Lara se pienk mandjie (weergawe 2)

  • 0

“Wat is in daai pienk mandjie wat sy dra?” vra Josua.

“Seker ’n bom om die skool op te blaas,” sê Marié laggend. Josua sug en kyk net weg.

Josua en sy twee vriendinne, Hanna en Marié, is op pad na die biologieklas van die Hoërskool Luiperdsrant. Sedert graad 8 is hulle maats.

“Ek sal nie verbaas wees nie; sy haat alles en almal!” sê Marié ernstig.

“Ek weet nie wat ons aan haar gedoen het nie. Ons het rêrig ons bes probeer om haar te betrek,” kla Hanna.

“Ek sal haar self gaan vra wat dit is,” sê Josua. Hy stap vinniger om haar in te haal.

 

“Haai Lara!” Sy kyk om.

“Wat het jy saamgebring vandag?”

“Jy sal in die klas sien. Ek het dit vir mnr Brandt gebring.” Sy kom strak voor.

Lara stap snellend verder en ruk die mandjie weg sodat Josua dit nie kan sien nie. Hy hoor ’n skielike krapgeluid binne-in die mandjie soos wat sy wegstap. Die geluid herinner hom aan ’n hond wat sy leë kosbak uitgrawe. Hanna en Marié kom nader.

“Dit moet ’n dier wees, want ek het iets gehoor wat beweeg daar binne.”

“Flippen ongeskik! Sy groet jou nie eers terug nie. Hoe de hel was julle best friends in die laerskool?” vra Marié.

“Dinge was net anders toe ons klein was. Ons het mekaar ontgroei.”

“Josh, om mekaar te ontgroei is een ding, maar om iemand net te begin ignoreer en jouself so te isoleer ... iets moet fout wees. Sy het géén vriende nie.”

“Ek weet, Hanna ... ons het al baie hieroor gepraat. Komaan, ons gaan laat wees vir biologie.”

 

Biologie, oftewel lewenswetenskappe, is Josua se gunstelingvak. Elke periode by mnr Brandt is die hoogtepunt van sy dag, die enigste periode waarna hy werklik uitsien. Hier leer hy van die wonders van die natuurwêreld en heel dikwels verskynsels waarvan hy nog nooit gehoor het nie. Mnr Brandt is ’n passievolle onderwyser met ’n besonder belese agtergrond in die biologiese wetenskappe. Hy maak die vak interessant en Josua en ander kinders in sy klas hang elke periode behoorlik aan sy lippe. Josua is baie dankbaar dat mnr Brandt sy biologie-onderwyser is; hy sien homself as ’n natuurkenner en kan vele plant- en dierspesies uitken. Mnr Brandt verbreed sy kennis nog meer. Behalwe dat hy ’n bron van kennis is, het hy selfs al baie keer uitgereik na Josua wanneer dit met hom sleg gegaan het.

 

“Dankie tog dis nou biologie. As ek nog ’n minuut verder na juf Spies se gekerm moes luister, sou ek mal raak!”

“Ag Josua, juf Spies is nie so erg nie. Jy kan net nie wag elke dag om biologie toe te gaan nie,” sê Hanna terwyl hulle verby die laning koorsbome langs die saal stap.

“Ja!” voeg Marié by, “Jy het ’n obsessie met mnr Brandt – ’n mens sal sweer jy het ’n crush op hom!”

Alhoewel hulle net grap, is Josua al keelvol vir die herhalende getergery van sy vriendinne oor sy liefde vir biologie en sy bewondering vir mnr Brandt. Met dit kom ongemak, en ‘n hele rits emosies waaroor hy nie wil praat nie.

“Moenie laf wees nie. Hierdie grappies elke dag raak nou regtig boringGet a life man.”

Marié en Hanna lag terwyl hulle weer vir Lara en haar pienk plastiekmandjie kyk op die punt van die gang waar die biologieklas is.

 

“Dalk het sy haar grondmonster vroeër saamgebring – wanneer het Meneer nou weer gesê moet ons dit hier hê?” vra Hanna.

“Eers Maandag volgende week,” antwoord Josua. “Ek weet nie of die grond in ons tuin enige mikroörganismes gaan hê nie. Die grond is so vaal soos nog iets.”

“Of dalk het psycho girl ’n regtige monster gebring!” skerts Marié.

“Sjuut!” snou Josua haar toe.

“Ja, sy is nie ons gunstelingmens nie, maar hou tog net op om al hierdie simpel comments oor haar te maak.” Marié rol net haar oë.

Die geluid wat Josua gehoor het uit die mandjie, hinder sy gedagtes. Wat kan dit wees?

 

Josua sien dat Lara met mnr Brandt praat toe hulle by die klaskamer instap. Hy is die enigste onderwyser met wie sy enigsins praat, en soms lyk dit tóg vir Josua of sy die biologieklasse geniet. Daar is nog steeds iets wat hy en sy gewese kindervriendin gemeen het, dink hy.

Mnr Brandt frons en lyk stomgeslaan terwyl Lara vir hom die inhoud van die mandjie wys.

“Ek sê julle nog steeds! Dis seker ’n regte monster wat sy gebring het!” fluister Marié tergend.

“Shut up!” brom Josua.

Al die graad 10-lewenswetenskappe-leerders skuif agter hulle stoele in mnr Brandt se klas in. Sy klaskamer is ’n laboratoriumklaskamer op die eerste verdieping met min lig, weens die reusagtige wildevy voor die vensters. Daar is talle ou plakkate en illustrasies wat bekende bioloë soos Darwin en Pasteur uitbeeld, asook foto’s van natuurtonele uit verskeie omgewings regoor die aardbol. Die klas lyk oud, maar skep ‘n atmosfeer van ontdekking en avontuur en gee die gevoel van ’n studeerkamer van ’n natuurkundige uit die 19de eeu. Agter in ’n vertoonkas is daar ook talle organe en misgeboortes van vee wat al vir jare in bottels met formalien onderdompel is.

“Goeiemôre graad tiens!”

“Goeiemôre Meneer.”

“Sit asseblief en haal dadelik julle skrifte en handboeke uit.”

Mnr Brandt vryf sy hand oor sy mond en loer vinnig weer in die mandjie na die onbekende voorwerp wat Lara voor op sy tafel gelos het. Hy maak die PowerPoint-aanbieding op sy skootrekenaar solank oop vir die les wat volg. Josua hou hom dop.

“Lara het vandag iets ... interessants vir ons saamgebring.”

Lara lyk ietwat ongemaklik as gevolg van die skielike aandag en oë op haar.

“Soos sekere van Lara se vriende reeds weet, was haar ouers in Suid-Amerika. Meer spesifiek, Peru.”

Almal kyk vragend rondom hulle om die beweerde vriende te sien wat hy van praat.

“Haar ma versamel eksotiese plante, en wil graag hierdie een vir ons wys wat sy daar gekry het.”

Josua onthou hoe tannie Anna-Marie, Lara se ma, behep was met plante. Sy was die plaaslike kwekery se top klant en hulle moes altyd vreeslik moeite doen om sekere plantvariëteite vir haar in die hande te kry. Lara het egter nooit haar ma se belangstelling gedeel nie. Inteendeel, sy het dit verpes.

Mnr Brandt lig die potplant uit die mandjie en dit gons in die klas. In sy hand hou hy die rooiste blomplant wat Josua al ooit gesien het. Die blare het ’n eienaardige stekelrige voorkoms en besit twee bloedrooi blomme, so groot soos hande. Elke blom het vier ronde kroonblare. Koeëlrond, met glinsterende rande. Die plant het geen groen dele nie; selfs die blare is donkerrooi. Waar het die geluid vandaan gekom? wonder Josua. Hy was tot nou toe oortuig dat dit ‘n dier in die mandjie moes wees.

“Ek is ’n biologie-onderwyser ... en ’n tuinier,” voeg mnr Brandt by, “en ek het nog nooit so ’n plant gesien nie. Die blare ... sjoe, dit lyk ... dit lyk nie eers eg nie. Lara sê haar ma het nie die spesienaam genoem nie; ek gaan dit so gou as moontlik opsoek in my boeke wanneer ek ’n kans kry.” Hy sit die plant op die hoek van die tafel neer en gaan voort met die les.

“Mmm ... lyk my nie dis net jý wat ’n crush het op hom het nie,” fluister Marié. Hanna giggel saam, maar Josua hoor haar nie. Hy is uit die veld geslaan deur die pragplant. Hy roem graag op sy vermoë om plante te identifiseer, maar hierdie een is vir hom ’n raaisel. ’n Ander gedagte bly egter vassteek: Wat was die geluid? Het hy hom verbeel? Dit knaag aan hom. Hy kyk na Lara, wat skuins voor hom sit. Emosieloos. Ernstig. Boos. Hy het haar nog nooit so gesien nie.

 

Mnr Brandt het intussen sy les oor plantorgane begin. Die meeste kinders maak notas, terwyl ’n groepie agter in die klas vir mekaar fluister. Josua kyk nog steeds na Lara, wie se liggaamshouding en gesigsuitdrukking nog onveranderd is. Iets voel verkeerd. ’n Angstige gevoel klop in sy keel.

Meteens spring Lara op en hardloop by die klaskamer uit. Haar stoel tuimel om en die hele klas skrik van die onverwagse slag wat deur die ou vertrek weergalm. Mnr Brandt hardloop agterna. Jandré du Toit spring agterna om mnr Brandt te volg. Die deur klap in sy gesig toe. Hy kry dit nie oop nie.

“Wat de donder het nou gebeur?!” roep Marié.

Al die kinders is verbaas oor die voorval en die klas skarrel en raas soos wat almal meer probeer uitvind. Jandré kry nog steeds nie die deur oop nie.

“Ek het nog heeltyd gesien sy lyk weird. Iets het baie af gelyk.”

“Het sy al ooit so iets gedoen, Josh?” vra Hanna.

“Nee, ek het haar nog nooit so gesien nie.”

“Meneer moes ons toegesluit het of iets!” skree iemand wat saam met Jandré aan die deur ruk.

“Hanna, Marié, my gut sê vir my iets groots is fout.”

‘n Menigte kinders probeer nou om die deur oop te maak. Hulle kan nie sien wat buite aangaan nie, aangesien daar geen vensters aan daardie kant van die klaskamer is nie. Die enigste vensters is dié aan die wildevy se kant.

“Wat gaan aan?!” skree ’n kind.

Josua se oog vang ’n beweging op mnr Brandt se tafel, waar Lara se rooi plant nog staan.

“Julle, kyk daar!” skree Josua.

Die plant op die tafel het in ’n kwessie van sekondes ten minste ’n meter gegroei en hou aan groei. Dit begin ’n menslike gedaante aanneem. Nog nooit het Josua iets so afskuwelik gesien nie. Die kinders gil en hardloop histeries na die agterkant van die klas. Die deur kan nie oop nie.

“Wat is dit?!” roep Hanna en Marié gelyk.

“’n Alien!” skree ’n ander meisie.

Die gedrog snork varkagtige geluide wat die kinders nóg meer ontstel en voer toe ‘n onverwagse aksie uit wat die konsternasie vererger. Elke steel van die plant het langer geword, soos slange, of ledemate op ’n mens. Elkeen gryp ’n kind ’n kind en draai reg rondom die kind se lyf draai. In ’n oogwink is die kind geheel en al weg. Jandré het eerste verdwyn. Toe Michelle, toe Karabo.

“Wat gaan ons doen?!” skree Marié.

“Kom ons breek die vensters oop met die stoele,” stel Josua outomaties voor.

Kinders spring op die tafels. Sommige kruip onder die tafels in. Skryfbehoeftes en stoele val rond. Die gille is oorverdowend. Dit laat Josua se ore suis. Formalien spat rond soos wat die bottels agter in die klas op die grond val. Nog kinders verdwyn.

Terwyl Josua, Hanna en Marié elkeen ’n laboratoriumstoel gryp, hardloop die meeste kinders nog verwilderd rond in die klas om die tak-arms van die plant te ontwyk. Die glasstukke skiet deur die lug soos wat hulle die klasvensters te pletter slaan. Hulle al drie spring uit. Die slag op Josua se voete is pynlik. Om vanaf die eerste verdieping te spring is nie iets wat enige van hulle al gedoen het nie. Hanna het haar arm seergemaak, dalk gebreek. Die seer is egter gou vergete toe hulle weer herinner word aan die klanke en geluide uit die biologieklas. Hulle hardloop so vinnig as wat hulle kan na die kantoorgebou. Rondom hulle kom kinders en onderwysers uit die klasse gestap. “Wat is fout?” roep die onderwysers, heeltemal onbewus van die bonatuurlike situasie wat in mnr Brandt se klas afspeel. Terwyl hulle hardloop, kom mnr Brandt uit die kantoor gestap en lyk verbaas om hulle na die kantoor toe te sien hardloop.

“Hoekom hardloop julle hiernatoe?”

“Meneer!” roep al drie uit met min asem na die gehardloop.

“Die plant! Dis ... nie ’n plant nie,” mompel Josua vinnig.

“Hy gryp die kinders!” voeg Marié by.

“Wat gaan met julle aan?! Ek dog dit is net Lara wat die pad byster geraak het vandag.”

“Meneer, asseblief, laat weet die skoolhoof. Mnr Hanekom moet die skool laat ontruim!” pleit Hanna.

“Eers sê Lara dat ’n spul ruimtewesens haar gedwing het om kinders vir hulle te ontvoer, en nou ’n plant wat kinders gryp?”

Die drie kinders kyk verdwaas na mekaar.

“Wat op aarde gaan aan?” roep mnr Brandt uit. Die verbouereerdheid op sy gesig is opvallend.

“Bly net hier!” skree hy vir die kinders en hardloop vervaard in die rigting van die klaskamer.

 

Josua sit tjoepstil op die sitkamerbank terwyl die nuus op die Afrikaanse kanaal die hooftrekke wys: “Vyf-en-twintig leerders van Hoërskool Luiperdsrant, in Luiperdsrant, Noordwes, raak vermis in ’n raaiselagtige gebeurtenis.”

Josua sit verstar, terwyl sy ma oor die foon met familie praat. Hy is vreesbevange. Hoe gaan hy ooit slaap vanaand? Wat gaan met sy gunstelingonderwyser gebeur? Lara is weg. Van die plant is daar geen teken nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top