
Hierdie verhaal blink uit met daardie hoogs ongewone element van ’n bo- of onderaardse plantmonster. Dis suiwer Stephen King, en ek dink veral aan sy kortverhaal “The raft”. In die verhaal swem vier skoolmaats na ’n houtvlot en een van hulle word verorber deur ’n geheimsinnige skepsel. En dis maar die begin. Dwarsdeur die verhaal word woorde en sinspelings gebruik om die bedreiging van die situasie weer te gee. Die skepsel word verder op ’n ambivalente wyse uitgebeeld: soms angswekkend, soms verleidelik met sprankelende kleure.
Dié soort ambivalensie kan goed werk: Wessels se plantmonster kan by tye betower, dan weer beangs, en uiteindelik slaan daardie einste monster toe.
Goed, King is ’n meester van die bonatuurlike en hy skryf al sedert 1974. Nogtans, as ’n skrywer ’n bo- of onderaardse verhaal aandurf, is dit die moeite werd om te gaan kyk hoe ’n meesterskrywer onheil en bedreiging by sy verhaal betrek.
Wessels het dialoog tot die verhaal toegevoeg en op my voorstel iets gemaak van “esteties”. Die verhaal lees goed en bly interessant, tot Joshua wat verstar sit en luister hoe sy ma oor die foon met familie praat.
Die onnodige gebruik van bywoorde en byvoeglike naamwoorde hinder my egter, byvoorbeeld: “sê Marié laggend”, “Lara stap snellend” (?), “mompel Joshua vinnig”, “passievolle onderwyser” – die leser weet reeds die onderwyser is passievol.
Soos ek telkens vir die ander skrywers aanbeveel: Stiplees jou werk sin vir sin en sny alles weg wat weinig of niks tot die verloop van die verhaal bydra nie.
Ek het “blink uit” hier bo gebruik, maar dis nie die regte woord nie, en daar lê my probleem met Wessels se verhaal. Ek sou graag wou hê dat hy alles wat mooi en blink is, aan die begin donker en dreigend maak, sodat die leser teen die einde begin ril en na hulle popcorn gryp.
Joshua is “vreesbevange” – maar hóé is hy vreesbevange? Kou hy sy naels tot in die lewe? Moet hy elke vyf minute toilet toe draf? Wat sien hy op die toiletwater drywe?
Daar is soveel moontlikhede met hierdie knap uitgedinkte gegewens, maar hulle word net nie heeltemal gerealiseer soos dit sou kon nie.
Dink weer, dink ondertoe waar duisternis heers, sny weg, skok en verras. Dis waarna ek uitsien.
Lees ook:
LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

