Goue lint, my storie begint: Humor in kinderliteratuur

  • 0

  • Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.

Wat bibber en bewe snags op die wasgoeddraad?
’n Bangbroek. (Jaco Jacobs, 101 Spook Grappe, 2019)

Wonder jy soms hoekom kinders mal is oor Jaco Jacobs en Fanie Viljoen se boeke? Sommige titels is só eienaardig en grillerig.

Hierdie boeke het een ding gemeen: humor. Die teikenleser mag verskil van mekaar en die verskillende tipes humor wat ingespan word om die stories aantreklik en grappig te maak, verskil dus ook van ouderdomsgroep tot ouderdomsgroep.

Daar sal gekyk word na hoe skrywers humor in kinderboeke gebruik. Spesiale aandag sal geskenk word aan die subtiele gebruik van humor in jeugboeke om tieners te vermaak en meer belangrik, hul aandag te behou. In sommige gevalle trek die vreemde en eienaardige titels alreeds hul aandag.

Teorie van humor

Humor word lank reeds as ’n literêre element bestudeer en ondersoek binne die letterkunde. Die Antieke Grieke was meesters as dit kom by die satire. Tog is daar onlangse navorsing wat dui op die deurslaggewende rol in die ontwikkeling van leesmotivering en taalvaardigheid (Van Niekerk en Van der Westhuizen 2004; Lessing-Venter 2019).

Humor en hoe dit gebruik word in kinderliteratuur sal bespreek word aan die hand van Van Niekerk, Van der Westhuizen en Lessing-Venter se artikels:

  • “Humor in kinderverhale in die tersiêre en intermediêre fases van taalonderwys” (Van Niekerk en Van der Westhuizen 2004)
  • “Humor in kinderliteratuur – ’n beskouende ondersoek na enkele soorte humor en die waarde van humor in fiksietekste vir kinders” (Lessing-Venter 2019)

Ons begin met die vraag: Hoekom lag ons?

Viktor Frankl, ’n Oostenrykse psigiater, Holocaust-oorlewende en skrywer van Man’s search for meaning, het gesê:

Humor was another of the soul’s weapons in the fight for self-preservation. It is well known that humor, more than anything else in the human make-up, can afford an aloofness and an ability to rise above any situation, even if only for a few seconds. (in Popova 2019)

As ons hierdie sentiment gebruik as die beginpunt vir hoekom ons lag en hoekom ons humor so aantreklik vind, as ’n dieper sielsreaksie tot ’n situasie of gebeurtenis, dan is dit dalk nie so vergesog om te dink dat lag en humor vir ons ’n venster na die onbewuste kan wees nie. Asook hoe die onbewuste trauma en gebeure kan verwerk. En waar begin hierdie bewustheid ontwikkel, asook die kognitiewe verstaan van hoe humor werk en toegepas kan word? By die ontwikkelende brein van ’n kind. Ons leer humor aan deur onder andere die stories, kinderstories en boeke wat vir ons vertel en gelees word. Daarom speel kinderliteratuur ’n belangrike rol in die ontwikkeling van humor.

Volgende is die vraag wat presies só snaaks is? Kom ons gebruik die identifisering van die verskillende tipes humor soos dit in die literatuurstudie geïdentifiseer word as ’n vertrekpunt. Daarna sal daar bespreek word watter tipe humor van toepassing op verskillende ouderdomsgroepe is en watter boeke daarby sou pas.

Lessing-Venter se werk oor humorteorie is insiggewend en verskaf die teoretiese ruggraat vir hierdie rubriek.

Dit sal vir baie ouers, onderwysers en volwasse lesers help om boeke en stories te vind en te identifiseer wat hulle jong lesers aan die lees sal kry. Dit sal ook aandui wat ’n kind van ’n spesifieke ouderdom snaaks sal vind en die stories waarvan hulle moontlik sal hou. Dit sal die weg help baan vir ’n positiewe leeservaring en ’n assosiasie van genot met lees.

Soorte humor vir verskillende ouderdomme

Lessing-Venter (2019:346–7) verwys na Kappas (1967) wat tien soorte of kategorieë van humor onderskei op grond van vorme van teenstrydigheid in kinderliteratuur.

  1. Oordrywing: Die oor- of onderbeklemtoning van grootte, getalle, verhoudings, feite, gevoelens, dade en ervarings.
  2. Teenstrydigheid/ongerymdheid: Die assosiasie van twee elemente wat gewoonlik as onversoenbaar beskou word. Dink hier aan Die boekwinkel tussen die wolke (2021) deur Jaco Jacobs – totaal onmoontlik ...
  3. Verrassing: Iets totaal onverwags gebeur; dit kan ook grens aan ironie.
  4. Verspotheid (slapstick): Hierdie soort humor behels ’n vinnige, uitbundige en uitspattige fisieke aktiwiteit of woordspel wat dikwels gepaard gaan met rumoerige verbale humor.
  5. Die absurde: Hierdie tipe humor sluit alles in wat geen logiese sin het nie en miskien kan ons hier dink aan stories waar die booswig geen logiese rede het om die held te verwens nie, en moontlik daarom faal alle planne op wraak teenoor die held. ’n Motief wat baie in strokies gebruik word.
  6. Menslike penarie: Komiese penaries wat gebaseer is op ’n gesindheid van simpatieke aanvaarding van die menslike penarie, kom te voorskyn in situasies waar ’n persoon vir ’n oomblik as dwaas of gekul deur die lewe voorkom. In hierdie geval is daar geen vyandige gevoelens betrokke nie.
  7. Bespotting: Hoofsaaklik die terg van en spot met ander of jouself. Speelse bespotting, daarenteen, is gebaseer op die simpatieke aanvaarding van menslike swakhede. Satire is in die eerste plek ’n gesofistikeerde artistieke vorm van humor wat uit bespotting voortspruit.
  8. Uitdaging: Hierdie soort humor spruit hoofsaaklik uit die tentoonstelling van vyandigheid of aggressie deur rebellie, insluitend die skending van konvensies, die skep van situasies wat sosiaal onaanvaarbaar is (volgens volwassenes), die uitdrukking van verbode idees en die skending van volwasse gesag. Hier kan die Trompie- en Saartjie-karakter dalk as goeie voorbeelde dien en moontlik ook die seuns in die bekende Lord of the flies deur William Golding.
  9. Geweld: Die gebruik van geweld om die komiese situasie te situeer en die beklemtoning van aggressie.
  10. Verbale humor: Die manipulasie van taal deur woordspel, trefreëls, grappe, sarkasme en ’n skerp sin vir humor of skerts kan óf ’n positiewe óf ’n negatiewe emosionele inhoud bevat, maar verskil van die ander vorme van humor, omdat dit ’n verbale eerder as ’n situasionele vorm van humor is.

Verder sluit sy Mallan (1993), Shannon (1999) en Mawter (2005, in Lessing-Venter 2019:348) in om Kappas se kategorieë uit te brei.

Mallan en Shannon omskryf skatologiese of toilethumor wat verwys na humor wat die grillerige, taboe woorde en konsepte omsluit. Lessing-Venter (2019:347) hou die volgende voorbeeld van Mallan voor:

Children’s enjoyment of vulgar and obscene forms of humour is a universal phenomenon. Children show delight in exploring topics regarded as taboo by adults. Children’s vulgar rhymes include jokes, stories, parodies, tongue twisters and riddles. Often figures from popular culture are the focus; at other times world leaders or sacred icons, such as the Bible or the Pope, are the target.

Sy gebruik verder Mawter (in Lessing-Venter 2019:348) om te verduidelik waarom skatologiese humor en taboe konsepte dikwels as humoristies ervaar word:

One component of gross humour is scatological humour, the mockery of the secretions of the human body. It is interesting to note that this type of humour is appreciated by both the young and old. As much as some adults detest it, others love it. William G. Plank in his study, The Psycho‐Social Bases of Scatological Humour: The Unmasking of the Self, takes a close look at what happens in scatological humour. He says: [...] scatological humour removes the props by which the self attempts to create and control its image: clothing, privacy, secrecy, composition of the face, and self-control. It shows humans as being vulnerable and less than perfect and many adults just cannot cope with this. But as David Lubar points out, denial begets taboo (1999). Anything taboo is highly appealing to children.

’n Bekende voorbeeld van hierdie tipe humor is die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het (oorspronklik Vom kleinen Maulwurf, der wissen wollte, wer ihm auf den Kopf gemacht hat) deur Holzwarth en Erlbruch (2002). In 2020 het Human en Rousseau ’n 30 jaar-herdenkingsweergawe van die boek uitgegee, net twee jaar voor Erlbruch se afsterwe in 2022.

Nou is die vraag watter soort humor is gepas vir watter ouderdom en wat sal kinders snaaks vind? Beskou onderstaande as ’n gids en riglyn. Elke kind is anders en so ook elke leser. Gebruik gerus wat van toepassing is vir die lesers in jou lewe.

Kleuters (ongeveer 3–6 jaar):

Dit is op hierdie ouderdom en selfs vroeër wat die assosiasie van genot en plesier met lees geassosieer moet word. Kinders in hierdie ouderdomsgroep aap gereeld hul ouers en volwassenes (soms ook die hond!) na en leer op hierdie manier hoe die wêreld om hulle werk. Deur te speel en ander na te doen.

Fisiese humor en slapstick:

  • Herhaling en voorspelbare patrone met ’n draai. Reekse met herhalende karakters is hier baie nuttig. Vir dié wat die Ladybird-reeks van sprokies onthou en daarmee hul eerste leestreë gegee het. Dink ook hier aan Spot deur Eric Hill oor die oulike hond wat verskeie avonture meemaak om sy omgewing te leer ken.
  • Nonsens-woorde en klanke. Dr Seuss staan skouers bo die res, maar moenie vir Philip de Vos en sy lieflike limerieke vergeet nie. Tokkelossiebossie (2022) en Die tantes van Atlantis (2024) is uitstekende versies vir kleuters.

Laerskool (ongeveer 7–10 jaar):

Vir kinders wat met hul skoolloopbaan begin, is dit baie belangrik dat ons hulle liefde en genot vir lees nie dooddruk met “akademiese” lees nie. Party van ons leer bietjie stadiger lees en mag langer neem om boeke vir hierdie ouderdom baas te raak. Humor kan beslis hier help met leesmotivering. Dit beteken ook dat kinders in hierdie ouderdomsgroep self hulle boeke kan begin lees. Moet daarom nie verbaas wees as jy ’n seuntjie in ’n hoek hoor giggel met ’n boek op sy skoot nie. Dit is die begin van ’n boekwurm.

  • Woordspeling en taalgrappies. Wie onthou die Lekker Lawwe Lagboek-reekse en omnibusse? Dit het gesorg vir ure se vermaak op die speelgrond.
  • Karakters wat dom of onbeholpe is. Selfs in volwasse literatuur is daar die stereotipiese village idiot.
  • Liggaamlike humor (poep- en piepiegrappies). Veral seuns is mal oor ’n poepgrappie of twee. Boeke soos Dav Pilkey se Captain Underpants, of Kaptein Onderbroek soos dit onlangs vertaal is, en die amper onuitputbare bron van Roald Dahl. Ten spyte van alles waarvoor sy boeke in die laaste paar jaar onder skoot gekom het, is die humor uitstekend. Kinders is mal daaroor. Grootmense ook.

Enkele voorbeelde van boeke:

  • Spaghetti tussen jou tone (Jacobs 2019)
  • Kan ’n walvis winde los? (Jacobs 2020)
  • Moenie hierdie boek eet nie! (Jacobs 2021)
  • Wurmpastei (Jacobs 2022)
  • Vroteier (Jacobs 2023)
  • Vuil Ferdie (verskeie boeke in die reeks, Jacobs 2024)
  • As ’n olifant op jou val (Jacobs 2025)

Tieners (ongeveer 11–16 jaar):

Dit is seker die moeilikste, onvoorspelbare groep kinders om humor suksesvol te laat werk. Hulle denkprosesse begin ontwikkel en hulle verstaan meer van die sosiale norme van die samelewing.

  • Ironie en sarkasme. Fanie Viljoen se Ons laaste legendariese somer (2024) ontplooi hierdie humorelemente foutloos om jou te laat giggel vir die arme Tobi, Rowan en Dean se solo-avontuur.
  • Sosiale satire. Cecilia Steyn se Naweek-trilogie is hier ’n wennervoorbeeld, asook Zelda Bezuidenhout se boeke Toe ons oneindig was (2020), Anderkant die blou (2022) en Quinn se jaar van kwik (2024).
  • Selfspot en selfbewustheid. Dit mag dalk ongewoon klink, maar Operasie: spinasie-situasie (2025) deur Nerine Ahlers bevat beslis ’n goeie skeut hiervan en natuurlik hope spinasie.

Jaco Jacobs en Fanie Viljoen het ’n paar interessante titels vir vroeë tieners:

  • Dinge wat ek nie van skape geweet het nie (Jacobs 2018)
  • Flippie word ’n vlieg (Viljoen 2021)
  • Frikkadel, die spookhond (Viljoen 2024)

Meer gesofistikeerde woordspeling kan ook aansluit by ironie en satire wat reeds in baie boeke vir tieners gevind word.

Humor is natuurlik nie net vir kinders bedoel nie. Volwassenes kan net so lekker lag vir ’n goeie stukkie humor en vlakgrap. As volwassene het ek met tye my slap gelag vir Wat Werner doen met sy drie miljoen (2021) deur Jan Vermeulen. Gaan lees asseblief wat die laaitie alles doen om eerstens die Lotto-kaartjie te kry, dan die drie miljoen rand nog wen ook!

.......
Nou wat sou humor wees sonder ’n gepaste praktiese toepassing? Jy wil mos lag en nie jouself bekommer oor hoe die spykers en skroewe inmekaarsteek nie. En waar vra jy, liewe leser, sal humor die beste werksplek vind? Skole.
.......

Nou wat sou humor wees sonder ’n gepaste praktiese toepassing? Jy wil mos lag en nie jouself bekommer oor hoe die spykers en skroewe inmekaarsteek nie. En waar vra jy, liewe leser, sal humor die beste werksplek vind? Skole.

Goed, ek kan hoor hoe sug die galerykritici, maar kom ons dink bietjie hieroor. Waar spandeer kinders die meeste tyd van hul dag? Die skool. Waar leer kinders lees en skryf? Die skool. Meer spesifiek, waar leer hulle ’n sensitiwiteit vir taal, grammatika en letterkunde? Dis reg! By die skool.

Daarom kan humor, indien dit reg verpak en aangebied word, baie nuttig in die klas wees. Van Niekerk en Van der Westhuizen (2004) se artikel bied ’n oorsigtelike blik op hoe humor veral in grade 4 tot 6 en selfs verder ingespan kan word. Hul werk beklemtoon die belangrikheid van humor in kinderliteratuur vir persoonlike ontwikkeling en taalonderrig.

Volgens Van Niekerk en Van der Westhuizen (2004:154) se navorsing:

Van Coillie (1999:99–105) het bevind dat die meeste humornavorsers die periode tussen nege en twaalf jaar as die mees humorgevoelige tydperk in ’n kind se taalontwikkeling beskou. Daarom is dit so dat in geen ander stadium van ’n kind se lewe grapboeke juis so gewild is soos in hierdie fase nie.

Dit beteken ook dat dit in hierdie ouderdomsgroep is wat onderwysers en ouers die grootste impak kan maak op kinders se leesmotivering en -vaardigheid. Dit sal dan ook ’n positiewe impak op hul skoolwerk maak, nie net in die taalklas nie.

Buiten die akademiese voordele, is daar die belangrikheid vir individuele en sosiale ontwikkeling. Humor help kinders om spanning, vrese en sosiale beperkings te hanteer en bevorder kreatiwiteit en selfvertroue. Let wel: Hier word nooit vír iemand gelag nie.

Van Niekerk en Van der Westhuizen (2004:155) ontwikkel daarom ’n analitiese model om humor in kinderverhale te bestudeer waar ontwikkelingsielkunde, literatuurteorie en humorteorie geïntegreer word. Dit bestaan uit drie hoofvorme:

  • Situasiehumor: Humor wat uit situasies of gebeure ontstaan, byvoorbeeld verrassings, oordrywing, misverstande, inkongruensie.
  • Woordhumor: Humor op taalvlak, soos woordspeling, ironie, hiperbool, personifikasie, klanknabootsing, ensovoorts.
  • Visuele humor: Humor in uitleg of illustrasies, byvoorbeeld snaakse prente, of tipografie wat lagwekkend lyk.

Hierdie model verdeel dus die humorkategorieë, soos Lessing-Venter dit identifiseer, in drie areas of arenas: die situasie-, woord- of visuele arenas.

Al drie hierdie arenas kan binne taalonderrig geïdentifiseer word. Vir die doel van illustrasie sal hier na die CAPS-kurrikulum verwys word.

Die volgende is vaardighede en aktiwiteite wat vereis word vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal:

  • Leesbegrip (intermediêre fase: graad 4–6 en op)
  • Visuele geletterdheid (intermediêre fase: graad 4–6 en op)
  • Letterkundestudie (intermediêre fase: graad 4–6 en op)
  • Dit word selfs meer intensief en formeel vir die seniorfase (graad 7–9) en die verdere onderrig- en opleidingsfase (graad 10–12)
      • kortverhale
      • romans
      • gedigte
      • dramatekste

Kinders word op skool geleer hoe die basiese strukture van bepaalde tekste werk. Humor in die vorm van verskillende literêre instrumente, van satire tot ironie, word deeglik op skool behandel. Ja, daardie vervelige vriendskaplike briewe tot verhalende opstelle en hoe om ’n gedig te ontleed.

Subversiewe humor, waar die omverwerp van gesag en konvensies as tema voorgehou word, is ’n bekende tema en motief wat in menige jeugromans na vore kom. Hier kan Quinn se jaar van kwik (2024), Onderwêreld (2008) deur Fanie Viljoen en selfs Barrie Hough se Skilpoppe (1998) voorgehou word.

Parodie, ironie en satire is ruim te vind in verskeie kortverhale en jeugverhale. “Tyd is ’n bliksem” (2022) deur Zelda Bezuidenhout is ’n ironiese kortverhaal oor ’n seun wat sy uiterste bes probeer om ’n populêre en mooi meisie te beïndruk en dan heel onverwags ’n kans kry, op ’n silwerskinkbord, met haar suster. Want die meisie van sy drome weet nie eers van sy bestaan nie, ten spyte van al sy moeite. Arme ou. Daar is verskeie verhale waarvoor ’n jong leser sal lag omdat die elemente van parodie, ironie en satire so vervleg is met die verhaalgebeure en taalgebruik dat lesers dit skaars agterkom.

Dan is daar visuele humor in geïllustreerde boeke en visuele tekste wanneer woorde en prente saamwerk (of teen mekaar werk) om humor te bewerkstellig. Effektiewe voorbeelde waar die verskillende kategorieë en subkategorieë van humor gebruik word is in spotprente en strokies. Hierdie tipe tekste word vanaf graad 4 tot en met graad 12 in die Nasionale Senior Sertifikaat gereeld gebruik en getoets. In die geval van visuele humor word meer as net woorde ingespan. Emosies, gesigsuitdrukkings, liggaamstaal en simboliese betekenisse word ingespan om ’n visuele ervaring te skep.

Goeie voorbeelde is dié van Kaaskrulle en Idees vol vrees. Gaan loer gerus op Google of ideesvolrees.com vir ’n fees van humor geskep deur Kobus Galloway.

Idees vol vrees is populêr onder onderwysers wat dit in die klaskamer benut met die aanleer van idiome, gesegdes en ja, ook woordbetekenisse. Wie hou tog nie van die padda wat besig is om ’n gat in die grond te grawe met ’n graaf nie? Waar die onderskrif lees: “Paragrawe.” Uit persoonlike tweede- en vreemdetaalonderrig-ervaring onthou leerders en studente baie meer wanneer hulle ’n woord aan ’n emosie of grap kan koppel. Soos die Amerikaanse student wat leer “baie dankie” sê het deur te begin met “buy a donkey”. Op hierdie manier word humor ingespan om te leer.

Lekker lag

Ons kan na hierdie vlugtige bespreking bevestig dat die rol wat humor in kinderliteratuur speel, van kardinale belang is. Hoekom? Omdat dit deel van die gereedskap is wat kinders daagliks sal teëkom. Dit vorm deel van hul individuele ontwikkeling, kognitief sowel as psigies. Dit help kinders om te leer hoe die wêreld om hulle werk en hoe om dit te verwerk. Humor kan deur onderwysers, ouers en enige volwassene ingespan word om leesgenot en leesvaardigheid onder kinders te bevorder, wat ons toekoms net nog ryker aan lesers van goeie stories sal maak.

Bibliografie

Jacobs, J. 2019. 101 Spookgrappe. LAPA Uitgewers: Pretoria.

Kappas, K.H. 1967. A developmental analysis of children’s reactions to humor. The Library Quarterly, 37(1).

Lessing-Venter, N. 2019. Humor in kinderliteratuur: ’n Beskouende ondersoek na enkele soorte humor en die waarde van humor in fiksietekste vir kinders. LitNet Akademies, 16(1):341–66.

Mallan, K. 1993. Laugh lines. Newtown: Ambassador Press.

Popova, M. 2019. Viktor Frankl on the human search for meaning and the soul-salving power of humor. The Marginalian. https://www.themarginalian.org/2019/08/19/viktor-frankl-humor-survival/ (7 Oktober 2025 geraadpleeg).

Van Niekerk, J. en B. Van der Westhuizen. 2004. Humor in kinderverhale in die tersiêre en intermediêre fases van taalonderwys. Literator, 25(3):151–79.

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine

Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders

Goue lint my storie begint: Kunsmatige intelligensie (KI) en kinderboekillustrasies

Goue lint, my storie begint: Karakterisering in jeugverhale

Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke

Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?

Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top