Laat ons lees en leer: ’n resensie van Tom Moodie se AHI – Die Afrikaanse Handelsinstituut

  • 2

Titel: AHI – Die Afrikaanse Handelsinstituut
Skrywer: Tom Moodie
ISBN: 9781920355885
Uitgewer: Malan Media

Toe ek Dawie Roodt se naam op die omslag sien en dat hy die boek onderskryf, word ek éérs opgewonde oor die nuwe reis wat ek nou begin.

Dawie Roodt is ’n bekende ekonoom in Suid-Afrika. Hy is ook ’n uitstekende spreker, en oor die jare het ek doelgerig besigheidsfunksies bygewoon waar sy naam op die sprekerslys verskyn het.

Wat meer is, dit is ’n boek oor besigheid en menslike gedrag, vir my twee fassinerende onderwerpe. Die onderwerpe word aangebied in die konteks van die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse ekonomie – en dit boonop in Afrikaans.

Tom Moodie is ’n ekonoom wat vir baie jare betrokke was by die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI). Hy beskryf met passie hoeveel invloed die AHI in Suid-Afrika gehad het en dat hy voel dat daar nog steeds ’n rol vir ’n soortgelyke organisasie in die land sou wees.

Die AHI het ongeveer 75 jaar lank bestaan; dit het dus oor ongeveer drie generasies gestrek.

...
Wat my beïndruk het, is dat die leierskap van die AHI op daardie stadium verstaan het dat Afrikaners die bewind sou verloor indien inklusiwiteit (insluitende tale en velkleur) nie ernstig aangespreek word nie.
...

Die boek begin deur te beskryf wat die organisasie in die eerste dekades van sy bestaan bereik het, en die prestasies is inderdaad indrukwekkend. Die organisasie was klaarblyklik goed georganiseerd; kommunikasie met lede en buitepartye was gesond en produktief.

Die eerste bestaansjare was ’n tyd van groei. Die res van die wêreld was na die Eerste Wêreldoorlog in ’n fase van verandering en modernisering. Dit was ’n ideale tyd vir die sakeleiers om besighede te vestig. Die instituut is geskep sodat lede van die Afrikaanse sakegemeenskap deur middel van ’n georganiseerde struktuur mekaar, die wyer Afrikaanse gemeenskap en die regering kon ondersteun.

Tesame met ’n selfgeïdentifiseerde agterstand in die sakewêreld, is die kombinasie van uitdagings en geleenthede waarin hulle hul bevind het, ’n situasie waarin Afrikaners kon floreer; vir die eerste generasie van die bestaan van die AHI is dit ook wat gebeur het.

In ongeveer die vroeë jare sestig het die leiers toenemend bewus geword daarvan dat die politiek, veral bestaande apartheidsbeleide, nie aanvaarbaar was nie. As gevolg daarvan het hulle ook begin sien dat die ideale van die AHI nie volhoubaar is nie.

Wat my beïndruk het, is dat die leierskap van die AHI op daardie stadium verstaan het dat Afrikaners die bewind sou verloor indien inklusiwiteit (insluitende tale en velkleur) nie ernstig aangespreek word nie. Dit word verduidelik dat hulle gepoog het om aan maniere te dink om die land se ekonomie oop te maak vir alle rassegroepe. Daar is ook ’n beskrywing van die konflik met lede wat ’n eksklusiewe Afrikaanse sakewêreld sterk voorgestaan het en dat dit op daardie stadium, in 1965, amper tot die ondergang van die AHI gelei het.

...
My droom is dat Afrikaans kan oorleef en op ’n gesonde manier kan groei in ons moderne wêreld. Dis ’n groot droom. Om die droom te kan verwesenlik, en om te verhoed dat ’n soortgelyke boek oor Afrikaans geskryf word, het ons as Afrikaanssprekendes ’n verantwoordelikheid om inklusief, liberaal en vrygewig te wees met ons taal.
...

Soos die politieke en sakewêrelde verander het, het die raad / senior bestuur meer gefokus op oorlewing en die buitewêreld. Die fundamentele beginsels om lede te ondersteun en platforms vir bespreking te fasiliteer, het hulle meer en meer verwaarloos.

Lede van een van die grootste sakekamers (die Gauteng-streek) het op ’n stadium in die neëntigs ’n stel formele vrae aan die raad en hoofbestuur van die AHI gerig. Die organisasie het toe al vir jare hard gewerk om lede te ondersteun om suksesvolle besighede op te rig, dus is my interpretasie dat die lede ’n onsekere toekoms in die gesig gestaar het en bang was dat hulle dit waarvoor hulle so hard gewerk het, sou verloor. Dit was tóé nodig dat die bestuur sou leiding neem en as ’n groepspoging verbeeldingryke oplossings sou help vind vir ’n splinternuwe, unieke, Suid-Afrika. Volgens die outeur het die lede nooit antwoorde op hulle vrae ontvang nie. Wat ek aflei van die outeur se opmerkings, is dat in die vertroebelende omstandighede van die tyd, die leierskap onseker was oor hoe om op te tree. Wat ek sien, is dat lede nie sonder kommunikasie kon byhou met die ideale en denke van die leierskap nie. Die meeste lede sou nog vir lank onder die invloed van die kollektiewe denke van apartheid bly. Die onsekerheid van die bestuur en die gebrek aan leierskap wys dat die bestuur ook nog sterk beïnvloed was deur die kollektiewe denke van apartheid, alhoewel wesenlik minder as lede.

Leemtes en vrae

Die outeur bevraagteken die notules van vergaderings, ook bestuurstyle van die senior bestuur en direksie, en verder ook die veranderinge in struktuur van die organisasie en die bemagtigingsprosedures wat gevolg is.

In my loopbaan het ek al baie bestuursvergaderings bygewoon en baie notules geneem en gelees. ’n Gesprek wat gereeld gevoer word, gaan oor wat in die notules ingesluit behoort te word en wat nie (en in hoeveel besonderhede). Dit oorvleuel met die ouditkonsep van “volledigheid”: Is daar iets ingesluit wat nie daar hoort nie? Én is alles wat ingesluit moes gewees het, wel daar? Die eerste deel is gewoonlik maklik. Die tweede nie so maklik nie.

Die outeur noem heelwat voorbeelde van vrae waarop hy nie antwoorde kon kry nie. Een, hier bo genoem, is die afwesigheid van ’n rede waarom die bestuur nie lede se vrae beantwoord het nie, en ’n ander is dat hy nie kon verstaan dat vroue hulle eie handelskamer sou wou stig nie.

Die bronnelys sluit slegs vier persoonlike onderhoude in, en al vier is met oudpersoneel van die AHI. Daar is ’n paar aanhalings uit skriftelike bronne, en niks wat noemenswaardig tot dieper insigte lei nie. Die boek bevat kritiek en sterk stellings, veral teen die latere presidente van die AHI (byvoorbeeld “[Hulle] kon dit nie insien en/of verstaan nie”), sonder noemenswaardige pogings om redes vir die aksies te probeer verstaan.

Die boek smeek vir die stemme van die formidabele besigheidsname wat genoem is, veral dié wat oor die jare die presidentsposisie gevul het. Wat was hulle grootste uitdagings? Waaraan het hulle die meeste van hulle tyd spandeer? Waarmee het hulle persoonlik geworstel? Wat sou hulle terugskouend anders gedoen het? Wat sou hulle nou wou doen? Party van hulle leef nog. Vra hulle, asseblief, en skryf nog ’n boek (dalk selfs in samehang met ’n navorsingsprojek). Dan sal ons regtig kan leer. Ons sal kan probeer verhoed dat dieselfde foute in die toekoms begaan word en sal dalk ook ’n bietjie help om ’n positiewe impak te hê op hoe Afrikaans in die toekoms in die sakewêreld sou kon aanpas. Beide is juis van die dilemmas wat in die boek genoem word.

Die outeur raak ’n baie goeie vraag aan. Dit is diep in die boek weggesteek, en mag nie misgekyk word nie: “Is dit moontlik vir Afrikanersakelui om [...] hulleself onvoorwaardelik vry te verklaar sodat ’n mentaliteit van oorvloed eerder as skaarsheid ontwikkel word?” As ons ’n droom het, begin ons outomaties in daardie rigting groei. Om hierdie rede is die vraag belangrik. Kan ons ander kwessies wat ons terughou, omskep in drome wat ons kan vrylaat?

...
Ek het gevoel asof ek in die hart gesteek is toe ek in dieselfde paragraaf oor “prestasies van vrouewerknemers” lees dat een van hulle met ’n “Wie’s Wie”-man getroud is.
...

Voordat die volgende boek geskryf word, vra ek baie mooi dat ’n paar punte versigtig aangespreek word en dat ons almal dink aan veilige, maniere om hulle aan te spreek, dalk leiding te neem deur te dink hoe Nelson Mandela dit sou gedoen het. Ek is nie hy nie, en vergewe my asseblief as ek enigsins gevoelens van konfrontasie veroorsaak wanneer ek hierdie punte opnoem.

Velkleur

Afrikaners het uitgesluit gevoel deur die Engelse. Hulle het nie verteenwoordiging gehad in die sakewêreld nie; gemeenskappe was arm en die meerderheid van kinders was onopgevoed. Die situasie was onaanvaarbaar. Hulle wou iets daaromtrent doen.

Swart mense het uitgesluit gevoel deur wit mense. Hulle het nie verteenwoordiging gehad in die sakewêreld nie, gemeenskappe was arm en die meerderheid van kinders was onopgevoed. Die situasie was onaanvaarbaar. Hulle wou iets daaromtrent doen.

Hoe voel dit om hierdie paragrawe te lees? Anders vir een as die ander?

In 1997 dien die AHI ’n memorandum by die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) in om die organisasie se aksies te regverdig en te verduidelik, en om “’n gesindheid te demonstreer dat die organisasie in die toekoms afstand sou doen van daardie tipe aktiwiteite wat lank reeds soos ’n albatros om hulle nek gehang het”.

Het die AHI se bestuur en die outeur genoeg moeite gedoen om te probeer verstaan hoekom die voorlegging by die WVK nie positiewe ontvangs geniet het nie? Is daar genoeg gedoen om te verstaan wat dit werklik beteken om aan die ontvangkant van die onbewuste vooroordeel van rassisme te wees? Hoe verskil ons perspektief nou, 25 jaar, na die oorspronklike voorlegging?

Vroue

Word daar werklik algemeen geglo dat vroue nie diskriminasie ervaar nie? Gesels asseblief met vrouens in die sakewêreld. Fortune publiseer in Maart 2022 ’n artikel waarin staan dat 8% van hoof- uitvoerende beamptes in Amerika vroue is, en dat hierdie persentasie in 15 jaar nie verander het nie.

Ek het gevoel asof ek in die hart gesteek is toe ek in dieselfde paragraaf oor “prestasies van vrouewerknemers” lees dat een van hulle met ’n “Wie’s Wie”-man getroud is. Kon dit nie voorsien word dat die outomatiese interpretasie hiervan sou wees dat die skrywer voel dat ’n vrou se prestasie gemeet kan word aan die “sukses” van die man met wie sy getroud is nie?

Soos die outeur, skryf ek vanuit my eie perspektiewe. Ek het opsetlik gefokus op ’n betreklik klein aantal van die voorbeelde wat my opgeval het as geleenthede om meer vrae te vra en te leer. Die boek bevat baie meer sulke voorbeelde, en dit sal konsentrasie verg om almal raak te sien!

Suksesse en ondergang

Die boek sluit vele voorbeelde van suksesvolle en onsuksesvolle voorleggings aan die regering in. Dit was byvoorbeeld interessant om te lees dat elektrisiteitsaanvraag in spitstye een van die motiverings was om twee tydsones in die land te vestig. En ook dat die AHI, as verteenwoordigend van die privaat sektor, oor die jare heen ’n mate van ’n vennootskapsverhoudings met die regering geniet het lank voor moderne terminologie oor vennootskappe tussen die private en openbare sektor (VPO’s) bestaan het. Die AHI het onder meer verteenwoordiging op regeringskomitees gehad, voorstelle gebied wat die ekonomie wesenlik bevorder het, en navorsingswerk vir die regering gefasiliteer.

Groot gedeeltes van die boek is gewy aan die geleidelike ondergang van die organisasie. Dit is te verstane dat feite in die latere hoofstukke meer vaag is. Daar is meer vrae as antwoorde en daar is nie enkele duidelike redes vir die uiteindelike verdwyning van die AHI nie.

Afsluiting

Die boek is veel meer as ’n geskiedenisverhaal. Dis ’n geleentheid om te leer. En veral ’n geleentheid vir “Afrikaners”, die groep in wie se belange die AHI gestig is.

Hierdie vraag kielie my: Is die titel van die boek ook doelbewus gekies om die perspektief waaruit die boek geskryf is te beskryf? Is dit die eerlikste waarheid wat ’n Afrikanerman kon weergee? Dalk is dit, as die sienings van ander gemeenskappe nie in ag geneem word nie.

My uitnodiging aan lesers van hierdie resensie is om Moodie se boek te lees saam met perspektiewe uit ander bronne.

My respek vir Dawie Roodt bly dieselfde. Ek kan dit nie beter stel as hy nie en herhaal dus sy opsomming op die buiteblad: “Vir enigiemand wat meer te wete wil kom van die finansiële en ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika – en die rol van veral die Afrikaner daarin – is dié boek verpligte leesstof. Maar dit kan ook dien as handboek van hoe om ’n besigheidsorganisasie tot stand te bring en ’n suksesvolle ekonomie te bou. Dus ook belangrik vir almal wat streef na ’n suksesvolle toekoms vir SA.”

My droom is dat Afrikaans kan oorleef en op ’n gesonde manier kan groei in ons moderne wêreld. Dis ’n groot droom. Om die droom te kan verwesenlik, en om te verhoed dat ’n soortgelyke boek oor Afrikaans geskryf word, het ons as Afrikaanssprekendes ’n verantwoordelikheid om inklusief, liberaal en vrygewig te wees met ons taal.

*

Catharina Stone se moedertaal is Afrikaans en sy het haar formele opleiding in beide Engels en Afrikaans ontvang. Sy het werksondervinding in plaaslike en internasionale, Engels en Afrikaanse maatskappye, insluitende ’n naam of twee wat in die boek genoem is. Sy is nie ’n tikster of administratiewe assistent nie, ’n diskoers wat ongelukkig in dele van die teks gebesig word.

  • 2

Kommentaar

  • Sylvia Thomas

    Ek sal beslis die boek wil lees. Ek wens die ANC wil dit aan elke parlementslid gee. Die woord wat vir my uitstaan, is INKLUSIWITEIT. Daar is veel groter polarisasie vandag as selfs in die apartheidsjare. Ek is in die lokasie gebore, het my puik laerskoolopvoeding daar geniet. Kon tot in vroeë 90'er-jare met gemak in Khayelitsha basiese volwasse geletterdheid doen.

  • André Pelser

    Ek het in 1995 vanuit my pos as SA konsul-generaal in Istanbul,Turkye – waar ek, onder andere, die Turkye-SA handelskamer tot stand gebring het – met die bestuur van die AHI ontmoet, toe onder voorsitterskap van oudminister Jacobs, en gepleit dat hulle ’n nasionale program loods om Afrikaners te help om die oorgang van die staatsdiens na die privaatsektor so glad as moontlik te maak deur middel van toepaslike kursusse, sodat pakkette doeltreffend aangewend word – sonder sukses. Baie staatsamptenare het hulle pakkette vermors weens gebrek aan besigheidskennis. Die AHI kon hier meer vir mede-Afrikaners gedoen het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top