
“Wat is in daai pienk mandjie wat sy dra?” vra Josua.
“Seker ’n bom om die skool op te blaas,” sê Marié laggend. Josua sug en kyk net weg.
Josua en sy twee vriendinne, Hanna en Marié, is op pad na die biologieklas van die Hoërskool Luiperdsrant op ’n donker en koel, bewolkte dag. Hulle probeer styf teen mekaar loop om nie te koud te kry nie. Sedert graad 8 is hulle maats.
“Ek sal nie verbaas wees nie; sy haat alles en almal!” sê Marié.
“Ek weet nie wat ons aan haar gedoen het nie. Ons het rêrig ons bes probeer om haar te betrek,” kla Hanna.
“Ek sal haar self gaan vra wat dit is,” sê Josua. Hy stap vinniger om haar in te haal. Vir ’n oomblik raak hy duiselig en sy bene voel lig. Hy maak sy oë styf toe en herwin sy balans.
“Haai Lara!” Sy staan stil.
“Wat het jy saamgebring vandag?”
“Jy sal in die klas sien. Ek het dit vir mnr Brandt gebring.” Sy antwoord sonder om na hom te kyk en met ’n abnormale diep stemtoon. Josua deins ’n tree terug; haar reaksie is vir hom vreemd. Hy hoor ’n beweging in die mandjie en kyk af. Sy stap verder en ruk die mandjie weg sodat hy dit nie kan sien nie. Soos wat sy wegstap, hoor hy nog steeds ’n vreemde krapgeluid. Die geluid herinner hom aan ’n hond wat sy leë kosbak uitgrawe.
Hanna en Marié kom nader.
“Dit moet ’n dier wees, want ek het iets gehoor wat beweeg daar binne.”
“Flippen ongeskik! Sy groet jou nie eers terug nie. Hoe de hel was julle best friends in die laerskool?” vra Marié.
“Dinge was net anders toe ons klein was. Ons het mekaar ontgroei.”
“Josh, om mekaar te ontgroei is een ding, maar om iemand net te begin ignoreer en jouself so te isoleer ... Iets moet fout wees. Sy het géén vriende nie.”
“Ek weet, Hanna ... ons het al baie hieroor gepraat. Komaan, ons gaan laat wees vir biologie.” Hy kyk vooruit hoe Lara kort, vinnige treë stap. Sy loop draaie om die kinders. Iets is nie reg nie. Dit is nie sy ou vriendin met wie hy nou gepraat het nie.
Biologie, oftewel lewenswetenskappe, is Josua se gunstelingvak. Elke periode by mnr Brandt is die hoogtepunt van sy dag, die enigste periode waarna hy werklik uitsien. Hier leer hy van die wonders van die natuur en heel dikwels verskynsels waarvan hy nog nooit gehoor het nie. Mnr Brandt is ’n onderwyser met ’n wye agtergrond in die biologiese wetenskappe. Hy is baie belese, maak die vak interessant, en Josua en ander kinders in sy klas hang elke periode behoorlik aan sy lippe. Josua is baie dankbaar dat mnr Brandt sy biologie-onderwyser is. Hy wil homself graag eendag as ’n natuurkenner sien wat vele plant- en dierspesies kan uitken, en mnr Brandt help hom om nog meer te weet. Behalwe dat hy ’n bron van kennis is, het hy selfs al baie keer uitgereik na Josua wanneer dit met hom sleg gegaan het. Hy is sy rolmodel.
“Dankie tog dis nou biologie. As ek nog ’n minuut verder na juffrou Spies se gekerm moes luister, sou ek mal raak!”
“Ag Josua, juffrou Spies is nie so erg nie. Jy kan net nie wag elke dag om biologie toe te gaan nie,” sê Hanna terwyl hulle verby die laning koorsbome langs die saal stap.
“Ja!” voeg Marié by, “Jy het ’n obsessie met mnr Brandt – ’n mens sal sweer jy het ’n crush op hom!”
Alhoewel hulle net grap, is Josua al keelvol vir die herhalende getergery van sy vriendinne oor sy liefde vir biologie en sy bewondering vir mnr Brandt.
“Moenie laf wees nie. Hierdie grappies elke dag raak nou regtig boring. Get a life, julle.”
Marié en Hanna lag terwyl hulle weer vir Lara en haar pienk plastiekmandjie kyk aan die punt van die gang waar die biologieklas is.
“Dalk het sy haar grondmonster vroeër saamgebring. Wanneer het meneer nou weer gesê moet ons dit hier hê?” vra Hanna.
“Eers Maandag volgende week,” antwoord Josua. “Ek weet nie of die grond in ons tuin enige mikroörganismes gaan hê nie. Die grond is so vaal soos nog iets.”
“Of dalk het psycho girl ’n regtige monster gebring!” skerts Marié.
“Sjuut!” snou Josua haar toe.
“Ja, sy is nie ons gunstelingmens nie, maar hou tog net op om al hierdie simpel comments oor haar te maak.” Marié rol net haar oë.
Josua kan nie ophou dink oor die vreemde geluid in Lara se mandjie nie. Wat kan dit wees? Hoekom het Lara se stem so onaards geklink? Hy verstaan ook nie hoekom hy flou voel sedert hy met haar gepraat het nie.
Josua sien dat Lara met mnr Brandt praat toe hulle by die klaskamer instap. Hy is die enigste onderwyser met wie sy enigsins praat, en soms lyk dit vir Josua of sy die biologieklasse geniet. Daar is tog nog steeds iets wat hy en sy gewese kindervriendin gemeen het, dink hy.
Mnr Brandt frons en lyk stomgeslaan terwyl Lara vir hom die inhoud van die mandjie wys.
“Ek sê julle nog steeds! Dis seker ’n regte monster wat sy gebring het!” fluister Marié tergend.
“Shut up!” brom Josua.
Al die graad 10-lewenswetenskappe-leerders skuif agter hulle stoele in. Mnr Brandt se klaskamer is ’n laboratoriumklaskamer op die eerste verdieping, met min lig, weens die reusagtige wildevy voor die vensters. Daar is talle ou plakkate en illustrasies wat bekende bioloë soos Darwin en Pasteur uitbeeld, asook foto’s van natuurtonele uit verskeie omgewings regoor die aardbol. Die klas lyk oud, maar skep ’n atmosfeer van ontdekking en avontuur en gee die gevoel van ’n studeerkamer van ’n natuurkundige uit die 19de eeu. Agter in ’n vertoonkas is daar ook talle organe en misgeboortes van vee en troeteldiere wat al vir jare in bottels met formalien en alkohol ondergedompel is.
“Goeiemôre graad tiens!”
“Goeiemôre Meneer.”
“Sit asseblief en haal dadelik julle skrifte en handboeke uit.” Weens die weer buite is die klas nóg donkerder. Hy skakel die ligte aan.
Mnr Brandt vryf sy hand oor sy mond en loer vinnig weer in die mandjie na die onbekende voorwerp wat Lara voor op sy tafel gelos het. Hy maak die PowerPoint-aanbieding op sy skootrekenaar solank oop vir die les wat volg. Josua hou hom dop.
“Lara het vandag iets ... interessants vir ons saamgebring.”
Lara kyk net vorentoe en lyk ongeërg ten spyte van die skielike aandag en oë op haar.
“Soos sekere van Lara se vriende reeds weet, was haar ouers in Suid-Amerika. Meer spesifiek, Peru.”
Almal kyk vragend rondom hulle om die beweerde vriende te sien van wie hy praat.
“Haar ma versamel eksotiese plante, en wil graag hierdie een vir ons wys wat sy daar gekry het.”
Josua onthou hoe tannie Anna-Marie, Lara se ma, behep was met plante. Sy was die plaaslike kwekery se top klant en hulle moes altyd vreeslik moeite doen om sekere plantvariëteite vir haar in die hande te kry. Lara het egter nooit haar ma se belangstelling gedeel nie. Inteendeel, sy het dit verpes.
Mnr Brandt lig die plant uit die mandjie en dit gons in die klas. In sy hand hou hy die rooiste blomplant wat Josua al ooit gesien het. Die blare het ’n eienaardige stekelrige voorkoms en die plant besit twee bloedrooi blomme, so groot soos hande. Elke blom het vier ronde kroonblare. Koeëlrond, met glinsterende rande. Die plant het geen groen dele nie; selfs die blare is donkerrooi. Waar het die geluid vandaan gekom? wonder Josua. Hy was tot nou toe oortuig dat dit ’n dier in die mandjie moes wees.
“Ek is ’n biologie-onderwyser ... en ’n tuinier,” sê mnr Brandt, “en ek het nog nooit so ’n plant gesien nie. Die blare ... sjoe, dit lyk ... dit lyk nie eers eg nie. Lara sê haar ma het nie die spesienaam genoem nie; ek gaan dit so gou as moontlik opsoek in my boeke wanneer ek ’n kans kry.” Hy sit die plant op die hoek van die tafel neer en gaan voort met die les.
“Mmm ... lyk my nie dis net jý wat ’n crush het op hom nie,” fluister Marié. Hanna giggel saam, maar Josua hoor haar nie. Hy is uit die veld geslaan deur die pragplant. Hy roem graag op sy vermoë om plante te identifiseer, maar hierdie een is vir hom ’n raaisel. ’n Ander gedagte bly egter vassteek: Wat was die geluid? Het hy hom verbeel? Dit knaag aan hom. Hy kyk na Lara, wat skuins voor hom sit. Emosieloos. Skielik ernstig. Boos. Hy het haar nog nooit so gesien nie. Hy vertrou haar nie.
Mnr Brandt het intussen sy les oor plantorgane begin. Die meeste kinders maak notas, terwyl ’n groepie agter in die klas vir mekaar fluister. Josua kyk nog steeds na Lara, wie se liggaamshouding en gesigsuitdrukking nog onveranderd is. Iets voel verkeerd. ’n Angstige gevoel klop in sy keel.
Meteens spring Lara op en hardloop by die klaskamer uit. Haar stoel tuimel om en die hele klas skrik van die onverwagse slag wat deur die ou vertrek weergalm. Mnr Brandt roep na Lara en hardloop agterna. Jandré du Toit spring op om uit nuuskierigheid by die deur uit te kyk. Die deur klap in sy gesig toe. Hy kry dit nie oop nie.
“Wat de donder het nou gebeur?!” roep Marié.
Al die kinders is verbaas en verward. Daar is ’n geraas en geskarrel soos wat almal praat en probeer uitvind wat aangaan. Jandré kry nog steeds nie die deur oop nie.
“Ek het nog die heeltyd gesien sy lyk weird. Iets het baie af gelyk.”
“Het sy al ooit so iets gedoen, Josh?” vra Hanna.
“Nee, ek het haar nog nooit so gesien nie.”
“Meneer moes ons toegesluit het of iets!” skree iemand wat saam met Jandré aan die deur ruk.
“Hanna, Marié, my gut sê vir my iets groots is fout.”
’n Klomp kinders probeer nou om die deur oop te maak. Hulle kan nie sien wat buite aangaan nie, aangesien daar geen vensters aan daardie kant van die klaskamer is nie. Die enigste vensters is dié aan die wildevy se kant.
“Wat gaan aan?!” skree ’n kind.
Die klas se buisligte begin die een na die ander flikker en blaas. Josua se oog vang ’n beweging op mnr Brandt se tafel, waar Lara se rooi plant nog staan.
“Julle, kyk daar!” skree Josua.
Die plant het in ’n kwessie van sekondes ten minste ’n meter gegroei en hou aan groei. Dit begin ’n menslike gedaante aanneem in die lig wat al hoe flouer raak. Nog nooit het Josua iets so afskuwelik gesien nie. Die kinders gil en hardloop histeries na die agterkant van die klas. Die deur kan steeds nie oop nie.
“Wat is dit?!” roep Hanna en Marié gelyk.
“ ’n Monster!” skree ’n ander meisie.
Die gedrog snork varkagtige geluide, wat die kinders nóg meer ontstel, en voer toe ’n onverwagse aksie uit wat die konsternasie vererger. Elke steel van die plant het gegroei in ’n ledemaat, en een vir een skiet elkeen na ’n kind toe en draai reg rondom die kind se lyf. In ’n oogwink is die kind geheel en al weg. Jandré het eerste verdwyn. Toe Michelle, toe Karabo.
“Wat gaan ons doen?!” skree Marié.
“Kom ons breek die vensters oop met die stoele,” stel Josua outomaties voor.
Kinders spring op die tafels. Sommige kruip onder die tafels in. Skryfbehoeftes en stoele val rond. Die gille is oorverdowend en laat Josua se ore suis. Formalien spat rond soos wat die bottels agter in die klas op die grond val. Nog kinders verdwyn.
Terwyl Josua, Hanna en Marié elkeen ’n laboratoriumstoel gryp, hardloop die meeste kinders nog verwilderd rond in die klas om die tak-arms van die plant te ontwyk. Die glasstukke skiet deur die lug soos wat die drie die klasvensters stukkend slaan. Hulle al drie spring uit. Die slag waarmee Josua op sy voete land, is baie pynlik. Om vanaf die eerste verdieping te spring is nie iets wat enigeen van hulle al gedoen het nie. Hanna sê sy het haar arm seergemaak, dalk gebreek. Die seer is egter gou vergete toe hulle weer herinner word aan die monster deur die klanke en geluide uit die biologieklas. Hulle kyk op. Ander kinders probeer ook om by die vensters uit te ontsnap, maar word gou weer teruggegryp.
Die drie hardloop so vinnig as wat hulle kan na die kantoorgebou. Rondom hulle kom kinders en onderwysers uit die klasse gestap. “Wat is fout?” roep die onderwysers, heeltemal onbewus van die bonatuurlike situasie wat in mnr Brandt se klas afspeel.
Terwyl hulle hardloop, kom mnr Brandt uit die kantoor gestap.
“Hoekom hardloop julle hiernatoe?”
“Meneer!” roep al drie uit, met min asem na die gehardloop.
“Die plant! Dis ... nie ’n plant nie,” mompel Josua.
“Hy gryp die kinders!” voeg Marié by.
“Wat gaan met julle aan?! Ek dog dit is net Lara wat die pad byster geraak het vandag.”
“Meneer, asseblief, laat weet die skoolhoof. Mnr Hanekom moet die skool laat ontruim!” pleit Hanna.
“Eers sê Lara dat ’n spul ruimtewesens haar gedwing het om kinders vir hulle te ontvoer, en nou ’n plant wat kinders gryp?!”
Die drie kinders kyk verdwaas na mekaar.
“Wat op aarde gaan aan?” vra mnr Brandt. Sy gesig is rooi en die sweet loop by sy voorkop af. Hy huiwer vir ’n oomblik.
“Bly net hier!” skree hy vir die kinders en hardloop vervaard in die rigting van die klaskamer.
Josua sit tjoepstil op die sitkamerbank terwyl die nuus op die Afrikaanse kanaal die hooftrekke wys: “Vyf-en-twintig leerders en ’n onderwyser van Hoërskool Luiperdsrant, in Luiperdsrant, Noordwes, raak vermis in ’n raaiselagtige gebeurtenis.”
Hy sit en staar na die TV terwyl sy ma oor die foon met familie praat. En toe begin hy bewe van die angs soos wat die vrae dwaal in sy kop. Hoe gaan hy ooit slaap vanaand? Wat het met sy gunstelingonderwyser gebeur? Lara het uit die kantoorgebou uit verdwyn. Waar is sy nou? Van die plant is daar geen teken nie.

