Laatoes. Kykweer van ’n kanniedood-koerantman deur Hennie van Deventer: ’n FMR-resensie

  • 1

Foto van Hennie van Deventer: verskaf

Laatoes. Kykweer van ’n kanniedood-koerantman deur Hennie van Deventer, Naledi, 2017. Uitgesaai op 19 September 2018 in Boekkeuse op Fine Music Radio olv Amanda Botha.


Ek vind Hennie van Deventer se Laatoes ’n wonderlik meevoerende werk. Die subtitel lui: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman. Die boek bestaan uit 57 kort tekste, elkeen iets tussen drie en sewe bladsye lank. Louis Esterhuizen het gehelp met die samestelling van die bundel.

Die boek is ideaal vir ’n gewag van allerlei aard of om te lees waar jy ook al mag reis. Die prosa en meestal speelse verse is deurgaans maklik verstaanbaar. Hennie laat jou lag, maak jou nostalgies of aangedaan. Dit is hoofsaaklik tekste om iets te herdenk of hulde aan mense te bring. Die jongste tekste is van 2017 en daarna gaan ons verder en verder die verlede in tot by Hennie se aftrede by Naspers op 15 Desember 1997 en die afskeidsgeleentheid op 19 Februarie 1998.

Ons beleef sy studentejare by Tukkies in Pretoria. Jy lees van sy buitengewone bydrae tot rugby, veral as vlagman wat vinnig goeie besluite kon neem, en van sy ondersteuning van die BoozeklubHy en die digter en later regsgeleerde Toon van den Heever “was albei in Kollegetehuis. Toon, een van die eerste inwoners, het sy inspirasie gekry vir sy grootse gedig ‘Beeld van Oom Paul’ toe hy op ’n aand te laat uit was vir die laaste trem terug kampus toe. Hy moes laataand maar voetslaan, verby Prinsespark en die begraafplaas waar die standbeeld destyds gestaan het.” Toon se woorde: “Grou in die maanlig rys die swaar kolos.”

Van Deventer vertel baie oor sy jare by Die Volksblad in Bloemfontein. Hier het hy onder meer gehelp om die nuus van twee van die groot gebeurtenisse in ons geskiedenis uit te dra. Die eerste: 6 September 1966. HF Verwoerd word in die parlement vermoor. Van Deventer is hoofsubredakteur. Hy vertel: “ʻStop alles!’ het ek skielik deur dun lippe geskreeu, en my sigaret sommer agterstevoor in my mond gestop, die kooltjie op my tong. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.” Hy vertel van ’n vroeëre ontmoeting met Verwoerd toe hy (Hennie) parlementêre verslaggewer was. Ook hoe Tsafendas altyd vir hulle as verslaggewers iets te ete van die kombuis gebring het. “Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!”

Die tweede gebeurtenis: Chris Barnard se eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Van Deventer gee kleiner besonderhede wat ’n mens dalk destyds nooit van gehoor of gelees het nie. Hoe die skenker Denise Darvall en haar moeder in Hoofweg, Observatory deur ’n jaagduiwel omgery is toe hulle die straat wou oorsteek om “by ’n geliefkoosde bakkery ’n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.”

In die boek is daar vele vermaaklike gedeeltes. Die rubriekskrywer Johan van Wyk se “Stop van Myne” het ’n kwarteeu lank in Die Volksblad verskyn. Hoekom het hy homself “Oom” genoem? “Van Wyk het ’n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: ‘Dankie, oom. Dit was lekker.’”

Teen die einde van sy loopbaan word Hennie hoof van koerante in Kaapstad. Hy erken dat finansies ’n gedugte taak vir hom as oudredakteur was, hy “wat tot vandag toe nie ’n balansstaat behoorlik kan lees nie”. Maar toe kom Naspers se “prins van syfermense” tot sy redding: finansiële direkteur Eric Wiese. Wiese is op 4 Augustus 2017 vermoor. Hennie huldig hom en beeld Eric ook as gesinsmens uit en gee voorbeelde van sy wyse mensekennis en sy spitsvondigheid.

Hennie vertel: “Een aand, in sy jongmansdae, maar reeds getroud, kuier Eric en ’n klomp ouens iewers, aan die kaart speel tot vroeg in die oggend. Toe hy die oggend vyfuur by die huis kom en saggies by die kamer probeer insluip, word Sannie, sy vrou, wakker en vra: ‘En waar kom jy nou vandaan?’ Waarop hy antwoord: ‘Nee, ek is op pad werk toe. Ek het vreeslik baie om te doen.’ En so is hy reguit terug kantoor toe, nog in die vorige dag se klere.”

Hennie van Deventer skrywe oor sport, byvoorbeeld oor die verskil tussen ou Gerrie Seerhandjies Coetzee en Kallie Knoetze, die Bek van Boomstraat; oor motors, en veral oor ervarings in sy geliefde Sabie-wildtuin. Kyk hoe gee Hennie ’n beskrywing van ’n ratel. Hy is lief om enumerasies te gebruik; dit skep iets dramaties en versnel die verteltempo. Jy moet ‘n ratel nie net “taai” noem nie, maar in alfabatiese volgorde: “aggressief, dapper, humeurig, manhaftig, meedoënloos, onvoorspelbaar, strydlustig, vasbeslote, verbeeldingryk, vreesloos en volhardend. ’n Ware ‘doodkry is min’ van die diereryk.”

En toe kom ek ’n gedeelte teë wat my bewoë gemaak het. Hy beskryf die NG Kerk op Philadelphia, hoe hy en sy vrou Tokkie ’n geestelike tuiste daar vind. Hulle ry vanaf hulle huis in Melkbos daarheen. “Die kerk is ’n waardige huis van die Here. Dit het ’n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en ’n outydse preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop – ongeskend deur allerlei ‘orkesverhoë’ en ander nuwerwetsighede. Jy voel die gewydheid aan as jy instap. Dis die soort kerk waar ek tuis voel.” (Ek sekondeer.)

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Sandra Pretorius

    Ja, ek onthou ook nog Kroniek van 'n Koerantman, en dis duidelik dat as dit nie vir Van Deventer was nie, sou apartheid nooit tot 'n val gekom het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top