
Laerskool Jan van Riebeeck is aangewys as die algehele wenner van die ATKV-Handevatprojek 2013. Die skool wen R35 000 vir die gemeenskapsontwikkelingsprojek wat hulle gedurende 2013 van stapel gestuur het by Soyisile Primary School in Khayelitsha.
ATKV-Handevat het ten doel om skole uit bevoorregte gemeenskappe te motiveer om opbouende en volhoubare projekte aan te pak saam met skole uit minder bevoorregte gemeenskappe. So ’n projek moet gesamentlik deur die twee skole aangepak word tot voordeel van die breë minderbevoorregte gemeenskap.
Laerskool Jan van Riebeeck het ’n wiskundegeletterdheidsprogram by Soyisile Primary School geloods en volhoubaar uitgevoer. Die vennootskap tussen Laerskool Jan van Riebeeck en Soyisile Primary School (Soyisile beteken “Ons sal wen” in Xhosa) het in 2012 ontstaan toe beide skole saamgewerk het om ’n biblioteek by Soyisile te vestig. Dié twee skole was baie entoesiasties om verder saam te werk om ’n verskil in die behoeftige gemeenskap te maak. Die oudste Afrikaanse laerskool in die Kaap het besluit om in te skryf vir die ATKV se Handevatprojek en om daarop te fokus om die graad 3 en 6-leerders van Soyisile se wiskundige vaardighede te verbeter. Onderwysers en leerders van Jan van Riebeeck het wiskundelesse vir die Soyisile-leerders aangebied tydens wiskundedae wat by Soyisile aangebied is. Gedurende 2013 het meer as 10 sulke kontaksessies plaasgevind.
Elke leerder wat die lesse bygewoon het, het ’n I love Maths-pakkie met ’n werksboek en skryfbehoeftes ontvang. Laerskool Jan van Riebeeck se graad 7-leerders het ’n groot blok met die syfers 1 tot 100 op Soyisile se speelterein geverf om wiskunde prakties te maak. Dit word nou gebruik deur al die wiskundeklasse. Onderwysers van Soyisile het so entoesiasties meegedoen aan die projek dat hulle op Saterdae wat daar nie Handevat-wiskundedae aangebied is nie addisionele wiskundeklasse aangebied het. Ene Anelisa, ’n graad 6-leerder van Soyisile, skryf na aanleiding van die Wiskundedae: “The thing that I didn’t know was that mathematics is magic...”
Daar is ook ’n voltydse bibliotekaris aangestel om 2012 se projek te onderhou, biblioteekdae is aangebied en ’n penvriend-program is geloods wat leerders aanmoedig om ’n kind uit ’n ander omgewing beter te leer ken en terselfdertyd hul taalvaardighede te verbeter.
“Ek dink die verhouding wat Jan van Riebeeck en Soyisile nou laat blom is tot voordeel van albei skole. Soyisile is ’n skool met baie potensiaal en met die regte hulp kan dit nog verbeter in die toekoms. Meneer Smit en juffrou Brink sê altyd jy kán ’n verskil maak. Op Saterdag, 11 Mei het ek besef dat ek waarlik kan,” skryf Nina Ferreira (in graad 7 in 2013) van Laerskool Jan van Riebeeck.
Volgens Wayne Smit, die projekleier by Jan van Riebeeck, is die doel van die skool se gemeenskapsbetrokkenheid om interaksie tussen leerders van dieselfde ouderdom uit verskillende kulturele en sosiaal-maatskaplike agtergronde te bewerkstellig. “Die Jan van Riebeeck/Soyisile-vennootskap gaan vir ons oor veel meer as klaskamers oprig, die biblioteek aan die gang hou, boeke aanskaf en somme doen. Dit gaan hoofsaaklik daaroor om kinders bymekaar te bring wat gesamentlik aan die toekoms bou.”
David Fourie, beskermheer van ATKV-Handevat, sê hy is trots daarop om homself te kan vereenselwig met die ATKV-Handevatprojek:
Veral hierdie jaar met die samewerking tussen Laerskool Jan van Riebeeck en Soyisile Primary School in Khayelitsha. Hierdie projek is vir my die kern van ubuntu en ’n inisiatief wat ons oorlede Tata Madiba breed sou laat glimlag. Sy groot droom was immers altyd om ’n beter toekoms vir ons kinders te skep deur kwaliteit onderwys. Laerskool Jan van Riebeeck, julle maak my ’n trotse Suid-Afrikaner.
Die prysuitdeling van ATKV-Handevat vind op Vrydag, 21 Februarie, om 11:00 by Soyisile Primary School in Khayelitsha plaas. Soyisile sal R15 000 prysgeld ontvang om in die skool terug te ploeg. Jan van Riebeeck gaan die prysgeld weer aanwend om ’n verskil te maak by Soyisile en die omliggende gemeenskap.
Volgens Lizané Basson, projekorganiseerder, voeg die ATKV daad by die woord om gemeenskapsontwikkeling aan te moedig. “Daar word ’n totale bedrag van R105 000 prysgeld deur die ATKV aan die wenners van hierdie kompetisie betaal. Die skool wat die inisiatief vir die projek neem, asook die skool wat opgehef word, ontvang elkeen prysgeld om terug te ploeg in die gemeenskap.”
NIHE (National Institute for Higher Education) in Kimberley is aangewys as die naaswenner saam met Thsiamo Primary School in Galeshewe. NIHE se vierdejaar B.Ed.-studente het hulle pre-primêre studiemodule se praktiese komponent as ’n ATKV-Handevatinsiatief ingeskryf. Dit het behels dat die studente Tshiamo Primary School se Graad R-klas opgradeer het, meer kindervriendelik gemaak het en die onderwyser opgelei het in vroeë-kinderontwikkeling.
Die derde plek is verower deur Hoërskool Piet Potgieter vir die projek wat hulle ten bate van Zamokuhle Centre for the Disabled geloods het. Sedert die vennootskap in 2011 begin het, het HPP gepoog om ’n gebou op te rig vir Zamokuhle Centre for the Disabled. Gedurende 2013 het die skool uiteindelik hierdie droom verwesenlik met die hulp van die Round Table (wat ’n buitelandse skenking ontvang het), Jacaranda FM se Good Morning Angels, en die ATKV-jeugtak en ouers van Hoërskool Piet Potgieter. Hoërskool Piet Potgieter het verskeie ander projekte aangepak om ’n verskil te maak in die gestremde kinders se lewens en het ook ’n komitee gestig wat na Zamokuhle se sake omsien.
Gedurende 2013 is tien skole se projekplanne goedgekeur. Al die skole het R5 000 aanvangskapitaal ontvang om hul projekte ’n aanvanklike hupstoot te gee. Die ander sewe finaliste was Hoërskool Ferrum (Newcastle), Hoërskool Jan van Riebeeck (Kaapstad), Hoërskool Riebeeckstad (Welkom), Hoërskool Southlands (Chatsworth), Hoërskool Stellenberg (Tygerberg), Laerskool Kleinmond en die Hugo Lambrechts Musieksentrum (Parow).
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

