Titel: I am Ella: a remarkable story of survival, from Auschwitz to Africa
Skrywer: Joanne Jowell
Uitgewer: Kwela
ISBN: 978-0-795-71068-1
- Hierdie resensie spruit voort uit ’n bespreking van die boek in ’n leeskring en die bywoning van die gesprek rondom dieselfde boek by die Toyota US Woordfees 2023. Leeskringe word dus uitgenooi om met spesiale aandag na hierdie resensie te kyk.
Ek is bevoorreg om al vir meer as ’n dekade deel te wees van ’n susterskap van boekbehepte dames in ’n boekklub. ’n Besonderse kleinood in elkeen van ons se lewens. Die gevoel onder ons Boekevatlede is gewoonlik dat jy óf baie gretig is om nog ’n Holocaust-boek te lees, of eerder maar verby hou. Die paar bekende Holocaust-boeke, soos Elie Wiesel se Night, Viktor Frankl se Man’s search for meaning, Anne Frank’s diary, en natuurlik die nimlike The choice van Edith Eger laat mens bewoë en ongemaklik oor die ontsaglike dieptes van menslike boosheid. Dit is swaar om ’n Holocaust-boek te lees. Maar ’n mens bly lees, want dit is daardie besondersheid wat daar in baie van die oorlewendes lê waarna mens soek. Dit is, snaaks genoeg, ’n ander tipe goedvoel-leeservaring: Hoekom oorleef sommige mense ’n Auschwitz en ander eenvoudig nie?
I am Ella het my dadelik geïnteresseer toe ek hoor dat dit die verhaal van ’n plaaslike Jodin, Ella Blumenthal, van Seepunt is. Sy het Auschwitz oorleef. Sy is 102 en het eers op ’n baie laat stadium in haar lewe openlik van haar merkwaardige oorlewingstorie begin vertel.
Ella is as die jongste van sewe kinders gebore in ’n hegte familie in Warskou, Pole. Sy was 19 toe hulle met die Duitse besetting van Pole verskuif is na die hel van die Warskou-ghetto. Daar het een vir een van haar familielede eenvoudig verdwyn of is weggevoer na konsentrasiekampe toe totdat slegs haar pa en haar oudste kleinniggie, Roma Rothstein, oorgebly het. Nadat Ella deel was van die onsuksesvolle opstand in die Warskou-ghetto, is hulle weggevoer na die Majdanek-konsentrasiekamp. Dit is hier waar Ella se storie jou totaal en al oorweldig, want sy en Roma spring die Doodsengel in die gaskamers vry – bloot weens ’n administratiewe kwotafout in die ordelike Duitse bestel.
Van daar af is hulle verskuif na Auschwitz en ons herbeleef alles saam met Ella soos haar storie verder ontvou. Besonders was die kameraderie wat daar tussen van die vrouens was en die blote luukse van onderklere. Ella en Roma was meer soos susters en die hegte band tussen hulle dra hulle telkens deur angswekkende situasies. Daar was een keer toe sy Roma moes laat afsien van selfdood teen die kamp se elektriese heining. Soos jy alles herbeleef deur Ella se vlymskerp geheue, word jy telkemale bewus van haar onwrikbare veggees. Jy besef dat dit die verhaal is van ’n besonderse vrou.
Ella en Roma het uiteindelik in Bergen-Belsen beland, waarna hulle in 1945 bevry is. Van daar af het ander uitdagings gewag. Ewe skielik is jy vry, maar jy het nêrens om heen te gaan nie. Jou familie is feitlik uitgewis. Jy het geen huis om na terug te keer nie. Met die hulp van Roma se pa in Tel Aviv het Ella vir ’n ruk in Parys gewoon, waarna sy in Palestina beland het. Hy kon vir Ella ’n visum kry onder ’n dooie niggie se naam! Tot vandag toe staan Ella se regte naam nie in haar paspoort nie.
’n Merkwaardige deel van die boek is hoe sy haar man, Isaac Blumenthal, een Oujaarsaand in Tel Aviv ontmoet het. Na ’n hofmakery van slegs dertien dae het hulle besluit om te trou. Isaac het familie in Suid-Afrika gehad en hulle het uiteindelik, van alle plekke, in Brakpan beland. Met hul aankoms hier en die politieke klimaat soos dit was, was dit haar natuurlike reaksie om nie te veel aandag op haarself te vestig nie. Met ’n aksent wat aandag trek en ’n sensitiwiteit teenoor onreg was dit die maklikste om eerder stil te wees. Haar storie het dus vir lank stil gebly.
Soos dit so dikwels met Joodse families is, het hulle vir jare ’n baie suksesvolle besigheid in Brakpan opgebou. Ella het ontwikkel in ’n formidabele besigheidsvrou. Sy was vasberade om ’n sukses van haar lewe te maak. Sy het Suid-Afrika ten volle aangegryp en aan haar familie en sterk verhoudings gebou.
By die onlangse Woordfees in Stellenbosch het ek en van my boekklublede as deel van die EasyEquities Writer’s Festival die “Book Club: To survive Auschwitz”-bespreking bygewoon. Die afwagting was groot om die merkwaardige Ella direk te kon beleef. Alhoewel sy op die ou end nie self die bespreking van haar biografie saam met Joanne Jowell kon bywoon nie, het ’n videogreep van haar gesprek met Martie Meiring glad nie teleurgestel nie. Ella se lewensgroot persoonlikheid het dadelik deurgekom. En die Ella wat van Warskou gekom het en in Brakpan haar lewe kom maak het, praat ’n bietjie Afrikaans! Sy noem haarself ’n boeremeisie en verklaar uitbundig hoe mal sy oor haar lewe in Brakpan was.
Joanne Jowell het vertel hoe sy Ella op 96 jaar ontmoet het en oor ’n aantal jare ’n besonderse pad met haar begin stap het. Hulle het gereelde afsprake gehad in haar woonstel in Seepunt en daar was altyd tee en koekies. Dan het Ella haar herinneringe in ’n persoonlike tipe gedenkteken begin uitstal en vertel. Haar versameling foto’s en kleinode was karig en ongeorganiseerd. Maar soos Joanne sê, hulle het tyd gehad en dit gebruik. Ella het veilig gevoel om die swaar en die mooi af te stof. Die boek se aanslag is heeltemal geskoei op die besonderse verhouding wat daar tussen die twee Jodinne ontwikkel het. Die manier waarop Joanne haar persoonlike gewaarwordinge en Jodinskap betrek, het ek aanvanklik as ietwat langdradig ervaar, maar mettertyd agtergekom dat dit eintlik werk. Jy as buitestander is besig om te sien hoe ’n vriendskap met baie gedeelde nuanses ontwikkel. Joanne is besig om Ella se persoonlikheid haarfyn voor jou uit te stal en jou vol empatie week te maak vir hierdie merkwaardige dame. Ella was nou betrokke by die bekendstelling van die boek op World Holocaust Memorial Day en ’n groot treffer op die Franschhoek Literary Festival hierdie jaar.
...........
’n Interessante aspek van Ella se storie is die “survivor’s guilt” waarna so baie oorlewendes verwys. Onder die skaduwee van skaamte en trauma verkies hulle om nie te veel uit te praat nie. Hulle fokus is om in te smelt in hul gemeenskap, te bou aan families en ’n nagedagtenis te laat.
.............
’n Interessante aspek van Ella se storie is die “survivor’s guilt” waarna so baie oorlewendes verwys. Onder die skaduwee van skaamte en trauma verkies hulle om nie te veel uit te praat nie. Hulle fokus is om in te smelt in hul gemeenskap, te bou aan families en ’n nagedagtenis te laat. In 1981 het oorlewendes by die World Gathering of Jewish Holocaust Survivors in Jerusalem ’n eed afgelê om hul stories te begin vertel. Ella se man, Isaac, wou veral nie haar storie hoor nie. Dit het mense ongemaklik gestem. Isaac se familie was nie heeltemal geneë daarmee dat hy met ’n meisie van die kampe trou nie en sy het in die beginjare in Suid-Afrika gevoel dat sy nie inpas nie – haar Engels was ook nie goed nie. Ella het eers in haar laat 70’s, toe sy reeds in Kaapstad gebly het, meer begin bekend maak. Dit was asof sy haarself toestemming gegee het om te begin praat na die afsterwe van Isaac. En met die opening van die Cape Town Holocaust Centre het sy op ’n meer openbare platform haar storie begin vertel.
Hierdie biografie skep ook ’n nuwe belangstelling in hoe die Holocaust die plaaslike Jode geraak het. Indien mens dit nog nie gedoen het nie, wil mens graag die Holocaust-sentrum in Kaapstad gaan besoek. My persoonlike ervaring van die Duitse kultuur in die laat 1990’s toe ek ’n aantal jare daar deurgebring het vir studiedoeleindes, was ’n interessante agtergrond vir die lees van hierdie boek. In die vriendskappe wat ek ontwikkel het met belese Duitsers was dit altyd fassinerend om te hoor hoe hulle self nie kon verstaan dat ’n hele volk destyds so begogel kon word deur die absolute haat en boosheid teenoor die Jode in die Tweede Wêreldoorlog nie. In die kringe waarin ek beweeg het, was daar ietwat van ’n verleentheidwekkende sensitiwiteit as die onderwerp hom sou voordoen. Ek het moeite gedoen om een van die Duitse konsentrasiekampe, Dachau, te gaan besoek. Die somber en grys atmosfeer van daardie koue dag in Desember sal my altyd bybly.
..........
Ella se storie het my veral laat dink aan hoe iemand ’n plek soos Auschwitz sou oorleef. Wat het haar anders gemaak?
............
Ella se storie het my veral laat dink aan hoe iemand ’n plek soos Auschwitz sou oorleef. Wat het haar anders gemaak? In die kamp moes jy eenvoudig leer om vernuwend te wees – om te sorg dat jy werk kry wat binnenshuis is in die snerpende koue; dat jy kontakte het wat in die sorteerkamers werk en items kon steel waarmee jy gunste kon koop. Haar veerkragtigheid, ysere wil en veral die kameraderie met Roma was seker die grootste dryfveer tot haar oorlewing. Sy was beslis nie gedryf deur haat nie.
Van Ella se direkte familie van 23 het net sy, Roma en Roma se vader oorleef. Daar is een geleentheid in die boek waar Ella ’n besonder emosionele gewaarwording gehad het. Dit was tydens ’n familiebyeenkoms waar sy ewe skielik besef het dat daar presies weer 23 kosbare mense rondom haar tafel sit. Ella se besonderse en unieke band met haar vier kinders, en veral met haar dogter, Evelyn, word baie sterk beklemtoon in hierdie biografie. Joanne Jowell het moeite gedoen om ook onderhoude met haar dogter en geliefde kleindogter slim in te werk. Ella is so geliefd onder haar familielede en word nog steeds in familiesake betrek. Sy het wel graag oor haar pynlike verlede met haar kinders gedeel.
Wat met Ella Blumenthal gebeur het in die Tweede Wêreldoorlog, is net ’n deel van haar interessante lewe. Sy benadruk dit in haar vertellings dat wat eintlik buitengewoon is, is nie dat sy die Nazi’s oorleef het nie, maar dat sy dit kon reg kry om ten spyte van haar verlede en die geweldige trauma wat seker altyd iewers in haar lyf sal bly sit, kon kies om ’n mooi, normale en sinvolle lewe te lei. As hupse ouma swem sy nog steeds elke dag ’n paar lengtes.
Die boek is vol humoristiese en interessante staaltjies wat Ella se ondeundheid en vlytige persoonlikheid beklemtoon. Dit is of geen situasie ooit te veel was vir haar nie. Daar was ’n brutale wilskrag om ’n sukses te maak. ’n Respek vir haar verlede. Haar waardering vir die lewe. Hierdie vrou het ’n kans gehad om te besluit wat haar nagedagtenis moet wees. Sy kon sien en waardeer dat die wêreld haar en haar storie erken.
Om die doel van hierdie boek op te som sou wees om te kon voel dat jy iemand van hierdie besonderse karakter kon ontmoet. Om te kan voel jy ken haar. Joanne Jowell sê tereg dat hulle baie gehuil en gelag het deur die hele proses. Dis of mens saam met Ella verskriklike herinneringe kon verduur, want bo alles het sy oorleef en gedy!
Joanne Jowell is die skrywer van ’n paar topverkopers en het hierdie uitdagende biografie uitstekend aanmekaar gesit.
Wat ’n inspirerende lewe, Ella.
Kommentaar
Die gebruik van ‘besonderse’ in plaas van ‘besondere’ is werklik steurend!
Baie dankie vir die mooi vertel van die formidabele Vrou! Ek gaan definitief die boek lees! Daar moet 'n film van haar gemaak word. Ons vroue se innerlike krag en die vrou se wonderlike liefdevolle hart is stories wat ons wêreld nodig het! Baie dankie. Alet Fick, Swellendam
Dankie Heidi die ‘n baie besonderse resensie. Ek is juis nou besig om die boek te lees en geniet dit so baie.
Dis so lekker om jou in ons boekklub te hê. Jy bring soveel diepte.