Lara se pienk mandjie, verslag twee deur Anzil Kulsen

  • 0

Die aanwending van dialoog aan die begin van die verhaal werk vir seker beter as die eerste weergawe, sodat die leser ’n beter idee kry van die karakters. So werk dit ook beter dat Joshua self met Lara ’n gesprek probeer aanknoop; hier word die idee gevestig dat hulle wel in die verlede vriende was, al is dit nie nou meer die geval nie.

Om te skryf 11–52:

Moenie emosies toedig nie, moenie bloot skryf iemand is bekommerd, opgewonde of teleurgesteld nie.

Gebruik mense se liggaamshouding of gedrag om stemming te skep: Pa wat saans op die stoep staan en rook, Ma wat met die hande op die heupe na die wolke kyk

Die leser kan egter steeds aan Lara se handeling aandag gee en eerder aan die leser wys hoe sy optree as om te vertel dat sy strak voorkom. Die skrywer kan hierdie beginsel ook by die ander karakters toepas.

Dit sou ook meer sin maak as daar ’n aanvaarbare rede aangevoer word hoekom hierdie vriendskap verbrokkel het. Dalk sou Lara deur haar ouers se navorsing al in die verlede vir Joshua blootgestel het aan gevaarlike plante? In so ’n geval sal dit dan meer sin maak dat Joshua later ongemaklik of angstig voel oor die inhoud van Lara se mandjie.

Die volgorde waarin gebeure plaasvind nadat Joshua met Lara probeer gesels het, maak nie heeltemal sin nie; die skrywer kan gerus ook dink oor sekere woordkeuses, soos snellend en vragend.

Lara stap dan snellend van Joshua af weg, sodat hy nie verder na die inhoud van haar mandjie kan kyk nie, maar daarna hoor hy ’n krapgeluid uit die mandjie. Dit sou dalk meer geloofwaardig wees en ook sy agterdog teenoor Lara se optrede verskerp as hulle die geluid hoor terwyl hy met haar praat, dus nader aan haar en die mandjie is.

Die plant behou tydens die les sy vorm en verander in gestalte eers nadat meneer Brandt en Lara uitstorm.

Hoekom het Lara opgespring en uitgestorm? Hoekom is meneer Brandt agterna? Voor hierdie optrede is daar niks wat dit motiveer nie.

Joshua voel aan dat iets verkeerd is, maar ook hierdie aanvoeling is nie gemotiveerd nie. Daar gebeur niks wat die leser oortuig van Joshua se kommer nie; ons sien ook nie ’n aanloop in gebeure in meneer Brandt se gedrag of toe hy oor die plant en Lara se ouers praat nie.

Dialoog wat geen bydrae tot die storie lewer nie, soos die verwysing na Joshua se “crush” op meneer Brandt, kan beter aangewend word deur op die kern van die storie te fokus.

Waar is Lara as Joshua-hulle vir meneer Brandt gaan vertel van die kinders wat verdwyn? Is meneer Brandt ook gegryp nadat hy terug is klas toe?

Hoe het Lara verdwyn nadat sy by die klas uitgestorm het en dus nie deur die plant gesluk is nie? En hoekom het die ander leerders nie ook probeer spring nie?

Baie sterkte met die herskryfproses.

Lees ook:

LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top