Lekker saam

  • 0
Varkspek het ons op 'n vermakerige manier volledig ingelig oor 'n kersete. Dis weer daardie tyd van die jaar waar mense bymekaar kom om gesellig te verkeer en mekaar frontspeed (voorspoed) toe te wens. Hopelik is die aangename sosiale verkeer met vriende en familie die belangrikste en nie die drinke en ete nie.
 
Was pas by so 'n ete, maar dit was nie in 'n ou huis met dik mure nie. Eintlik 'n nuwe huis teen die see met aangename geselskap en almal is wit en Afrikaanssprekend (gelukkig was Max nie daar nie, want dit sou hom ontstel het). Dit was heerlik en 'n sagte reëntjie het die geseënde omstandighede bevestig. Soos dit maar met ouer mense gaan kom die kleinkinders ook aan die beurt.
 
Ouma se kleinseun was ontsteld want die juffrou leer vir hulle lelike dinge. Daar is nie twyfel oor die mannetjie se goeie opvoeding nie, want as die juffrou by daardie deel van die lied kom bly hy stil. Die juffrou leer hulle van “f**kin hasies”! Dit het 'n bietjie vernuf gekos om vas te stel dat hy die woorde “volke en nasies” nie reg gehoor het nie.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top