Lees nuwe gedigte van Breyten Breytenbach, Joan Hambidge en Dominique Botha

  • 1

Breyten Breytenbach, Joan Hambidge en Dominique Botha het op Sondag 1 Maart van hulle jongste ongepubliseerde gedigte by die Breytenbachsentrum se Bôrdienghuis Teater in Wellington voorgelees. Hambidge se nuwe digbundel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels, en Botha se debuutbundel, die mooiweer en warm koninkryk, verskyn later in 2020. Die verhoogverwerking van Botha se veelbekroonde debuutroman, Valsrivier, wat in 2013 verskyn het en in 2014 met die Eugène Marais-prys bekroon is, is by vanjaar se Toyota US Woordfees in die Adam Small Ouditorium te sien. Lees hier een van elk van die drie digters se nuwe gedigte wat elkeen self vir LitNet-lesers gekies het.

Breyten Breytenbach se dubbelvers

Breyten Breytenbach (foto: Naomi Bruwer)

  1. (die voëlverskrikker)

 jy vra of daar ’n lyn is
soos ’n kwyldraad deur die digterslewe ?
dalk tog
of soveel so
dat ek nie weet of dit  geheue aan self
sou wees                                           (en sing)
of die tou wat so bewe                  
waaraan wat ek is

my opgehys het om in die hemel te kom

vir die gaan-verstaan van die maan se dinge

                                                            en nou bly hang

om mummiedroog te word
en te draai
te draai in die donker wind
se binnensmondse woordverslinding
of is daar ’n verskil in die murmeling ?

2.1 

Grootbek, jy beter ’n plan maak.
Wanneer daai hekke van die aardse bestaan
agter jou toeklap
gaan daar nie vir beide jou
én jou ek
lêplek wees in die enkelsel
                        van die dood nie –
al lewe julle nou ook hoé lekka lekka lepel

Om die waarheid te sê
is die dood al vol bespreek
en dis onwaarskynlik dat wie dan ook
                        sal kanselleer
so asof daar nog iets te sê sou wees
vir aanhou lewe

Een van julle is een te veel

’n Oplossing is beslis
terwyl jy tog nog by jou sinne is
met die paplepel in die mond
om jou ek hier buite
                        waar die donker vryheid waai
nek-om te draai
                        en op te vreet

D.w.s., indien jy lank genoeg
                        sou kon aanhou skrywe
om die lewe van die lyf te hou –
dat jy dit huidjie en muidjie verslind
                        en verteer sal hê
teen die tyd
dat daar ’n plan met jou
gemaak moet word

vir die gelyklyk wegsê nêrens toe  

© Breyten Breytenbach

Joan Hambidge se gedig

Joan Hambidge (foto: Antonia Steyn)

Aflegging

Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag
daar waar jy nou vertoef in ’n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaarend.
’n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar, het jy klavier gespeel
in jou huis met ’n tuin vol blomme en struike.
Later al reisende het ek uit vreemde ruimtes
 jou opgebel en uit ’n koue New Haven ’n gedig
gepos,’n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dít wat van jou jeug ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van 'n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in ’n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos ’n mens ’n e-pos delete, ’n brief opskeur ...
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep.

© Joan Hambidge

Dominique Botha se gedig

Dominique Botha (foto: verskaf)

hemelwaarts                                                   

vermaer staar die man
uit sy toring van verlange
haar name is stede op ’n kaart
wat hy opgeteken maar verloor het
die voëls wat om sy minaret maal
is so vergete al blind en stom

deur klowe van afskeid en terugkeer kom sy
in ’n jas van woorde gepapier
na die gedig en die waarheid
se maskerdans

en sy vreugde was soos wilde dogters in die veld
wanneer hul hul dansweerkaatsings soen

sal ons vir lief neem met die ure
in mekaar verweef
soos die baba Moses
in sy mandjie van palmiet
verstrik in die graslied
van die bruin rivier
wat weer soos daardie eerste keer soel
na die herwonne wêreld spoel
luister kamiljoentjie
die water is saam met ons bly

nagte word ’n vleuelende vlag
wat ligter as ’n windswael dein
gewieg op die hoogwater
van haar tong wyndonker
bestrooi in verkoolde sterre
om die weg na die korf oop te rook

uit ’n rib van sy lies
het hy ’n fluit gekerf
sodat sy haar hart mag doop
in die heuning wat uit sy lied sypel
hulle saamword is ’n sloot van verlange
omswagtel in ’n windsel van gesange
as bly-by-my deur die beendere genoot

om die trapsoetjies te laat dans
op die minaret se maat
in die grag van stilte waar vlerke dryf

© Dominique Botha

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top