Laerskoolleiers by ATKV-Jeugleiersimposium toon groot belofte

  • 0

Die ATKV-Jeugleiersimposium vir laerskoolleiers het vanaf 4-7 Desember by ATKV-Goudini Spa plaasgevind. Dit is die eerste keer dat hierdie simposium in die Wes-Kaap aangebied word.

Tydens die simposium is onder meer gefokus op konflikhantering, die kinders se regte as leiers, kommunikasievaardighede en beplanning.

Volgens Mercia Eksteen, kursusleier  van die  ATKV-Jeugleiersimposium, is ons land se toekoms veilig as dit in die hande is van sulke goedgemanierde kinders.

“Wat my verskriklik opgeval het is die kinders se dissipline. Hulle was vreeslik ontvanklik vir kennis en inligting; hulle kyk uit vir mekaar en doen moeite om mekaar te help.  Verder is hulle baie bewus van wat in hul gemeenskappe aangaan. Leano Olifant van Riverview Primêr in die Paarl se droom is dat sy skool met net belangrike goed besig sal wees. Hy wil sy maats ook leer om weg te bly van vriende wat rook, 'want dit kan maak dat jy ook by die bendes aansluit. Goeie maniere is om mense te respekteer dan sal hulle jou ook respekteer. Die lewe is woes daar buite. Jy kan nie vir groot mense sê ’djy’ nie, hulle moet vir jou voorsê. Verder is dit verkeerd dat die mansmense die vroumense so slaan. Die mans se plig is eintlik om vir die vroumense te werk. As ek president was, sou ek al die mans bymekaarroep om vir hulle te sê hulle moet ophou,' het hy gesê."

Roahl Dekker van Esselenpark Primêr in Worcester het onderneem om sy hart oop te maak vir “tjommies" wat aspris raak.

“As hulle hartseer is oor sake sleg is by die huis, sal ek met hulle gesels. Ons help mekaar as party kinders hartseer is.Ek wil hê dat kinders baie meer respek moet hê. Dis een van die belangrikste faktore in die lewe. Vir my is bendegeweld een van grootste misdade in ons gemeenskap. Dit begin alles by respek. As jy nie respek by jou huis het nie, doen jy jou eie dinge. Jy tik en word deel van ’n bende. Jy kan selfs in die tronk beland. "

Elmari van der Westhuizen van laerskool Worcester-Oos wil sien dat mense mekaar beter leer ken.

“Soms kan jy sommer sien dat iemand met ’n swaar gemoed by die skool aankom. Dan haal hulle dit sommer op ’n mens uit, omdat hulle aandag soek wat hulle nie by die huis kry nie. Ek probeer om te vra hoe dit gaan en of ek kan help.”

Volgens Eksteen lug die kinders hul opinies baie makliker "as wat ek kon doen toe ek so oud soos hulle was. Hulle is bewus van hul opinies en nie bang om dit te sê nie. ’n Mens kan maar na hulle luister, hulle weet iets van alles! En hulle heg waarde aan dinge wat werklik saak maak.”


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top