
Die maankykers announcie sighting vannie maan orie Voice of the Cape-radiostasie ennie familiejolyt in Takbeer kliphard. “Allahu akbar! Allahu akbar! Allah is great!” Mjangstokkies wôd gelight ennie radio blaas in full volume allie soote versions vannie Takbeer, soes it innie loop speel, so much so, jou hart sink weg virre moment ennie loss van Ramadaan tref jou immediately. “Al widaa Ramadaan, farewell. Tot next jaa,” dink djy.
Elke Kaapse tietie wat vannie nuus kennis dra, organise die res vannie aand immediately. Labarang outfits wôd oppie henges voorie kaste gehang en allie metedjalis wat daaby gepaat gan, tot even oppie underwear, wôd reggesit.
Innie kitchen wôtie suurdiegbrood heel eeste geknie. Daaisie gebak wat vi môre se brekfis met soutvleis gerasper wat al in anticipation klaa gaar innie yskas in ’n Tupperware wag, en na masiet die next dag bedien sal wôd. Die savouries wattie brekfistafel accompany, sallie oggend van Labarang na fajr afgebak wôd.
Nou fire die kitchen op all cylindars. Die biespootjies en pens wattie presto vamirrag al klaa gekoekit, need nou innie renowned tamatiepootjies wattie kinnes especially voo ytsien in transform – daais paat vannie entertainment, want almal se vinges en lippe sit vas vannie gluten daa’in. Die penskerrie wat soes vuil nappies lyk, soesie jongspan dit describe, wôd in squares gesny, while die twie potte oppie gasplaat se vlamme uiwe smoor. Die hys vul met flavours en spice combinations wat pure skrie festivities.
Dié wat nog innie ou method van gheena oppie naels apply delf, gan kry hulle toiletpapie en cellotape, ennie gheenapoeier wôd met koekwate aangemaak en opgesit. Kot voo lank sittie kleinspan met cellotape-vingehoedjies wat ees môreoggend, of terwyl hulle slaap, gan afval. Dan kan hulle virre while brêk met burnt orange gecolourde naels torrarit mettetyd self ytgroei.
Trug innie kombuis wôtie biscuit dough ytgerol en gebak. Die trifle wôd aanmekaageslat ennie Kentucky-hoene ennie breyanivleis wôd met hulle respective spices ingelê. Daai sal oek môreoggend na fajr gaargemaak wôd. Daa’s baie hanne innie kitchen wat moet help en amal concentrate net annie taak at hand en hulle eie work station.
Vannie agterkame interruptie ruik vannie hairdryers wat oo rollers op baie koppe blaas, maarie foodie fragrances mix happily, cos saam vorm it unique Labarang odours wat jou heeltyd remind djy’s in vir ’n fantastic celebratory experience die next dag.
Die Labarang prep draw tot ’n close rondom midnight en amal wattie daa ooslaapie gan hys toe ennie hysmense kan finally ytclock enne kot slapie tot fajr inkry. Fajr is amal op ennie kids is alte happy om hulle Labarang outfits aan te trek – maa nierie skoene nie. Hulle gan met hulle worn plakkies en sliders, want op Labarang wiet djy die vriemde ouens mettie lang vinges slyp sometimes innie masiet while ie salaah in progress is, om self hulle Labarang boks unlawfully te kry en dan gan daa ’n boetachie of ’n uncle op sy sokkies hys toe. Die pa se masiet-tawwetjie is mooi wit en crisp gestryk en wôd wonderfully met sy onnebaachie se blinkechies en embroidery gesny. Die laaities met hulle toppe en koefiyas se spirits skyn op hulle gesigte en djy erken die effect van Ramadaan as djy hulle oë sien. Hulle lyk lig en geknie van geloef en dra it amal proudly oppie mou.
Die masiet is stampvol en daa’s skaas plek vir ’n rooimier om sy draai te kry. Soesie boetas enter soundie Takbeer soese invitation na Allah se hys bold, ennie Imam klim oppie miembar en beginnerie official paat vannie Labarang celebrations. Eit’ul fitr salaah wôd gecomplete in congregation; daa’s ’n ghoetbah talk in Arabic en dana oek ’n boodskap innie taal wattie locals in daai omgiewing praat. Narietyd embrace amal mekaa en hulle wange wôd ees regs, dan links en dan wee regs an mekaa net liggies getouch –’n soenat practice van ôse geliefste Nabie Moegammat (vriede op hom) wat ôs met groot enthusiasm oek gereeld practice. ’n Act wat liefde en broederskap kweek, algamdulillaah.
Baie vannie mans sal dan hulle way narie koebus maak en hulle deceased family gan ziyaarat en by hulle kabrs gan duah maak en lies either ytie Quraan of yt memory by hulle geliefstes se grafte. Dan keer hulle trug na hulle hyse en vind hulle familie in hulle Labarang mondering geklee, wagtend om hulle slamat te gie en te ontvang. Dis oekie tyd dat hulle ’n gebed vi mekaa sal maak, of maaf vra en verskoning vi gedrag vannie past en mooi wense tienoo mekaa yter. Die moment is intiem en soms baie emotional, ve’al as daa ’n geliefde kot voo dit afgesterfit. Dan wôtie netting oorie brekfistafel met al daai savouries en gebakte goodies afgehaal ennie familie enjoy ’n meal saam, dikwels oek met boeber wat as ’n icon virrie 15de pwasa se celebration usually gebryk wôd.
Die’s oekie tyd wattie kinnes sal Labarang geldchies kry ennie kinnes innie neighbourhood die strate ingan om slamat te gan sê mettie hoep daa’s nog geldchies gained met allie slamats wat hulle mettie neighbours gan share. Traditionally hourie tieties soema in ’n suikepotchie change vi dié purpose ennie boetas loep met ’n banksakkie in hulle pockets ready virrie incentives wat gepaard gan met kinnes wat slamat sê. Amal voel en is welkom by amal en daa’s ’n sense of community wat vibrant klop onne een en elk.
Families ry lang distances om mekaa te sien en mekaa te wish vi Labarang. Hulle sit en kuier ommie brekfis; lunch en teatime tafels wat soet, sout en salf vi mekaa se siele en senses bedien. Ramadaan se introspection ennie in-depth-delf in jóú level van geloef lê vlak in jou memory ennie voo’ytsigte virrie jaa ahead, cos it’s not promised for all again, bring blydskap innie harte van familie, terwyl hulle nog kan met mekaa gesels en saam celebrate. Die hyse se vriende en familie relay mekaa in visits ennie tafels bly innie geselskap van liefde, broederskap en familie. Labarang innie Boland is soesie geographical built van ’n valley describe wôd, soes ’n bakkie. Die berge twie hanne in fatigha biddend wat al daai sense of community opvang om virrie dae ahead soes confetti oo dié klein community wee trug te strooi.

