
“Laterwater” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Laterwater
Dit is ’n Donderdagoggend. Die horlosie teen die kombuismuur wys dis net voor vyf. Dit is bitterlik koud hier in die Bokkeveld, beslis die naam gestand van Koue Bokkeveld. Ek staan by die ketel en wag vir die water om te borrel, my beker reeds gereed. Op die vlak voor die plaaswerf is dit nog diepgrou met ’n stadige breek van die donker na die ooste. Ek drink koffie en voel hoe dit in my lyf afvloei, heerlike warmte. My werk hier op ons plasie is afgehandel; nou terugkeer stad toe, na my regte werk toe, soos die kinders altyd spot.
Na my koffiebeker uitgespoel is, sluit ek die deur, maak die hek agter my toe en luister na die knars van die bakkie se bande op die R354, terwyl wasem opstaan uit die spoelvoor langs die draad. Dit is net die bande en my gedagtes wat die koue trotseer. Dit het beslis iewers hier naby gesneeu. Met die grondpad langs op pad hoofweg toe sit ek en kyk hoe die ligte van die bakkie en die miswolkies wat opstyg, mekaar uitdaag teen die pad. Gevriesde dou skitter in die lamplig waar dit soos diamante hang aan die doringdraad teenaan die pad. Dit was bitter koud in die nag en steeds skemer om my. Die ligte breek ’n nou pad oop deur die onsienbare. Ek ry nie te vinnig nie.
So in die newels voor my deins ’n vae bloekomboom op, en digby ’n sinkdak wat ’n klein riethuisie toevou en windpomp wat duideliker word soos ek nader ry. Hierdie opstal, vyf plase weg van ons wegbreekwerf, het ek al baie bekyk, in beide rigtings. Plaas toe en dan weer terug. Meestal in die helder son. Ek het nog altyd gewonder hoe baie spore op die werf lê. Hoeveel jare se stories is vasgevang in die bloekom se blare. Wie was en is hier? Ek wonder nog of daar mense woon, toe skielik uit die misnewels teen die pad staan hy daar.
Ek skrik my heeltemal uit my mymering en rem in ’n stofwolk langs hom. Hierdie aksie wat ek nooit doen nie, wat ek gereeld herhaal aan almal “moenie stop nie”, veral met die huidige onveiligheid rondom ons. Maar ek het klaar gestop. Net verby die ou man wat doodstil staan. Met die oopmaak van die bakkie se passasiersdeur bars ’n golf yskoud teen my warm gesig. Dit is so koud my oë traan. Ek kyk na hom, ’n ou man, grys slape, wolmussie, langbroek, trui en ou kerkbaadjie opverweer. Ou afgeleefde stewels, definitief aangegee. Kierie en ’n lapsakkie in die hand.
“Môre, my oom, waarheen is jy op pad, klim in, maak toe die deur.” Alles in een sin. Hy klim in die bakkie met ’n swarigheid, dalk van die koue. Hy kyk na my en sy oë, ja, sy oë is sonder lig, moeg. Hy maak die deur versigtig toe. “Dankie, meneer. Ek moet vandag by die grootdorp kom, meneer, dankie dat jy gestop het.” Ons trek weer weg, die veld om ons word al hoe ligter.
Na die eerste groet, ry ons rigting Matjiesfontein, hy en ek beide sonder woorde. Net voor die T-aansluiting trek ek die bakkie teen die skouer. Die oggend breek oranje-rooi teen die rantjies. Van lank gelede reeds stop ons hier vir bene rek voordat ons die teerpad terug stad toe neem. Hy klim ook uit en staan rugkant teen die bakkie, uit die wind. Hy lyk klein en ineengetrek, dalk die koue. Ek vou my bosbaadjie se kraag op teen my nek. Vat op die agterste sitplek die mandjie met my fles raak en gooi vir ons elkeen ’n beker koffie. “Oom, jy gaan dit moet drink soos ek daarvan hou.” Hy glimlag effens. Hy vat bakhand die beker tot teen sy lippe. Asof dit die Nagmaalbeker is, amper statig, heilig. Dan drink hy stadig, soos ek, die warmte in. Sonder woorde staan ons teen mekaar, die dag is hier. Die windjie sny deur ons, koud en skraal, dalk het Eugène Marais ook hier gestop een vroeë oggend, koud gekry en “Winternag” neergepen. Met die laaste sluk gee hy sy beker aan. “Dankie, meneer.” Ek sit dit terug in die bakkie. “Laat ons ry” is al wat ek kan dink om te sê.
Op die N1 draai ons regs, rigting Worcester, daar is baie min verkeer. Asof die koue almal terughou. Met die lig effens beter, sien ek in sy hande hou hy styf vas aan die verslete lapsakkie, dalk ’n bankboekie of iets dergeliks, sy belangrike dokumente. Hy het nie sy plaaswerkklere aan nie; hierdie is dorp-toe-gaan-klere. Ek vra nie vrae nie, kyk net uit oor die pad wat ver voor my in die pas af verdwyn. Die oom sit doodstil en kyk net voor hom uit. Soos wat die witstrepe onder deur die bakkie skiet, kyk hy skuins na my. Hy oordink om iets te sê, ek kan dit aanvoel, maar hy is onseker. Ek wag in stilte, as hy wil praat sal dit so wees. Hy skuifel rond op die sitplek. Ek ry steeds geduldig, net die bande wat sing. Dit is asof hy dit vir homself uitgemaak het dat ek sal luister as hy vertel.
En dan begin hy saggies, stadig sy laaste spore uitlê, vroetelend aan die baadjiepant en die lapsakkie. Hier sit ’n vreemde man en deel van sy diepste seer. Terwyl hy saggies praat trek ’n enkel traan ’n nat spoortjie af oor sy wang en verdwyn in sy grys stoppelbaard. Hy moet so gou hy kan in die grootdorp kom. “Meneer het mos gesien van die storms?” vra hy, maar wag nie vir ’n antwoord nie. “Ja, eers was daar die baie reën twee dae tevore en die Modimo het hom vir sy menskinners vererg”, terwyl hy uitkyk oor die veld. Hy kyk na my. “En later in die nanag tot een die pad, spierwit en dik, het die eerste groot laterwater van die jaar geval. Dit lê diep in die veld.” Laterwater eggo die besonderse woord in my. Ja, besef ek, dit is as gevolg van die laterwater wat dit so snerpend is.
Dan vertel hy saggies verder van sy jongste seun wat hul eie beeste oppas in die berg, agter die opstal. Die seun van veertien wat vir die vakansie tuis is. Ja, en omdat die seun van kleintyd af in die grootdorp se skool is, bly hy by familie daar. Dalk het hy al die tekens van die veld, die weer, die wind vergeet. Hy dink dit is wat gebeur het. “Boetie het dalk die weer misken”, terwyl hy wegkyk. Ek sien hoe swaar hy sluk, hierdie kan op geen manier maklik wees nie. Vir my is dit net so erg, want wat sê ek dan nou? Ek is self dan ’n pa. “Dit was nie goed nie,” sê hy vir homself eerder as vir my, en dan byna onhoorbaar, “hy het die beeste die vorige dag in die kloof opgeneem soos hy altyd maak, en dan slaap hy onder sy karos daar waar die krans bak maak. Die veld was nat en dit was bewolk maar ons het nie gedink dit sal so vinnig kouer raak nie. Ons het nog vroegdag eergister by die kraal gestaan soos die beeste wei-wei kloof inloop. Hy het nog vir my gewaai by die eerste draai van die klofie, by die gebrande bloekom. Maar, meneer, die laterwater was te vinnig op hom en op ons. Nou sal hy nooit weer huis toe kom nie. Nou moet ek in die grootdorp hierdie sleg gaan registreer dat ons hom kan groet,” sê hy terwyl sy skouers saggies ruk. “My jongste kind is nou weg.” Hy vat sy baadjiepant en vee oor sy oë. “My vrou, ons … ons dra dit swaar.”
Ek sit doodstil en kyk net in die pad, ’n swart spoor wat al hoe kleiner word ver vooruit tot in die niet. Ek kan nie na hom kyk nie. Dit lyk of hy nog ouer geword het vandat hy sy storie begin vertel het. Die man se kind is dood, verkluim in die eerste wintersneeu, die laterwater waarvan hy praat. Hy snik steeds sag; ek sluk aan die knop in my keel. Druk sy skouer en hou my hand daar om sonder woorde te sê, ek is by jou. “Dankie” is al wat hy fluister. Hoe ooit help heel ek die ouman se hart.
Ons ry die grootdorp in, ek ken Worcester en weet hy moet by Binnelandse Sake wees. Sonder dat hy vra ry ek af in Adderleystraat. Ons is nog vroeg; daar staan min mense. Ek stop reg voor die bruin gebou. Hy maak die deur stadig oop, vat sy kierie en sy lapsakkie en begin uitklim. Ek vra: “My oom, hoe gaan jy terug huis toe hierna?” Hy kyk ver deur die ruit sonder om te sien. “Ek sal maar weer by die grootpad gaan wag, dalk is daar nog iemand soos meneer,” kom die antwoord. “Ai, my oom, ek sal net hier vir jou wag, dan vat ek jou huis toe as alles klaar is”, met ’n stem wat byna breek. Hy kyk na my, lank, oë vol trane. Woorde is onnodig. Hy klim uit en stap krom by die deur in. Dis net na halfagt.
Ek bel huis toe. My vrou antwoord, ek kan hoor sy skarrel in die kombuis, op pad werk toe, kinders skool toe, alles ineen. “Hi lief, ek gaan laat wees vandag. Nee, als is reg. Ek help net iemand wat dit nou regtig nodig het. Ja, ek sal vanaand tuis wees. Sal alles dan verduidelik. Dit was die laterwater.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

