Baie streef na opvoeding. Baie vermoed die boek hou wonders in. Dit kan wel ‘n reddingsboei wees, ‘n boek, maar dis ook ‘n statusding, en die ding van status is: iemand moet vir jou sê iets is goed of dit is nie.
Ek lees nou weer aan Thornton Wilder se The bridge of San Luis Rey. ‘n Priester wil in die 1700’s in Peru bewys dat daar ‘n doel met ons lewens is: “Either we live by accident and die by accident, or we live by plan and die by plan.” Die boek is vroeër as een van die beste romans van die 20ste eeu beskou. Dis vandag nog bekend.
Ek self dink dat dit steeds belangrik is. Ander stem nie saam nie, soos Martin Amis wat in sy roman The information van Wilder sê hy was “incautiously canonised”.
My probleem is nie met Amis wat die opmerking by monde van sy vermoeide skrywerkarakter Richard Tull kwytraak nie. The information is deurspek met literêre kommentaar. Swaarmoedigheid, minagting, kritiek, listigheid, poetse – alles word deur Tull aan die bas gevoel in sy pogings om hom as ernstige skrywer te laat geld terwyl sy populêre en suksesvolle eweknie Gwyn Barry hom troef. Geen wonder hy teken beswaar teen sy voorgangers se sukses aan nie.
Ek het dit oor die oordeel wat daardie twee Engelse woorde onderspan en oor hoe maklik dit kom. Waarom beteken die boek nie heelwat vir sommige ander nie?
Miskien is die Wilder-werk eenvoudig deesdae verouderd. Miskien is die verskil dat Amis nie godsdienstige temas so ernstig soos ek opneem nie. Of miskien moet ‘n mens praat van smaakverskil eerder as die verskil tussen wat Amis as status beskou en dit wat Wilder verdien. Miskien is daar nie ‘n sosiale hiërargie waarvan die boonste punt die hele struktuur beskryf, bepaal en na waarde ag nie. Ons kan tog nie almal dieselfde oor die lewe voel nie.
Ek is egter liggeraak genoeg om te dink: spreek iemand hierdie oordeel, word ek uitgesluit van iets wat my na aan die hart lê, my gerus laat voel dat ek die wêreld verstaan. Bedreig daardie gerustheid en ‘n mens voel in verset. En ek is bedag op die filosofie van verstotenes wat in sy kern só lui: “Waarom sal ek iets ondersteun wat my uitsluit?”
Dis die soort verontwaardiging wat die afbreek van kampusse en die verbranding van boeke voorafgaan.
Is daardie uitsluiting een van die redes vir anti-intellektualisme? Ons hoor van kampusgeboue in vlamme. “Ek is nie deel daarvan nie, so kom ek vernietig dit”? Anti-intellektualisme is ‘n sterk beweging. Die Amerikaanse skrywer Isaac Asimov het gepraat van die verkeerde idee wat mense oor die demokrasie van intellektualiteit het: “My onkunde is so goed is as jou kennis.” Tereg het hy dit as ‘n onding beskou.
Waarom voel soveel mense wantrouig oor die dinge van die kultuur en verstand? Anthony Burgess vertel in sy outobiografie dat hy as intellektueel-ingestelde kind met ‘n groot belangstelling in musiek swaargekry het in ‘n laerklasomgewing. Amis het hierop gesê dat, gegewe Burgess se selfvoldaanheid oor sy prestasies in so ‘n omgewing, ‘n mens wonder waarom hy nie méér geslaan is nie.
Is ‘n geneentheid tot die dinge van die verstand dan so klasafhanklik dat ons nie daarvan kan wegkom tot ons van die klassekonsep self wegkom nie? Wat ons vandag in ons tersiêre stelsel sien, is mense wat uit hulle omstandighede wil beur, aan die hand van studeer en lees en eksamenskryf. Dat ‘n groot persentasie van hulle faal, put nie net hulpbronne uit nie, maar dra ook verder by tot die kultuur van ontnugtering en woede. Weer is die vraag: “Waarom sal ek iets ondersteun wat my uitsluit?” So ‘n mislukking onderstreep ‘n andersheid waaraan baie mense onderhewig voel en wat hulle nie kan beveg nie, veral wanneer hulle onverrigtersake na hulle gemeenskappe terugkeer en hoor dat “julle ten spyte van julle edele pogings toe maar net so sleg soos ons is”.
Die indruk van daardie uitsluiting, van daardie gevaarlike wrokkigheid wat tot die verbrand van boeke en geboue en moontlik later mense lei, wyk voor ‘n leerproses wat na verwagting verloop. Dan voel mense bemagtig. Dis nog beter as hulle kan voel hulle bemagtig hulleself deur met kennis aan opvoedingsprosesse te kan deelneem.
Dit moet nie teengestaan word nie. Daar is nog te veel “ons en hulle”. Trots moet gesluk word. ‘n Mate van heul met die “oningeligte massas” is aangewese. Dit kan direk gedoen word, soos waar dosente reeds met studente omgaan, studente op hulle beurt na gemeenskappe uitreik, of indirek, soos waar ingesteldhede onder vermoënde en toonaangewende figure verander sodat hulle sonder bedagtheid op hulle status ‘n hand na daardie massas kan uitreik.
Om my by letterkunde te hou: dit help nie ons sug fynbesnaard in literêre geselskap: “Durf ‘n mens vandag van Homerus of Goethe praat?” terwyl dit heeltemal binne ons vermoëns is om sodanige verwysings en invloede kwistig indien dan ongemerk in verhale in te bring nie, om sodoende tog nog die “intellektuele evangelie” te verkondig wat vir baie van ons belangrik is. En dit sonder daardie krapperige selfopgeplakte etiket van eksklusiwiteit wat maak dat mense boeke by bladsy 11 toeklap.
In die breër letterkunde lê skrywers van genrefiksie reeds verantwoordelikheid aan die dag. Hulle vorm ‘n brug tussen die hogere geestesgoed en die algemene verbruiker van kultuurprodukte. In ‘n huldeblyk aan die liefdesverhaalskrywer Ena Murray is gesê dat sy temas soos armoede by lesers tuisbring wat nooit naby ‘n literêre werk kom nie en sodoende ‘n beduidende rol in hulle sosiale opvoeding gespeel het. Dis egter wanneer die boeke met meer as aksie gelaai word dat die leser na ontploffinkies van betekenis kan uitsien. Dis nie net vuishoue, pistoolskote en ‘n gevry wat volgens die voorskrifte van die skryfskole en -handleidings hoef uitgestel te word nie. Opvoeding vind juis plaas in die uitstel van begeerte na insig en wonder.
Geletterdheid, geleerdheid, ontneem mense van ‘n rede om hulle te verset. ‘n Mens redeneer nie meer dat jy uitgesluit word nie, maar dat jy ingesluit is.
‘n Mens sien dan wyer. Jy kyk vriendeliker. En daar is ‘n doel aan die lewe.
Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.