Leer spel met woordeboeke

  • 0

Michele van der Merwe het onlangs die volgende LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel oor die integrasie van tegnologie in die Afrikaans Huistaalklaskamer geskryf.

Die integrasie van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer van skole in die Wes-Kaap: ’n gevallestudie

Hier skryf Michele 'n ander artikel vir LitNet, wat steeds met taalonderrig te doen het. Mens sê maklik dat hedendaagse kinders nie kan spel nie. Is daar 'n oplossing?

Hierdie artikel handel oor taalonderrig wat geïntegreer is met die gebruik van woordeboeke as hulpmiddels. ’n Afrikaans Huistaal-taalonderrigles vir graad 6-leerders oor taalstrukture, met deeltekens as tema, word voorsien. ’n Beskrywing van onderriggebeure en gepaste leerderaktiwiteite word ingesluit. Die onderriggebeure verskaf ’n gedetailleerde beskrywing van hoe die les aangebied kan word en hoe die onderwyser as fasiliteerder van die leerproses kan optree. Die leerderaktiwiteite beklemtoon die belangrikheid en effektiwiteit van woordeboekintegrasie.

Doelwitte:

  • Leerders moet vaardighede ontwikkel wat hul in staat sal stel om inligting in ’n woordeboek te bekom. Woordeboeke word ook gebruik om leerders se taalvaardighede te ontwikkel.
  • Leerders se verworwe kennis oor spelling en spelpatrone word getoets: leerders moet die korrekte spelling van woorde identifiseer en spelreëls toepas.

Tema: Deeltekens

Taalstrukture en konvensies: Spelling en spelpatrone

Integrasie van ander taalvaardighede:

Lees en kyk: Leerders gaan noukeurige naslaanwerk in die woordeboek moet doen om die betrokke vrae se antwoorde te vind, dus word hul lees- en soekvaardighede ook ontwikkel.

Beskrywing van onderriggebeure:

Begin die les deur die interaktiewe aktiwiteit/speletjie met leerders te doen. Dit word in groepsverband gedoen (die aantal leerders in ’n groep sal afhang van die totale aantal leerders in die klas). Die aktiwiteit/speletjie is gebaseer op die beginsels van ’n bordspeletjie. Die onderwyser verdeel die leerders in groepe en verduidelik hoe die inleidende aktiwiteit/speletjie gaan werk. Die onderwyser lei die taakgebaseerde aktiwiteit/speletjie deur die vrae hardop te lees. Die groep wat eerste die vraag se antwoorde het, beweeg aan na die volgende blokkie. Die leerders gebruik die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek as hulpmiddel om die aktiwiteit te voltooi. Die onderwyser gebruik dus die kommunikatiewe benadering, want die gepaste taalspeletjie bied ryk blootstelling aan die teikentaal.

Die onderwyser verduidelik ses reëls rakende die gebruik van deeltekens, naamlik:

  • Die deelteken dui in sommige gevalle die begin van ’n nuwe lettergreep aan.
  • Die deelteken word nie gebruik by woorde wat op -ieel, -ieer of -ieet eindig nie.
  • Die deelteken word gebruik by verboë of afgeleide vorme van woorde wat op -ieel, -ieer of -ieet
  • Die deelteken word gebruik wanneer ’n opeenvolging van vokaalletters voorkom.
  • Die verbinding ae kry in eg Afrikaanse woorde geen deelteken nie, hetsy dit as een of twee lettergrepe uitgespreek word.
  • Meervoudsvorme van woorde wat in die enkelvoud op ee, i (wat nie deel van ’n diftong is nie), ie of oe eindig en meervoudsvorme met -e kry, word met onderskeidelik , , ieë en oeë

Die onderwyser verduidelik hierdie reëls deur die verskillende reëls rakende deeltekens op die bord te plak om visueelgesentreerde leerders te akkommodeer. Die onderwyser verduidelik en brei hierdie reëls uit deur verskeie woorde met deeltekens in sinsverband uit te beeld. Die onderwyser verskaf dus ’n voorbeeldsin wat by elke reël pas. Byvoorbeeld, die onderwyser plak die volgende reël op die bord: Deeltekens dui in sommige gevalle ’n nuwe lettergreep aan. Die onderwyser verduidelik dan hierdie reël en beeld dit uit deur die woord moeë in sinsverband te gebruik. Die sin kan wees: “Die moeë leerders gaan lekker slaap na ’n lang dag by die skool.” Soos die onderwyser die onderskeie reëls verduidelik, word daar vrae aan leerders gerig en hul word aangemoedig om insette te lewer en sodoende die les meer interaktief te maak.

Nadat die onderwyser die verskeie reëls verduidelik en uitgebeeld het, kry due leerders ’n geskrewe aktiwiteit. Die onderwyser verduidelik hoe die aktiwiteit voltooi moet word. Die onderwyser lê klem op die gebruik van die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek voordat medeleerders of die onderwyser raadgepleeg word. Die onderwyser stel ’n tydslimiet vir die voltooiing van die geskrewe aktiwiteit om leerders te motiveer om fluks te werk. Nadat die leerders die aktiwiteit voltooi het, word die aktiwiteit deur middel van ’n interaktiewe klasbespreking gemerk: Die onderwyser werk deur die gegewe aktiwiteit se vrae en moedig leerders aan om insette te lewer en hul antwoorde met die klas te deel.

Na afloop van die les lei die onderwyser ’n samevattende bespreking waar die verskillende reëls hersien word. Die onderwyser gee verskillende sinne wat woorde met deeltekens bevat en die leerders moet dan die betrokke reël identifiseer en noem. Die aktiwiteite in die les en die gebruik van die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek brei leerders se woordeskat uit en stel hulle in staat om suksesvol in ’n sosiale konteks te kommunikeer.

Taakgebaseerde aktiwiteit: Addendum A

Die inleidende aktiwiteit is gebaseer op die beginsels van ’n bordspeletjie. Om te kan deelneem aan hierdie interaktiewe aktiwiteit, moet leerders kennis rakende deeltekens besit. Hierdie aktiwiteit/speletjie het ten doel om leerders se voorkennis rakende die deelteken te toets. Dit word in groepsverband voltooi. Daar word ’n kleur aan elke groep toegeken om die groepe te onderskei. ’n Bordspeletjietemplaat word op die bord geplak en elke individuele blokkie bevat ’n spesifieke vraag oor deeltekens. Elke groep se kleuraanwyser word op die “begin”-blokkie geplak. Die onderwyser lei die taakgebaseerde aktiwiteit/speletjie deur die vrae hardop te lees. Die groep wat eerste die vraag se antwoord het, beweeg aan na die volgende blokkie. Die leerders gebruik die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek as hulpmiddel om die aktiwiteit te voltooi.

Elke leerder ontvang ’n geskrewe aktiwiteit sowel as die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek ter voltooiing van die aktiwiteit. Die leerders voltooi die aktiwiteit deur hul verworwe kennis rakende deeltekens toe te pas. Indien leerders sukkel, mag hulle hul medeleerders nader vir hulp, maar leerders moet steeds die woordeboek as die hoofbron gebruik. Leerders kry ongeveer 10–15 minute om die aktiwiteit te voltooi. Na leerders die aktiwiteit voltooi het, word die aktiwiteit gemerk deur middel van ’n interaktiewe klasbespreking.

           

Geskrewe aktiwiteit:

Beantwoord die volgende vrae oor deeltekens met behulp van die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek. Indien nodig, raadpleeg die onderwyser of medeleerders vir hulp.

1. Vul die deeltekens op die korrekte plekke in:

    1. Die seun kyk verlee weg terwyl die juffrou met hom praat.
    2. Die bree brug het inmekaargesak.


2. Kies die korrekte spelling:
Die vrou plak ’n seel/ seël/ sëel op die brief.

3. Die woord moeë word met ’n deelteken geskryf, want dit dui die begin van ’n nuwe lettergreep aan. Skryf die volgende woorde oor en plaas deeltekens waar nodig:

    1. geeet
    2. dieet
    3. gelee
    4. dae

4. Gee die betekenis van die woord higiëne.

5. Gee korrekte vorm van die woord in hakies:

Die kameelperd vreet blare van die (hoog) boom.

6. Bestudeer die volgende sinne. Daar is twee woorde met inkorrekte deeltekens. Skryf hierdie woord korrek neer.

a. Die seun het sy knïee nerfaf geval toe hy twee drieë tydens ’n rugbywedstryd gedruk het.

b. Sy voel verleë oor al die skoolreëls wat sy oortreë het.

7. Maak ’n sin met die meervoud van die woord oorlog.

8. Gebruik die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek en vind ander woorde met deeltekens op. (Verskaf minstens drie woorde.)

Addendum B – Memorandum

Huistaalaktiwiteit:

Interaktiewe aktiwiteit:

Moontlike antwoorde:

  1. Dui ’n nuwe lettergreep aan.
    • Eg Afrikaanse woorde met ae kry geen deelteken, tensy dit as een of as twee lettergrepe uitgespreek word.
    • Die deelteken word nie gebruik by woorde wat op -ieel,-ieer of -ieet eindig nie.
    • Die deelteken word gebruik op die afgeleide vorme van woorde wat op
      -ieel, -ieer of -ieet
    • Die deelteken word gebruik in verbindings waar ’n opeenvolging van vokaalletters verkeerd gelees kan word.
    • Die meervoudsvorme van woorde wat in die enkelvoud op ee, i (wat nie deel van ’n diftong is nie), ie of oe eindig en meervoudsvorme met -e kry, word met onderskeidelik , , ieë en oeë
    • Die deelteken word nie gebruik wanneer ’n a of ’n o voorafgegaan word deur ’n e wat tot ’n ander lettergreep behoort nie.
    • Indien ’n deelteken in ’n woord voorkom en daardie woord word aan die einde van ’n reël afgebreek direk voor die letter waarop die deelteken voorkom, is die deelteken aan die begin van die volgende reël opsioneel.
    • Ná ’n vokaalletter met ’n diakritiese teken aan die einde van ’n lettergreep kry die vokaalletter aan die begin van die volgende lettergreep geen deelteken nie.

2. feëland

3. voël

4. Die opgetoë vrou kyk lank in die spieël.

5. reën

6. Die deelteken word nie gebruik by woorde wat op -ieel, -ieer of -ieet eindig nie. Die deelteken word wel gebruik by verboë of afgeleide vorme van woorde wat op -ieel, -ieer of -ieet eindig.

 7. hael

Geskrewe aktiwiteit:

1 a. Die seun kyk verleë weg terwyl die juffrou met hom praat.

   b. Die breë brug het inmekaargesak.

2. Die vrou plak ’n seël op die brief.

3 a. geëet

   b. dieet

4. geleë

5. dae

6. Die gewoonte om jouself en die omgewing skoon te hou om siektes te voorkom.

7. Die kameelperd vreet blare van die hoë bome

6 a. knieë

    b. oortree

7. Enige gepaste antwoord met die korrekte spelling van oorloë.

8. Enige gepaste antwoorde.

Bronne geraadpleeg:

Departement van Basiese Onderwys. 2011. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring, graad 4–6: Afrikaans Eerste Addisionele Taal. Pretoria: Staatsdrukker.

Department of Basic Education. 2011. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring, graad 4–6: Afrikaans Huistaal. Pretoria: Staatsdrukker.

Ferreira, R. & M. Van den Heever. 2012. Almal verstaan Afrikaans Huistaal: Graad 6 Leerderboek. Johannesburg: Macmillan.

Luther, J. (red.). 2009. HAT Afrikaanse skoolwoordeboek. Pinelands: Pearson.

Lees ook:

Die gebruik van gedigte in die onderrig van Afrikaans as addisionele taal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top