Leierskap in Suid-Afrika in die era van neokolonialisme

  • 1

Nelson Mandela se dood is al tereg beskryf as sou dit ‘n era afgesluit het, die era van nasionalisme wat die Suid-Afrikaanse politiek vir meer as 100 jaar oorheers het.

Afrikaner-nasionalisme het êrens in die 1990’s ‘n pynlose dood gesterf, omtrent die tyd toe swart nasionalisme uiteindelik skyn te geseëvier het. Maar helaas, hierdie triomf het kortstondig blyk te wees.

‘n Sleutel-ambisie van swart nasionalisme, benewens die algemene stemreg, was, volgens Mandela, die skep van ‘n swart kapitalistiese klas. Mandela het die nasionaliseringsklousule van die Vryheidshandves in 1956 soos volg verduidelik:

It is true that in demanding the nationalisation of the banks, the gold mines and the land the Charter strikes a fatal blow at the financial and gold-mining monopolies and farming interests that have for centuries plundered the country and condemned its people to servitude. But such a step is absolutely imperative and necessary because the realisation of the Charter is inconceivable, in fact impossible, unless and until these monopolies are first smashed up and the national wealth of the country turned over to the people The breaking up and democratisation of these monopolies will open up fresh fields for the development of a prosperous Non-European bourgeois class. For the first time in the history of this country the Non-European bourgeoisie will have the opportunity to own in their own name and right mills and factories, and trade and private enterprise will boom and flourish as never before.

Teen die tyd dat Mandela oorlede is, het sy politieke erfgename hierdie sentrale projek van swart nasionalisme laat vaar en dit met Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB, oftewel BEE – Black Economic Empowerment) vervang. SEB was nie ‘n projek om ‘n swart bourgeoisie te skep nie; dit was ‘n projek om ‘n klas swart boetiekapitaliste te skep wat junior vennote van bestaande wit Suid-Afrikaanse maatskappye en Westerse multinasionale korporasies in die land sou wees. Hierdie junior vennote sou hulle politieke kontakte gebruik om besighede te stig wat gevestigde besighede sou help om die ekonomiese status quo wat van die era van wit oorheersing geërf is, te handhaaf

’n Dag nadat Mandela begrawe is in die groen, deinende heuwels van die Oos-Kaap, waar hy gebore is en grootgeword het, het die National Union of Metalworkers of South Africa die geboorte van ‘n nuwe era aangekondig, ‘n era waarin die bevordering van werkersklasbelange die land se ekonomie en politiek sou oorheers.

In die verlede het Suid-Afrika se swart massas aanvaar dat hulle gelei sou word deur mense wat meer as hulle weet – die swart sendingskool-opgevoede klasse. Nou nie meer nie. Vandag wil swart werkers hulle eie organisasies hê. Veral wil hulle hê dat hulle vakbonde hulle eie politieke partye sal stig om hulle en die land te lei.

Wat het gebeur dat die swart werkersklas van gedagte verander het oor wie hulle en die land moet lei?

Daar is nie net een antwoord op hierdie vraag nie. Wat dit egter wel weerspieël, is die Suid-Afrikaanse werkersklas se groeiende selfvertroue in sy vermoë om sy eie oplossings vir sy uitdagings te vind.

Gedurende die 20 jaar van ANC-bewind het die werkersklas hulpeloos toegekyk hoe die ANC-regering beleide volg wat die land se landbou, myne en fabrieksbedrywe vernietig het, met ‘n gevolglike drastiese afname in werksgeleenthede in hierdie sektore, asook ‘n groeiende tendens in die rigting van ‘n arbeidsmag van los werkers eerder as vas-aangesteldes. Volgens een raming het regeringsbeleide wat in 1996 in werking getree het, daartoe gelei dat 600 000 plaaswerkers hulle werk tussen 1997 en 2007 verloor het. As ons veronderstel dat elke plaaswerker ‘n gesin van vier het, sou dit beteken dat 2,4 miljoen mense in daardie tien jaar uit hulle huise op kommersiële plase gesit is. Dit behoort dus geen verrassing te wees dat informele nedersettings in stedelike gebiede soos paddastoele opskiet nie.

Dit was daarom bloot ‘n kwessie van tyd voordat vakbonde sou besef dat daar ‘n verband is tussen die land se deïndustrialisering en groeiende werkloosheid en boetie-kapitalisme, regeringsbeleide wat die grootsakesektor pamperlang, veral finansieringskapitaal en die groei van ‘n nuwe swart middel- en hoër klas. Dit was ‘n bloot ‘n kwessie van tyd voordat vakbonde wat aan die ontvangkant van hierdie beleide was, hulle steun aan die ANC sou onttrek.

‘n Alternatief sou die verbrokkeling van die vakbonde self gewees het, tussen vakbondlede wat steeds die ANC wou ondersteun en dié wat daarteen gekant was. Dit is wat met die National Union of Mineworkers (Numsa) gebeur het, waar die minder pro-ANC-werkers afgesplinter het om die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) te vorm. ‘n Soortgelyke lot het die Congress of South African Trade Unions (Cosatu) later getref.

Verowering en onderwerping

Die moderne Suid-Afrikaanse samelewing het oor eeue van geweld, onteiening en onderwerping deur Europese veroweraars tot stand gekom. Suid-Afrika behoort aan ‘n groep lande wat gedurende die 16de en 17de eeue geskep is as gevolg van wêreldwye maritieme verkenningstogte vanaf die Iberiese Skiereiland. Daardie togte het gelei tot die ontstaan van wat as die Nuwe Wêreld sou bekend staan.

Die Nuwe Wêreld het bestaan uit lande wat deur die destydse Europese moondhede – Spanje, Portugal, Brittanje, Frankryk en die Nederlande – uit die Amerikas gekerf is. Hierdie lande was gekenmerk deur die uitermatige uitbuiting en onderdrukking van die inheemse Amerikaanse bevolkings wat hulle letterlik doodgewerk het onder dwang van Europese veroweraars in die proses van die ontginning van edelmetale. Mettertyd is die inheemse bevolkings vervang met slawe, uit Afrika ingevoer, wat gebruik is om gewasse soos tabak, suikerriet, katoen en ander vir Europese markte te verbou.

In Afrika kon slegs twee lande as Nuwe Wêreld-lande geklassifiseer word: Suid-Afrika en Mauritius. Albei lande het gedurende die koloniale tydperk slawe uit die res van Afrika en uit Asië ingevoer wat uitgebuit is in die plantasies wat deur die koloniserende moondhede aangeplant is.

Gedurende die lank-uitgerekte proses van militêre verowering is die aristokrasie van waar die leierskap van die inheemse volke gekom het, feitlik vernietig. Toe die verowering voltrek was, was swart gemeenskappe in ‘n toestand van skok; hulle het nie geweet na wie om hulle te wend nie, veral omdat baie van hulle aristokrasieë wat die oorloë van weerstand teen verowering oorleef het, met Europese veroweraars begin saamwerk het.

In hierdie tydperk van verwildering het twee groepe na vore getree wat simpatiek teenoor die verslane gemeenskappe was. Aanvanklik was dit die Europese sendelinge wat krities gestaan het teenoor die onderdrukkende en uitbuitende beleide van die koloniale regering en van die koloniste jeens die inheemse volke.

Swart nasionalisme

Vanaf die middel van die 19de eeu het daar egter ‘n nuwe klas swart en bruin sendingskool-opgevoede individue na vore begin tree. Teen die laaste kwart van die 19de eeu was hierdie groep voldoende gevestig as ‘n eiendom-besittende klas om te begin om swarttalige koerante tot stand te bring en daardeur aan die politiek van die Kaap- en Natalse kolonie te begin deelneem. Onder die voormalige slawe het imams ‘n soortgelyke leierskapsrol gespeel, terwyl Indiërhandelaars en -professionele soortgelyke leierskap onder ingeboekte Indiërwerkers verskaf het.

As voorbeeld: teen die einde van die 19de eeu het swart mense in Natal (Zoeloeland uitgesonderd) byvoorbeeld 68 000 acre vrypaggrond besit en 34 000 acre in erfpag (langtermynhuurkontrakte), terwyl 217 000 acre kroongrond aan swart mense verkoop is onder langtermynbetaalkontrakte soortgelyk aan dié vir Europese/blanke kopers. In 1904 het 11 000 leerlinge 150 sendelingskole in Natal bygewoon. In dieselfde jaar in die Kaap is 60 000 swart leerlinge deur 200 onderwysers onderrig.

Hierdie drie groepe het die swart elite gevorm wat die leiding geneem het in die stryde teen rassediskriminasie en rasseonderdrukking in die 20ste eeu wat uitgeloop het op die demokratiese verkiesing in 1994 en die demokratiese grondwet van 1996.

In hierdie stryde van byna anderhalfeeu het die swart werkersklas en die swart massas in die algemeen ‘n ondersteunende rol vervul. Hulle het nie die leiding geneem nie. Die swart-nasionalisme-“agenda” is bepaal deur die swart elite wat die leierskapsmantel van die verslane swart aristokrasie geërf het. Die swart werkersklas het gevolg.

Deur die dekades van die 20ste eeu het die swart elite sy leierskapsposisie so jaloers beskerm dat dit in die 1940’s die ANC Jeugliga gestig het om te verseker dat die kommuniste nie die leierskap van die swart werkersklas sou oorneem nie. Dit was die hoofargument wat die destydse ANC-president, AB Xuma, oorreed het om in 1944 die ANC Jeugliga te stig.

In sy oprigtingsdokumente het die Jeugliga geskryf (alle aanhalings vry vertaal tensy anders vermeld):

Die swart mense in Suid-Afrika word onderdruk as ‘n groep van ‘n bepaalde kleur. Hulle deel hierdie lyding onder nasionale onderdrukking met duisende en miljoene onderdrukte koloniale mense in ander dele van die wêreld.

Swart nasionalisme is die dinamiese nasionale bevrydingsgeloofstelling (creed) van die onderdrukte mense ... Swart mense moet ‘n magtige bevrydingsbeweging bou, en sodat die Nasionale beweging innerlike krag en solidariteit sal hê, moet dit die Nasionale bevrydersgeloofstelling – swart nasionalisme – aanneem, en dit moet deur swart mense self gelei word.

Nelson Mandela, wat nooit doekies omgedraai het nie, het geskryf:

Daar is sekere groepe wat op ons struggle pasklaar formules wil probeer afdwing wat, eerder as om sake duideliker te maak, bloot daarin slaag om die fundamentele saak te vertroebel, naamlik dat ons onderdruk word nie as ‘n klas nie, maar as ‘n volk, as ‘n nasie. Sodanige omvattende en ongenuanseerde invoer van metodes en taktieke wat in ander lande mag geslaag het, soos Europa, waar toestande anders is, kan die saak van ons mense se vryheid skade aandoen, tensy ons spoedig ‘n militante massabevrydingsbeweging bou.

Iemand skryf in 1950 in die joernaal van die Transvaalse Jeugliga, African Lodestar:

Aangesien die werkers in die land onderdruk word primêr omdat hulle swart is, en slegs sekondêr omdat hulle werkers is, is dit duidelik dat die uitheemse Kommunisme-plant nie in Afrika-grond kan gedy nie; hierdie plant sal die grond nie baie geneë wees nie, daarom is dit waarskynlik dat dit sal verlep en uitsterf. As dit wel hier bly, is dit waarskynlik dat dit die grond sonder enige voordeel sal ruïneer, soos inderdaad nou gebeur.

Die inisiatief om die ANC Jeugliga te stig het ‘n sukses blyk te wees, deurdat dit die Kommunisteparty gemarginaliseer het wat in die 1940’s begin het om vordering onder die stedelike swart massas te maak, veral nadat die Sowjetunie in 1941 deel van die oorlog teen die Nazi’s geword het. In die nasionale bevrydingstryde na die Tweede Wêreldoorlog het sowel die kommuniste as die werkersklas die rol van navolgers begin speel. Die kommuniste het verder gegaan en die swart nasionalisme, waarvoor hulle toegelaat is om as ‘n gemagtigde voorbrandmaakgroep op te tree, besing.

Die kommuniste het die gedagte van die Nasionale Demokratiese Revolusie gepopulariseer waarvolgens die werkersklas nasionalistiese leierskap se toenadering tot die Minerale-Energie-Kompleks, finansieringskapitaal en die Westerse multinasionale korporasies wat Suid-Afrika se vrugtelose kapitalistiese stelsel oorheers, moet aanvaar. In ruil daarvoor sou arm swart mense maatskaplike welsyn, elektrisiteit, pypleidingwater, ens ontvang, en sou leiers van swart vakbonde en van die Kommunisteparty hoogbesoldigde staatsposte kry, en dalk selfs aandele en setels in maatskappydireksies.

Van nasionale bevryding tot klassestryd

Terwyl die swart nasionaliste dit reggekry het om hulle kommunistiese opponente te bedwing, het hulle egter nie daarin geslaag om teen hulle kragtiger teenstanders – die mynmagnate, wit werkers en Afrikaner-nasionaliste te wen nie. Uiteindelik moes swart nasionaliste ‘n kompromis aanvaar wat die ekonomiese en sosiale belange van hulle hoofteenstanders bewaar het in ruil vir die algemene stemreg en ‘n veelparty grondwetlike demokrasie.

Die hooggeprese beleide van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en regstellende optrede wat die hoeksteen van die nuwe denke van die nuwe swart heersers geword het, moderniseer nie Suid-Afrika se ou ekonomiese stelsel nie; hulle voeg bloot nuwe begunstigdes by – SEB-geldmagnate, politieke, vakbond- en ander burgerlike-samelewing- leiers, senior staatsamptenare en parastatale uitvoerende hoofde.

Die swart bourgeoisie het sy piek teen die einde van die 19de eeu bereik. Vir die grootste deel van die 20ste eeu het dit gestadig ten gronde begin gaan, weens aanslae vanaf drie fronte: myneienaars, wit werkers en Afrikaner-nasionaliste. Terwyl die aansienlik verswakte swart elite van die 20ste eeu die ideologie van hulle magtiger 19de-eeuse voorgangers gehandhaaf het, het hulle egter nie hulle vermoëns gehad nie.

Een van die laaste groot ondernemings van die 19de-eeuse swart bourgeoisie was die stigting van etlike koerante – Imvo Zabantsundu in 1884 deur John Tengo Jabavu; Ilanga laseNatal in 1904 deurJohn Dube. Ander koerante wat in dieselfde tydperk gestig is, was Koranta ea Becoana deur Sol Plaatje en Indian Opinion deur Mahatma Gandhi.

‘n Tweede onderneming was die stigting van Fort Hare Universiteit, ‘n inisiatief waarvan Walter Rubusana, ‘n lid van die Kaapse parlement, in 1908, die baanbreker was. Die instelling, wat met bydraes van swart mense gebou is, het sy deure in 1916 geopen.

Die laaste belangrikste onderneming deur die 19de-eeuse swart bourgeoisie was die stigting van die African National Congress (ANC) in 1912. Ander belangrike swart politieke partye wat gedurende hierdie tydperk gestig is, was die Natal Indian Congress in 1894 en die African People’s Organisation in 1904.

Die swart elite in die laat 20ste eeu het gevolglik vanuit ‘n baie swak posisie tot die onderhandelinge toegetree. ‘n Voorbeeld van hoe arm die swart elite teen die tweede helfte van die 20ste eeu geword het, is die feit dat dit die vooraanstaande swart sakeman Sam Motsuenyane ‘n dekade geneem het om in die 1960’s tot 1970’s ‘n miljoen rand vanuit die swart gemeenskap in te samel om die African Bank te kapitaliseer. Dis nie verbasend dat die swart elite met baie min uit die onderhandelings getree het nie.

Hulle hoofprestasie was die reg om die staat te bestuur en van staatsinkomste te leef. Hulle kon egter nie Suid-Afrika se ekonomiese model verander wat gegrond is op die ontginning en uitvoer van die land se massale minerale hulpbronne deur die inspan van goedkoop swart arbeid nie. Al wat die nuwe regime dus kon doen, was om deur herverdeling via staatsinkomste huishoudingverbruik onder swart mense te bevorder .

Hierdie verbruiksrevolusie is rampspoedig vir Suid-Afrika se produktiewe ekonomie.

Eerstens verplaas dit hulpbronne deur middel van belasting van die produksiesektor na die regering en na private huishoudingverbruik, wat die produksiesektor met baie minder hulpbronne laat wat dit kan belê. Soos verwag kon word, het dit werkloosheid opgejaag terwyl dit die illusie geskep het van ekonomiese groei wat inderwaarheid deur stygings in kommoditeitspryse aangedryf is.

Tweedens het lae beleggingsvlakke onvermydelik tot hoër invoervlakke, met die gepaardgaande betalingsbalansprobleme, gelei.

Op ‘n breër maatskaplike en politieke vlak blaas toenemende ongelykheid konflik op werksgebied sowel as in arm gemeenskappe aan. Die massaslagting van 34 mynwerkers deur die polisie op 16 August 2012 was kwalik onverwags.

Suid-Afrika word dus toenemend ‘n strydtoneel tussen die ANC-regering en die swart werkersklas en die swart armes.

Verbruikswyse

Hoe vaar Suid-Afrika se kapitalistiese stelsel na 20 jaar onder ANC-bestuur? Hoe lyk die land se toekoms?

Die antwoord op albei vrae is dat dinge nie goed lyk vir Suid-Afrika se kapitalisme nie.

Onder normale omstandighede word kapitalisme as ‘n produksiewyse of produksiestelsel beskryf. In die hande van die ANC kan dit meer gepas as ‘n verbruikswyse beskryf word.

Gedurende die afgelope twee dekades is Suid-Afrika se produksienywerhede in ‘n neusduikvlug. Vervaardiging krimp vinnig, waarskynlik vinniger as enige ander sektor van die ekonomie. Die produksietoerusting raak oud, en in sommige nywerhede is dit antiek.

Die meeste van Suid-Afrika se sementvervaardigingstoerusting is gemiddeld 30 jaar oud, dalk ouer; dit was dus nie verbasend dat dit nie die mas kon opkom toe dit sement aan konstruksiemaatskappye moes verskaf om nuwe stadions vir die 2010 FIFA-Wêreldbeker te bou nie. Gevolglik het ons sement uit China ingevoer. Dieselfde geld ons skoeiselbedryf. In 1991 het ons 80 miljoen pare skoene gemaak. Teen 2007 was plaaslike produksie die helfte minder en het ons 160 miljoen pare skoene ingevoer, weer eens meestal uit Asië. Selfs wanneer dit by hoendervleis kom kan ons nie genoeg produseer om in die plaaslike vraag te voorsien nie, en voer ons hoendervleis vanuit Brasilië, Argentinië en die Europese Unie in.

Die mynboubedryf, wat die hart van die Suid-Afrikaanse ekonomie vorm, is ook aan die krimp, nie omdat ons minerale opgeraak het nie, maar omdat ons ekonomie besig is om te verbruik eerder as om te belê. Ons elektrisiteit het in 2008 opgeraak omdat die ANC-regering wat Suid-Afrika beheer, se ontwikkelaarbedryf hom nie die moeite kon troos om nuwe kragstasies op te rig om in die groeiende vraag te voorsien nie.

Weer eens: in plaas daarvan om te produseer, word daar rojaal verbruik, veral deur die hoër klasse van alle rasse. Ook die armes is, deur middel van welsynsprogramme, by die verbruiksgefuif ingesleep, in ruil waarvoor hulle vir die ANC moet stem.

Toenemend verbruik Suid-Afrika invoere, hetsy dit motorvoertuie, melk, hoendervleis, beesvleis, skoene, klere, sement of rekenaars is, om net ‘n paar produkte te noem. Ons betaal vir al hierdie produkte deur ons minerale meestal in onverwerkte vorm aan buitelanders te verkoop en deur van ons banke te leen, asook van buitelanders. Dit is hoekom ek die ANC se kapitalisme ‘n wyse of stelsel van verbruik eerder as ‘n wyse van produksie noem.

So ‘n stelsel is nie volhoubaar nie, aangesien die gevolge daarvan hoë werkloosheidsvlakke, grootskaalse armoede en verbreide ongelykheid is. Suid-Afrika is bo aan die wêreldliga-ranglyste wat al drie betref. Vroeër of later sleep skuld die hele ekonomiese stelsel met hom saam, en as die mense nie éérs rebelleer nie, stort die stelsel in duie. Griekeland beleef nou, net soos Zimbabwe voor hom, hierdie nagmerrie-scenario.

Produksiewyses

Sedert die vestiging daarvan in 1652, het Suid-Afrikaanse kapitalisme deur vyf duidelik onderskeibare tydperke gegaan: die Hollands Oos-Indiese Kompanjie-tydperk; twee Britse tydperke; die Afrikaner-nasionalistiese tydperk; en nou die swart nasionalistiese tydperk. Elke tydperk is deur sy eie dominante politieke elite aangedryf om daardie elite se ekonomiese, politieke en maatskaplike doelstellings te bereik.

Die Hollands Oos-Indiese Kompanjie (HOIK) se doel was ‘n halfwegstasie wat sy skepe van vars voedsel sou voorsien. Die Nederlanders het gevolglik nuwe gewasse na Suid-Afrika gebring, veral koring en druiwe, asook nuwe werkers, die slawe, om die gewasse te verbou. Hulle het ook etlike tegnologieë gebring, soos die wiel, die perd, gewere, tekstiele en die tuig wat nie destyds in Suid-Afrika bestaan het nie. Die HOIK-stelsel, wat geduur het tot die Britte in 1795 oorgeneem het, was ‘n produksiegedrewe stelsel by uitstek. Dit was baie wreed teenoor sy werkers, die slawe, en was gegrond op volksmoord teenoor die San en Khoi, die inheemse volke van die Wes-Kaap.

Die Britte het die Nederlandse stelsel voortgesit tot 1834, toe hulle slawerny afgeskaf het. Van die 1830’s tot die 1890’s het die Britte ‘n ekonomie ontwikkel wat op swart landvolk/kleinboere gebaseer was, eers in die Oos-Kaap en later in Natal deur vrypaggrondbesit in te voer en, die heel belangrikste, deur die gebruik van bespande (dieregesleepte) landbou-implemente onder die swart kleinboere. Dit was die eerste Britse produksiestelsel wat welvaart onder swart kleinboere bevorder het deur middel van ‘n meer produktiewe landboustelsel as een wat op inheemse handwerktuie, veral die skoffel, gebaseer was.

Met die ontdekking van goud en diamante gedurende die laaste kwart van die 19de eeu het Britse mynboubeleggers teen die kleinboerlandboubevordering-stelsel gedraai en geëis dat dit afgetakel word om swart mans van kleinboerdery vry te stel sodat hulle op die myne kon gaan werk. Die mynmagnate het ook die aftakeling van die twee Boererepublieke en die Zoeloe-koninkryk geëis. Die Britse regering het tot al hierdie eise toegestem. Dit het tot die Anglo-Zoeloe- en Anglo-Boereoorlog gelei, asook tot die oplê van baie vorme van belasting op swart mans in gebiede onder Britse beheer om hulle te dwing om kontant te verdien deur op die myne te werk.

Al hierdie maatreëls het gelei tot die skepping van die tweede Britse produksiestelsel, wat as die Minerale-Energie-Kompleks bekend staan – ‘n massiewe produksiestelsel wat tot vandag toe steeds voortduur. Dit word aangedryf deur swart trekarbeid; is gebou op die ruïnes van Suid-Afrika se ineengestorte kleinboerlandbou; en word nog steeds in beduidende mate befonds deur die Stad Londen, die Verenigde Koninkryk se internasionale finansiële distrik.

Die vierde en laaste produksiestelsel was die een wat deur Afrikaner-nasionaliste geskep is gedurende die 84 jaar, van 1910 tot 1994, waartydens hulle die staat beheer het.

Die Afrikaner-elite wat die Oranje-Vrystaat en die Transvaalse republiek beheer het, het gedurende etlike oorloë in die tweede helfte van die 19de eeu grond van die inheemse volke onteien. Hulle het egter nie ‘n moderne landboustelsel gebou nie – hulle was wesenlik veeboere. Die Afrikaner-nasionaliste het eers nadat die Britte die Suid-Afrikaanse staat in 1910 aan hulle oorhandig het, ‘n modern landboustelsel begin ontwikkel. Een van die eerste aksies van die regering van Louis Botha, wat self ‘n grondbesitter van Natal was, was die oprigting van die Landbank in 1910 om goedkoop krediet aan kommersiële boere te verskaf.

Hierdie stelsel het voortgegaan om goedkoop swart arbeid te mobiliseer en organiseer, asook om ‘n goedkoop, effektiewe en uitgebreide vervoer- en kommunikasie-infrastruktuur daar te stel om kommersiële boere te dien. In die proses is ander infrastruktuurverwante bedrywe ontwikkel, soos yster en staal, kunsmis, olie uit steenkool, en krygstuig. Laastens het die stelsel ‘n uitgebreide onderrigstelsel ontwikkel om boere, hulle kinders en hulle bestuurders in landbou- en veeartsenykundige wetenskappe en ander vaardighede in voedselbemarking, -verwerking en -berging op te lei.

Die dryfveer in al hierdie ontwikkelinge was die doelwit om kommersiële boere te verryk deur hulle in staat te stel om die groeiende nywerheids- en myndorpe wat in die 20ste eeu regoor Suid-Afrika aan die opskiet was, van kos te voorsien, veral mielies, asook landbougrondstowwe, en om na Britse en wêreldmarkte uit te voer, sodat Suid-Afrika die tegnologie kon aankoop wat hy benodig het om sy landbou- en ander bedrywe te laat groei.

In die vele ontledings van Suid-Afrika se kapitalistiese stelsel van 360 jaar was die fokus tereg op die lyding waaraan die swart bevolking onderwerp is in die proses van die opbou van die produksievermoëns van die kapitalistiese stelsel. Vandag ontvou daar egter ‘n nuwe storie, die storie van die aftakeling van Suid-Afrika se produksievermoë. Hierdie keer is dit in die naam van die vermensliking van Suid-Afrika se kapitalisme deur dit van ‘n produksiestelsel na ‘n verbruikstelsel te transformeer.

Soos wat Suid-Afrika van ‘n produksie- na ‘n verbruikerstelsel oorskakel, is daar alreeds tekens van nog meer lyding waaraan die massas van Suid-Afrika onderwerp gaan word deur die nuwe swart politieke elite wat die hoofbegunstigdes van die nuwe verbruikergedrewe model is. Baie tekens van voorbereidings vir die komende verdrukking blyk alreeds duidelik. Dit sluit in:

  • die hermilitarisering van die polisie
  • onderdrukking van die vryheid van die massamedia
  • manipulasie van geregtelike prosesse en personeel
  • weiering om ‘n kiesafdelinggebaseerde verkiesingstelsel in te stel wat parlementslede meer toerekenbaar teenoor die kiesers sou kon maak.

Oplossing

Suid-Afrika betree nou ‘n nuwe fase in die lang stryd om die demokrasie te ontwikkel en te konsolideer en om ‘n ekonomie te bou wat volhoubaar is en ook in die behoeftes van al sy mense voorsien in plaas van die selfsugtige belange van klein elites, soos die geval die afgelope 360 jaar was.

Die uitdaging waarvoor Suid-Afrika en Suidelike Afrika staan, is die voltooiing van die gedeeltelike industrialisasie van Suidelike Afrika wat in die laat 19de eeu deur die Britte begin is. Die nuwe industrialisasie kan egter nie dieselfde karakter hê as die een wat deur die Britte geïnisieer is nie. Daardie vroeëre industrialisasie was ontwerp om Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te ontgin en hulle as grondstowwe uit te voer om fabrieksbedrywe in Brittanje en ander ontwikkelde lande te voed.

Suid-Afrika se nuwe industrialisasie moet aangedryf word deur entrepreneurs wat stroomaf fabrieksbedrywe moet skep sodat meer werksgeleenthede geskep kan word om die massiewe poel werkloses in die land te absorbeer.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Dit was 'n baie interessante ontleding. Wat my egter verbaas is die beheptheid van die Suid-Afrikaanse ekonomiese denkwyse met industrialisasie as ekonomiese doelstelling, en veral as 'n beleid om werkloosheid te verminder (vanaf die linkerkant uiteraard). Die groot meerderheid Westerse ekonomie het by voorbeeld gedeindustrialiseer vanaf die tweede helfte van die twintigste eeu. In hierdie lande word arbeid deesdae hoofsaaklik aangewend in die tersiere of dienssektor. Suid-Afrika is aan dieselfde tendens onderworpe. Die herintegrasie tot internasionale handel na 1994 het die tendens bespoedig, omdat kunsmatige struikelblokke tot ekonomiese spesialiseering verwyder is. Die periode voor 1994 was eintlik abnormaal, maar steeds word dit as maatstaf beskou. Groei in die arbeidsmag tussen 1994 en nou (sowat 6 na 8 miljoen nuwe poste is geskep volgens statistiek van die SAIRV) is dan ook meerendeels in die diensektor. Ons ekonomiese heil word dus nie bedreig deur die tendens van n krimpende vervaardiging sektor nie, mits dit dan verplaas word deur 'n groeiende dienssektor (wat klaarblyklik wel die geval is). Deindustrialisasie is bloot n kenmerk van ekonomiese en tegnologiese ontwikkelling. 'n Beter beleid as geforseerde industrialisasie, na my mening, is om die arbeidsmag op te ly om met onvermybare ekonomiese verandering saam te leef (m.a.w. lei meer mense vir die dienssektor op).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top