kykNET Silwerskermfees 2015: Oorsig en foto's

  • 0

wilna_silwerskerm1

kykNet se gewilde en glansryke Silwerskermfees is soos ‘n binneaarse inspuiting. Die effek is onmiddellik en jy voel byna lighoofdig die oomblik wat jy by The Bay-hotel in Kampsbaai aankom.

In die eiendomswêreld is die drie goue woorde blykbaar: “location, location, location”. Ek was nog nie by die Cannes-filmfees nie, maar ek kan my beswaarlik ‘n mooier en meer geskikte “location” vir ‘n filmfees indink as The Bay.

Teen die tyd dat ons Vrydagmiddag daar aangekom het, was die kuier reeds sterk aan die gang. Op die terrasse voor die hotel het die bedryf se mooistes en talentvolstes skouer geskuur. Die groot name was daar. Sommige van hulle het my liefde vir film en teater help slyp. Ikone wat nieteenstaande die feit dat die bedryf hard is en hulle nooit dieselfde ster- en finansiële status as hulle Hollywood-eweknieë sal smaak nie, oor jare heen werk van uitstaande gehalte gelewer het en steeds lewer.

wilna_silwerskerm2

Jozua Malherbe, Rolande Marais en Trude Gunther

Tussen die gevestigde name was ook die jonger geslag. Sommige reeds bekend, ander vol hoop. Blinkoog en dapper. Om jouself willens en wetens in hierdie bedryf te begewe vat guts, en hope daarvan.

Ons het darem nie net gekuier nie. Daar was ook tyd vir twee kortfilms.  

Eerste aan die beurt was Skewe Reënboog.

Wim Steytler het die draaiboek geskryf, en hy was ook die regisseur. In ‘n onderhoud het hy gesê dit is ‘n kroegstorie en ‘n metafoor wat bymekaar gebring is.

Die film, met Gavin van den Berg in die hoofrol, bekyk die lewe van ’n karakter wat in sy illusie van Suid-Afrika vasgevang is. Hy is die selfaangestelde oppasser van Santarama Miniland in Rosettenville, ‘n verlate miniatuurmuseum van vergange Suid-Afrikaanse gloriedae met Amerikaanse invloede.

wilna_silwerskerm3

Pietie Beyers, Loftus Marais en Bibi Slippers

“Santarama Miniland weerspieël hoe ons onsself toegelaat het om weg te sink in Reënboognasie-idealisme en hoe dit geleenthede vir wáre transformasie en wáre versoening verraai het.”

Die verhaal ontroer ‘n mens op verskillende vlakke. Dalk omdat ek oud genoeg is om van die sogenaamde ou Suid-Afrikaanse gloriedae te onthou, en terselfdertyd die skewe reënboog en frustrasie met ware versoening te beleef.

Die ander kortfilm wat ons gaan kyk het, was Sweisbril met Neels van Jaarsveld in die hoofrol.

wilna_silwerskerm4

Chris van Niekerk en Dirk

Frannie was ’n welder, ’n gewone ou. Frannie is al ’n geruime tyd ietwat verlore. Hy drink gans te veel. Frannie het sy werk, sy lewe, sy vrou en kind iewers in sy dronkenskap verloor. Nou weet hy nie meer mooi of hy als nog reg onthou nie, en hy is nie regtig seker waar sy familie heen verdwyn het nie.

Die dag voor ’n algehele sonsverduistering leen Frannie twee sweisbrille by Theo, sy bullebak van ’n broer. Frannie is vasberade om die verduistering vir sy seun te gaan wys. Maar waar is sy seun? Waar is Jill, sy pragtige vrou? Oor twee dae en ’n nag ontrafel Frannie finaal soos wat hy begin onthou presies waar dinge in sy lewe skeefgeloop het. Terwyl Frannie die stukkies van sy geheue en lewe weer bymekaar begin sweis, begin hy meer en meer wens hy was maar eerder blind.

Albei hierdie verhale is wat ek klein stories sou noem. Daar is nie groot lesse en preke nie. Die sosiale kommentaar wat gelewer word, is subtiel en word deur die storie gedra.

Leon van Nierop bevestig later die aand wat almal met wie ek deur die loop van die dag gesels het, ook vir my gesê het, naamlik dat die gehalte van die films elke jaar net verbeter. Ten opsigte van die temas wat aangesny word, voel hy dit is asof daar deur ‘n nuwe bril gekyk word. Selfs die voor die hand liggende kwessies in die land word op ‘n interessante nuwe manier belig.

wilna_silwerskerm5

Die fees bied ook ‘n reeks interessante gesprekke aan en ons was bevoorreg om te luister hoe Kabous Meiring met Dawid Minnaar, Regardt van den Berg, Rolanda Marais, Armand Aucamp en Jaco Bouwer gesels. Elkeen van hulle het op hul eie manier hul merk in die bedryf gemaak en ‘n mens voel skoon uitasem van verwondering vir soveel ervaring op een verhoog.

Kabous het hulle onder andere gevra waarom teatergehore dikwels kla dat hulle nie die akteurs kan hoor nie. Almal se gevoel is dat opleiding beslis ‘n rol daarin speel, maar Dawid Minnaar voel gehore het ook lui geraak om te luister.

“Ons is so gewoond om met goed in ons ore te loop dat ons nie meer weet hoe om met aandag te luister nie.”

wilna_silwerskerm6

Regardt van den Bergh het onder andere vertel dat oorsese regisseurs soms tot drie maande het om saam met akteurs vir hulle rolle voor te berei, waar ‘n vollengte-rolprent in Suid-Afrika dikwels binne drie weke geskiet moet word. Hy vertel hoe hy vroeër jare saam met Jans Rautenbach gewerk het, waar die draaiboek eintlik saam met die skietproses ontwikkel het.

“Vandag moet skrywers tekste baie beter skryf, want daar is nie meer tyd vir ontwikkeling nie.”

wilna_silwerskerm10

Viljee Maritz, Gerrit Schoonhoven, Johan Baird en lid van die media

Ons het die aand afgesluit deur na die eerste drie episodes van die nuwe reeks, Buurtwag, te gaan kyk. In 2012 het die kortfilm met dieselfde titel drie pryse op die fees losgeslaan, naamlik: beste draaiboek, beste regisseur, asook die kortfilm waarvoor die meeste kykers gestem het. Die kortfilm is destyds deur Beer Adriaanse geskryf en deur Jaco Smit geregisseur.

Op versoek van kykNET is die kortfilm intussen uitgebrei tot ‘n reeks van 13 episodes wat aan die einde van September op kykNET begin wys.

Hier moet ek eers my belange verklaar; daarom sal ek die kommentaar oorlaat aan diegene wat nie familiebande met die skrywer en regisseur het nie. Ek het derhalwe eerder my ore gespits om te hoor wat daar gesê word, en die een woord wat herhaaldelik gebruik is, is die woord vars.

wilna_silwerskerm7

Sandra Prinsloo en 'n feesganger

Die reeks handel oor ‘n buurtwag in die noordelike voorstede van Kaapstad. Terwyl die gehoor beleef hoe hulle hul buurt moet probeer beveilig, raak jy stadig maar seker ingetrek in die alledaagse uitdagings wat hulle elke dag in die gesig staar. Ook hier is die sosiale kommentaar subtiel en dis eers as jy huis toe ry dat jy besef jy het jouself tog êrens tussen die gelag herken.

Jaco Smit het as regisseur intussen twee vollengte-films op sy kerfstok, waarvan Pad na jou hart een is. Hy sien homself as ‘n produk van die Silwerskermfees en is dankbaar vir die geleentheid wat dit aan jong talent bied om hulle slag te wys. Hy voel egter ook dat ‘n mens altyd bewus moet bly van die grootte van die mark en wonder of dit nie tyd is dat Afrikaanse filmmakers hulle grense moet probeer verbreed nie.

wilna_silwerskerm8

Paneelbespreking gelei deur Kabous Meiring

Ek kon ongelukkig nie een van die vollengte-films sien nie, maar was daar toe die gehoor ná die première van Dis ek, Anna uitgekom het. Ek het mans met trane in hulle oë en vroue met hulle hande op hul harte gesien. Tertius Kapp het duidelik met die draaiboek ‘n groot sprong gewaag en geslaag. Die film is met ‘n hele paar pryse bekroon.

As ek die dag in twee woorde moet opsom sal dit talent en entoesiasme wees. En ‘n bevestiging van iets wat ek lankal vermoed het, naamlik dat ons nie meer verskonings het om nie goeie films te maak nie. Ons het die kundigheid én die stories in oorvloed.

wilna_silwerskerm9

Tertius Kapp, Lynelle Kenned en Beer Adriaanse

 

Foto's verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top