Die Universiteit Stellenbosch (US) het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van prof André P Brink, veelbekroonde skrywer en akademikus, wat Vrydagaand (6 Februarie 2015) oorlede is.
“Hy het wêreldwyd groot ontsag afgedwing, en ons was bevoorreg dat hy dikwels sy kennis en insigte met ons studente, personeellede en die algemene publiek kom deel het,” het prof Leopoldt van Huyssteen, waarnemende rektor en visekanselier, gesê.
“Ons innige simpatie aan sy naasbestaandes en geliefdes.”
Brink het in Mei 2001 die US se agtste DJ Opperman-gedenklesing gelewer. Hy was die samesteller van verskillende uitgawes van Groot Verseboek nadat Opperman oorlede is. Lees hier die lesing op LitNet.
Hy was ook ’n ou bekende by die US Woordfees, waar sy naam dikwels op die program was – hetsy as deelnemer of die outeur van werke onder bespreking en op die planke. Klik hier vir ’n video-onderhoud met Brink.
Daar word beplan om op spesiale wyse hulde aan Brink te bring by vanjaar se US Woordfees. Dit sluit in ’n eerbetoon ten afloop van die skrywersfees in die Boektent – om 16:30 op Saterdag, 14 Maart 2015.
“Hy het ’n ongelooflike energie in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde losgelaat. Sy veelkantigheid het hom uniek gemaak. Hy het mense aan die lees en aan die dink gekry,” het Saartjie Botha, Direkteur van die US Woordfees, gesê.
Prof Louise Viljoen, Voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US, het gesê Brink het ’n geweldige groot bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde gelewer.
“Hy was ’n reuse figuur, en sy heengaan is ’n groot verlies. Nie net was hy een van die Sestigers wat ’n sterk vernuwing in die Afrikaanse letterkunde te weeg gebring het nie, maar hy was veral bekend as betrokke skrywer, iemand wat altyd in sy literêre en akademiese werk die politieke en sosiale vraagstukke van die dag verreken het.
“Hy het hom verset teen apartheid en sosiale ongeregtigheid – en dit het voortgeduur ná Suid-Afrika se politieke oorgang sedert 1994.
“Hy was een van die eerste Afrikaanse skrywers wie se werk verbied is in die apartheidsjare. Sy roman Kennis van die aand is in 1974 verbied omdat dit ’n liefdesverhouding oor die kleurgrens uitgebeeld het en baie krities oor apartheid was.
“Hierna het hy wêreldwyd bekend geword, soos blyk uit die feit dat werke van hom, soos Gerugte van reën (1978) en ’n Droë wit seisoen (1979) en in tot 30 tale vertaal is.
“Sy bydrae strek egter verder as die letterkunde. Hy het ook besondere akademiese werk gelewer – teoretiese bydraes waarby studente steeds baat vind. Hy het onder meer sekere standaardwerke geskryf oor die drama en vertelkunde, en die werk wat hy as kritikus gelewer het, maak vandag nog impak. Studente bestudeer steeds resensies wat hy in die jare 80 en 90 geskryf het.
“Hy het dikwels by die US gepraat. Hy was ’n gulhartige en vrygewige skrywer en akademikus wat nooit suinig met sy kennis was nie. Inteendeel, hy het dit mildelik met studente en kollegas gedeel,” het Viljoen gesê.

André P Brink by die US Woordfees 2014. Hier in gesprek met Abrahams Phillips en Abraham H de Vries. (Foto: Naomi Bruwer)

