kykNET Silwerskermfees 2015: Onderhoud oor Skewe Reënboog

  • 0
skewereenboog3

Wim Steytler

Wim Steytler het toekenning as beste regisseur ontvang vir die kortfilm Skewe Reënboog, waarvoor hy ook die draaiboek geskryf het. Hy gesels met Naomi Meyer.

  1. Wim, jy het pas die toekenning as beste regisseur ontvang vir jou kortfilm Skewe Reënboog. Wat het jou die idee(s) vir die film gegee?

Ek bly in die middestad van Johannesburg en put gereeld inspirasie uit die ruimtes wat ek om my vind as ‘n vertrekpunt vir idees. Ek het eendag ‘n argitek in ‘n kroeg raakgekuier en hy het my van Santarama Miniland in Rosettenville vertel. Dit was te goed om waar te wees – ‘n verlate miniatuurmuseum van vergange Suid-Afrikaanse gloriedae met Amerikaanse invloede. Die volgende oggend agtuur was ek daar en ek het dadelik besef die plek is ‘n perfekte metafoor van waar ons land hom nou bevind. So het ek ‘n storie ontwikkel, gebaseer op die replikas van geboue en standbeelde wat ek daar ontdek het, asook die werklike geboue en standbeelde in Johannesburg en Pretoria se middestede. Die film handel oor ‘n karakter wat vasgeknel is in sy idealistiese illusie van Suid-Afrika en hoe hy geforseer word om die realiteit te konfronteer, met tragiese gevolge.

  1. Het jy altyd geweet jy wil films maak? Het daar enigiets in jou lewe gebeur wat veroorsaak het dat jy jou droom nagejaag het?

Ek is op 16 deur ‘n kar op ‘n snelweg raakgery net buite my tuisdorp, Wellington. Omdat ek lank in ‘n rolstoel was, moes ek myself besig hou en ek het begin teken en foto’s neem. Dit het daartoe gelei dat ek op Stellenbosch gaan kuns swot het. Daar het ek geleer om konseptueel te dink en my “oog” te ontwikkel, maar my liefde vir stories vertel het eers ontstaan toe ek in my finale jaar ‘n dokumentêre film oor ‘n bendelid van die ‘28’s gemaak het. Film het my uiteindelik die medium gebied waar ek al my passies kon kombineer – metafoor, sterk fotografiese beelde en menslike stories. My oupa, WA de Klerk, en groottante, Elsa Joubert, was en is nog altyd my groot rolmodelle en ek wil baie graag voortbou op hulle nalatenskap.

skewereenboog2

  1. Vertel asseblief vir ons nog agtergrond van jou filmmaak-loopbaan tot dusver 

Ek stap al ‘n lang en harde pad. Ek was ses jaar lank ‘n redigeerder. Daar het ek geleer uit ander regisseurs se foute en hoe om ‘n storie te vertel. Ek het ook geleer wat die essensie vir ‘n goeie storie is, en dit help my vandag om ekonomies te skiet. Ek het toe later ook vir drie jaar as ‘n kreatiewe navorser vir ons land se top advertensieregisseurs gewerk. Hulle het my in regie gementor en ek moes hulle help voorstellings ontwikkel. Daar het ek geleer hoe om idees te kommunikeer en te verkoop. Uiteindelik het ek as voltydse regisseur aangesluit by ‘n produksiemaatskappy genaamd Picturetree in Johannesburg. Gary King, my vervaardiger, was baie ondersteunend om my passieprojekte tesame met advertensies en speelfilmidees te help ontwikkel. My eerste projek saam met hom was ‘n musiekvideo/kortfilm-hibried wat oor vreemdelingehaat in ons land gehandel het. Ek was gelukkig om ‘n hiervoor ‘n Young Director Award by die Cannes-filmfees in te palm en dit het my aangespoor om aan te hou fokus op projekte wat raak aan temas oor sosiale geregtigheid. Ek was daarna gelukkig om te werk aan nog advertensies, musiekvideo’s asook kort dokumentêre films vir handelsmerke wat op een of ander manier ‘n sosiale bewustheid manifesteer. Ek wil graag hiermee aanhou, veral in lang speelfilms.

  1. Vertel asseblief vir ons lesers die storie van Skewe Reënboog.

Die film vertel die storie van Willem – ‘n skisoïed, vasgeknel in Reënboognasie-idealisme. Hy woon as ‘n kluisenaar in Santarama Miniland – ‘n verlate miniatuurmuseum van vergange Suid-Afrikaanse gloriedae en Amerikaanse invloede. Slaafs volg hy dieselfde roetine en werk aan ‘n massiewe plastiekreënboog asook die instandhouding van ‘n minireplika van die Uniegebou.

Een aand, terwyl Willem die 500ste uitbeelding van sy held, Madiba, teken, word hy bewusteloos gemoker. Sy Madiba-portrette en reënboog word verwoes.

Hy besluit om te gaan hulp vra by Madiba en vertrek op ‘n ontnugterende tog na die ware Uniegebou. Daar ontdek hy dat Madiba oorlede is. Sy eise om Zuma te sien, word verwerp en tragedie volg.

Skewe Reënboog weerspieël hoe ons onsself toegelaat het om weg te sink in Reënboognasie-idealisme en hoe dit geleenthede vir wáre transformasie, wáre versoening, veraai het.

Die film vra die vraag oor ons opsies vorentoe. Blinde politieke idealisme? Of skouer aan die wiel sit met idealisme gegrond in realiteit?

skewereenboog1

  1. Prakties: hoe het jy hierdie film gemaak?

Ons het ‘n baie klein begroting by kykNET gekry en moes dit met baie gunste maak werk. Ek dink die filmspan en akteurs was bereid om op te offer omdat almal gevoel het die idee van die film is relevant vir ons huidige politieke situasie. Daar was ‘n groter doel. Ons film was ‘n baie ambisieuse projek gegewe die tydbeperkings met baie toneelwisselings en dus moes ons teen die spoed van lig skiet. Ons noukeurige beplanning, skedulering en “storyboarding” het dit op die ou end moontlik gemaak. Gelukkig het Gavin van den Berg (Ballade vir ‘n Enkeling) hom so ingeleef in die rol dat dit gevoel het of ek ‘n dokumentêr maak en ek moes hom net met die kamera waarneem. Die feit dat al die toneelruimtes (locations) klaar bestaan het en klaar versier was, kon ons laat wegkom met ‘n minimale kunsdepartement en so kon ons ‘n outentieke en realistiese beeld met min hulpbronne skep. Media Film Service het wêreldklas toerusting geborg en ons kon met die Arri Amira met ongelooflike lense – Zeiss Master Primes, Ultra Primes, asook Cooke – skiet. Brendan Barnes is ‘n uitmuntende kinematograaf en sy fyn oog het gesorg vir beelde met impak. Warwick Allan van Mushroom Media het die naproduksie hanteer en sy skerp intuïsie as redigeerder, asook sy delikate hand in aanlyn redigering, het die produk mooi afgerond.

  1. Gaan ons almal Skewe Reënboog kan kyk, of is ons kanse nou verby?

kykNET gaan al die kortfilms binnekort, waarskynlik in Januarie, begin uitsaai op DStv Kanaal 144.

  1. Werk jy reeds weer aan iets anders?

As ek nie besig is om ‘n advertensie, musiekvideo of dokumentêr te maak nie, werk ek aan die ontwikkeling van ‘n speelfilmprojek saam met my skoolvriende, Cobus en Jolene Du Plessis. Hulle is van ‘n plaas op Sutherland, waar hulle bevriend was met ‘n Franse paartjie wat so ‘n paar jaar terug die dorp op hol gehad het. Dit gaan ‘n sielkundige riller wees.

  1. Hoe sien jy die toekoms van die filmbedryf vir draaiboekskrywers en regisseurs?

Dit voel vir my of dinge dramaties begin verander het die afgelope twee jaar en daar word nou groot vordering gemaak. Daar verskyn nou plaaslike films wat eerlik en braaf is en hedendaagse probleme aansny. Ek dink ons onderskat ons gehoor nou al te lank en probeer kompeteer met Hollywood-lokettreffers, maar so kry ons nie ons eie stem nie en ons hou ons mense oppervlakkig en dom. In die kunsfilmgenre is stemme soos dié van Oliver Hermanus (Skoonheid, Endless River), Brett Michael Innes (Sink). Sara Blecher (Dis ek, Anna), Sibs Shongwe-La Mer (Neck Tie Youth) en Jenna Bass (Love the One You Love) al klaar besig om ‘n impak te maak by Cannes, Sundance, Toronto, Venesië, ens. Dis hoog tyd. Ons land is ‘n goudmyn van stories wat internasionaal kan resoneer. Ons moet net leer hoe om dit vertel en ophou om iets te probeer wees wat ons nie is nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top