Die meeste van Valiant Swart se liedjies lê lekker op die oor, party moet eers op jou 'groei'; maar die een wat van die eerste oomblik in my hart kom nesmaak het, is Sonvanger.
Die radio was saggies aan terwyl ek besig was en glad nie bewustelik geluister het nie. En toe tref daardie spesifieke toon van die eerste noot 'n enkele snaar in my siel - en ek was verlore.
Sedert my jongmeisiedae was daar nog net èèn klank wat dit aan my kon doen en dit was Elvis Presley se stem. Daar is 'n definitiewe verandering in die heelal se vibrasie wanneer hy begin sing! Dit gebeur ook met Sonvanger. Of dit Valiant self is wat dit sing, of Theuns Jordaan of Corlea; maak nie saak nie - die effek is dieselfde.
Na die eerste trefslag, tref die woorde jou tussen die oë en diep, diep binne alles wat mooi is in jou - al het jy nie eers geweet jy het so 'n plek nie. Saam met die lirieke, skuif die sonstrale deur jou wese en deur jou huis en tuin en dit bly daar hang. Die volheid in jou siel bly daarbinne hang, lank nadat die lied al opgehou het...
Ai ...
Anna S Ahllers
Wat is jou gunsteling-liedjie van Valiant Swart en waarom? Stuur jou antwoord aan wen@litnet.co.za en staan ’n kans om ’n kopie van Trouens en terloops, ’n versameling van Valiant se gewildste rubrieke, met die komplimente van LAPA Uitgewers te wen. Klik hier vir nog besonderhede.

