In 'n poging om die publiek te laat glimlag, geld vir welsyn in te samel en 'n aantal horingou gholfspelers weer vir die publiek te wys gaan hierdie manne kaal poseer vir 'n foto. As 'n mens 'n spotprent kan glo gaan hulle net in gholfpette en plooie geklee wees. Hierdie poging tot 'n grappie laat my ver terugdink aan 'n werklik snaakse voorval.
Die Tweede Wêreldoorlog was nog in volle erns aan die gang en die leiers onder die “grootstes” van die geallieerde magte hou konferensie. Die magtiges van destyds was Stalin, die leier van Rusland, Roosevelt van die VSA en Churchill van Groot Brittanje. Die “Groot” in Groot Brittanje het reeds ironies begin klink. Die skurk in die verhaal was Stalin wat op allerlei twyfelagtige maniere Rusland (Sowjet Unie) se internasionale posisie probeer versterk.
Een oggend vroeg kom Roosevelt op sy rystoel Churchill se kwartiere binne en sien Churchill voor hom sonder 'n draad klere. Onmiddellik swaai hy om maar Churchill roep hom terug met die woorde: “Kom in, kom in. Ons het niks om vir mekaar weg te steek nie!”
George

