk verskaf moet word ten einde meertalige kommunikasie te bewerkstellig. Die doel met die MTT virtuele netwerk is om inligting oor regeringsaangeleenthede aan eindgebruikers (vakspesialiste, taalpraktisyns, die media, studente, leke, algemene publiek) in al die amptelike tale beskikbaar te stel.

6. Samewerking tussen Suid-Afrika, Nederland en België

Daar is reeds verskeie inisiatiewe vir samewerking met Nederlands- en Vlaamssprekende lande – byvoorbeeld tussen die kantore van Het Woordenboek der Nederlandsche Taal (WNT) en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op die gebied van die algemene leksikografie en die etimologie van woorde. Daar is tans ook ’n inisiatief by die Universiteit van Stellenbosch waar daar gewerk word aan ’n Nederlands-Afrikaanse Woordeboek.

Daar is ook goeie samewerking tussen die samestellers van die “Groene Boekje”, waarin die spel- en skryfkonvensies van Algemeen Beschaafd Nederlands – die amptelike taal van Nederland en die Vlaamssprekende gedeelte van België – bereël word, en die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) (wat ook as die Tegniese Komitee: Standaardisering van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) van PanSAT dien), wat die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) saamstel en hersien.

Eksemplare van beskikbare gepubliseerde tweetalige Engels-Afrikaanse vakwoordeboeke wat deur die Nasionale Taaldiens se Terminologiekoördineringsafdeling saamgestel is, is by geleentheid aan die Lessius Hogeschool (tans Lessius Universiteitskollege), Antwerpen, geskenk vir gebruik by die opleiding van vertalers en tolke.

Die Nederlandse Taalunie, die Friese Akademie en die SAAWK handhaaf ook goeie samewerkingsbetrekkinge. In die toekoms sal sodanige samewerking op groter skaal kan plaasvind weens nouer betrekkinge tussen die onderskeie lande.

7. Slotsom

Die leksikografiebedryf in Suid-Afrika is tans kerngesond. Daar is verskeie staatsondersteunde leksikografiese aktiwiteite aan die gang (Nasionale Leksikografiese Eenhede). Verskeie uitgewers is ook besig met ’n verskeidenheid algemene woordeboeke van verskillende tipologiese aard (kinder-, skool-, handwoordeboeke, ens).

Ook op die terrein van die terminologie is daar verskeie terminografiese aktiwiteite. Buiten die Terminologiekoördineringsafdeling van die Nasionale Taaldiens wat aan nasionale terminologieprojekte werk en oor ’n nasionale termbank beskik, is daar verskeie ander regeringsdepartemente (nasionaal en provinsiaal) wat besig is met die saamstel van meertalige terminologielyste. Die regering het bepaal dat elke departement ’n taaleenheid moet stig om vertaal-, redigerings-, tolk- en terminologiedienste aan die bepaalde departement te voorsien (vgl Nasionale Parlement, Departement van Justisie, ens). Daar is ook verskeie nieregeringsinisiatiewe (byvoorbeeld SABS TC 37, SAAWK, CTexT, Meraka-instituut, universiteite) en private instansies (SEPTSA, SRTAT, Prolingua) wat direk of indirek aandag aan terminologie-ontwikkeling gee.

Op die meeste terreine is daar reeds samewerking tussen Nederlands-, Vlaams- en Afrikaanssprekende instansies en hierdie onderlinge samewerking kan met vrug uitgebrei word tot voordeel van die betrokke taalgemeenskappe.

Bibliografie

National Language Service, 2003.National Language Policy Framework. Department of Arts and Culture. Uprising Graphix, Pretoria


Kommentaar is welkom. Stuur ’n brief aan webvoet@litnet.co.za vir publikasie op SêNet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top