Leë lanings

  • 1

Leë lanings

By die dood van ’n vriend

Foto: Canva

Die wete van die geskende mond
lê leesbaar in die mooiste oë
en verloopte liefdes hang die stiltes
van die mooiste liedere vol.

Op reis in ’n afgeleë landskap sien ons
twee rye bome, ’n laning sonder begin of einde.
Waar is die hek aan die punt van die pad?
Waar is die huis waarheen dit moes lei?
Wie het die lote gesny, elke boom se plek afgemeet?
Op wie word gewag wat nie ooit weer gaan kom nie?
Watter drome se grafte staan hier gemerk deur die bome,
die dubbelry bome wat waghou oor lewens wat was?

Daar was brûe, vreemd en hoog,
oortogte van duiseling en angs
– selfs sonder dat daar ooit riviere was;
hellings om uit te beur, belas
met die gewig van slegs gebeente en vel
– selfs sonder dat daar ooit berge was;
deur afgrond en witwater geboei, hoor ons
hoe die storm smeul, hoe die winde loei.

Sal ek tabelle maak van wat my beklem,
van wat ek uit teëspoed en hartseer kan erf?
Oes ek die droë saad in die herfs,
die korrels waarin lewe oorwinter,
hou my arms later ’n gerf milddadige
blomme vas. Sou ek daarmee die strate
en pleine bestorm, sou ek sonlig en groei
ongeag uitdeel as ek vrees dit is tevergeefs?

Nogtans, steeds moet daar getreur word,
moet ons in die misterie van rou leer leef
– in die kuns van die onvoltooide –
sodat die rou die liefde waardig word.
Al brand, met of sonder trane, elke vuur
uiteindelik uit, al raak wat troebel is
uiteindelik ligter, soos in lanings die mis
al yler uit die gedeë grond opstyg,

die wete van die geskende mond
lê leesbaar in die mooiste oë
en verloopte liefdes hang die stiltes
van die mooiste liedere vol.

 

                                                15 Junie 2021

  • 1

Kommentaar

  • Diepgaande. Hierdie skrywe roep beelde op veel wyer as geassosieer met die heengaan van 'n vriend. Onder andere roep dit by my indrukke op wat ek as vyfjarige ervaar het betreffende leë lanings. Ek haal my nooit behaalde hoed af hiervoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top